Donna en die droomman. Anita du Preez

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donna en die droomman - Anita du Preez страница 5

Donna en die droomman - Anita du Preez

Скачать книгу

die yskas gestap, die pedaaltjie getrap en die verdoemende getuienis daarin laat val, en met ’n triomfantelike uitdrukking op haar sewejarige gesiggie by die agterdeur uitgehuppel.

      Donna vryf haar koue hande droog. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie, dink sy. Miskien moet sy liewer dadelik vir Karen waarsku. Sy kan mos darem nie dat haar enigste suster haar in ’n ding met dié man begewe nie? Of kan sy? Karen weet tog hoe om mans te hanteer. Miskien moet sy net kalm bly en sien wat gebeur.

      Maar sy kan haar woede nie sommer net wegsluk nie. Eintlik is sy van voor af smoorkwaad. Nie vir Karen nie. Vir hóm. Natuurlik. Dis alles sy skuld. Enige normale mens sou lankal besef het dat die situasie onuithoudbaar is.

      Hoe kon sy so vlak gewees het om oor die vent op hol te raak? Hy is duidelik nie haar tipe nie. Staan daar en smile soos ’n tweegesig en sê niks. Maak of hy niks onthou nie. Nee, dankie, Karen kan hom maar vir haar vat. Sy verkies fyngevoelige mans. ’n Ruwe, manlike uiterlike is goed en wel, maar ’n vrou soek meer. Iets soos ’n koeksister. Krakerig en bros buite en sag en loperig wanneer jy daarin byt. Met ander woorde, ’n blikskottel met ’n siel. En verkieslik ’n gewete. Nie dié stom, dikvellige onderbroekmodel wat net hier staan en sexy lyk nie. Sy ken hul tipe. Sy is nie verniet al jare in die advertensiebedryf nie. Sy het al so een gehad en kyk waar het dít haar gebring? Nee wat. Karen moet hom maar self hanteer.

      Toe sy omdraai om koppies van die rak af te haal, tref nog ’n skok haar. Waar sy altyd sit, staan haar geliefkoosde blomkoppie reg met haar geliefde Ouma Ferguson se silwerteelepeltjie in die piering. Hoe het hy geweet? Sy kyk verstom op, maar Jockey-man staan met sy breë rug na haar, stilweg besig om vir hom en Karen ook koppies reg te sit. Skielik is Donna so geraak deur die eenvoudige, tog skokkend intieme gebaar dat trane ongevraagd in haar ooghoeke opdam, en biggelend huiwer. Sy snuif die nattigheid haastig weg en draai vinnig om. Sy wens die wasbak wil haar insuig. Is sy dan só uitgehonger vir ’n bietjie meelewendheid van ’n ander lewende wese? Is dit nou Ruhan se werk? Of haar pa s’n? Dat sy aan die tjank gaan vir elke effens menslike gebaar?

      Karen babbel eenstryk deur terwyl sy die melktert uit die winkelsak wikkel. Sy kom niks agter nie. Toe Donna omkyk, is dit vas in die twee besorgde groenbruin oë van die vervlakste Pieter. Wat sy sien, gooi onmiddellik haar hele redenasie oor sy gebrek aan sensitiwiteit oorboord. Sy voel asof sy verdrink in wat sy in sy uitdrukking lees. En die volgende oomblik skok ’n warm gloed deur haar bekkenholte wat net begeerte kan wees.

      Sy kyk liewer weg. Gelukkig vat haar vingers die outydse glashouer met soetkoekies raak en kry sy tyd om asem te skep terwyl sy die strammerige deksel afhaal. Sy was vas onder die indruk dat alle lyflike impulse in haar toetentaal opgedroog het die dag toe Ruhan die voordeur so gevaarlik sag op knip getrek het. En nou?

      Dis die ding van begeerte. Dit kan ’n mens se liggaam eenvoudig op die mees ongemaklike tye en plekke oorneem. Dit het Ruhan mal gemaak. Wanneer hy saans laat die ligte laag gestel en by haar kom inkruip het, met idees in sy kop en duur naskeermiddel agter sy ore, kon sy dikwels om die dood nie die kleinste korreltjie lus uit haar moeë lyf optower nie. Partymaal moes sy maar fake. Om die vrede te bewaar.

      En as sy agterna die resultaat van sy liefdespassie saam met die flentertjie papier wegspoel, het sy soms die warm waslappie teen haar gehou om die diep kloppende branderigheid te streel.

