Die lente kom weer. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lente kom weer - Christine le Roux страница 6

Die lente kom weer - Christine le Roux

Скачать книгу

is die slagoffer van omstandighede en in die kwetsbaarste posisie omdat hy nie vir homself kan sorg nie. Vir die eerste keer in haar lewe het Kristien ook besef dat die lewe uit keuses bestaan. ’n Mens kan nie alles kry wat jy wil hê nie. Sy mag nie vir Pierre én die baba hê nie. En wat haar die hartseerste gemaak het, was die feit dat Pierre die verbreking van die verlowing so maklik aanvaar het. Was hy dan nie lief vir haar nie?

      Kristien was nooit van die soort meisies wat omring was van kêrels nie. Sy was mooi, ja, maar dit was ’n vreemde soort skoonheid, en anders as dié van haar vriendinne. Toe haar vriendinne in ligte valletjiesrokke geklee was, was sy in eenvoudiger, donker kleure geklee. Sy het geweet dit pas by haar donker hare en oë en ligte vel, en dat sy verspot lyk in enigiets anders, maar feit bly staan: sy het anders gelyk en boonop was sy ’n ernstiger mens. Miskien was dit die skok van haar ouers se dood wat haar in haarself laat keer het; miskien was dit ingebore en deel van haar persoonlikheid. Sy was nooit deel van die groep nie, het verkies om met ’n boek onder die bome te sit wanneer almal buite baljaar het. Sy weet die ander jongmense het gedink sy is snaaks en hoogmoedig, maar dit was nie die geval nie. Sy het bloot haar plesier uit ander dinge verkry.

      Daar was kêrels, maar niemand met wie sy ernstig betrokke wou raak nie. Pierre was die eerste man vir wie sy meer as blote vriendskap gevoel het. Drie jaar nadat sy by die firma begin werk het, het sy in haar woonstel ingetrek en die eerste aand reeds was daar ’n klop aan die deur en ’n aantreklike, mooi geboude man het daar gestaan.

      “My naam is Pierre Jansen,” het hy gesê en sy hand uitgesteek.

      Sy het haarself voorgestel en na hom gestaan en kyk. Wat wou hy hê?

      “Gaan jy my nie innooi nie?” het hy gevra. “Ek is jou buurman.”

      Sy was verbouereerd. “Dis alles nog baie deurmekaar. Ek het vandag eers ingetrek.”

      “Ek is seker jy kan ’n koffiebeker êrens uitgrawe,” het hy gesê. “Of wil jy na my woonstel kom?”

      “Nee, nee,” het sy gesê en opsy gestaan dat hy kon binnekom.

      “Ja-nee, ek kan sien dit is nog deurmekaar. Maak jy vir ons koffie dan help ek jou om die goed reg te skuif,” was sy reaksie.

      “Dis regtig nie nodig nie …” Maar sy het tog gaan koffie maak en terwyl hulle gedrink het, het hy haar uitgevra. Hy wou weet waar sy vandaan kom, waar sy werk, of sy getroud is – dit het haar laat lag en daarna het hulle gou vriende geword. Hy het sy koffie klaar gedrink, gesê hy sou binne ’n paar minute terug wees en ’n oomblik later was hy daar met sy gereedskap. Hy het haar platespeler gekonnekteer, haar skilderye opgehang, die meubels volgens haar instruksies rondgeskuif en binne ’n verbasend kort tyd was die woonkamer leefbaar en mooi toe die lampe eers brand.

      “Is jy nou nie bly ek het aangebied om te help nie?” het hy geterg. “Jy kan nou rustig gaan slaap wetende dat alles darem in orde is.”

      “Dankie,” het sy gesê. “Jy het regtig hard gewerk. Maar dis nou genoeg, ek kan die res môre doen.”

      Hy het opgestaan om die koffiebekers kombuis toe te neem en toe hy die chaos in die kombuis sien, het hy hardop gesug en na haar geroep. “En al die kartondose wat nog nie uitgepak is nie?”

      “Dis nie dringend nie,” het sy probeer keer.

      “Almiskie. Vele hande maak ligte werk. Ek sal jou gou help. Ek sal uitpak en jy kan wegpak. Dink jy nie dit sal vinnig gaan nie?”

