Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux страница 3

Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux

Скачать книгу

in die lug en dit op sigself maak haar moeg sodat sy ’n handdoek nader trek, dit op die bad se rand neersit en die arm daarop rus. Om met net een hand ’n waslap vol seep te smeer en haarself te was, neem tyd en sonder dat sy dit bedoel, word haar hare nat en moet sy dit ook was. Dis éérs moeilik en sy is uitgemergel toe sy uiteindelik uitklim en die sagte badjas wat agter die deur hang, aantrek.

      Dis hopeloos te groot en hang af oor haar hande. Met net een hand kry sy ook nie ’n handdoek om haar hare gedraai nie en sy stap ondertoe met die handdoek in haar hand en haar hare druppend op haar skouers.

      “Hallo?” roep sy in die portaal en kyk na die skeef gekantelde wit suile aan weerskante.

      “Hier is ek,” sê hy en verskyn om een aan haar linkerkant.

      “Jy sal my moet help,” sê sy. “Ek is gedaan. Ek kan nie eers die moue oprol nie, laat staan nog iets aan my hare doen.”

      Hy neem haar na ’n kamer agter die suil. Dis ’n woonkamer, sou sy sê, of ’n televisiekamer. Informeel met vet, kleurryke stoele en banke en ’n breë glasinsetsel tussen die beton waardeur mens uitkyk op ’n agtertuin vol blomme en struike.

      “Sit,” sê hy en wys na een van die stoele. “Wat moet ek doen?”

      “As jy net die moue kan oprol,” sê sy. “Ek weet nie wie se badjas dit is nie, dit het agter die deur gehang en is gemaak vir ’n reus.”

      Hy buig oor haar en rol die moue op tot twee hande verskyn. “Dis daar vir die gerief van gaste.”

      “Groot gaste.”

      “Wel, groter as jy. Wat nog?”

      Sy hou die handdoek uit. “Kan jy my hare droogvryf? Net winddroog sal goed wees, want op die oomblik drup dit op my skouers en maak my koud.”

      Hy vat die handdoek, buig weer oor haar en vryf onhandig voor hy self besef sy posisie is verkeerd. Hy loop om haar, vat die hare van agter tussen twee dele van die handdoek vas en begin vryf. “’n Dag vol eerste ervaringe,” merk hy op. “Dis die tweede.”

      “Die tweede eerste ervaring of die tweede ervaring?”

      “Die tweede eerste.”

      “Om my om te ry, was die eerste eerste?”

      “Ja. Dit gaan ook die laaste eerste wees.”

      “Ek hoop so,” stem sy saam en leun agteroor. Hy is nie onhandig nie, hy vryf lekker hard en dis nog warm in die kamer, die hare sal vinnig droog word.

      “Jy lyk nou soos ’n heks,” sê hy en staan ’n entjie weg. Hy het sy baadjie uitgetrek, maar dra nog ’n das by sy blou hemp. “Jou hare staan na alle kante.”

      Sy haal haar groottandkam uit die sak van die kamerjas en gee dit vir hom. “Ek is nie kleinserig nie, trek maar.”

      Dis ’n onnodige opmerking, haar hare is so dik dat hy nie anders kan as om te trek nie. Dis ook ’n baie vreemde ervaring om iemand anders se hare te kam. Haar hare is nie lank nie, hang net tot teen die holte agter in haar nek.

      “Daar,” sê hy toe hy klaar is. “Dis nou glad gekam, maar ek dra absoluut geen kennis van haarstyle nie. Watter kant is jou paadjie?”

      Sy trek haar regterhand deur die klam hare en skud haar kop. “Dit sal maar val soos dit moet. Baie dankie.”

      “Waar’s die doek waarin jou arm gehang het? Moet jy dit nie terugsit nie?”

      “Nie nou nie. Die arm rus mos nou.”

      Hy skink vir haar ’n glas wyn en sit dit langs haar neer. “Het jy jou familie gebel?”

      “Ek het nie eintlik familie nie. Net my oom en tante. Ek sal hulle môre bel as ek kalmer is, anders skrik hulle net.”

      Pieter kan dit glo. “Waar woon hulle? Waar woon jy?”

      “Hulle woon in Trompsburg. Dis ’n klein dorpie in die Vrystaat. Ek het by hulle gebly, maar die afgelope paar jaar bly ek orals.”

      “En doen wat?”

      Sy waai haar gesonde hand deur die lug. “Ag, iets van alles.”

      “En dis wat jy beplan om ook hier te doen?”

      Sy knik, drink ’n klein slukkie wyn en kyk hom betekenisvol aan. “Ek dink jy’t vergeet wat ek vroeër gesê het. Van honger. Ek was net van plan om iets te gaan eet toe jy my omgery het.”

      Hy knyp sy oë toe. “Sê liewer raak gery. Dis erg genoeg, maar klink beter as omgery. Ja, Anna het vir my ’n souttert en slaai gemaak. Ek is nog nie honger nie, maar jy kan kom eet.”

      “Mens kan verdwaal in jou huis,” merk sy op toe hy haar om nog ’n skuins gedraaide betonmuur lei na waar ’n ronde tafel in ligte hout staan. Een geblomde tafelmatjie lê gedek vir een persoon en hy wys sy moet sit. “Mm,” sê sy ná die eerste mond vol. “Dis baie lekker. Ek sou meer uie ingesit het en ’n knypseltjie tiemie, maar dis lekker. Ek kla nie.”

      “Is jy ’n kok?”

      “Ja,” antwoord sy. “Van formaat.”

      Hy bestudeer haar. Die dik blonde hare is nou feitlik droog en val vooroor tot op haar neus as sy dit nie gereeld terugskud nie. Haar gesig is hartvormig en bestaan hoofsaaklik uit twee groot, grysblou oë. “Ek sien,” sê hy.

      “Sien tel nie, jy moet proe. Ek sal een aand oorkom en vir jou my aspersie-soufflé maak. Dis ’n wenner.”

      “Oorkom?” vra hy. “Jy hoef net met die trappe af te loop.”

      “Nie môre nie. Dan is ek in die jeugherberg.”

      “Nee,” sê hy. “Jy moet begryp – ek voel verskriklik skuldig. Ek het niemand nog ooit seergemaak nie, dis regtig ’n … ’n onaangename ondervinding. Die minste wat ek kan doen, is om nou te sorg dat jy … wel, dat jy onderdak het. Huisvesting.”

      “Het jy nooit jou sussie van ’n muur afgestamp nie?”

      “Ek het nie ’n sussie nie en ek is seker as ek een gehad het, het ek haar nie afgestamp nie.”

      Sy hou vir ’n sekonde op met eet. “’n Broer?”

      “Ja. Twee.”

      “Nou ja? Julle het mekaar seker dikwels bloedneus geslaan.”

      “Ja-a-a,” sê hy huiwerig. “Dis anders. Ons was klein. Of jonk. Ons doen dit nie meer nie.”

      Sy trek die slaai nader en skep haar bord vol. “Ek het nie vir die dokter gesê jy het my om- … my raak gery nie. Ek het gesê ek en jy was op ’n staptoer en ek het geval.”

      “Hy’t jou natuurlik geglo,” sê hy wrang. “Jou vel op ’n teerpad afgeskuur en ek in ’n pak.”

      “Hy’t jou nie gesien nie,” sê sy. “En ek het net gevoel dis ordentliker.”

      “Dankie.

Скачать книгу