Ondersoek my hart. Ilze Beukes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ondersoek my hart - Ilze Beukes страница 4

Ondersoek my hart - Ilze Beukes

Скачать книгу

      Haar oë volg hulle tot by die voertuig. Sy kyk hoe hy die deur vir die seuntjie oophou en die tas van sy rug afhaal voor Handré soos ’n bal inbons. Dan loop hy agter om die voertuig om die tas agterin te bêre. Toe hy by die bestuurderskant inklim, sit hy sy sonbril op en draai sy gesig terug na die speelterrein.

      Sy kyk vinnig weg en haal ’n denkbeeldige rafeltjie van haar rok af. Haar hart tamboer in haar binneste, en sy voel hoe haar lyf warm word. Sy hoop hy het nie gesien hoe sy soos ’n agie na hulle kyk nie. Dit was ’n ontstellende dag. Dalk was sy tog maar ’n bietjie bars met die man? Maar hy het daarvoor gesoek. Storm haar lewe binne en krap haar siel deurmekaar. Maar dis mos nou als verby. Dit was tog net ’n misverstand.

      Nasorgdiens is byna verby. Die meeste van die kinders is reeds huis toe. Sy probeer haar gedagtes doelbewus weglei na klein Sanet en die kunsklas vanmiddag. Wat sal sy vandag vir die talentvolle dogtertjie leer?

      Maar dis asof haar gedagtes net nie hokgeslaan wil word nie. Sal Ian ooit onthou om vir Handré kos te gee? Hy word darem seker ook honger? Nee, Madelie, hou jou neus in jou eie sake, maan sy haarself. Daardie dokter sal in elk geval nie jou raad wil hê nie.

      2

      Die nuwe dag breek wolkloos aan. Madelie sluit die klasdeur oop terwyl Handré en Arno haar boeke na binne dra. Dis tog te oulik hoe hulle haar reeds vroeg ingewag het, gereed om haar boeke te help dra toe sy in haar Volla stilhou. Vandag moet die klas gister se agterstand inhaal, en dan wil sy kuns met die kinders doen.

      “Dankie, julle twee.” Twee glimlaggende gesiggies kyk blinkoog na haar en maak haar hart warm. Dis hoekom sy hierdie werk doen. Kinders is nog so onaangeraak deur die lewe en so opreg. Wat ’n voorreg om elke dag met hierdie vars jong geeste te werk.

      Handré glimlag en babbel opgewonde. “Juffrou, ek en oom Ian was gisteraand by Mamma. Ek het sommer op haar bed gesit en TV gekyk. Pappa het vir my ’n nuwe rekenaarspeletjie gekoop en toe ons huis toe kom, het oom Ian vir ons pizza gekoop. Ek het by sy woonstel op sy rekenaar gespeel.”

      “Het Pappa nie gisteraand saam teruggekom nie?”

      “Nee, hy bly by oupa en ouma in Welkom tot Mamma uitkom.”

      “Sjoe, maar dis darem gaaf dat hulle daar bly, nè?”

      Hy knik. “Juffrou moet een aand by my en oom Ian kom rekenaarspeletjies speel. Dis baie lekker by hom.”

      “Jong, juffrou is bietjie besig in die aande. Maar ek is baie bly jy kuier lekker by jou oom.”

      Sy sien die teleurstelling op sy gesiggie, maar gelukkig maak die klok ’n einde aan hul geselsie. Sy leer eerder hekel as om ’n hele aand in die man se geselskap te wees. Sy is seker hulle het niks gemeen nie. Tog dans sy beeld vir ’n oomblik in haar gedagtes terwyl die ander kinders die klas binnestap. Hulle gaan staan by hul banke en beantwoord haar groet met ’n singende: “Goeiemôre, juffrou Botma.”

      Die kinders is gehoorsaam en hulle gaan so vinnig deur die werk dat sy die kas in die hoek oopsluit en pakkies pastelle begin uithaal voordat die klok vir pouse lui. Wat ’n heerlike dag. Sy is so bly sy het haar hartsbegeerte gevolg om ’n onderwyseres te word, al wou tannie Mercia graag hê sy moes ’n loopbaan in kuns volg. Kuns maak tog in elk geval steeds ’n groot deel van haar lewe uit.

