Ondersoek my hart. Ilze Beukes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ondersoek my hart - Ilze Beukes страница 5

Ondersoek my hart - Ilze Beukes

Скачать книгу

’n hele ruk sien sy deur die vensters hoe Ian Duvenhage met lang, haastige treë aangestap kom. Sy glip by die klas uit en maak die deur agter haar toe. Hy lyk omgekrap en die alte bekende frons is op sy voorkop.

      “Dokter, ons moet praat!”

      “Waar is Handré? Ek het nie tyd vir …”

      “Op ’n matrassie in die klas. Ek het ook nie tyd vir al die onderbrekings wat jy veroorsaak nie.”

      “Waarvan praat jy?” Hy steek sy hand na die deurknop uit.

      Sy skud haar kop en beweeg voor hom in. “Wag, luister eers!”

      Sy volg sy blik na haar voete en voel hoe haar wange verkleur.

      “Genade, werk jy wraggies kaalvoet?”

      Sy skreef haar oë. Hy kyk haar al weer aan asof sy ’n bogsnuiter is. “Natuurlik nie! Dis jou skuld dat ek nie my skoene aanhet nie.”

      “Ekskuus?” hy staar haar aan asof sy mal is.

      Sy haal diep asem. “Het jy vir Handré honderd rand vir snoepie gegee?”

      Hy lyk oorbluf. “Ja, ek het, maar wat het dit te doen …?”

      “Hy is net nege. Weet jy wat het hy als gekoop?”

      “Wat het sy snoepiegeld te doen met die rede hoekom ek hier is? En met jou kaal voete?”

      Madelie klem haar vuiste saam in haar sye. “Alles! Hy het agt doughnuts gekoop, waarvan hy vyf self opgeëet het. Ook ’n blik rooi gaskoeldrank. Hy moes pouse baie honger gewees het, of hoe?”

      Ian vryf sy nek. “Wel, hy wou nie die pap eet wat ek in die huis gehad het nie en daar was nie brood nie, toe gee ek vir hom dié geld vir snoepie. Ek het nie gedink …”

      “Wel, vir die eerste keer stem ons saam oor iets: Jy het nie gedink nie.”

      “Toegegee. Ek is nie gewoond daaraan om kosblikke te pak nie.” Sy blik dwaal weer na haar voete. “Waar is jou skoene? Wat het dit …?”

      “Handré het op my skoene naar geword en die skoonmaker het hulle weggevat om skoon te maak,” sê sy vies.

      Ian se oë rek. “Ek is jammer!”

      Hy lyk so verleë dat haar hart teësinnig vermurwe. Sy sug. “Ek sê jou wat, ek sal liewer van nou af elke dag vir hom ’n kosblik pak tot sy ma terug is.”

      Ian glimlag. Daar duik kuiltjies in sy wange. “Baie dankie, ek sal jou ewig dankbaar wees. Dit gaan nogal wild in die oggende.”

      Madelie knik net, want skielik het daardie glimlag haar asem weggeslaan. Sy draai om en gaan die klas binne met Ian op haar hakke.

      Handré staan bleek van die matrassie op.

      Madelie is egter seker hy dik aan om ekstra simpatie van sy oom te kry.

      Ian tel die seuntjie se tas op en kyk na haar. “Ek skuld jou.”

      Sy skud net haar kop en maak die deur agter hulle toe nadat die twee uit is. Sy kyk na haar kaal tone en wikkel hulle. As sy eerlik met haarself moet wees, is dit nogal lagwekkend. Haar mondhoek krul op terwyl sy terugloop na haar lessenaar.

      Die res van die dag verloop rustig. Die kinders vergeet gou van alles en raak deur hul tekeninge meegevoer. Na skool sit Madelie in haar klas en wag tot die personeel reeds huis toe is voordat sy kaalvoet die gang af loop na die kombuis om na haar skoene te gaan soek. Hoekom Adelina dit nie vir haar teruggebring het nie, is ’n raaisel. Dalk het sy maar net vergeet.

