Kosbaar soos die lewe. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux страница 4

Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux

Скачать книгу

voortgegaan omdat hulle saam gewerk en albei die heil van die firma op die hart gedra het. Die afgelope paar maande het dit egter alles verander, en sy weet eerlikwaar nie wat haar die meeste verveel het nie, Karel of die firma. En sy twyfel sterk of hierdie nuwe werk vervelig gaan wees. Bedrukkend miskien, ja, en sy sal moet veg om nie deur die somberheid van die huis en sy mense aangetas te word nie. Sy het nooit eers die man gevra of sy aande of naweke vry sal hê nie. Sy veronderstel sy sal kan uitgaan as hy die aand by die huis is.

      Terwyl sy ry en die kind stil langs haar sit, besluit sy dat sy gaan probeer om die atmosfeer in die huis vroliker te maak. Dit kan nie goed wees vir Fransie om in so ’n huis te leef nie.

      “Hoekom hou jy nie van die kleuterskool nie?” vra sy skielik.

      “Sommer nie. Bees wil nie soontoe gaan nie.”

      “O. As Bees gaan, sal jy ook gaan?”

      “Nee.” Hy druk sy kennetjie koppig vorentoe. Sy kan geen ooreenkoms tussen hom en sy vader sien nie, en sy wonder meteens of dit werklik sy kind is; dit lyk dan so asof hy nie belang stel in die seuntjie nie. Nee, besluit sy, natuurlik is dit sy kind; sy moet nie dat haar verbeelding op hol raak nie. Hy het moontlik ’n grief teenoor die kind omdat die moeder by sy geboorte dood is.

      “Ek is honger,” sê Fransie.

      Sy sit haar hand op die vuil, maer knietjie. “Ek sal vanaand vir jou lekker kos maak. En ek sal vir jou koekies bak ook. Hou jy van koekies?”

      “Ja,” sê hy en praat nie weer nie. Sy sien hoe sy gesiggie verstrak toe sy by die rylaan indraai, en teen die tyd dat sy voor die huis stilhou en Mieta haar kom help met haar tasse, is die kind nêrens te sien nie. Hy is seker weer in die tuin in, dink sy terwyl sy haar klere uitpak en die mooi kamer geniet. Die son is besig om te sak toe sy klaar is, en sy staan voor die venster en kyk na die donker wordende tuin. Vir die hoeveelste keer wonder sy of sy die regte ding gedoen het.

      Hoofstuk 2

      Nadat Elizabeth klaar uitgepak het en tevrede met haar kamer is, stap sy ondertoe en loop die kombuis huiwerig binne. Sy wonder of iemand al ooit ’n nuwe betrekking onder vaer omstandighede aanvaar het. Die oppas van die kind verstaan sy; ’n kind moet gebad en gevoer en mee gespeel word, maar wat presies staan haar te doen as huishoudster? Dit lyk nie of dokter Nel veel instruksies gaan gee nie, en Mieta staan by die wasbak en spoel ’n teekoppie uit. Tee, ja, dis waarvoor sy lus is.

      Sy skakel die ketel aan en begin kassies oopmaak terwyl sy oplet wat in elke kassie is.

      “Juffrou,” sê Mieta onverwags, en sy draai om en kyk haar vraend aan. “Is juffrou nou vir altyd hier?”

      “Nie vir altyd nie, nee,” antwoord Elizabeth. “Maar darem seker ’n hele ruk. Waarom vra jy?”

      Die vrou frommel haar voorskoot en lyk ongemaklik. “Ek wil loop,” sê sy. “Ek wil al lankal geloop het, maar ek kon nie die dokter en die kind alleen los nie. Noudat juffrou hier is …”

      “O,” sê Elizabeth onthuts. “Weet die dokter hiervan?”

      “Ek sal hom sê.” Sy haal haar voorskoot af asof alles reeds finaal beklink is en maak nog kaste oop om vir Elizabeth te wys waar alles gehou word. “Hier is die skottelgoedwasser,” sê sy en wys hoe dit werk.