      Na langpouse bring Handré vir haar ’n sjokolade-oliebol in ’n papierservet. “Hier is vir juffrou ’n doughnut.”

      “Haai, baie dankie, Handré.”

      “Juffrou, Handré se oom is baie ryk,” haak Vicus af en lyk baie ingenome met die stukkie informasie waaroor hy beskik.

      “O, nè?” sê Madelie terwyl sy haar wang vasbyt en ernstig probeer lyk.

      “Ja, juffrou, hy het vir Handré honderd rand vir snoepie gegee.”

      Dadelik is haar erns nie meer net aangeplak nie. Sy frons: “Handré, is dit die waarheid?” Sy hoop tog nie die kind het …

      “Ja, juffrou.” Handré kyk onseker na haar. Asof hy nie mooi weet hoekom sy kwaai klink nie.

      Madelie kyk hom ondersoekend aan en sien hoe sy gesig bleker raak. “Handré, het jy broodjies vir pouse gehad?”

      “Nee, juffrou, dis hoekom oom Ian vir my die geld gegee het. Sy brood was op.”

      “Hmm … en wat koop jy toe?”

      “Doughnuts, juffrou.”

      “Juffrou, juffrou, hy het vyf geëet en ’n blik rooi gaskoeldrank ook gedrink,” snip Vicus. “Maar hy het vir my en Rohan ook elkeen een gegee.”

      “Genade, Handré!”

      Hy vryf oor sy maag. “Juffrou, ek voel nie baie lekker nie.”

      “Ek sou so dink.”

      Voor sy iets verder kan sê, ruk sy lyf twee keer en gooi hy oor haar skoene op.

      “Ag nee, Handré!” Sy spring vinnig agteruit, maar haar skoene is reeds besmeer.

      Nog twee kinders in die klas kan die naarwordgeluide nie uitstaan nie en volg Handré se voorbeeld.

      Madelie se maag ruk self, maar sy dwing haarself tot kalmte, hou haar hand oor haar mond en neus en trek haar skoene uit. Sy stuur die kinders uit die klas voor nog een naar word. ’n Skoonmaker word dadelik ontbied terwyl sy Handré op haar stoel laat sit met die asblik voor hom. Die ander twee sit bleek in hul banke.

      Sy praat kalmerend met hulle, lei hul aandag af. Die skoonmaker daag op en help haar om die klas weer leefbaar te kry. Adelina vat ook Madelie se skoene weg om hulle te gaan skoonmaak. Madelie vee haarself met Wet Wipes af.

      Dit is nou net fantasties! Vir ’n dokter weet hy ook maar min van kinders en gesonde eetgewoontes. Daar is wel ’n stemmetjie wat haar waarsku dat sy onredelik is en hom nie ’n regverdige kans in die omstandighede gee nie. Maar steeds behoort hy van beter te weet.

      Nadat sy haar hande in die wasbakkie in die klas gewas het, gooi sy die vensters wyd oop sodat die vars lug en sonskyn die vertrek binnevloei.

      Madelie loop na buite om die raserige Graad 3’s terug in die klas te kry.

      Sy haal ’n matrassie uit wat sy altyd agter die kas bêre vir sulke noodgevalle en gooi dit langs haar lessenaar. Sy wys vir Handré om daarop te kom lê. Hy skud sy kop skamerig heen en weer, maar toe hy haar gesig sien, gaan lê hy gou op die matras. Die ander twee kinders se kleur kom darem geleidelik terug in hul gesigte nadat hulle elkeen ’n glas water gedrink het. Ten minste is hul klere skoon.

      Sy deel vir die hele klas groot velle papier saam met die pastelle uit en toe hulle aan die werk is, loop sy uit met haar selfoon en dokter Ian Duvenhage se visitekaartjie.

      Sy tik die nommer op die selfoon in. Die oomblik dat Ian Duvenhage aan die ander kant antwoord, val sy met die deur in die huis: “Kan jy asseblief vir Handré kom haal? Hy het naar geword in die klas en moet skoon klere aantrek. Jy kom ondersoek hom net nie weer hier in die klas nie.” Sy sny die oproep af voordat hy ’n behoorlike kans kry om haar te antwoord.

      Sy is glad nie lus vir ’n onderonsie met hom nie. Madelie

Скачать книгу