Struisvoël. Johan Fourie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Struisvoël - Johan Fourie страница 9
Sy sug. “Die hele Groot-Karoo loop vandag deur sy kleintjie af,” sê sy vir Marja. En dink: Nes my man deur my kind. Bly geen keerwalle op hierdie plaas dan ooit staan nie?
Ralie staan agter Marja. Sy hou die stygende water dop en voel die angs in haar styg. Sy begin saggies sing. “Stromen van zegen.” Elke keer as dit vir haar lyk of die stroom Klein-Sarel ’n entjie aanspoel, druk sy Marja nog ’n bietjie stywer vas. Saam wieg hulle vorentoe, agtertoe. Wanneer hulle nie mooi kan sien wat aangaan nie, lig hulle op hulle tone. Sien hulle wat aangaan, deins hulle terug op hulle hakke. Van hak tot toon, toon tot hak, wieg hulle saam met Klein-Sarel in die vaalbruin vloedwater. Hulle koes saam met hom vir elke boomtak wat verbykom. Saam met Victoria, bamboeshaak in die hand, strek hulle om hom te probeer help.
Eers toe haar man se benoude uitroepe deur die agterdeur inkom, draai Ralie ’n oomblik haar rug op haar kind. Aan die ander kant van die werf staan Ou-Sarel kniediep in die modderwal van sy nuwe dam. Maar Ralie kom nie tot by die agterdeur nie. Die kombuistafel keer haar voor. Sy gryp haar tafel met al twee hande vas, pleit fluisterend om genade by Jesus, vir haar kind, vir haar man, vir haarself, vir almal op Vrede. Sy bid God se redding af na links en na regs. Aan die een kant hang haar man se lewe van die pappery van ’n modderwal af. Aan die ander kant staan haar seun in die systroom van ’n vloed. Bý haar is ’n dogter in smart.
Toe die stroom vir Klein-Sarel vat, is Marja alleen voor die venster. Net sý sien hoe Victoria hom net betyds met die volstruishaak aan die kraag uit die water sleep. In ’n oogwink, sodat sy agterna wonder of dit regtig gebeur het. ’n Oomblik lank het dit vir haar gelyk asof Klein-Sarel self sy lyf laat skietgee het, dat dit nie die water was wat hom gevat het nie. Dit was te gou verby om seker te weet, maar die beeld bly haar by.
Toe Klein-Sarel eindelik by die kombuis inkom, wikkel Ralie hom dadelik toe in die warm handdoeke wat sy vroeg al in die louoond gesit het. Sy sit haar arms om hom en probeer hom vashou, soos sy vir Marja vasgehou het, maar hy skram weg. Dus laat sy hom los en begin vir hulle van die kos opskep.
“Ma blaas solank jou sop vir jou koud, dan vat jy eers vir Victoria ook ’n bietjie.”
Ralie en Marja sien hoe hy hom vererg. “Ma hoef nie my sop koud te blaas nie. Ek is nie ’n kind nie,” sê hy. “En ek dra nie goed agter ’n meid aan nie.” Skielik klink hy soos sy pa.
“Ek sien hardegat wip oor klipgat,” kap Marja na hom. Sy skrik toe die woorde uit is. Dit gebeur al hoe meer dat woorde sommer by haar mond uitval.
Klein-Sarel vat tog die skotteltjie by sy ma aan. Dit lyk asof hy nog iets wil sê, maar dan neem hy gedweë vir Victoria haar sop.
Toe hy terugkom, laat hy toe dat sy ma hom nader trek. Sy lig haar hand en vryf oor sy kop.
“Marja het my vandag jou lewe van God help afbid,” sê Ralie saggies vir hom.
Ná ’n lang ruk sê Klein-Sarel: “As iemand jou red . . . en daardie mens vat later jou lewe. Dink Ma dit bly dan nog moord, Ma?” Toe Ralie nie dadelik antwoord nie, gaan hy voort: “Van die mense sê so. Ek wil nie hê my lewe moet aan iemand anders behoort nie, Ma.” Hy kyk na Marja. “Maar as dit dan moet, haak my eerder soos ’n volstruis uit vloedwater.”
“Genadetjie tog, my kind.” Ralie sukkel om die woorde uit te kry. “Waaraan dink jy nie als nie? Moet dit tog nou net nie vir jou pa loop staan vra nie.”
Hulle bly beteuterd om die tafel sit. Nie een praat meer nie. Toe Ou-Sarel, nat en vol modder, by die agterdeur inkom, sê ook hý niks nie, hou net reguit deur na waar sy buurman lê.
