Die lente kom weer. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lente kom weer - Christine le Roux страница 4

Die lente kom weer - Christine le Roux

Скачать книгу

nie. Wat het mevrou Nel oorgekom – of is sy net gedaan?”

      Hy lyk ongemaklik omdat sy die spyker so netjies op die kop geslaan het. “Sy moet glo rus, ja. Die nuwe een is haar niggie.”

      “Is sy mooi?” vra Maryke nuuskierig.

      “Ek weet nie. Ek het nie opgelet nie. Sy doen haar werk baie knap en dit is al waarin ek op die oomblik belang stel.”

      Maryke snork ongelowig. “Ek glo dit nie. Jy weet Ma-hulle is baie gretig dat jy moet trou. Hulle reken jy is nou oud genoeg. Wat is dan die probleem? Daar is tog genoeg mooi meisies in die stad – hoe is dit dan dat jy nog nooit die regte een raakgeloop het nie?”

      “Ek is seker te kieskeurig,” sê hy styf. Hy sal nooit toelaat dat iemand hom so uitvra nie, maar teen sy suster het hy geen verweer nie. “En ek is moeg vir mooi meisietjies wat oor niks kan praat nie. Jy weet tog hoeveel meisies ek al uitgeneem het.”

      “Ja,” sug sy. “Weet ek nie. Maar ek sal jou sê wat die probleem is: Die meisies raak te maklik verlief op jou en dan verloor jy belangstelling. Dis tyd dat jy jou vasloop teen ’n meisie wat niks van jou hou nie. Ek is seker dit sal jou belangstelling prikkel.”

      “Bog,” sê hy kortaf.

      “O ja,” hou sy vol. “Kyk, dit is nou ongelukkig so dat jy ’n baie aantreklike man is. Ek hou nie daarvan om dit te sê nie, maar dit ís so. En die meeste meisies gee jou net een kyk en raak dolverlief. Wat jy nodig het, is ’n meisie wat dit nié doen nie.”

      “Dankie,” sê hy sarkasties. “Maar ek kan jou verseker dat jy dit mis het.”

      “Goed,” sê sy paaiend. “Ons sal nie langer daaroor stry nie. Kan ek jou strooimeisie wees wanneer jy trou?”

      Hy lag teen sy sin. “Jy sal teen daardie tyd al lankal getroud wees en ’n string kinders hê.”

      “O nee,” sê sy ernstig. “Ek was nou die middag by ’n fortuinvertelster en sy het gesê ek sal eers my kursus voltooi en oorsee gaan en dan sal ek ’n aantreklike, donker man ontmoet.”

      “Jy glo tog nie sulke goed nie! Sy sê dit seker vir almal. Soos ek jou ken, trou jy sommer volgende week met jou kitaarspeler.”

      Sy staan op, stap ken in die lug kombuis toe en begin die borde in die wasbak afspoel. Toe die telefoon lui, los sy alles net so en draf by Frans verby om te antwoord.

      “Frans Fourie se harem hier,” sê sy borrelend in die mondstuk en gee laggend pad toe haar broer haar wrokkig aangluur en die gehoorstuk by haar gryp.

      “Ja?” hoor sy hom sê. “Maar ek het dan gesê u hoef nie werk huis toe te neem nie!” Die res van die gesprek is baie tegnies en sy luister net met ’n halwe oor en veronderstel dat hy met sy nuwe sekretaresse praat.

      “Ek maak jou dood!” sê hy suur toe hy klaar gepraat het. “Wat dink die vroumens van my?”

      “Maak dit saak?” Sy droog die laaste bord af en pak dit weg. “Sal ek vir ons koffie maak?”

      Hy skud net sy kop en gaan sit in een van die leunstoele. Nee, dit maak seker nie saak nie, dink hy. En tog wil hy hê die nuwe sekretaresse moet ’n goeie dunk van hom hê; waarom weet hy nie. Wat hom op die oomblik meer interesseer, is die feit dat hy ’n baba op die agtergrond hoor huil het toe hy met juffrou Nel gepraat het. Wie s’n is dit en waar kom sy daaraan? Hy weet ook dat hy haar nooit sal vra nie, want hy kon sien aan die uitdrukking op haar gesig dat sy dit nie sal duld as iemand te na aan haar kom nie.

      “En as jy so ingedagte hier sit?” vra Maryke toe sy met die koffie binnekom.

