Kosbaar soos die lewe. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux страница 6

Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux

Скачать книгу

’n hele paar uur lank, toe sy bewus word van ’n hinderlike geluid. Sy maak haar oë oop en lê ’n oomblik totaal verward totdat sy besef waar sy is en wat die geluid is. Dis ’n kind wat huil. Sy spring uit die bed sonder om eers haar japon aan te trek en hardloop na die kamer langsaan. Net voor sy ingaan, kyk sy om en sien dokter Nel se skraal figuur in die deur van sy kamer. Hý het wel ’n kamerjas aan en toe hy haar sien, tree hy terug en maak sy deur toe.

      “Wat is dit, Fransie?” vra sy besorg en trek die kind regop sodat hy teen haar skouer lê.

      “Gedroom,” snik hy.

      Sy streel oor sy hare, neem hom badkamer toe en gee hom ’n bietjie water om te drink. Toe bly sy langs hom sit totdat hy weer aan die slaap is. Was die man op pad na sy kind? wonder sy terwyl sy daar sit. Het dit al vantevore gebeur en indien wel, wie het die kind vertroos? Tog seker nie hy nie, anders sal die seuntjie nie so bang wees vir sy pa nie.

      Sy sug en loop terug na haar kamer, en dit duur ’n geruime tyd voordat sy weer aan die slaap is. Sy kan maar nie oor die verwondering kom dat haar lewe so drasties verander het nie. En so vinnig. Sy verbeel haar sy kan haar pa hoor lag. Hy het nog altyd gesê sy is die soort mens wat vinnig en halsoorkop op ’n ding besluit. As sy moeg is vir haar huidige werk, besluit sy sommer nou dadelik om iets daaromtrent te doen. Maar selfs hý, dink sy geamuseerd, sal nie kan glo wat sy hierdie keer aangevang het nie. En daarby is daar ’n waarskuwende klein stemmetjie in haar agterkop wat haar daaraan herinner dat sy hierdie sonderlinge betrekking aanvaar het omdat die salaris goed is en haar onkoste laag; omdat sy vinniger sal kan spaar vir die oorsese reis wat haar droom is sedert sy ’n kind was. As sy die droom bewaarheid wil sien, durf sy nie betrokke raak by die kind nie.

      Sondagoggend word sy wakker en lê lui om haar en rondkyk voordat sy besef dat sy die huishoudster is en vinnig uit die bed spring. Toe sy in die gang kom, sien sy Fransie op sy bed sit met ’n boek. Sy voel skuldig en help hom gou om aan te trek.

      “Jy is seker al honger?” vra sy, want die enigste normale ding omtrent hierdie kind is dat hy blykbaar altyd honger is. Sy het al vergeet dat ’n kind ’n groot eetlus het.

      “Ja,” sê hy. “Gaan ons weer pap eet? Bees hou nie van pap nie.”

      “Is dit so?” vra sy. “Nee, ons sal spek en eiers eet en net waarvoor jy lus is. Waar eet jou pa?”

      “Ek weet nie,” gee hy sy normale antwoord, en sy besluit dat die ontbythoekie seker daar is vir ontbyt; dus sal hulle dáár eet.

      Dokter Nel is nie in sy studeerkamer toe sy hom gaan roep nie, en sy vind hom buite in die tuin met ’n tuinslang in sy hand. Sy is verbaas, omdat sy hom beskou as ’n man van die donker. Hy draai dadelik die kraan toe en volg haar na die kombuis waar Fransie al klaar geëet het en vra of hy mag gaan speel.

      Elizabeth sit ietwat ongemaklik oorkant die man noudat die kind nie hier is om ’n gesprek mee aan te knoop nie.

      “Dankie vir die fles wat jy gisteraand vir my uitgesit het,” sê die man meteens.

      “Dis ’n plesier,” antwoord sy en probeer op haar kos konsentreer. Dis nie maklik nie, en sy wonder of sy ’n maagseer gaan opdoen onder hierdie nuwe bedeling van stil, ongemaklike etes. “Dokter Nel,” sê sy vasberade, “ek is heeltemal in die duister aangaande my pligte. Ek dink ons moet ’n bietjie gesels.”

      “Wat wil jy weet?” vra hy.

      “Wel …” Sy stoot ’n stukkie roosterbrood op haar bord rond. “Wie koop die kos? Van watter soort kos hou u? Wie koop die kind se klere? Sy klere is in ’n benarde toestand. Wil u vroeg in die oggend tee of koffie hê?” Sy voel sy moet praat terwyl die geleentheid daar is.

