As liefde ontwaak. Elsa Hamersma

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу As liefde ontwaak - Elsa Hamersma страница 8

As liefde ontwaak - Elsa Hamersma

Скачать книгу

jammer,” sê sy sag. “Die ma van die twee seuntjies na wie ek omsien, is van hulle pa geskei en landuit. Hulle sien haar dus nooit nie. Dis swaar vir ’n kind om een ouer te verloor.”

      “Watter soort ma doen so iets? Die wet sal altyd toesig aan haar toestaan, tensy sy regtig nie belangstel nie.” Sy frons laat haar in geen twyfel oor sy gevoelens nie.

      “Sy wou die kinders landuit vat, en haar eksman, wat nou my swaer is, het dit reggekry om ’n stokkie daarvoor te steek.”

      “En toe bly sy nie in die land ter wille van haar kinders nie?”

      “Nee. Sy het glo nie twee keer gedink toe daar ’n keuse tussen haar minnaar en haar kinders kom nie. Dit moes Dawid seker baie ontstel het.”

      “Dawid?”

      “My swaer. Dawid Aucamp. Professor Dawid Aucamp.”

      “Ek sien,” sê hy met ’n effense glimlag. “En toe trou hy met jou suster wat ook nie die moederlike tipe is nie. Snaaks hoedat sommige mense keer op keer dieselfde foute maak.”

      “Ja, daaroor kan ek nie met jou stry nie. Magdeleen leef net vir haar loopbaan. Tog dink ek sy sou alles feil gehad het vir haar eie kinders. Ás sy gehad het.” Sy dink ’n oomblik na. “Maar jy praat asof jy my suster ken?”

      “Nee, ek ken haar nie, ons is net sakekennisse. Ek sien haar van tyd tot tyd by sosiale geleenthede. Maar volgens wat jy my vertel het, het ek haar reg opgesom.”

      “O!” Sy sit haar koffiekoppie versigtig neer. Hy hét Magdeleen reg opgesom. Sou hy besig wees om háár ook op te som terwyl hulle oor ditjies en datjies gesels? Daardie oë van hom lyk asof hulle dwarsdeur haar kyk. Tot watter gevolgtrekking het hy gekom? Of besluit hy nog?

      Sy het self nie die vermoë om mense dadelik op te som nie, maar sy hoef nie ’n profeet of sielkundige te wees om die eienskappe van die man voor haar te herken nie. Hy is die tipe wat nie foute maak in sy besluitneming nie, want hy oorweeg al die feite noukeurig. Daarom is daar geen kans dat hy ’n au pair sommer so oor ’n koppie koffie sal aanstel nie.

      Dis dalk beter as sy die werk nie kry nie. Hy is die tipe man waarop sy sou kon verlief raak. Sy hou van ’n man wat weet wat hy wil hê. ’n Sterk man. En mooi was nog nooit lelik nie. Van sy netjies geknipte bos donker hare tot by die punte van sy elegante Italiaanse skoene, is hy die essensie van manlikheid. En die duikie in sy ken …

      “En jy? Pla dit jou nie om hierdie kinders wat nie ’n ma het nie, ook in die steek te laat nie?”

      “Nee.” Sy kyk hom reguit in die oë. “Die kinders is nie wesies nie. Hulle bly in ’n liefdevolle huis saam met hulle pa en ’n stiefma. Dis natuurlik nie hulle skuld dat die situasie so ontwikkel het dat dit vir my onaanvaarbaar geword het nie. Ek het ook die afgelope maande lief geword vir hulle, maar ek is enkellopend en dis net ek en ek alleen wat na my belange kan omsien. My suster en swaer neem eenvoudig aan dat ek vanselfsprekend nie omgee om my lewe aan die tweeling te wy nie. Dit pla hulle hoegenaamd nie om my soos ’n huurling te behandel wat niks beter het om te doen nie. Veral pla dit hulle nie dat ek nie tyd kry om my eie ding te doen nie. Selfs al het ek dit keer op keer vir hulle gesê.” Sy haal haar skouers op. “Daarom pla hierdie keuse my glad nie.”

      “Wat dink jy gaan hulle doen? Sal hulle jou miskien kan ompraat om te bly?”

      “Al wat sal gebeur, is dat hulle ook ’n au pair sal aanstel, haar vir haar dienste sal betaal en ’n ooreenkoms met haar oor haar werkure sal moet aangaan. In ’n kontraktuele situasie sal hulle vir seker anders optree en respek vir die au pair moet toon, die ure wat sy werk en die tye wat sy vry is.”

