Emma en die Creepy Komplot. Marianna Brandt
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Emma en die Creepy Komplot - Marianna Brandt страница 5
Dan klim Hendrik en Zoltan in, en Emma sien hoe Zoltan langs die venster gaan sit. Toe die bus wegry waai hy vir haar.
Janine kom staan langs Emma toe meneer Plottenboer en juffrou Hasendal in die skoolhoof se kar wegry. “Kom jy saam, Emma?”
“Waarnatoe?”
“Ek moet dorp toe gaan. Het ’n paar goed nodig.”
In die portaal hoor hulle mevrou Plottenboer se stem.
“Sy is in ’n goeie bui vandag. Kom ons gaan vra haar of ons vir ’n uitstappie iewers heen kan gaan,” sê Emma.
“Mevrou?”
Mouna Plottenboer het vandag grimering aan en dis die eerste keer dat hulle haar sien met bloedrooi lippe en maskara. Sy lyk skoon snaaks.
“Kinders,” sê sy en flikker haar wimpers soos juffrou Hasendal. “Wat kan ek vir julle doen?”
Emma kyk met ’n frons na Janine en dan weer na die skoolhoof se vrou.
“Ons het net gewonder of Mevrou vir Meneer kan vra of ons klas op ’n uitstappie kan gaan. Miskien na ’n plek waar ons iets kan leer,” sê Emma.
“Weet julle van so ’n plek?” vra Mouna Plottenboer.
“Nee, maar ons sal dink,” sê Janine. “Dalk see toe of iewers.”
“Ek sal vir Meneer vra,” sê sy en flikker haar wimpers. “Het julle dalk vir Meneer gesien?”
“Ja, hy en juffrou Hasendal het met Meneer se kar gery.” Emma weet nie of sy dit moes gesê het nie, want mevrou Plottenboer is skielik rooi in die gesig.
“O,” sê sy en stap weg.
“Ek dink sy’s jaloers,” sê Janine en giggel.
“Sy wil soos juffrou Hasendal lyk. Dis hoekom sy nou make-up dra. En dit pas haar glad nie. Sy gaan seker daardie muisvaal hare ook blond dye.” Emma kan nie help om Mouna Plottenboer jammer te kry nie. Dit kan nie maklik vir haar wees om met iemand soos Janetta Hasendal te kompeteer nie – en dit vir die aandag van Gyt Plottenboer!
“Dink jy sy sal vir Meneer vra oor ’n uitstappie?” vra Emma.
“Ek weet nie. Sy het nou net kompetisie op haar brein,” sê Janine.
Almal is vanoggend in die dorp. Emma en Janine stap verby Die Melkkoei waar kinders aan melkskommels sit en suig.
“Die reuk maak my naar,” sê Emma.
“Wat van die Spur?” sê Janine.
“Dis beter.”
Die Spur is die eetplek op ’n Saterdag wanneer almal inkom dorp toe. Boere met hulle gesinne sit by tafels en smul aan spare ribs terwyl die kinders tjips en burgers eet. Emma kyk oor die tafels. Net toe hulle na ’n leë tafel wil loop, word hulle deur ’n kelner gekeer.
“Jammer, daardie tafel is bespreek,” sê hy en glimlag. “Wag net hier, daar sal nou-nou een beskikbaar wees.”
Dis tóé dat Emma die Xhosa-meisie en die ouerige man agter hulle gewaar wat verbystap na die tafel toe.
“Is dit nie die meisie van die hotel nie?” vra Janine met ’n frons.
“Ja, dit lyk soos Tandi,” sê Emma. “Dis seker haar kêrel.”
“Dit lyk of hy eerder haar pa kan wees,” sê Janine.
Dan sien hulle hoe mense by ’n tafel langs Tandi-hulle opstaan. Emma beweeg vorentoe toe die kelner na hulle toe aankom.
“Daar’s nou ’n tafel oop,” sê die blonde ou en stap voor hulle uit. “Ek sal nou julle bestelling kom neem.”
“Dankie,” sê Emma en skuif teenoor Janine in.
By die tafel langsaan is Tandi en die ouerige man in ’n diep gesprek. Emma merk die ongeduld op die man se gesig, maar dan begin hy skielik te lag.
“Oukei, oukei,” hoor Emma hom sê en sien hoe hy note uit sy sak haal en dit vir Tandi gee. Voor sy Janine, wat die spyskaart bestudeer, se aandag kan kry, is die kelner by hulle tafel met sy bestelboekie.
4
Laat daardie middag kry Emma ’n sms van Hendrik:
Em, ons het gewen!
Geluk! Is julle al op pad? sms sy terug.
Ja, kry solank al die girls om vir ons te cheer wanneer ons uit die bus klim
Ha-ha-ha, maak so.
Toe die bus ’n uur later stilhou staan die hele koshuis se inwoners voor die gebou, meneer Plottenboer en juffrou Hasendal inkluis.
Joori Appelgryn spring uit die bus met ’n groot glimlag op sy bruingebrande gesig. “Ons eerste wedstryd en ons eerste wen … eerste van baie,” kondig hy trots aan.
“Geluk, Joori,” sê meneer Plottenboer en draai na die seuns. “Dit wil gedoen wees. Julle maak ons skool trots, manne.”
Willa, wat besig is om haar lyf terug te kry en dit vir die eerste keer in ’n stywe jean waag, stoot ’n meisie uit die pad om by Hendrik uit te kom. “Ek het geweet julle gaan wen. Volgende keer gaan ons saam om vir julle te cheer.”
Zoltan kom staan by Emma. “Julle ouens het goed gespeel,” sê sy. “Geluk!”
“Ja, ons was agter tot Hendrik daardie drie gedruk het. Toe was ons voor. Ongelukkig kon ons nie verdoel nie. Maar meneer Applegryn is tevrede.”
“Wat was die telling?”
“11-9.”
“Great!” sê Emma.
Hendrik en Willa kom staan by hulle. “Ja, dit was ’n harde game. Daai ouens is sterk. Maar ek is nou vrek honger. Gaan ons eet?”
Toe hulle verby die skoolhoof en Joori Appelgryn loop, kan Emma net vaagweg uitmaak wat hulle sê “… sonder u ondersteuning sou ons dit nooit kon doen nie, Meneer …”
“Ja,” sê Gyt Plottenboer. “Skieter het my laat belowe om die skool en koshuis se naam hoog te hou in sy afwesigheid, en …”
Janine gryp Emma aan die arm. “Kom, gaan jy nie eet nie?” vra sy.
“Ja, ek kom,” sê Emma ingedagte. Waar kry meneer Plottenboer die geld om al die veranderinge aan te bring? Sy kan nie help om te wonder nie. Oukei, hulle kry nie nou meer so baie kos soos toe die Snopkes die koshuis en skool bestuur het nie, maar meneer Plottenboer spandeer geld aan ander dinge wat baie meer kos.
Teen vyfuur is daar nie plek vir ’n muis in die sitkamer nie. Dis die Springbokke teen die All Blacks.
“Waar