      Sy het skuldig gevoel en probeer verduidelik waarom dit nog nie gedoen was nie. “Ek het netnou maar eers by die huis gekom. Ek was baie besig op kantoor en op pad huis toe moes ek kos koop. Dis regtig nie nodig dat jy …”

      Maar hy was reeds besig met die eerste doos en voordat sy heeltemal tot verhaal kon kom, was alles uitgepak. Sy het nie baie goed besit nie en die helfte van die kombuisgoed het sy by haar ma geërf en nog nooit voorheen gebruik nie: die fyn porseleineetstel en -teestel, die pragtige gesnyde glase, ou bakke en bekers wat nog aan haar ouma behoort het. Sy kon sien dat Pierre ’n kenner van sulke fyn goed is, en sy kon sien dat die kwaliteit van haar porseleingoed hom beïndruk het. Kort-kort het hy iets opgehou teen die lig en dit in die rondte gedraai asof hy ’n koper op ’n vendusie was.

      “Pragtige goed,” was sy enigste opmerking en nadat hy die laaste leë doos uitgedra het en sy hande gewas het, het hy vir haar geglimlag en oordrewe oor sy maag gevryf. “Ek is nou honger. Het jy al geëet vanaand?”

      “Nee,” moes sy erken. “Ek het gedog ek sal sommer ’n appel en ’n stukkie kaas eet.”

      “Nee, dis nie genoeg om ’n mens te voed nie. Veral nie wanneer jy hard gewerk het nie. As jy vinnig jou gesig was en jou hare kam, dan neem ek jou na ’n klein restaurantjie hier naby. Daar is heerlike kos en ’n vriendelike eienaar. Hoe klink dit vir jou?”

      “Dit klink heerlik, maar ek is baie vuil. Gesigwas sal nie genoeg wees nie.”

      “Ek gee jou vyf minute,” was sy vrolike antwoord. “Twee minute om ’n stortbad te neem, twee minute vir afdroog en ’n skoon rok aantrek, en een minuut om jou hare te borsel. Kan jy dit doen?”

      Sy het gelag en in die badkamer verdwyn en toe sy weer te voorskyn kom, was hy terug in die sitkamer in ’n skoon hemp en met sy hare netjies geborsel.

      “Pragtig!” het hy uitgeroep toe hy haar sien en teen haar sin het sy gebloos.

      “Dankie. Ek is gereed.”

      Hulle het die paar blokke na die restaurant gestap en hy het haar liggies aan die elmboog vasgehou – net lig genoeg dat sy nie kon aanstoot neem nie en net stewig genoeg om haar te wys wie in beheer was. Toe hulle by die restauranttafeltjie met sy geruite kleedjie sit, het sy eers besef hoe honger sy in der waarheid was.

      “Was dit nou nie ’n goeie plan nie?” wou hy weet toe hulle ná die ete met koppies koffie voor hulle gesit het.

      “Ja, dit was. Baie dankie. Ek voel sommer baie beter.”

      “Jy sal nog agterkom dat ek altyd weet wat goed is vir jou.”

      “Werklik?” het sy gespot.

      “O ja.” Hy het haar ondersoekend aangekyk. “Jy het my nou al vertel waar jy werk en so aan, maar jy het nog nie vir my gesê of daar ’n man in jou lewe is nie.”

      “Dis ’n persoonlike saak.”

      “Ek weet. Is daar een?

      Sy moes lag vir sy koppigheid. “Nee, daar is nie.”

      Hy het tevrede agteroor gesit. “Dan is daar van vanaand af een: Ek.”

      Sy het haar kop geskud en weer gelag. Toe sy die middag van die werk af gekom het en die chaos in die nuwe woonstel gade geslaan het, was sy bedruk. Sy was net nie lus vir die uitpak en regpak nie en dit het soos ’n berg voor haar gelê. En toe, ’n paar uur later, was sy tevrede en welbehaaglik moeg. Haar honger was gestil en boonop was sy in die teenwoordigheid van ’n besliste man wat haar amuseer het.

      “En jy?” wou sy weet. “Jy het my nog nie veel van jouself vertel nie. Miskien wag ’n kwaai meisiekind vir ons wanneer ons by die woonstel aankom.”

      “Nee: Op die oomblik is daar geen meisiekind nie. Nie eers ’n kwaaie nie. Stel dit jou tevrede?”

Скачать книгу