In die blou kamp. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу In die blou kamp - Dana Snyman страница 3

In die blou kamp - Dana Snyman

Скачать книгу

hardloop die klaskamer in, tel tannie Tienie se lessenaar op, dra dit by die deur uit en gooi dit oor die stoep se muurtjie. Ons lag en stoot ons arms in die lug terwyl die lessenaar twee verdiepings ondertoe tuimel en langs die vlagpaal in die vierkant val en breek. Ons bring ons stoele en tafels en gooi dit ook ondertoe. Ons ruk tannie Tienie se plakkate vol wiskundige formules van die mure af en steek dit aan die brand. Een trek sy gulp oop en pis in tannie Tienie se boeksak. Ons breek die klaskamer se ruite.

      Ons hardloop met die stoep af, gryp die brandblussers van die mure af en gooi dit ondertoe.

      Ons jaag vir Spyker, die houtwerkonderwyser, by sy klas uit. Een van sy Grasshopper-skoene val af. Ons lag en begin ou Spyker se Grasshopper vir mekaar skop.

      Ek het die foto al deur ’n vergrootglas bekyk en probeer tel hoeveel kinders daarop is. Ek kom tot by honderd ses en dertig, maar daar kan meer wees, want die foto is effens uit fokus. Baie van die kinders lag. Dit lyk of sommige skree.

      Meneer Madoda Mahlutshana se pak is nog nuut, want aan die bokant van die baadjie se linkermou is ’n etiket wat jy eintlik veronderstel is om af te haal wanneer jy die baadjie begin dra.

      Meneer Mahlutshana hardloop in sy nuwe pak met sy bril op die punt van sy neus en skoene waarvan die lang punte in die grond wil vassteek. Hy hardloop oor die ordelike skoolterreine in my geheue, seuns eenkant, meisies anderkant, uit by die hek en deur die grense van my verstaan, met sy baadjiepante flappend agterna.

5.jpg

      ’n Held van weleer

      Oom Frik du Preez vertel, man, hier op my oudag bel ’n man van ’n garage my. Meneer Du Preez, sê die man. Ons wil u graag borg met ’n bakkie.

      Ek dink: A, nie sleg nie. In my speeldae was daar mos niks van sulke dinge nie. Jirder, ons moes selfs ons kouse en toks self koop.

      Gaan dit my iets kos? vra ek.

      Nee, Meneer, sê hy. Ons wil net ons naam by Meneer se naam op die bakkie hê.

      Nee, nee, sê ek vir hom. Ek soek nie my naam op die bakkie nie. Ek’s nie ’n windgat nie.

      Maar die kêrel hou vol, my naam sal op die bakkie moet staan. Later toe sê ek vir hom: Jong, dis so ’n bleddie lekker bakkie, skryf maar my naam op, maar skryf hom klein.

      Ek kry toe die bakkie. Man, en hy ry lekker. Een oggend ry ek met hom dorp toe. Mafikeng toe. Ek hou daar by Mega City stil, en toe ek uitklim, sien ek uit die hoek van my oog ’n man kyk na my, en hy kom nader – ’n jongerige swart man. Hy kom staan voor my, hierdie outjie, en hy is baie vriendelik, en hy vra: Are you Mister Frik du Preez?

      Ek sê vir hom: Yes, my friend. I’m Frik du Preez. How are you? Hy sê vir my: I’m fine, Mister Du Preez. It’s a honour to meet you. It’s really a big honour.

      Thank you very much, my friend, sê ek en ons skud hand, en toe ek so wegstap, dink ek: Rugby is darem ’n wonderlike ding. Ek het in ’71 al uitgetree en hier weet ’n swart outjie op Mafikeng van my. Ek draai om en stap terug na hom toe. Ook maar ydel, sien. Ek vra vir hom: My friend, are you a big fan of rugby? How do you know I’m Frik du Preez?

      Hy kyk so na my, daai mannetjie, en hy glimlag, en hy leun so half terug, en hy sê: I read it on your bakkie.

6.jpg

      Fanie

      Fanie is nou ’n ateïs – ’n ateïs en ’n evolusionis. Of dis hoe hy homself op sy Facebook-blad beskryf.