      “Jy het nog nie gesê wat die eie ding is waarvoor jy tyd nodig het nie?”

      Danielle sluk vervaard aan die warm koffie. Sy moes die vraag verwag het, want vanselfsprekend sal hy wil weet waarmee sy haar besig hou. Dis net dat sy nie daarvan hou om uit te lap dat sy ’n boek probeer skryf nie. Sy sou dit graag stil wou hou totdat sy die storie ten minste eers een maal neergeskryf het en die karakters goed ken.

      Sy wil nie so voortydig vrae beantwoord oor die tema en die genre nie. Sy wíl eenvoudig nie. Daarom weet net haar familie en Jesse daarvan, en hulle is reeds drie te veel.

      “Ek studeer,” glip die noodleuentjie uit.

      “Waarvoor?” vra hy met opregte belangstelling.

      Danielle sluk weer aan die koffie. Sy is in ’n hoek, want sy het geen idee wat om te antwoord nie en sy voel hoe ’n warm blos in haar nek op kruip. “Oukei,” sê sy ongemaklik. “Jy het my vasgetrek. Ek studeer nie; ek probeer ’n boek skryf. ’n Speurverhaal. En ek hou nie daarvan om daaroor te praat nie, want ek het nog nooit iets gepubliseer nie en weet nie eens of ek hoegenaamd daarin gaan slaag om dit uitgegee te kry nie.” Sy sal liewer nie noem dat daar ook ’n romanse in die boek aan die ontwikkel is nie, want sy is baie seker iemand soos Meyer Senekal sal dit nie verstaan of goedkeur nie.

      Die skerp oë oorkant haar versag effens, en sy mondhoeke lig ’n bietjie. “Ons is almal bang dat ons sal misluk wanneer ons iets op onbekende terrein probeer bereik. Dis nie ’n unieke vrees nie. En dan is die gedagte dat ander mense van jou mislukking sal weet, natuurlik ook nie lekker nie.” Hy speel met sy teelepeltjie en kyk opsommend na haar. “Jy wil dus soggens skryf? Jou advertensie het gespesifiseer dat jy in die middae beskikbaar sal wees?”

      Sy knik. “Dis wanneer ek die beste dink. Party mense skryf in die nag – dan is dit natuurlik heerlik stil – maar ek is ’n oggendmens. Ek staan veel eerder vroeg op en skryf, as om laataand te sit en werk.”

      “Kan ek net weer seker maak? Jy’t gesê jy is ongetroud. En jy’s nie verlief of verloof nie?”

      “Nee.” Sy voel hoe die warm blos weer teen haar nek opkruip.

      “Daar’s ook nie ’n eks wat die voordeur een nag gaan probeer afbreek om jou terug te kry nie?”

      “Nee.”

      Sy oë talm sekondes lank op haar gesig, maar hy is skynbaar tevrede met haar antwoorde.

      “Ek sal jou aan Nina moet voorstel voordat ek finaal besluit,” sê hy dan. “As sy nie van jou hou nie, sal ek jou natuurlik nie kan aanstel nie.”

      Nog ’n komplikasie waaraan sy nooit gedink het nie. “Ek verstaan. As sy my nie aanvaar nie, sal dit nooit werk nie.”

      Hy kyk op sy horlosie. “Ongelukkig moet ek nou gaan. Ek sal bel en ’n afspraak reël.” Hy sit ’n paar note op die tafel neer en met ’n beleefde knik van sy kop staan hy op en stap uit.

      Danielle kyk die elegante figuur in die donker pak agterna totdat hy by die deur uit verdwyn. Sy weet nie mooi wat sy verwag het toe sy haar advertensie geskryf het nie, maar Meyer Senekal is meer as enige van haar verwagtings.

      Nee, besluit sy, ánders as al haar verwagtings wat gedraai het om ’n lekker blyplek in ’n mooi huis in ’n mooi omgewing en met vaste werkure. Kinders na wie sy sou omsien. ’n Egpaar wat soos Magdeleen en Dawid hulp nodig het. Beslis nie ’n wewenaar nie. Vir seker nie.

      “Ek kan nie glo jy het die man ontmoet sonder om my daarvan te sê nie,” mor Jesse toe Danielle haar met die nuus bel.

      “Dit het vinnig gebeur,” verweer Danielle haarself. “Hy het

Скачать книгу