Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste страница 7

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste

Скачать книгу

wat Jurg altyd by haar uitlok. Hy laat haar gloeilampies blaas en dan is sy nie verantwoordelik vir wat sy sê of doen nie.

      Terwyl mevrou Bremer opskep, soek Clio die nommer en bel die hospitaal. Sy kom maklik deur, maar die saalsuster het geen nuwe nuus nie. Die pasiënt is rustig, sy toestand onveranderd.

      “Is hy by?” wil meneer Bremer weet toe hulle by die tafel aansit.

      Clio skud haar kop.

      “Môre kry jy dalk goeie nuus,” praat Aloma haar moed in. “Ons kan vroeg ry, voor spitstyd.”

      “Dankie.”

      Die kos is heerlik, maar Clio sukkel om die laaste mond vol in te wurg.

      Mevrou Bremer is begrypend. “Toemaar, ek weet eet is nie nou vir jou belangrik nie. En ons sal verstaan as jy dadelik wil gaan inkruip.”

      Aloma beaam dit. “Moenie verskoning maak nie. Ek en my ma-hulle het tonne om oor te gesels en ’n jaar se skinder om in te haal. Gaan bad en klim in die bed, dan bring ek netnou vir jou warmsjokolade.”

      Clio buk en gee haar skouers ’n drukkie. “Wat sou ek gemaak het as jy in Groenland gaan au pair het of ’n ander vlug gehaal het?”

      “Dalk iemand beter in die buursitplek gekry. Brad Pitt of ’n gewillige oliebiljoenêr.”

      Dit gaan darem al beter as Aloma kan grappe maak. Clio wens sy kon dieselfde van Arnold sê.

      “Lekker slaap! Roep as jy iets nodig het,” roep Aloma haar agterna toe sy met die wenteltrap opklim kamer toe.

      3

      Haar nagklere is heel onder in haar tas, maar Clio is te vaak om uit te pak. Die bad het haar lomerig gemaak en sy trek ’n sweetpak aan wat bo-in lê. Vir wanneer sy en Arnold sou gaan perdry of Vuurberg uitklim tot bo waar die fontein ontspring, soos hul gewoonte altyd was … Sy dwing haar gedagtes weg, vou die duvet terug en skuif tussen die lakens in.

      Dit voel of sy skaars vyf minute geslaap het toe iemand aan haar kamerdeur klop.

      Clio soek na die bedliggie en kyk verward om haar rond, na die gedrapeerde gordyne en vreemde kasdeure. Eers toe sy haar halfoop tas op die bankie sien, registreer sy waar sy is. Sy probeer kyk hoe laat dit is, maar haar oë voel sanderig en sy sukkel om te fokus.

      “Ek wil nie sjokolade drink nie,” mompel sy.

      Aloma kom binne en gee haar ’n skud. “Waar was jy? Op ’n ander planeet? Ek klop al hoeka hoe lank.”

      Clio sukkel regop op haar elmboog. “Wassit?”

      “Iemand om jou te sien!”

      “Sê hy moet loop, ek slaap.”

      “Ek het. Hy sê jy moet opstaan en aantrek.”

      “Hoekom?”

      “Julle moet hospitaal toe gaan.”

      Haar hoofpyn van netnou is erger en klop met tamboerslae teen haar slape. Clio druk haar palms teen haar oë. “Wiessit?”

      “Jurg. Ek het vir hom gesê jy’s ’n zombie, maar hy sê jy kan later uitpass. Nou moet jy eers opstaan en kom. En jy moet jou litte roer, hy’s haastig!”

      Dit klink soos Jurg. Ongeskik, hiet en gebied en jaag almal rond.

      “Hy het al die pad van Bela-Bela af gekom om jou te kom haal.”

      “Ek’t gesê hy moenie, dit sal middernag wees teen die tyd dat hy hier aangesit kom.”

      “Dis nie middernag nie,” kom ’n manstem vanuit die kamerdeur. “Dis twintig oor elf. Lig jou, Cleopatra.”

      Skielik is Clio wawyd wakker. Sy vlieg orent. “Jy kan nie sommer by vreemde mense se huis instorm nie!”

      Jurg is onverstoord. “Ek het nie ingestorm nie. Ek het geklop en hulle het vir my oopgemaak.”

      “Jy het nie geklop voor jy hier by mý ingestap het nie!”

      “Jy is nie vreemde mense nie, en ek is haastig. Ons kan later bokshandskoene aantrek en die kwessie uitbaklei, nou moet ons eers by die hospitaal kom. Is jy reg so, of wil jy ander klere aantrek?”

      Clio hou op teëstribbel. Dis mos wat sy wou hê – om by Arnold te wees …

      “Was jy netnou weer by hom aan? Hoe gaan dit met hom?” wil sy weet.

      Jurg lig sy skouers met ’n hulpelose gebaar. “Nog maar dieselfde.”

      “En met Talien?”

      “Jy ken haar mos – ’n kanniedood. Sy stuur groete en sien uit na jou kuier. Net jammer jou vakansie het nou platgeval.”

      “My vakansie is die minste. Solank Arnold net regkom.” Clio sien hoe Jurg op sy horlosie kyk en haas haar badkamer toe. “Ek’s reg, ek wil net gou gesig was en hare kam.”

      “En pak.”

      Sy frons onbegrypend, en Aloma verduidelik: “Jurg reken dis geriefliker as jy op Vuurfontein bly, nader aan die hospitaal.”

      “Dis logies, en makliker vir almal,” beaam hy. “Is daar bagasie wat ek solank ondertoe kan neem?”

      Aloma druk ’n paar los kledingstukke in Clio se tas, knip dit toe en oorhandig dit aan hom. “Ek sal die res bring.”

      “En vir Cleopatra ook,” beveel hy. “Kry julle onder by die motor?”

      “Ja.”

      Clio is verlig toe hy padgee. Sy het nog skaars die skok van Arnold se ongeluk verwerk, sy sien nie nou al vir sy broer ook kans nie.

      Sy drink twee hoofpynpille, borsel haar hare en bind dit met ’n rekkie vas.

      Dan soen sy Aloma op die voorkop. “Dankie, liewe vriendin, vir jou hulp en onderskraging. Sonder julle sou ek verlore gewees het.”

      “Jy sou dieselfde vir my gedoen het.”

      “Onthou: uit die oog is nie uit die hart nie,” herinner Clio haar. “Daar is ’n groot, bruin boepens-teepot op die plaas, en ons twee gaan lang stukke rondom hom gesels.”

      Sy tel die plastieksak met die blommetjies en haar skouersak op. “Ek is klaar, ons kan afgaan.”

      ’n Haastige afskeid is makliker, dink sy terwyl sy die Bremers oplaas vashou en bedank. Uitgerek sou weer ’n tranedal afgegee het. En dis nie vir altyd nie. Sy sal hulle weer sien, veral vir Aloma. Sy het belowe om gou, die eerste oop Sondag, te kom kuier. Teen daardie tyd is Arnold hopelik al by …

      Jurg wag haar op die voorstoep in om die laaste bagasie in te laai. Maar Clio steek vas en haar oë rek. Sy moes dit verwag het. Geweet het hy sal nie met ’n bakkie of ’n skedonkmotortjie ry nie. Geen wonder hy was twintig oor elf al hier nie. Dis omdat hy met ’n laagvlieënde Mirage gekom het.

      Sy

Скачать книгу