Ondersoek my hart. Ilze Beukes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ondersoek my hart - Ilze Beukes страница 6

Ondersoek my hart - Ilze Beukes

Скачать книгу

betig sy haarself, jy moet positief dink. Jy moet sterk wees vir hierdie meisietjie. “Ai, poplap, dis jammer. Maar dalk moet jy ’n kunswerk van jouself op ’n perd se rug maak om jou aan al daardie goeie tye te herinner?” Sy gaan sit langs die dogtertjie. “ ’n Perd is ’n moeilike onderwerp, maar dis mos hoekom tannie hier is, om vir jou tegnieke te leer.”

      Sanet kyk met blink oë na Madelie. “Dis ’n goeie plan, tannie! Kan ek sommer dadelik begin?”

      Madelie sit al die verfkwaste en potjies verf voor Sanet neer en glimlag toe sy sommer dadelik ’n verfkwas optel, in die verf doop en begin om die agtergrond eerste te skilder soos Madelie haar geleer het. Dis ’n uitdaging om vir Sanet en die ander kindertjies met kanker kunsklasse te gee, want angs dreig gedurig om Madelie te oorval elke keer wanneer sy dink aan al die toetse en behandelings wat hulle in die hospitaal moet ondergaan.

      Maar hul innerlike krag maak háár sterker.

      Toe tannie Mercia ’n paar jaar gelede weer daarop aangedring het dat sy ’n berader moet gaan spreek, het die vrou juis aanbeveel dat Madelie haar moet blootstel aan dít wat sy vrees – met die nodige morele ondersteuning van vriende en familie, natuurlik. Madelie kon dit egter nie oor haar hart kry om ’n hospitaal binne te stap nie.

      Toe loop sy haar ou klasmaat Sonja Tredoux weer raak wat deesdae by die Kankervereniging van Suid-Afrika werk. Madelie wou eers sover moontlik die onderwerp van die siekte vermy, maar sy kon nie meer anderpad kyk toe sy die stories hoor van kinders wat sommer hier op hul dorp en die omliggende areas daarmee worstel nie. “Tannie, hoekom gee tannie verniet kunsklasse vir al ons kinders wat …”

      Madelie sien hoe Sanet haar nie sover kan kry om die woord hardop te sê nie, en deernis oorval haar. “Ag, my skattebol, ek is lief vir julle en verstaan so bietjie van alles waardeur julle gaan. Toe ek jonger as jy was, was my ma ook baie siek.”

      “Lewe tannie se ma nog?”

      Madelie skud haar kop. “Ongelukkig nie.”

      “Tannie, ek is nie bang nie. Ek is net bekommerd oor Mamma, sy vat dit baie swaar, en ek wil nog so baie dinge doen.” Madelie hoor hoe hard Sanet probeer om die trane te onderdruk.

      Madelie gaan staan agter Sanet, sit haar hand oor die dogtertjie se hand waarin die verfkwas rus. “Ek wil jou gou iets wys!” Sy tel haar handjie op en doop die verfkwas in die verf. Begin met enkele klein kwashale voëltjies in die blou lug teken wat Sanet pas geskilder het. “Hoe lyk dit vir jou? Dis vinnig en maklik, maar maak ’n groot verskil aan ’n prent!”

      Sy sien hoe die ingehoue spanning uit die liggaampie vloei. “Sjoe, tannie, dis baie mooi! Ek wil nou self probeer.”

      Madelie los haar handjie en kyk hoe Sanet self voëltjies op die papier skilder.

      “Mooi, Sanet! Jy het baie talent.”

      “Dankie, tannie!”

      Madelie sluk hard aan die knop in haar keel.

      Die les vlieg vinnig verby terwyl hulle gesels oor skool, Sanet se maats en sommer allerhande dogtertjiedinge.

      Nadat Sanet se ma haar kom oplaai het, gaan sit Madelie weer voor haar eie esel en skilderdoek terwyl haar gedagtes ver terug na die verlede gly.