      Madelie stap die kombuis binne. “Adelina, is my skoene al droog?”

      “Juffrou, daardie ander man het gesê hy moet dit saam met hom vat.”

      “Watter ander man?”

      “Die pa van daai siek kind.”

      Madelie trek haar asem in, stamp met haar voet op die grond. Oeg … sy sal hom vermoor.

      “Juffrou, het ek verkeerd gedoen?”

      “Nee, toemaar, sommer ’n misverstand.” Sy draai om en marsjeer kopskuddend klas toe. Is dit ’n siek grap? Hoe durf hy haar skoene vat? Die vernedering! Sy skaam haar morsdood en nou sal sy kaalvoet moet huis toe ry. Sy wou nog eers winkel toe gegaan het.

      Die inmengerige, vermetele vent! Het die man ’n verdraaide sin vir humor?

      Terug in die klas pluk sy haar lessenaar se laai so ergerlik oop om haar motorsleutels te kry dat dit kletterend op die vloer beland. ’n Buisie gom, krammer, penne, potlode en ’n notablok volg, asook ’n blikkie goue sterretjies wat oopskiet.

      Dit is nou net fantasties! Wat nog? Die man bring eenvoudig die slegste in haar na vore.

      Met ’n sug tel sy eers een vir een sterretjie op en bêre daarna alles weer in die laai voor sy die klasdeur agter haar toesluit. Sy stap na haar Volla en skuif agter die stuurwiel in. Op haar polshorlosie sien sy dat die tyd haar reeds ingehaal het: Sanet gaan binne minute by haar blyplek afgelaai word.

      By haar meenthuis glip sy vinnig in ’n kortbroek en toppie met spaghetti-bandjies. Die weer is drukkend. Hier gaan beslis een of ander tyd ’n storm losbars. Die denimbroekie is bietjie kort, maar sy sien regtig nie vir iets warmers kans nie. Bo-oor trek sy een van haar pa se ou hemde aan waarin sy gewoonlik verf. Dit hang oor die broekie en bedek darem effens meer van haar lyf.

      Toe Sanet daar aankom, help sy haar om gemaklik by die eetkamertafel te sit. Sy vryf oor die kind se koppie. “Dis ’n mooi bandana!”

      “Dankie, tannie! Ek het dit by Mamma gekry.”

      “Rooi pas jou mooi!”

      Madelie draai na die CD-speler wat op ’n rakkie staan. “Wag, ek sit weer daardie musiek aan waarvan jy hou.” Sy druk die knoppie, en strelende klanke vul die vertrek.

      “Ek gaan volgende keer vir tannie die nuwe CD bring wat ek vir my verjaarsdag gekry het. Dis baie mooi!”

      “Maak so, ek sal dit graag wil hoor!” Madelie skuif die stapel tydskrifte wat sy vroeër op die sitkamertafel neergesit het, nader aan haar kunsstudent. “Ons gaan vandag met ’n nuwe kunswerk begin, Sanet, maar eers soek ons inspirasie. Blaai ’n bietjie deur hierdie tydskrifte. Miskien is hier ’n prent wat jy wil teken.”

      Madelie hou die kind dop terwyl sy deur die tydskrifte blaai en hier en daar ’n prent uitskeur wat vir haar mooi is.

      “Oe!” roep Sanet skielik toe sy by die foto van ’n perd kom. Haar hele gesiggie straal. “Kyk die mooi perd, tannie! Dit lyk net soos die perde wat my oupa op sy plaas gehad het. Toe ek klein was, het Pappa altyd saam met my gaan perdry wanneer ons op Oupa se plaas gekuier het. Dit was baie lekker tye.” Skielik verskrompel haar glimlag. “Ek wens ek kan weer een keer op ’n perd ry, maar Oupa lewe nie meer nie en die plaas is verkoop.”

      Madelie voel hoe ’n knop in haar keel kom sit. Sal Sanet se gesondheid ooit weer van so ’n aard wees dat sy kan perdry? Die leukemie en die

Скачать книгу