      Om haarself dan te gaan troos agter sy warm rug met haar wang teen sy effens sweterige T-hemp, haar kniekoppe ingevou agter sy opgetrekte bene, haar arm oor sy lyf geslaan sodat sy die trouring aan sy vinger om en om kon draai. Totdat hy sy hand brommend wegneem uit hare, en sy omdraai en lê en wonder waarom hulle bioritmes dan nooit saam kon tik nie. Nee, eerder soos pingpong: soms hy en soms sy.

      En partymaal het die mees intense aanval van passie haar oorval wanneer hy gedas en gebaadjie in die tuinpaadjie wegstap, laat vir sy vergadering; in haar pajamas het sy hom vanaf die boonste venster gestaan en bewonder met die reuk van sy stortjel nog aan haar vingers ná hul haastige afskeidsoen.

      Hoekom is sy altyd so ontydig? Soos nou. Donna kan nie waag om weer na die man te kyk nie. Haar hele gesig gloei. Sy is skielik innig dankbaar dat Karen nog voortbabbel.

      “… was my laaste kliënt van die dag, sien?” verduidelik Karen vir Donna, maar haar oë bly op Pieter. “En toe ek my weer kom kry, gesels ons so lekker, toe vra ek sommer of hy lus is om langsaan by Coffee Culture ’n latte of iets te gaan drink.”

      Natuurlik, maal dit deur Donna se kop. Sy het opgelet sy hare lyk effens anders. Dis natuurlik hoe hulle ontmoet het. Hy het sy hare by Karen se salon laat sny. Donna kan onmiddellik die hele toneeltjie voor haar geestesoog sien. Sy donker kop agteroor by die wasbak. Nie die assistent nie, maar Karen sélf met haar vingers vol romerige sjampoe teen sy slape. Vrywend, strelend en so intiem. Die afspoel. Salig koel en kalmerend. En dan sy oorgawe aan haar, so in beheer met haar boudstappie en flitsende silwer skêrtjie al om hom. Geen wonder hy het ja gesê vir koffie agterna nie. Karen ken haar storie. Maar hoe het hy daar beland? Hoe is dit moontlik dat …?

      “Sommer net so,” val Karen haar spartelende gedagtes in die rede.

      “En toe?” Donna se keel is kurkdroog.

      “En toe sê hy ja vir koffie, and the rest is history.” Karen haal die melkbekertjie met ’n teatrale gebaar uit die mikrogolf. Haar blou oë blink van selftevredenheid toe sy daarvan in Pieter se koffie skink, haar wange helder pienk van genot. Met een slanke bleekwit handjie vryf sy besitlik oor sy sterk voorarm.

      “Warm melkies, dokter Visser, nes jy daarvan hou.”

      Donna staar verstom. Sy ken daardie trekkie om Karen se mond goed: die selftevrede suggie en die vinnige asemteugie, neusie in die lug, daarna. Dis Karen op haar beste. Op haar gelukkigste. En Donna se gemoed sak loodswaar af tot iewers in die omgewing van die kombuis se fondamente. Niks het verander nie. Want dis hoe dit maar is met haar en haar sussie. Van kleins af.

      Met ’n ysere wilsbesluit lig sy haar koppie en tik liggies teen Karen s’n.

      “Nou maar cheers, dan. Op new beginnings!”

      Die weerklank van haar pa se ma se egte beenporselein klink so vals soos haar eie woorde, maar Donna bly glimlag, al pyn haar wange. En oorkant haar sit Pieter Visser, met twee diep groewe tussen sy wilde skuins wenkbroue en sy oë vraend op haar gerig.

      3

      Toe haar deurklok weer lui kort nadat Karen uiteindelik met haar Pieter weg is, gee Donna se verspotte hart ’n bokspringetjie. Sê nou …? Sy droog haar hande aan die vadoek af. Wat as Tannie Noodlot dalk tog van plan verander het en …?

      Maar dis Jayd op haar drumpel.

      “En dié nou?” Hy wys met sy neus op ’n plooi na haar.

      “Ag, jong, lang storie.”

      “Wat jou gesig só laat lyk?”

      “Ja, man. Karen was nou net hier met haar nuutste.”

      “Wanneer laas het jy in die spieël gekyk, Donna?”

      “Ek het nie ’n oordrewe voorliefde vir spieëls soos party mense nie, Jayd.”

      “Donna, ek vra net wanneer laas?”

      Jayd vat haar stewig aan die skouers en stuur haar tot voor die spieël in die gang.

      “Hoor hier, ek is nie lus vir …”

      Toe sien Donna hoekom

Скачать книгу