Dans van die sterre. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dans van die sterre - Schalkie van Wyk страница 1
Dans van die sterre
Schalkie van Wyk
Melodie
Hoofstuk 1
Haar ma is mooi, altyd mooi, selfs met ’n kwelfronsie tussen haar gevleuelde wenkbroue en ’n ongewone skadu van kommer in haar goudbruin oë, dink Jana Richter, terwyl ’n knaende onsekerheid in haar binneste groei.
Vriende en kennisse noem haar ouers “sonaanbidders”, want hulle volg die son soos onnadenkende kinders, omring deur ’n aura van jeug en eindelose geluk immermeer. Om haar ma bekommerd te sien laat haar ouers ineens in alledaagse mense verander wat alledaagse probleme ervaar, en dit laat haar gevoel van sekuriteit wankel.
Wel, darem nie heeltemal nie. Vandat sy vier jaar gelede die pos as vertaler by ’n uitgewer in die Kaap aanvaar het, het sy die verantwoordelikheid vir haar sekuriteit en haar toekoms grootliks op haar eie skouers geneem.
“Ek’s so jammer jy moes op jou eie onkoste huis toe kom, Jana-lief, maar . . .” Sonnique Richter maak haar slanke arms wyd oop in ’n hulpelose gebaar. “Dis so vernederend om tot die vlak van plebs te daal en na geld te moet verwys, maar vir die eerste maal . . .” Haar arms swiep die onaangename gedagte weg. Sy sit meer regop op die bankie voor haar spieëltafel, haar uitdrukking kamma onbesorg toe sy vervolg: “Met die skatryk ouers wat jou pa gehad het en die multimiljoene wat ek ná my eie ouers se dood geërf het, het ons weelde en oorvloed as ons geboortereg aanvaar. Om behoeftig te wees of gebrek te ly is vir ons ondenkbaar – erger as die doodstraf. Hoe kan ek aan jou ’n situasie verduidelik wat ek self nie verstaan nie, Jana?”
Jana hoor die verwarring, die byna kinderlike opstand in Sonnique se stem en gaan sit op ’n gemakstoel skuins teenoor die spieëltafel. Sy glimlag effens terwyl sy met gedwonge lighartigheid antwoord: “Ek is sedert ek my BA-graad gekry het reeds een van die sogenaamde plebs, Mamma. Ek en my kollegas bespreek gereeld die pryse van kos en brandstof of ’n nuwe winterjas, want as ons begrotings nie . . .”
“Asseblief, Jana, ek wil so ’n onaangename onderwerp nie met jou bespreek nie,” val Sonnique haar in die rede, en vervolg geamuseerd: “Jou voorneme om ’n salaris te verdien is net ’n gier om anders te wees, want jy weet dis nie vir jou nodig om te werk nie. Jy en Waldus en Danette sal altyd ’n ouerhuis en oorvloed hê. Ek en jou pa besef dis ons plig om ons kinders alles te gee wat hul harte begeer, my lief.”
Jana swyg oomblikke lank, leun nader en lê haar hand op dié van Sonnique. “Ons huishoudster het my nie oudergewoonte by die voordeur ingewag nie. Waar is mevrou Brewis, Mamma?” vra sy aarselend.
’n Gloed kruip oor Sonnique se gelaat en sy draai haar kop weg om Jana se oë te vermy. “Met vakansie,” antwoord sy onoortuigend.
Jana sug ongeduldig en leun weer terug op haar stoel. “Ons trippel soos twee bang kinders om ’n onskadelike bal en gee voor dit het tande wat ons kan byt. ’n Gebrek aan geld kan nie byt nie, Mamma. Tant Driekie – ek bedoel, mevrou Brewis – het my per e-pos laat weet dat sy besluit het om af te tree. Ek neem aan ons kan nie bekostig om ’n nuwe huishoudster in diens te neem nie.”
“Maar sy is net ’n bediende! Waarom is dit vir jou nodig om met mevrou Brewis in verbinding te bly?” vra Sonnique ontsteld.
“Mevrou Brewis was altyd meer as net nog ’n werknemer, Mamma.” Soos die ouma wat sy nooit gehad het nie, voeg Jana in haar gedagtes by en verduidelik met ’n onverskillige glimlaggie om Sonnique gerus te stel: “Ek ken mevrou Brewis my lewe lank. Sy is deel van . . . van ons huis. Het Mamma al ’n nuwe huishoudster in diens geneem?”