      Ek het jare laas met Fanie gesels, maar ek lees soms wat hy op Facebook skryf. Ons is al lank Facebook-vriende. Ons was saam op skool in die jare sewentig, hoewel ons tóé nie juis vriende was nie.

      Ons was ook saam in die Sondagskool, ek en hy. Iewers het ek ’n foto van ons katkisasieklas wat geneem is die dag toe ons in die kerk aangeneem en voorgestel is. Trots staan ons daar saam met Dominee op die moederkerk se trappe.

      Nou glo Fanie aan Charles Darwin eerder as aan God. Hy glo alles in die heelal is die gevolg van evolusie en natuurlike seleksie, soos Darwin dit beskryf het.

      Op sy Facebook-blad is ’n foto’tjie van Darwin met sy baard.

      Ek weet nie of Fanie Darwin se boeke gelees het nie, maar dit lyk wel of hy al van Richard Dawkins se boeke gelees het. The God Delusion. The Selfish Gene. Dawkins is omtrent die enigste skrywer na wie Fanie verwys wanneer hy op Facebook oor sy ateïsme skryf.

      Fanie glo Dawkins, so wil dit soms vir my lyk, nes hy eens op ’n tyd vir Dominee geglo het. Toegewyd. Met oorgawe.

      Fanie is kwaad. Dit blyk oor en oor uit wat hy op Facebook skryf. Hy is kwaad vir die Nasionale Party. Hy is kwaad vir Dominee. Hy is kwaad vir die kerk. Ons is mislei, sê hy. Hoe kon die kerk gesê het apartheid is nie sonde nie?

      Hoe kan mense steeds glo alles wat in die Bybel staan, is letterlik waar? vra hy graag. Hoe kon ’n slang met Eva in die Paradys gesels het? Hoe kon Noag al die diere in die ark gekry het? En Jesus se maagdelike geboorte? Belaglik!

      Ek het al met Fanie op Facebook probeer redeneer, maar dis moeilik om met Fanie te redeneer, want dit is asof dit nie met jóú is wat hy praat nie. Hy praat met iemand wat nie jy is nie, en daardie persoon is Die Christen.

      Soms laat Fanie jou voel asof dit jy persoonlik is wat Galileo in die vyftiende eeu bespot het toe hy gesê het die aarde is nie die middelpunt van die heelal nie. Dit is ook jy, Die Christen, wat mites in kinders op skool se koppe wil indwing. Dis ook jy wat glo ’n pastoor met ’n pienk das kan ’n tante tydens ’n opwekkingsdiens in ’n tent op Stilfontein van kanker genees.

      Mense sê dikwels lelike dinge vir mekaar op Fanie se Facebook-blad: sowel ateïste as Christene. Fanie is self ook nie altyd baie verdraagsaam nie. Hy het al gedreig om mense van sy blad af te gooi. Dit is asof alle Christene vir Fanie fundamentaliste is.

      Jy kan hom probeer vertel dat jy as ’n Christen ook nie meer glo alles in die Bybel is letterlik waar nie, maar dit beteken nie vir jou God bestaan nie. Jy kan vir Fanie probeer sê daar is iets heiligs in twyfel, maar hy stel nie regtig daarin belang nie.

      Eintlik wens ek ek en Fanie kan mekaar iewers ontmoet en gesels, man tot man, mens tot mens. Dis nou as hy my nie voor dan op Facebook unfriend nie.

7.jpg

      Huisbesoek

      Iewers tussen die tweede en die derde beker koffie stol die woorde in Marius se mond. Hy lig sy hand en vee oor sy oë.

      Ons sit by ’n tafeltjie in Café Grace. Hy bly ’n hele ruk stil en druk en druk aan die suikersakkie in sy hand.

      “Ek kry oor en oor dieselfde nagmerrie.” Hy kyk vlugtig na my. “Ek droom ek staan op die preekstoel en terwyl ek preek, begin my tande uitval – een vir een. Later begin my tong sleep en my stem raak al hoe sagter, en hoe harder ek wil praat, hoe meer val my tande uit. Totdat ek later tjoepstil is. Magteloos.”

      Marius

Скачать книгу