      “O, ek dink sommer net. Dit reën nog steeds – wat gaan ons omtrent jou motor doen?”

      “Ons los hom maar hier,” sê sy asof dit nie veel saak maak nie. “Ek sal môremiddag ná klas vir John of iemand vra om daarna te kom kyk. Sal jy my netnou huis toe neem?”

      “As jou klere droog is, ja. Ek ry nie in die strate rond met ’n meisie wat in my kamerjapon geklee is nie.”

      Sy lag en draai in die rondte. “Ek dink ek lyk mooi daarin. Hoeveel meisies het dit al aangehad?”

      “Jy is stuitig, Maryke,” sê hy stroef. “Gaan kry jou klere dat ons kan ry.”

      Hoofstuk 2

      Kristien Nel besit nie ’n motor nie en moet per bus huis toe gaan, met die gevolg dat sy ook papnat by die huis aankom. Sy is ergerlik daaroor omdat sy gewoonlik goed genoeg georganiseer is en altyd ’n sambreel in haar handsak het. Toe sy die voordeur van haar woonstel oopstoot, kom ’n huishulp uit die kombuis met ’n baba op die arm en toe sy die laggende gesiggie sien, vergeet sy van haar nat klere en hare en vat die baba om hom teen haar vas te druk.

      “Hy’t klaar geëet,” sê die huishulp, Lina, “maar hy moet nou gebad word.”

      “Ek sal dit doen,” sê Kristien en stap na haar slaapkamer waar sy die baba op die mat neersit terwyl sy haar nat klere afstroop en haar hare losmaak sodat dit kan droog word.

      Toe sy op haar knieë langs die bad staan en na die volmaakte lyfie kyk, oorval die ou beklemming haar weer. Die kind is nie hare nie en sy sal hom eendag moet teruggee. Dis ’n feit wat sy nie kan wegredeneer nie en sy het al dikwels gewens sy het nie aangebied om hom te neem nie. Sy moes geweet het sy sal vir hom lief word en dat dit haar hart gaan breek wanneer sy hom moet teruggee.

      “Neelsie, my ding!” sê sy en die kind druk die waslap in sy mond en kraai van die lag. Sy was hom, trek hom aan, speel ’n ruk met hom en sit hom daarna in die bed.

      Nadat sy geëet het, lê sy agteroor in een van die leunstoele in die sitkamer. Sy is moeg en voordat sy met die werk begin wat sy huis toe gebring het, wil sy net ’n oomblik rus. Sy weet nie of sy die regte ding doen om te gaan werk nie en tog weet sy dat sy nie kon weier om haar tante te help nie. Haar tante was al so goed vir haar, was soos ’n ma vir haar sedert haar ouers jare gelede verongeluk het. Maar sy is moeg. Die afgelope jaar het baie eise aan haar gestel; as sy daaraan terugdink, is dit soos ’n droom.

      Sy werk al ses jaar by ’n groot firma en sy was gelukkig daar. Sy het ’n belangrike pos beklee en haar salaris was goed. Haar spaarrekening was iets om op trots te wees en haar lewe was georganiseer. Sondae het sy by haar tante gekuier of die dag by haar broer en sy jong vroutjie deurgebring. Hulle was baie geheg aan mekaar en het tergend gepraat van die weeskinderklub, want haar skoonsuster was ook ’n weeskind. Almal was in die wolke toe daar ’n baba op pad was en hulle tante het gebrei en kleertjies gemaak. Dit was kompleet asof dit hulle almal se baba was.

      Kristien glimlag wrang terwyl sy nou daaraan dink. As hulle maar geweet het hoe naby hulle aan die waarheid was. Pierre, haar verloofde, het haar altyd daaroor geterg en sy het maar gelag. Hulle was ’n hegte gesin gewees en die dood van haar ouers was ’n geweldige skok en het haar en Neels, haar broer, saamgegooi en bewus gemaak van hulle kwetsbaarheid. Pierre was simpatiek en het haar daagliks verseker dat sy een van die dae deel sal wees van sy eie groot familie. Dit was vir haar ’n troos en tog het sy geen moederlike teerheid by haar aanstaande skoonmoeder gekry nie. Sy was ’n koue vrou, gesteld op haar voorkoms en gedrag en minder besorg oor Kristien se geestelike gesteldheid.

      En toe die tweede skok: haar skoonsuster is enkele weke ná klein Neelsie se geboorte dood. Sy wou dit nie glo

Скачать книгу