Gebede vir elke vrou. Nina Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Gebede vir elke vrou - Nina Smit страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Gebede vir elke vrou - Nina Smit

Скачать книгу

n>

      

      GEBEDE

      vir elke vrou

      Nina Smit

      Lux Verbi

      Here,

      dankie vir die voorreg om ’n vrou te kan wees.

      Vir die baie vreugdes wat dit kan bring –

      die liefde van ’n lewensmaat,

      die afhanklikheid van kinders.

      Help my asseblief om elke dag my verantwoordelikhede as vrou

      met vreugde na te kom: om ’n tuiste te skep;

      om my dierbares te versorg en my huis netjies te hou.

      Gee dat ek ook in my buurt en gemeente

      my rol as vrou sal vervul deur van my talente en van myself te gee. Dankie dat ek weet die hoogste vervulling van my vrouwees lê in my liefde vir U.

      Voorwoord

      Ek roep tot U, o God, want ek weet U sal antwoord.

      Buig af en luister as ek bid.

      Psalm 17:6 NLV

      Jou Bybel verseker jou op baie plekke dat God hoor en antwoord wanneer sy kinders bid. Hoe meer ’n mens met iemand praat en hoe langer jy in daardie persoon se teenwoordigheid deurbring, hoe beter leer jy hom of haar ken. Dieselfde is waar van God.

      Jy kan God nie werklik persoonlik ken as jy nie dikwels in gebed met Hom praat nie. Jy moet ook leer om die dinge wat in jou hart leef na God te bring. Nie net belangrike sake nie, maar ook die klein, alledaagse dinge wat deel uitmaak van jou lewe.

      God is elke oomblik van die dag vir jou beskikbaar, en as jou woorde ontoereikend is, onderneem die Heilige Gees om in jou plek te bid en jou stamelende gebede reguit na God te neem. Jy mag maar met groot vrymoedigheid na God se genadetroon gaan omdat Jesus reeds vir jou daardie voorreg aan die kruis verdien het.

      Onthou net dat jy ook tyd moet inruim om na God te luister. Só kan jy vir God elke oomblik van die dag by jou hê. ’n Mens leer bid deur te bid. Dit is my gebed dat die gebede in hierdie bundel byval in jou omstandighede sal vind, sodat dit vir jou makliker sal wees om jou eie gebedsversoeke na God te bring.

      NINA SMIT

      Menswees

      Christelike leefwyse

      Tydsbesteding

      Lofprysing

      Danksegging

      Vreugde

      Vriendskap

      Siekte

      Christelike leefwyse

      Hemelse Vader, vergewe my asseblief al my sondes en maak my gewillig om dié mense wat teen my oortree het, én myself te vergewe. Ek wil graag absoluut gehoorsaam wees aan die riglyne in u Woord. Leer my hoe ek U en ander mense moet liefhê, en leer my ook om U elke dag van my lewe te loof en te aanbid. Seën asseblief die werk waarmee ek besig is en help my om dit na die beste van my vermoë te doen. Maak my vrugbaar in u koninkryk, maak my rein en heilig sodat u Heilige Gees van nou af my lewe sal beheer. Wys my asseblief die spesifieke doel waarvoor U my geskep het, en seën elkeen van my verhoudings. Laat u wil in my lewe geskied, beskerm my teen gevare en gee vir my die nodige wysheid om die regte keuses te maak en die regte besluite te neem. Verlos my asseblief van die Bose en red my van negatiewe emosies wanneer dit moeilik gaan. Vertroos my in hartseertye, laat my sterk wees teen versoekings, genees my as ek siek is en bevry my van vrees. Gebruik my om ander mense se lewe positief aan te raak en hulle te bemagtig met my woorde. Versterk my geloof, Here, maak my meer soos Jesus, en help my om nie langer oor my foute van die verlede te tob nie. Stap nou elke dag saam met my op my lewenspad tot op dié dag wanneer U my kom haal om vir altyd by U te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus.

      Here, dankie vir die wysheid in Spreuke wat my leer hoe ek moet leef. Ek weet nou dat as ek U liefhet, ek nooit bang hoef te wees nie; dat ek bewustelik mag kies om gelukkig te wees deur u voorskrifte te gehoorsaam. Leer my asseblief om te dink voor ek praat, om met my hele hart op U te vertrou, om U met my gawes te dien, om reg te dink en reg te leef, en om die mense wat my hulp nodig het dadelik te help. Bewaar my asseblief sodat ek veilig kan leef en rustig sal slaap. Vergewe my dat ek nog so maklik lyf wegsteek – van nou af wil ek graag my werk vir U doen. Skenk my u wysheid om moeilike situasies reg te hanteer en gee vir my die kennis en insig wat ek nodig het.

      Ek wil meer tyd maak vir U, meer tyd met u Woord deurbring sodat ek u riglyne my eie kan maak en daarvolgens kan leef. Help my om my praatlus hok te slaan, om nie van ander te skinder nie en gee vir my ’n oop hand vir ander. Van nou af wil ek uit my foute leer en ophou om my te bekommer. Dankie dat my vreugde soos ’n helder lig mag skyn omdat ek aan U behoort. Ek loof U dat ek u liefde soos ’n borrelende fontein in my lewe mag beleef, en dat ek selfs wanneer U my geloof toets deur swaarkry steeds aan U mag vashou. Maak my ’n ware vriend vir my vriende; nederig en absoluut afhanklik van U, en leer my om na U en ander te luister – maar bo alles om onvoorwaardelik lief te hê, soos U my liefhet.

      Ag Here, ek sukkel so met die liefde!

      Dis maklik om die mense na aan my lief te hê en na hul belange om te sien.

      Maar dié mense wat van my verskil, wat anders dink as ek, wat my irriteer en omkrap – vir hulle probeer ek tevergeefs benader met die liefde wat U van my vra.

      Ek sien nou ek kan dit nie regkry nie, en kom vra dat U dit asseblief vir my moontlik sal maak om my liefde vir U oor te skakel na liefde vir ander en dit in dade om te sit.

      Here, ek onderneem om dit te waag om lief te hê.

      Maak my liefde onselfsugtig en oorvloedig soos u liefde vir my. Gee dat ek dit sal regkry om my voorkeure en wense prys te gee ter wille van ander.

      Stort asseblief u onvoorwaardelike liefde in my hart uit deur die Heilige Gees wat in my woon sodat my hele lewe van nou af in die teken van die liefde sal staan.

      Gees van God,

      ek weet baiekeer nie wat om te bid nie. Sal U my asseblief leer en vir my intree? Ek word skaam as ek dink hoe lank en hoe hard ek al vir u gewerk het – só lank en só hard dat daar nie tyd was om te bid nie. Dankie dat U my wil leer dat gebed soveel meer kan verrig as wat harde werk kan; dat, wanneer ’n nietige mensekind bid, die almagtige God in beweging kom. Leer my

Скачать книгу