      Sy meng ’n grysblou kleur wat by haar gemoedstoestand pas en begin skilder. Sy leef haar in in haar werk.

      “Jy vat vreeslike kanse met die voordeur so wawyd oop.”

      Die stem wat haar gedagtes onderbreek, laat haar ruk van die skrik. Toe sy omswaai, staan Ian en Handré voor haar.

      “Ons het die klokkie buite gedruk sonder reaksie. Gelukkig het ’n motor in die kompleks in gery, toe kon ons ook inkom.”

      Die man het ’n manier om met die deur in die huis te val. Hy het ’n denimkortbroek en T-hemp aan. Hy lyk glad nie na die ongenaakbare dokter van vroeër nie. Inteendeel.

      Madelie kom orent en vee verleë oor haar pa se ou hemp. “Ja, ek ee … die interkom is buite werking, ek moet iemand kry om dit reg te maak. Maar jy is seker reg, ek behoort versigtiger te wees.”

      “Wat maak juffrou?” vra Handré terwyl hy vorentoe loop en langs die esel kom staan.

      “Ek skilder.”

      “Sjoe, dis mooi. Wie is dit?” vra hy en wys na die esel.

      “Dis my pa. Ek wil dit vir hom vir sy verjaarsdag gee.”

      “Kan juffrou my ook leer?”

      “Handré, wag nou eers. Juffrou is besig! Ons het net dié gebring.” Ian lig die twee inkopiesakke op wat hy dra. Handré vat een sak uit sy oom se hande en hou dit na haar uit.

      Madelie vat dit by hom.

      Handré lyk of hy kan spring van opgewondenheid.

      Dit moedig haar aan om binne-in te loer. Sy kyk met ’n glimlag na Handré voor sy ’n skoenboks uithaal en dit oopmaak. Binne-in is ’n nuwe paar sandale. Sy trek haar asem verwonderd in: dit is presies wat sy vir haarself sou gekies het.

      “Um … e … dankie,” sê sy en voel hoe verleentheid oor die gebaar haar gesig warm kleur.

      “Jy was seker baie kwaad oor ek jou skoene gevat het? Maar ek moes die grootte kry om vir jou ander te kon koop. Daar was geen nommer op die ou paar nie, toe vat ek die skoene maar om hulle teen die nuwes te pas. Miskien was dit nie so ’n goeie gedagte nie?”

      “Ek moet erken, dit was nogal vreemd. Ek moes kaalvoet huis toe ry, maar baie dankie vir die skoene. Hulle is mooi. Dit was nie nodig nie.”

      “Madeliefie, ek is regtig jammer. Dit is die minste wat ek kan doen. Kan ek jou so noem? Noem my Ian, asseblief.”

      Madeliefie? Het sy reg gehoor? Die man is lekker simpel.

      Dan sien sy hoe Handré sy hande oor sy mond druk om sy lag weg te steek.

      O, so. Nóú weet sy waar Ian aan Madeliefie kom.

      Sy bars uit van die lag, en Handré skater saam. “Ek dink jy is verkeerd ingelig,” stik sy. “My naam is Madelie.”

      Ian gryp die seuntjie om sy lyf in ’n stoeigreep en vryf speels met sy vuis teen sy kop. “Handré, jou klein klits.”

      Die seuntjie hou sy maag vas en wys met ’n vinger na sy oom. “Het oom lekker gevang!”

      Ian lyk ongemaklik nadat hy Handré gelos het. “ ’Skuus. Madelie, dan. En noem my asseblief Ian.”

      Sy byt op haar lip en knik: dit is goed dat die wind vir ’n slag uit die slim dokter se seile is. Hy hou die ander sak na haar toe uit.

      “En dit?” vra sy toe sy dit aanvat.

      “Sommer net ’n paar goedjies vir die kosblik. Ek belowe dit is alles gesonde goed.”

      Madelie glimlag. Sy sien kasies, boksies sap, broodrolletjies, vrugtelekkers en ’n klomp ander goed.

      “Dit lyk piekfyn, ek sal sorg dat hy pouse daarvan kry.”

Скачать книгу