Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit страница 10

Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit

Скачать книгу

weet nie. Ek glo nie … nee. Net gesê jy is daar tuis.”

      “Mag ek dan vra dat jy vir niemand sal vertel nie? Nepotisme, en so aan. Sodra daar plek in die hotel is, skuif ek in elk geval soontoe. Die Coetzees weet self nie, verstaan?”

      Soos sy netnou, besef hy ook dat hy nie op soveel begrip van haar kant kan staatmaak nie. Nie so vroeg nie. “Jy sien,” vervolg hy en kom agter dat hy onbewus sy asem dieper intrek, “ek het ook dinge wat ek nie kan vergeet nie. Dit hang daarmee saam. Wat ek vir jou gesê het van die Coetzees … dit was in ’n onbewaakte oomblik.”

      “Maak dit soveel saak?”

      “O, alte seker.”

      “Goed dan. Dit kos my niks om dit te verswyg nie.”

      “Is jy seker dat jou Gileam jou nie sal oorrompel nie?”

      “So erg is dit nie,” antwoord sy stywerig. “Ek is darem nog meester van myself.” Maar dit lyk nie of sy dit self glo nie.

      “Dormehl noem haar tannie Varkie,” blaker hy gebelg uit. Hy voel soos ’n seuntjie wat by die juffrou oor ’n boelie kla.

      “Almal noem haar so. Sy is lief vir varkies.”

      “Nie omdat sy onsindelik is nie?”

      “Nee, die mense hier sal nie so wreed wees nie. Daar is kodes wat nie oortree word nie.”

      ’n Stem roep iewers vandaan, seker uit ’n slaapkamer.

      “My pa. Hy lê siek.”

      “Dan sal ek jou nie langer ophou nie.”

      Hy loop terug na die Coetzees se huis. Die straat is selfs stiller as netnou.

      Hy kry die eienaardige gevoel dat hy, in die waan dat hy na kalmers waters op pad is, ongemerk ’n maalstroom binnegedryf het.

      4

      Die nag voel vir Katrien besonder lank. Haar pa roep dikwels, maar eintlik net om ’n menslike wese, ’n stem, ’n teenwoordigheid langs sy bed te hê. En sy, hoewel sy weet dat hy niks nodig het nie, gaan elke keer maar weer. Ook sy het immers behoefte aan menslike teenwoordigheid.

      Haar pa was sy lewe lank ’n moeilike man. Haar ma was die weerligafleier, wat maar baie van die straf self ontvang het. Hy, wat gereken het hy is die sterke, het toe sommer ineengestort toe sy vrou hom ontval.

      Nou, uiteindelik, is hy net ’n patetiese ou man, al is hy nog nie werklik oud nie. Sy wens sy kon haar broers en susters oortuig dat dit die geval is, dan sal hulle hom dalk meer dikwels besoek. Op die oomblik dra sy die las alleen. As dit nie vir Gileam Dormehl was nie …

      Hy is ’n sterk mens. Jy kan eindeloos op hom steun sonder dat hy moeg word of wankel. En daarby het hy altyd ’n plan vir die toekoms, ’n positiewe siening van die onbekende wat so maklik vertwyfeling wek. Nee, hy twyfel nooit aan die toekoms en nooit aan homself nie. Hy het ’n aansteeklik optimistiese gees.

      Sy glimlag in die diep donker van haar nagkamer. Selfs die selfversekerde vreemdeling was aansienlik afgeblaas nadat hy met Gileam in aanraking was. Soos hy self sê, het hy bra grootdoenerig weggespring. Met sy tweede besoek, hier aan huis, was dit ’n ander storie. As sy nie so verwese en ontsteld gevoel het nie, sou sy sy siel lekker kon uittrek. Om een of ander rede voel hy hom in ’n hoek. Sy stel nie belang om te weet wat sy penarie is nie. Dis vir haar genoeg om te weet dat sy stertvere ’n bietjie gepluk is. “Tannie Varkie” was skynbaar ’n kishou.

      En tog kan sy nie wrewel vir hom voel nie. Sy is onvermydelik bewus van ’n onderstroom, en hy gee ook toe dat die arrogansie ’n gevolg van onsekerheid kon wees. Van vreemdheid, reken hy, maar dit gaan waarskynlik dieper.

      Daarby het hy, sekerlik onwetend, haar deur sy binnekoms werklik erg ontstel. Sy moes haar ten alle koste beheer, veral toe hy kletsnat van die hotel af terugkom. Sy weet nie eers wat sy alles vir hom gesê het nie. Sy vermoed dat sy heelwat nonsens gepraat het.

