As liefde ontwaak. Elsa Hamersma

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу As liefde ontwaak - Elsa Hamersma страница 7

As liefde ontwaak - Elsa Hamersma

Скачать книгу

en dis vir hom verstommend dat sy al so ver soos haar verjaardagpartytjie gedink het. Dis seker nie onmoontlik om op die internet in te gaan en uit te vind waar so ’n koek bestel kan word nie, maar nadat hy die koek bestel het, is daar nog ’n spul ander goed wat sal moet gebeur. Iemand sal die partytjie moet bestuur en reël. Iemand sal die ma’s van die ander dogtertjies ook moet tee en koek gee. Hy het darem nou al vir Nina na genoeg van dié partytjies geneem om te weet wat dit behels.

      “Nina,” sê hy op die ingewing van die oomblik, “ek het gewonder of ons nie ’n tannie moet kry om by ons te kom bly wat jou skool toe kan vat en met jou huiswerk kan help en sulke goed nie? Jy weet, iemand wat vir jou ook ’n lekker verjaardagpartytjie kan gee … en wat jou ballet toe kan vat.” Die laaste paar woorde is suiwer inspirasie.

      Die kind lig haar kop en vestig haar blik op hom sodat sy hom in die oë kyk. “Gaan sy vir altyd en altyd bly en in Pappa se bed slaap?”

      “Nee.” Hy is totaal geskok oor die antwoord. “Hoekom vra jy so iets?”

      “Mart-Marie sê Pappa gaan weer trou en dan gaan die ander tannie in Pappa se kamer bly en in Pappa se bed slaap. Sy sê haar mamma sê … sy weet van tannies wat hulle tande slyp …”

      “Mart-Marie is ’n snip,” sê hy kwaai. “Ek gaan nie trou nie. Nooit weer nie.”

      “Hoe slyp mens jou tande, Pappa?” kom die volgende vraag.

      “Mens kan nie. Dis wat ek vir jou probeer sê. Jou maatjie praat oor goed waarvan sy niks weet nie.”

      Die dogtertjie kyk af op haar skoot. “Is Pappa nou kwaad?”

      “Nee.” Hy sug saggies. “Ek hou net nie daarvan dat jou maatjie se mamma oor my praat nie. Die tannie waarvan ek praat, sal ’n oppasser wees. Au pair, is die deftige naam daarvoor. Dis iemand wat na jou kan omsien.”

      “Sy moet net nie oud wees nie,” verras Nina hom weer.

      Meyer byt op sy onderlip. Hierop het hy nie gereken nie. “’n Ouer tannie sal amper soos ’n ouma wees,” probeer hy.

      “Oumas word gou moeg wanneer hulle saam met jou in die winkels loop. As haar ouma saamgaan winkel toe, sê Nelda, loop sy net ’n klein entjie en dan wil sy eers rus of gaan piepie.”

      “Lyk vir my asof jy die handboek oor oumas en au pairs kan skryf,” sê Meyer met ’n stywe glimlag. “Ons sal maar moet kyk wat ons kan kry, nè? Maar nou’s dit slaaptyd.”

      In sy studeerkamer sit hy eers lank en trommel met sy vingers op sy lessenaar se blad. Hy kan nie onthou wanneer hy en Nina laas so ’n lang gesprek gevoer het nie. Al wat hy nou sterker as tevore besef, is dat daar báie en góéie redes is waarom hy ’n vrou moet aanstel om Nina se behoeftes te hanteer.

      Daar is baie en net sulke goeie redes waarom hy nie die onbekende, ongekwalifiseerde en redelik onervare Danielle Krause moet aanstel nie. Maar dan is daar sy instink.

      Sy sukses in die lewe het hy grotendeels te danke aan instink: hy weet wanneer iets gaan werk en wie hy kan vertrou. Daardie selfde instink, en sy dogtertjie se woorde, erken hy halfhartig aan homself, laat hom nou besluit om die vrou met die heserige stem tog wel te bel en ’n kennismaking te reël. Hy sal kan sien of dit die blonde vrou is en as hy nie hou van wat sy sê of doen nie, is daar tog geen skade gedoen nie?

      Doelgerig en met ’n vaste hand druk hy dan die knoppies op sy selfoon om ’n afspraak te reël.

      Danielle is senuweeagtig terwyl sy die volgende middag in die koffiewinkel sit en wag vir Meyer Senekal. Sy voel sommer vies vir haarself daaroor; soos sy vies vir haarself was nadat sy aangebied het om haar groen baadjie te dra sodat hy haar kan eien. Sy weet die groen baadjie pas haar goed: die kleur is dieselfde groen as haar oë en die snit beklemtoon haar kurwes. Waarom sy juis ’n voornemende werkgewer met dié besondere fisieke bates wou beïndruk, weet sy nie. En daarom is sy vir haarself kwaad.

