Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk страница 7

Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

die warm rondings van haar liggaam, besef dat sy niks onder die kamerjas aanhet nie en tree met ’n gedempte verwensing agteruit.

      “Genugtig, vroumens, soek jy moeilikheid?” vra hy skor.

      Sy lag uitlokkend op in sy oë. “As dit die regte man is, ja,” antwoord sy gedemp.

      Sy oë soek oor haar donker kop na die fyn meisietjie wat oor haar boeke buk.

      “Dis die verkeerde man hierdie, Tanya. Verskoon my, ek het werk om te doen,” praat hy kortaf en draai om.

      “Maar ek wou jou gevra het om hierdie teorie aan my te verduidelik, Henk. Ek is só dom met –” stribbel sy stroperig teë en klou besitlik aan sy arm.

      “Raak dan slim, en bly weg van mans as jy nie behoorlik geklee is nie! Of dalk, meisietjie, kry jy regtig eendag waarna jy soek!” sê hy bytend, skud haar hand van sy arm af en stap na sy kamerdeur.

      In die groot hoekkamer hoor die meisies Henk se stem. Sonja spring dadelik op en stap na die oop deur.

      “Haai, Tanya, is dit al weer jy in jou bruidsgewaad?” spot die rooikop en leun lui teen die deurkosyn met haar arms op haar bors gekruis. “Foei tog, Tanyatjie, jy probeer al twee jaar – en nou is daar skaars twee maande oor. Dalk moet jy vir jou ’n nuwe uitrusting koop.”

      “Jy’s net jaloers omdat jy so prikkelend soos ’n koekie gesigseep is!” sis Tanya haar vernedering en frustrasie uit.

      “En jy’s ’n glibberige stukkie blouseep!” lag Sonja honend. “Ilse, kom ons spuit haar met die tuinslang nat. Ek dink die dingetjie is ’n bietjie warm.”

      “Los haar, Sonja,” sê Ilse rustig. “Tanya is maar net … Tanya. Ek dink darem Henk weet hoe om haar te hanteer.”

      “Julle maak verniet asof Henk so heilig is. Ek het al gehoor hy knyp die kat lekker in die donker. Petro het my vertel dat –” tier Tanya uit haar kamerdeur.

      “Ons stel nie belang nie, Tanyatjie,” val Sonja haar vies in die rede. “Solank jy nie die kat speel wat hy in die donker moet knyp nie. Toe, gaan leer nou, anders is jy volgende jaar derde jaar histories en eerste jaar akademies!”

      “O, jou …!” krys Tanya en slaan haar kamerdeur dawerend agter haar toe.

      Sonja lag veragtend en draai onthuts na Ilse wat ongestoord by die tafel bly sit het. “Daardie klein flerrie! Ek voel soms lus om haar ore warm te klap. Eerlikwaar, Ilse, wat dink Tanya as sy haarself so goedkoop maak? As ek sy was, sou ek nooit môre vir Henk in die oë kan kyk nie!”

      “Ek ook nie,” erken Ilse laggend, “maar ek dink ek weet hoe Tanya oor Henk voel. Toe ek ’n eerstejaartjie was, was ek hopeloos verlief op een van die ou manne. Ek weet nie eens wat sy naam was nie, maar ek het skoon hoendervleis geraak elke keer as ek hom op die kampus gesien het. En twee weke later sien ek weer ’n ander ou, en ek raak van voor af verlief!”

      Sonja glimlag begrypend. “Ek weet wat jy bedoel, want dit het met my ook gebeur. Ek was tot oor my ore verlief op die voorsitter van die Studenteraad, totdat ek hom saam met sy meisie gesien het – so ’n lieflike swartkop met ’n lyfie soos ’n filmster. Dit was die einde van my groot liefde.”

      “Maar dan verstaan jy seker tog hoe Tanya oor Henk voel, Sonja? Sy het seker al ’n duisend keer vir my gesê sy dink hy is die bakste man op universiteit, en sy sal enigiets doen om sy liefde te wen. Goed, ek dink ook nie sy is die regte aster vir Henk nie, maar sy kan tog nie help as sy hom liefhet nie.”

      “Snert!” snou Sonja, terwyl sy op haar stoel aan die punt van die groot tafel plaasneem en haar boeke voor haar regskuif. “As ’n meisie ’n man werklik liefhet, sal sy aand vir aand tuis sit – nie met elke Jan Rap en sy maat flankeer nie. Jy weet tog ek en Kobus het al rusie gehad, en al was ek smoorkwaad vir hom, het ek nie skielik met ander mans begin uitgaan nie. Ek het by die huis gebly en gewag totdat hy terugkom. Dis wat ek bedoel met liefhê.”