      Nou ja, dink Elizabeth filosofies, daar is niks wat sy aan die situasie kan doen nie, en as sy alleen al die werk moet doen, hou dit haar moontlik so besig dat sy nie beklemd kan voel nie. Daar is in elk geval genoeg masjiene en apparaat om die werk maklik te maak. Sy maak dus die yskas oop, haal vleis uit en begin met die voorbereiding van aandete.

      Terwyl sy werk, wonder sy waar Fransie is, en toe die kastrolle op die stoof is, vee sy haar hande af en gaan buitentoe.

      “Fransie!” roep sy en stap oor die donker grasperk. “Kom nou, jy moet gaan bad.”

      Hy kruip onder die struike uit en kom skugter nader. “Gaan jý my bad?”

      Sy vat sy vuil handjie en lei hom die huis binne. “Is jy nie groot genoeg om dit self te doen nie?”

      Hy skud sy kop. “Nee, jy moet my help.”

      Sy tap die bad vol, help hom om sy hempie oor sy kop te trek en tel hom in die bad. Terwyl sy die vuil beentjies skrop, bekyk sy die dowwe blonde hare. “Ek dink ons moet jou hare ook was.”

      Hy trek ’n gesig, maar stribbel nie teë nie, en toe sy hom uit die bad help en sy hare begin droog vryf, lyk hy sommer anders. Sy nagkleertjies is skoon, maar omtrent deurgewas, en toe sy vra of hy ’n kamerjas het, skud hy ontkennend sy kop.

      “Wie het jou gewoonlik gebad?” vra sy.

      “Mieta.”

      “En wie kyk na jou klere?”

      “Mieta was dit,” antwoord hy weer, en sy voel skielik hatig teenoor die afgetrokke man wat so min vir sy kind omgee.

      “Ek sal met jou pa praat,” sê sy. “Ek dink ek en jy moet môre winkels toe gaan; nee, môre is Sondag – ons kan Maandag gaan en vir jou nuwe klere koop. Sal jy daarvan hou?”

      Hy antwoord nie dadelik nie en lyk ook nie besonder opgewonde by die vooruitsig nie, en dit laat haar wonder of hy al ooit saam met iemand winkels toe was.

      “Waar het jy al die mooi speelgoed gekry?” vra sy toe hulle kombuis toe loop.

      “Pa koop dit,” antwoord die kind en ruik waarderend die kos op die stoof.

      “En jou klere?”

      “Ek weet nie.” Hy klim op een van die hoë stoeltjies en probeer sien wat op die stoof aan die gang is. “Maak jy vir ons lekker kos?”

      “Ek dink so.” Sy meng gou die slaai en wonder dan waar hulle gaan eet, of dokter Nel saam wil eet en hoe laat hy sy kos wil hê. “Moenie aan die warm potte vat nie, hoor? Ek gaan net gou vir jou pa iets vra.”

      Voor die studeerkamerdeur stryk sy eers oor haar hare, klop en gaan binne. Die man sit nie meer agter sy lessenaar nie, maar lê agteroor in een van die leunstoele. Op sy skoot is ’n boek, maar sy oë is toe en hy lees ooglopend nie daarin nie.

      “Verskoon my …” Sy kug en hy kyk op na haar. “Hoe laat wil u eet?”

      “Dit maak nie saak nie,” antwoord hy. “Nes die kos reg is. Mieta het kom sê sy wil loop.” Hy lyk nie asof hy enige belang by hierdie nietighede het nie.

      “Ja.”

      “Ons kan iemand in haar plek probeer kry.”

      “Ja.” Sy loop terug na die deur. “Eet u gewoonlik in die eetkamer of sommer in die kombuis?” vra sy met haar hand op die deurknop.

      “Dit maak nie saak nie,” antwoord hy en maak weer sy oë toe.

      Sy loop ergerlik terug kombuis toe. Die man stel eenvoudig geen belang in enigiets wat in die huis gebeur nie, dink sy ontstoke. Dan sal sý maar van nou af die besluite neem. Sy skakel die lig in die eetkamer aan, ruk die laaie van die buffet oop en haal ’n tafeldoek en messegoed uit. Fransie kom staan by haar en gee behulpsaam die sout- en peperpotjies aan.

      “Moet

Скачать книгу