      En juis toe, nadat hy hotel toe is en teleurgestel, natgereën, weer terug in die winkel kom … dat professor Andrews juis toe moes bel. Hy het wel gister ook geskakel en gesê hy sal haar tyd gee om te dink. Maar waarom presies toe weer, met haar gemoed ’n warboel oor die vreemdeling?

      Stil lê Katrien in haar bed en luister na die suidooster wat aan die dak ruk en deur die geslote luike loei. Sy herleef die gebeure van die laatmiddag. Noudat haar pa genadiglik skynbaar aan die slaap geraak het en net die wind die nag daarbuite vul, kan sy die hele episode helder terugroep.

      In ’n soort beurtwoede het die wind bedaar en die reën hard gesuis, en dit was in die winkel te skemer om te sien, ingeval klante sou inkom. Daarom het sy die gaslamp, beproefde ou staatmaker in hulle winkellewe, aangesteek en haar met Gileam se seun se trui besig gehou. Lourens is groot gebou, soos sy pa, en sy het al amper spyt gekry dat sy sulke dun wol gekies het, vierdraad. Maar dis die kleur wat hy self uitgesoek het. Sy onthou nog genoeg vanuit haar eie jeug om ’n tiener maar liewer sy sin te gee. Solank dit nie lyk of sy witvoetjie by die Dormehl-kinders soek nie.

      Sy is in elk geval bly dat Lourens Dormehl ewe skielik van haar begin hou het. Dit het net eenvoudig deurgebreek tussen hulle. Tala, die dogter, is nog ’n bietjie vol argwaan. Miskien dink die kinders tog dat sy net daarop uit is om hulle pa in haar strikke te vang, dat sy ewe gerieflik in hulle ma se plek wil instap, haar besittings oorneem, haar herinnering verdring. Daarby is Tala ongelukkig ook grof gebou en is sy allesbehalwe ’n fyn en aantreklike meisie. Dit maak haar skynbaar giftiger teenoor die fyner geboude vrou in wie sy ’n bedreiging vir haar pa sien.

      Hoe dwaal my gedagtes, dink Katrien. Dis omdat ek hulle wil laat dwaal. Dis omdat ek nie wou onthou hoe die vreemdeling ingestap gekom het uit die reën nie. Ek wil die pynlike oopruk van herinnering nie onthou nie. Hoe snaaks is die mens tog: Dit waaronder jy ly, soek jy knaend op ten spyte van jouself , en ter wille van jouself.

      Gedagtes, herinneringe. Want so het Kirsten ingestap daardie dag, net so, vanuit die reën. Dit was ook, soos nou, ontydig koel. Sy kraag was opgeslaan, die krulle in sy nek klam, sy hande in sy broeksakke. Vervaard het hy laasgenoemde reggestel toe hy die vertrek vir mondeling binnestap. Sy was bly dat hy dit gedoen het. Professor Andrews, ’n gepoleerde man, duld nie ongeërgdheid nie.

      En sy het aangetrokke gevoel tot hierdie student. Weliswaar was sy Frans vrot en hy het nie veel daaraan probeer doen nie. Dit was vir hom net ’n stopvak, waarmee hy hom deeglik misgis het. Toe Kirsten in die vertrek kom waar Katrien en professor Andrews hom inwag, was dit met ’n houding van kom-ek-om-so-kom-ek-om. Maar niemand kon sê dat hy nie sy bes gedoen het nie.

      “Bonjour, mam’selle et monsieur,” het hy beleef gesê. Sy uitspraak was, soos altyd, aaklig. Hy kon die hele tyd nie leer om sy lipspiere te gebruik, van voor uit sy mond te praat en elke lettergreep dieselfde klem te gee nie. Deur etlike maande heen kon hy net nie ’n aanvoeling kweek vir hierdie stamtaal van sy Hugenote-kant nie. Dit het sekerlik ook nie tot sy krediet bygedra dat hy meer as een keer veral van die professor se klasse weggebly het nie. Maar hy was altyd by magte om ’n gees van welwillendheid in die klas te skep met sy argelose humorsin en sy waagsaamheid.

      Reg aan die begin van die jaar, toe sy die klas die eerste keer binnestap, was die tekens van sy teenwoordigheid reeds daar. Die klas was tjoepstil, afwagtend. Op die bord het in groot krytletters geskryf gestaan: Koffie, of …? Met heel onder in klein letters die woordjie: Tee.

Скачать книгу