      Ilse kyk met iets soos bewondering in haar oë na haar kamermaat. “Hoe voel dit om iemand werklik lief te hê, Sonja? Soos jy vir Kobus het?”

      ’n Sagte glimlag kruip om Sonja se mond en Ilse sien die glimlag vonkel in haar groen oë. “Ek dink dis ’n gevoel van veiligheid. O, en altyd bly wees, tevrede wees … as ek by hom is. En ek voel vreeslik trots as ek na hom kyk en weet hy het net vir mý lief, hy is mý Kobus. Dis ’n samevoeging van baie dinge, maar ek dink ek het die belangrikstes genoem.”

      “Dis meer as genoeg, want dit klink Grieks vir my!” Ilse sug en skud haar kop. “Een ding is seker: ek is nie lief vir Bruce of enigiemand anders nie, want ek het nog nooit só oor ’n man gevoel nie.”

      “Nie eens oor Henk nie?” waag Sonja ’n skoot in die donker.

      Ilse lag verras. “Henk? Natuurlik nie! Miskien voel ek veilig by hom, maar dis omdat hy ons altyd soos sy susters behandel. O, en ek bewonder hom, want hy is ’n sterk mens, maar dis al.”

      “Dis ’n goeie begin,” terg Sonja en sê ernstig: “Ek spot maar net, Ilse, maar ek sal meer gerus voel as jy liewer op ’n ou soos Henk verlief raak. Bruce is ’n pierewaaier, soos tant Truia sê; net, ek kan veel erger benamings vir hom uitdink. Bruce is nie ons soort nie.”

      “Jy het dit reeds gesê,” kom dit effens geïrriteerd van Ilse. “En ek het jou mos beloof ek sal nie met so ’n man trou nie. Of glo jy my nie?”

      “Ek weet nie,” antwoord Sonja impulsief. “Ek weet net slimmer meisies as jy het al wanhopige dinge aangevang, bloot omdat hulle gedink het hulle doen goed. Dit kan nooit goed of reg wees om met ’n man ter wille van sy geld te trou nie.”

      “Seker nie, maar ek sal nie aan die goed of reg van die saak dink as ek so iets doen nie. Ek sal net aan my ma en die kinders dink. Maar los dit nou, Sonja. Bruce het my na ’n groot dans uitgenooi op die dertiende November. Ek sal dan klaar wees met eksamen, en hy ook. Sonja, ek móét net ’n nuwe aandrok vir die geleentheid kry, want dit gaan ’n spoggeleentheid wees. En jy weet self wat kos ’n ordentlike aandrok. Waar gaan ek binne ’n bietjie meer as twee maande sestig of sewentig rand in die hande kry?”

      “Sestig of sewentig rand? Mensig, maar jy wil omtrént uithang vir die geleentheid!” Sonja frons bekommerd en skud haar kop. “Jy praat nou met ’n arm student, en ’n dom een daarby. Maar vra vir Henk – hy kan moontlik vir jou tikwerk kry om te doen, soos verlede jaar. Moet net nie te veel tyd daaraan afstaan nie, ou Ilse. Jy weet hoe belangrik die eindeksamen is.”

      “Moenie jou daaroor kwel nie,” glimlag Ilse gerusstellend, “maar dankie in elk geval vir die raad. Ek sal sommer môre met Henk praat. As daar iemand is wat kan help, sal dit hy wees,” sê sy tevrede en buk oor haar aantekeningboek.

      3

      Tant Truia luister na die vier jong mense se opgewekte gesels, haar oë afkeurend op Tanya wat aan haar middagete peusel. Sy soek troos by Henk, wat met sy gebruiklike goeie eetlus aan sy bord kos weglê, en glimlag tevrede.

      “Hoekom is studente so arm?” vra Sonja en kyk skuins op na Henk wat langs haar sit. “As ons enigiets nodig het wat meer as vyf sent kos, is dit omtrent ’n nasionale ramp!”

      Tant Truia sluk ’n mondvol warm koffie vinnig af, klap haar tong en sê: “Haai, hartjie, ek het skoon vergeet. Jou ma het van­oggend gebel om te sê jou peetma het vir jou ’n tjekkie van twintig rand

Скачать книгу