Die drie om die tafel weet nie wat in die voorhuis gebeur nie. Hulle ruik net die soet van laventel wat met die reuk van die brandende suiker vermeng.
Toe Ralie later vir haar man ’n beker waswater vat, mompel hy iets, maak die waslap nat en vee net die nodigste plekke af. “Ek het vandag genoeg water vir ’n leeftyd gehad,” sê hy.
Die waswater wat oor is, verdeel Ralie gelykop in twee bekers. Sy gee een van die bekers vir Klein-Sarel sodat hy hom in die buitekamer kan gaan was. Vir Marja bad sy self, voor die hitte van die koolstoof. Sy vryf Marja se lyf met ’n growwe waslap, saggies, soos oor ’n seerplek; druk haar dan versigtig met die handdoek droog. Dan stook sy die stoof en maak vir hulle ’n kermisbed op die vloer.
Toe Klein-Sarel terugkom, vou sy haarself styf tussen die twee kinders in en hou hulle teen haar vas totdat die laaste bewe uit hulle lywe verdwyn.
Marja draai eerste haar rug op Ralie en raak aan die slaap. Nie lank daarna nie woel Klein-Sarel hom ook los en staan op om in die buitekamer te gaan slaap.
Ralie bly met haar leë arms langs haar sye lê totdat haar man roep sy moet kamer toe kom.
“Ek het rus nodig, teëspoed kom in drieë,” sê Ou-Sarel toe Ralie langs hom gaan lê. “Ek sal vroeg die dakke nagaan. Hier kom wind.”
HOOFSTUK 4
Waarom wil mens tog so graag nog weet watse aardse goed jy als oorhet as die lewe van jou begin padgee, as die dood nader staan?
Ek het dié saak vir my só uitgemaak: Alle goed is leengoed. Mens wil jou leengoed aangee sodat dit namens jou nog ’n entjie kan aanhol. Sodat jy die dood met net jou stof op sy hande los.
Kyk, mierkoningin wat ek was, het ek van aandra nes toe gekén. Maar miere word op die ou end ook maar alles ontneem. Die ou paar goedjies wat ek vandag nog oorhet, hulle kan ek op my tien vingers tel.
1. Jesus Christus
Hoog en droog hang U hier bo my koppenent. Katrien het U hier kom hang. Was seker bang ek spook eendag.
Ek het dié dag, toe sy U hier kom hang het, wakker geword van die vreeslike gekap hier bokant my kop. Vir ’n oomblik het ek gedink ek is weer in die grot, dat dit Sarel was wat vir my ’n stalagmiet afkap. Maar toe begin Katrien so tussen die hamerslae deur te praat. U weet mos hoe party mense met U praat? Asof hulle raas. Dat die spoeg so spat. Aan haar stem het ek sommer dadelik geweet dit kan maar net U wees met wie sy doenig was.
Ek het gewag vir die nag. Toe het ek in die donkerte opgesukkel om U vir myself te voel. Dit was die kruis wat U dadelik verklap het. Toe ek verder voel-voel, kon ek maklik die prentjie agter dié blinde oë maak: u kop gekantel, doringkroon, bloedtraan in die sy, doek, knoppies vir spykers, knoppies vir oë, voete oormekaar gekruis, twee ore, tien vingers, tien tone. Wie dan anders?
Nou het ek u dorings al glad gevoel. Dis nie asof ek glo nie. Om die waarheid te sê, eers wou ek U nie hier in my kamer hê nie. Ek wou nie ’n ander man se seun hê nie; ek wou my eie een weer hê. Ek het vreeslike goed in my kop gepraat, U menige nag kruis en al van hierdie muur probeer afruk. Toe het ek nog gehoop.
Dit was Ralie wat hier, in my kop, vir U kom intree het. Die dubbelgeit van u naam het mooi geklink in haar mond. Ek hoor haar nog: Jesus Kristus (sy het mos altyd Kristus gesê, soos Kristoffel). Ter wille van haar sal ek selfs ’n god verdra. Sy het my mos laat warm bad. En haar kerk was ’n boom; dit het nie deure gehad wat op ander kon toeklap nie. So, nou hang U maar nog altyd hier bokant my kop. Bokant hierdie bed, waarin ek gedagtes stook.
2. Bedkassie, bo-op
Koerantmatjie, patrone uitgeknip. Ek voel die sirkels, blokkies, diamantjies; randjies van golfies en tandjies. Dis seker Die Oudtshoorn Courant.