      Hy glimlag effens en die verandering wat dit aan sy stroewe gesig maak, verbaas haar. “As ons klaar geëet het, kan u na my studeerkamer kom en sal ek u die huishoudelike geld gee. Ek vrees u sal self die kos moet koop. Gebruik my motor as u wil. Dis groter. Ek kan altyd met u motortjie spreekkamer toe ry as dit nodig is. U wil darem seker nie elke dag winkels toe gaan nie?”

      Dié vreemde idee verbyster haar so dat sy skaars kan antwoord. “Nee,” stamel sy. “Natuurlik nie.”

      “En ek sal bly wees as jy vir die kind sal klere koop.” Hy het die formele u laat vaar, merk sy. “Ek het nie tyd daarvoor nie, en Mieta kon dit nie doen nie. Miskien is dit die beste as ek jou ’n tjekboek gee. Wat wou jy nog weet? Nee, ek wil niks vroeg in die oggend hê nie, en ek gee nie om wat ek eet nie. Is dit al?”

      “Ja dankie,” sê sy en hy staan op. Sy sit nog met haar koppie koffie voor haar toe hy weer terugkom en ’n tjekboek vir haar gee.

      “Hier,” sê hy. “Ek het ’n klomp tjeks geteken. As ek onthou, sal ek Maandag ’n bankrekening open vir al die huishoudelike uitgawes, dan hoef jy my nie weer te pla nie. Ek sal dit waardeer indien jy al die rekeninge ook sal betaal.”

      “Goed,” sê sy lammerig. “Ek sal dit doen.”

      Hy knik en loop uit, en sy sit na die tjekboek en kyk. Dit is duidelik dat die meeste alledaagse take en pligte vir die man net ’n las is, en hoe minder hy van haar en sy kind hoor, hoe beter. Hy sal betaal solank hulle hom net nie steur nie.

      Nou goed dan, dink sy vasberade en sit die tjekboek in haar sak. Ek sal uit jou pad bly en jou geld spandeer totdat jou kind ordentlik lyk. En ons sal jou nie steur nie.

      Sy gaan boontoe toe sy die ontbytgoed opgeruim het en maak haar en Fransie se kamers aan die kant, maak die badkamers skoon en wil net na die kind gaan soek toe sy die deur van sy kamer sien. Aangesien Mieta nie hier is nie, moet sy seker dokter Nel se kamer ook aan die kant maak. Sy klop nietemin eers om seker te maak hy is nie dalk binne nie.

      Sy bed is netjies opgemaak, en dit verbaas haar nogal. Hy wil dan niks weet van huishoudelike take nie. Sy kyk nuuskierig in sy kamer rond. Dit is net so luuks soos die ander kamers en net so onpersoonlik. Die gordyne is diep wynrooi, die deken donkerrooi en wit gestreep en die meubels van ’n donker hout. Sy badkamer moet skoongemaak word, en sy doen dit so vinnig moontlik omdat sy bang is hy kom in terwyl sy daarmee besig is. As dit nie was vir die skeergoed wat op ’n rakkie staan en die mediese tydskrif wat oopgevou voor sy bed lê nie, sou ’n mens dink dit is ’n hotelkamer, dink sy voordat sy uitloop.

      Sy gaan roep vir Fransie in die tuin, en hulle sit op die vloer in sy kamer met een van die dose speelgoed. Omdat sy saam met hom speel, is hy geesdriftig en bou karretjies en hyskrane en vragmotors wat hy met ’n dreunende gebroem oor die vloer stoot. Hy is so verdiep in sy spel dat hy ná ’n ruk skoon van haar vergeet, en sy sit glimlaggend na hom en kyk.

      “Fransie?” vra sy versigtig, “het jy gisteraand ’n nagmerrie gehad?”

      Hy frons. “Nee. Wat is ’n nagmerrie?”

      “’n Nare droom; ’n droom wat jou bang maak.”

      “Ek weet nie. Partykeer word ek bang.” Hy stoot die karretjie rond en klik sy tong ergerlik toe een van die wiele afval. Sy help hom om dit weer vas te druk.

      “En wat gebeur as jy bang word in die nag? Wat gebeur as jy wakker word en huil?”

      “Pappa kom,” sê hy asof sy dit behoort te weet.

      Dit neem die wind uit haar seile. Dan is die man nie die monster wat hy voorgee om te wees nie.

      “En as jy siek is?” vra sy.

      “Ek

Скачать книгу