Sonligdroom. Annatjie van Tonder

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sonligdroom - Annatjie van Tonder страница 4

Sonligdroom - Annatjie van Tonder

Скачать книгу

na sy motor toe lei. ’n Nuwe model, Duitse fabrikaat. Die leersitplekke voel koel toe sy inklim en gaan sit. In die kajuit hang daardie onbetwisbare nuwemotor-reuk. Sy leun met haar kop teen die kopstut, sluit haar oë, hoor hoe hy glad wegtrek en luister na die enjinversnellings. In haar kop volg sy elke draai totdat die motor tot stilstand kom en hy dit afskakel.

      Toe eers maak sy haar oë oop en sien hulle is by haar huis. “Baie dankie,” sê sy skor. “Ek sal nou regkom. Het reeds jou program omvergegooi.”

      “Wag eers,” keer hy toe sy wil uitklim. “Het jy vanoggend geëet?”

      Sy sit regop. Nou maak hy nes Magriet. Sy is darem nie ’n kind nie. “Natuurlik. Ek eet elke oggend. Glo aan ’n ordentlike ontbyt.”

      Hy bestudeer haar. “Dit lyk nie of jy genoeg eet nie. Ja, ek weet, skraal is die norm, maar dis nie altyd gesond nie.”

      Sy konsentreer vir ’n oomblik op haar asemhaling, wil nie ’n antwoord waag nie. Sy het die afgelope jaar baie gewig verloor. Hoe kon dit ook anders? En sy is nie bereid om dit te verduidelik nie. “Ek dink ek wil nou ingaan,” verander sy die onderwerp.

      Hy frons en dit lyk of hy ’n oomblik diep dink. Toe maak hy sy motordeur oop. “Goed,” antwoord hy saaklik, klim uit en voordat sy nog haar deur oop het, staan hy reeds daar en help haar uit.

      ’n Mens sou sê ek is ’n baie siek pasiënt, dink Marcella toe hy saamloop tot by haar voordeur.

      “Die sleutel … ”

      Sonder ’n woord sit sy dit op sy oop handpalm. Al is hy so knorrig, het hy onberispelike maniere, moet sy toegee. Of is hy maar net gewoond daaraan om in beheer te wees?

      “Gaan lê, ek bring vir jou tee.”

      Sy wil eers teëstribbel, maar bly dan stil en gehoorsaam hom. Dis nog een van die lesse wat sy moet leer, om ook soms aan die ontvangkant te staan en dit nie as liefdadigheid te beskou nie. Sy dink darem nie hy bejammer haar nie; hy het heeltemal professioneel geklink.

      Verras kyk sy ’n bietjie later na die netjies gedekte skinkbord wat hy op die spieëltafel neersit. ’n Man wat soek totdat hy vind, kom dit by haar op. Hy het sowaar haar teestel van fyn porselein met die goue randjies in die hande gekry, merk sy toe sy die teepot, melkbekertjie, suikerpot en twee koppies sien. Hy gaan dus saam drink.

      “Sit regop,” gebied hy en help haar orent, “dan druk ek die kussings agter jou in.”

      Die aanraking van sy arm agter haar blad betrap haar onverhoeds en stuur ’n gloed teen haar nek en wange op. Sy hoop nie hy sien die blos nie, want wat moet hy dan van haar dink? Sy is ’n dominee, nie ’n bakvissie nie. Gelukkig voel sy nie ongemaklik met hom hier in haar slaapkamer nie, daarvoor tree hy te professioneel op.

      Hy gee haar tee vir haar aan. “Ek het in jou koskas gekrap en beskuit gekry. Eet dit saam met jou tee sodat daar vaste kos in jou maag kom, dan drink jy een van dié.” Hy sit ’n glas water en ’n houer pille op haar bedkassie neer. “Saam met ’n bietjie slaap is dit goeie medisyne.” Doodnatuurlik maak hy hom op haar spieëltafel se bankie tuis.

      Toe hulle klaar gedrink het, vat hy die leë koppie by haar en trek die roomkleurige gordyne toe. “Probeer nou slaap. Ek sluit die huis. Sal later die sleutel terugbring, jy het mos ’n duplikaat.”

      “Ja. En … dankie, ek waardeer jou moeite, Dokter.”

      “Lukas. Weg van die hospitaal is ek Lukas.”