      Sy wonder of sy vrou gaan saamkom. En hoe hulle lyk? Met die vrou het sy nog nie gepraat nie, maar aan sy stem sou sy raai dat hy ’n ouer man is, waarskynlik middeljarig, spikkelgrys hare, skatryk en gewoond om die kitaar te slaan. Dalk oorgewig? Baie geld koop mos ’n lekker lewe, en ryk is hy beslis, anders sou hy nie die groot huis en sprokiestuin kon bekostig nie. Hy slaan nie net die kitaar nie, hy koop dit ook. Hy is waarskynlik ’n beheervraat. Sy vrou was seker eers sy sekretaresse en gewoond daaraan om “ja, baas” en “nee, baas” te sê. Nou verwyl sy haar tyd met sosiale aktiwiteite en liefdadigheidswerk. Dalk is dit die rede hoekom hý gebel het. Hy’s bekommerd omdat die kinders op hulle eie moet aankarring …

      “Is jy Danielle Krause?”

      Sy was so diep in gedagte versonke dat sy wip van die skrik toe die ryk, diep stem langs haar praat.

      “Dis ek.”

      Die man wat haar hand skud en daarna die stoel oorkant haar uittrek en gaan sit, toon nie baie ooreenkomste met die fantasie wat Danielle oomblikke tevore gehad het nie. Eerstens is hy baie jonger as wat sy gedink het. Hy het die sterk lenige lyf van ’n jong man en ’n dik bos donker hare waarin daar nie ’n enkele grys haar sigbaar is nie. Sy vierkantige kaak wys dat hy nie nonsens vat of hom laat voorskryf nie, en sy priemende oë lyk asof hulle dwarsdeur haar kyk. In daardie één opsig was sy reg. Dié man beheer sy lewe met ’n ysterhand. Dis net die duikie in sy ken wat sy gesig enigsins versag. Effens.

      “So, Danielle, is jy oorval deur oproepe? Staan die mense tou om jou dienste te bekom?”

      Sy kan nie agterkom of hy spot en of hy net belangstel nie, maar sy oë ondersoek haar gesig asof hy wil seker maak dat sy wel Danielle Krause is.

      Daar was vier oproepe benewens die een van Meyer Senekal. Een, kon sy hoor, was ’n opregte navraag, want dit was ’n vrou wat die oproep gemaak het en sy het die regte vrae gevra. Toe sy egter agterkom dat Danielle dertig is, was sy dadelik nie meer entoesiasties nie. Die vorige au pair het glo net ses maande gebly en is toe weg om te trou. Twee ander oproepe was van mans wat wou weet waar sy bly en wanneer hulle kan kom kyk hoe sy lyk. Syf wat haar lyf soek, bel so gereeld in sy dronkmanstem dat sy die nommer herken en eenvoudig nie antwoord nie. Ongelukkig laat hy gereeld ’n smerige boodskap. Dié inligting gaan sy egter nie vir Meyer Senekal gee nie.

      “’n Paar,” sê sy ontwykend en kyk af om sy oë te vermy.

      “Enigiets wat jy oorweeg?”

      “Nie regtig nie,” antwoord sy eerlik. “Maar jy … sou dit nie beter gewees het as jou vrou die onderhoud met my gevoer het nie? Sy ken die kinders se behoeftes tog seker beter?”

      ’n Spier in sy wang spring. “Kan ek vir ons koffie bestel voordat ons praat? Of verkies jy tee?”

      “Koffie, dankie.” Sy is effens verbaas dat hy nie net bestel het sonder om haar te vra nie.

      Nadat hy die koffie bestel het, sit hy terug in sy stoel en kyk takserend na haar. “Daar is nie ’n vrou wat die onderhoud met jou kan voer en ook nie kindérs nie. Ek het een dogtertjie wat sewe jaar oud is. Sy is in graad een. Ek het tot die besef gekom dat daar sekere ingeboude tekortkominge in my … um, kom ons sê maar, persoonlikheid is. Ek beskik glad nie oor die vaardighede wat uniek aan vroue is nie, en dis wat sy nodig het.”

      Danielle kyk woordeloos na hom. Dít het sy nie verwag nie. “Is jy en jou vrou geskei?” vra sy pront.

      “Sy’s dood.”

Скачать книгу