“Dit pas ons finansieel nie op die oomblik nie,” erken Sonnique hoorbaar onwillig. Die volgende oomblik glimlag sy kamma sorgvry en verduidelik met volkome sekerheid: “Ek het geweet jy sal verstaan, Jana. Die situasie is vanselfsprekend net tydelik. Ek en jy weet Pappa is ’n geniale sakeman wat binne enkele ure fortuine maak en fortuine verloor – finansies is altyd ’n dobbelspel, maar jou pa se verliese is nooit permanent nie.” Sy beduie na die tasse wat op die bed staan. “Gaan jy my help inpak, my kindlief? Ek moet reg wees wanneer jou pa lughawe toe wil ry. Ek sien tog altyd so uit na ons jaarlikse kuiertjie op die Maleisiese Eilande. Ons sal meestal op ons jag tussen die eilande vaar, daarom moet julle kinders nie bekommerd wees as julle nie gereeld van ons hoor nie. Ek en Pappa wil tog nie in die wintergety, met al die sterwende bome en blomme om ons, hier wees nie – dis soos ’n begrafnis. Ons vlug maar liewer weer na die tropiese klimaat.”
“Maar as ons nie geld vir ’n huishoudster het nie . . . Wie gaan vir Mamma-hulle se vakansie betaal?” vra Jana onbegrypend.
“My liefste kind, moet ons al weer oor geld praat? Ek laat alle finansiële besluite aan jou pa oor. O, ja . . .” Sonnique swyg asof iets haar pas bygeval het, “sal jy omgee om jou werk tydelik te bedank? Of vra net of jy ses maande onbetaalde verlof kan kry sodat jy hier kan wees om na Danette om te sien. Waldus is veronderstel om op universiteit te wees, maar hy is meestal tuis of êrens saam met een van sy talle meisies op ’n partytjie. Probeer hom oorreed om sy studies ernstig op te neem, Jana-lief. Jy was so ’n knap student, maar ek is bevrees ons het Waldus en Danette te veel bederf.”
“Sommer so?” Haar stem is ’n yl gepiep in haar eie ore. Sy kug agter haar hand en sê pynlik redelik: “Dis nou eers Mei, Mamma. Ek kry my jaarlikse verlof aan die einde van Junie, maar vra ek vir ses maande verlof, sit ek werkloos op straat en bedel. Liewe land, besef Mamma nie hoe skaars werk is nie?”
“As jy my so betig, klink en lyk jy soos jou hovaardige . . . e . . . soos ’n vrou wat ek voor jou geboorte ontmoet het,” verwyt Sonnique en maak weer ’n swiepende gebaar met haar arms asof sy onaangename herinneringe wil uitwis.
Jana weet wat haar ma eintlik wou sê en dié keer gaan sy dit nie ignoreer nie. Sy het haar ouers haar lewe lank nooit oor haar Richter-grootouers uitgevra nie, maar sy kan intuïtief aanvoel sy hoef nie langer te huiwer om die verbode onderwerp aan te roer nie. Iets het verander, besef Jana, moontlik vanweë haar ma se skuldige verwysing na hul onvermoë om Jana se reiskoste van die Kaap af te betaal.
“Ek weet ek lyk soos Pappa se ma, my ouma Engela Richter. Was sy werklik . . .?”
“Mevrou Brewis! Ek het jou pa al die jare gewaarsku sy is ’n agterbakse ou skinderbek. Ons het haar ten strengste verbied om jul Richter-grootouers ooit met julle kinders te bespreek. Vir die eerste maal is ek nie spyt dat ons haar afgedank het nie.” Sonnique waarsku Jana met ’n pleitende blik om die huishoudster se afdanking nie te bespreek nie.
“Dit was my skuld, Mamma. Ek was tien of elf toe ek een aand bitterlik gehuil het omdat ek blonde hare en blou oë het. Dalk was ek histeries, want ek het mevrou Brewis vasgeklou en oor en oor gesê ek is ’n aangenome kind, ’n optelkind, want ek lyk nie soos julle of my broer en suster nie. Mevrou Brewis het my probeer kalmeer en my verseker ek is jul eie kind, maar ek het net harder gehuil. Ek veronderstel sy was desperaat en het my van my ouma Engela vertel. Ek het haar beloof ek sal nooit met Mamma-hulle oor Ouma Engela praat nie, maar ek het nooit weer gevrees ek is ’n aangenome kind nie.”
“Dalk is ek mevrou Brewis tog ’n bietjie dank verskuldig,” gee Sonnique met ’n verleë glimlaggie toe en betrag Jana swygend. “Jy was altyd anders, ernstiger as Waldus en Danette. Dit is nie net hul swart hare en bruin oë wat hulle van my en jou pa geërf het nie – hulle kry hul geaardheid ook van ons. Waldus en Danette is sonkinders, want hulle verwag net sonskyn in hul lewe en kwel hulle nie oor hul toekoms of finansies nie.” Sonnique dink ’n bietjie na. “Bruin oë is tog soveel warmer, soveel sonniger as blou oë – selfs viooltjieblou oë soos joune. Ek kritiseer jou nie, my kindlief, maar mevrou Brewis het gelyk gehad: jy het ongelukkig jou ouma Engela se witblonde hare en melkwit vel geërf,