      “En ek is Marcella. Los ook tog maar die titel.”

      ’n Fyn glimlag vorm om sy mond. “Goed, Marcella.”

      Die laaste waarvan sy weet, is sy toe sy lang, regop gestalte by die deur uitgaan.

      • • • •

      Toe Marcella wakker word, is sy eers verbaas. Sy is dan nog ten volle geklee? Toe onthou sy wat gebeur het en hoe Lukas haar huis toe gebring het. Aardetjie, dis reeds twaalfuur die middag. Sy het maklik twee ure lank geslaap. Watter soort pille dit was wat hy haar gegee het, weet sy nie, maar dit het haar goedgedoen; sy voel sommer stukke beter.

      Swaarmoedig onthou sy die oorsaak van haar ongesteldheid. Sy sluit haar oë. In haar beroep word ’n mens ook onvermydelik met siekte, ongelukke en dood gekonfronteer. Sy behoort mos daaraan gewoond te wees? Maar kan ’n mens ooit aan die dood gewoond raak? Dit het haar onkant betrap toe sy hoor van die ongeluk wat soos haar en Wouter s’n geklink het. Marcella sug. Sy was nog altyd ’n baie sterk mens; sy sal die innerlike krag herwin wat sy eens gehad het.

      Die probleem is mense. Daar is baie wat nog meen dat ’n dominee geen menslike swakhede mag hê nie. ’n Verwagting van volmaaktheid. Daarom kon sy nie teruggaan na haar vorige gemeente nie en wou sy eerder op ’n ander plek nuut begin. ’n Plek waar almal nie haar geskiedenis ken nie.

      Gou trek sy die gordyne oop. Dit was lekker om haar oor te gee aan die vergetelheid van ’n diep slaap in die skemer kamer, maar nou wil sy die son weer sien.

      Die deurklokkie onderbreek haar gedagtes en sy haas haar om te gaan oopmaak.

      Sy kyk reg in twee helder blougroen oë vas en sug innerlik.

      “Voel jy al beter?” Hy glimlag en ’n kuiltjie verskyn in sy een wang.

      Byna betowerd staar Marcella daarna. Het hy besluit om vriendeliker te wees? Daar moet dan ’n bietjie menslikheid ook in hom wees. Sy sien terselfdertyd ook die donker skynsel van sy baard. Die arme man is nog heeldag aan die gang, tref dit haar. Die glimlag verdoesel die moegheid.

      “Ja, ek voel weer piekfyn. Wil jy inkom?”

      Hy skud sy kop en trek sy vingers deur sy hare. “Nee, dankie, ek moet aangaan.” Hy vryf oor sy ken. “Het gou huis toe gekom om te kom skeer en toe sommer jou sleutel gebring.”

      Sy vat dit by hom.

      “Praat maar as jy iets nodig het. Ek het gereël dat jou motor gebring word. Dit staan hier voor jou garage.” Nog voordat sy kan antwoord, draai hy om en loop met lang treë weg.

      Verwonderd kyk sy hom agterna. Besef hy watter klein genade sy vriendelikheid van flussies was?

      • • • •

      Laatmiddag kom Theuns en Bella Verwey ook inloer.

      “Ollie sê jy’t inmekaargesak,” val Bella met die deur in die huis en gee ’n glasbak met kos vir Marcella. “Sommer ’n bietjie lasagne vir aandkos.”

      Marcella kyk dankbaar na Bella: “Dankie vir die kos. Dis meer as welkom. En Ollie het aangedik, hoor, ek was net ontsteld.” Hewig ontsteld, maar hulle hoef nie die volle omvang te weet nie.

      Hulle gesels eers oor allerlei voordat Theuns ernstig keelskoonmaak en praat: “Jy moet maar sê as ek Sondag jou preekbeurt moet neem, Marcella. Daar is darem nog oorgenoeg tyd vir my om ’n preek uit te werk.” Sy donker oë is ernstig op haar gerig.

      Wat ’n genade is Theuns en Bella se besorgdheid tog. Hulle is die enigste mense wat die besonderhede van haar verlede ken. Die kerkraad weet maar net dat sy ’n weduwee is. Sy het van die begin af oop kaarte met hulle twee gespeel en alles vertel. En sy het hulle onvoorwaardelik vertrou toe hulle, sonder dat sy gevra het,

Скачать книгу