Die skaalmodel. Anneli Groenewald

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Die skaalmodel - Anneli Groenewald

Скачать книгу

      Die skaalmodel

      Anneli Groenewald

      Tafelberg

      “Juffrou Visagie. Die tyd stap aan.

      “Vir die rekord stel ek dit: Ons is vandag hier om ’n stel klagtes wat teen u, Berdina Visagie, ingedien is, intern aan te hoor. Sou ons bevind dat enige van hierdie klagtes gegrond is, kan ons u summier van u pligte as museumargivaris onthef. Ons sou ook, afhangende van die klagte en van wat ons hier bevind, kon besluit om ’n siviele eis teen u in te stel. Ons sou u selfs krimineel kon laat vervolg. Want, soos u weet, juffrou Visagie, ’n paar van die klagtes is redelik ernstig. Wanbesteding van die museum se fondse, onder meer. Dan ook, en dit beskou ons uiteraard in ’n baie ernstige lig, die beskadiging van eiendom in die museum se besit.

      “Juffrou Visagie. Ek stel voor ons begin. Ek sal die klagbrief voorlees en u dan geleentheid gee om u saak te stel. Die identiteit van die skrywer van die brief is aan ons bekend, maar ek glo u sal dit begryp dat ons verkies om die persoon se identiteit te beskerm. Ons is immers nie hier om die briefskrywer nie, maar om u.

      “U is tans op verpligte verlof terwyl die ondersoek na u optrede afgehandel word. Sou ons bevind dat die klagtes ongegrond is, dat u oordeel in elke opsig suiwer en u bedoelings opreg was, dan sal ons u vaardighede en kennis natuurlik tot elke prys wil behou. Dan sal ons die klagtes skrap en u naam sal skoon wees.

      “Maar, juffrou Visagie, ek moet vir u sê – as vriend en kollega móét ek vir jou sê – in hierdie stadium lyk u saak beroerd.

      “Nou ja. Laat ons begin. Ek sal dan nou voortgaan en die brief aan u voorlees:

      “Geagte Meneer die Voorsitter van die Museumraad van die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp . . . Dit is met ’n swaar gemoed dat ek vandag aan u skryf. Berdina Visagie, of dan júffrou Berdina Visagie, soos sy verkies om bekend te staan, is ’n gesiene burger van die dorp. Ek wens dit was nie vir my nodig om hierdie brief aan u te rig nie, maar dinge het hand uitgeruk.

      “Juffrou Visagie. Kan ek u vra? U het ’n afskrif van die brief ontvang. Ek neem aan u het dit gelees en dat u met die inhoud vertroud is. Miskien is dit nie nodig om die hele brief voor te lees nie? Ek sou dit so verkies. Die skrywe is op plekke geniepsig en persoonlik. Ek stel voor ek lig die klagtes liewer een vir een uit en gee u kans om op elkeen afsonderlik te reageer.

      “As dit dan in orde is so? Dankie, juffrou Visagie. Laat ons begin met die eerste klagte.

      “Juffrou Visagie, u is die argivaris van ’n besonderse museum. Die skatte uit die geskiedenis wat in hierdie gebou bewaar word, is uniek. Baie is enig in hulle soort. Daar bestaan nêrens in die wêreld soortgelykes nie.

      “Nou, juffrou Visagie. Ek was destyds persoonlik betrokke by u aanstelling. Ons het geglo dat u die museum se belange op die hart sou dra. Dat u ’n behoefte het om die geskiedenis vir die nageslag te bewaar.

      “Goed. Die eerste klagte dan. U, juffrou Visagie, het volgens die klaer – en hier buite is die tekens daarvan duidelik sigbaar – u het die gevestigde tuin in sy geheel vernietig. Grasperk, krismisrose, ranonkels . . . Weg! Al wat van die oorspronklike tuin nog oor is, is die melkhoutboom. Volgens die skrywer sal dit jare, en honderde, indien nie duisende rande nie, kos om die tuin te hervestig.

      “Moet ek vir u lees? Dit is wat die klaer skryf:

      “Een van die dorp se pragtuine het sy oornag verander om te lyk soos voor die skepping. En dít ’n tuin wat as openbare besit beskou word, wat oopstaan vir besoekers. ’n Spieël van die dorp. Ek is seker sy het ’n plan gehad, maar in hierdie stadium lyk dit nie asof daar veel van gekom het nie. ’n Bossietjie hier en ’n plantjie daar. Al wat ék sien, is agteruitgang en verwoesting.

      “Jy wil iets sê, juffrou Visagie? Gaan gerus voort.”

      “Meneer die Voorsitter. Dankie vir die geleentheid om my kant van die saak te mag stel. Die omstandighede is moeilik. Miskien nie vir u nie, maar beslis vir my.

      “Ja, Meneer die Voorsitter, ek hét die brief gelees. Ek is bewus van die klagtes teen my en ek besef dis nou tyd om bestek op te neem en ’n oordeel te vel. Ek wil baie dinge sê. Maar laat ek die beskuldigings sistematies deurwerk. Ek wil nie emosioneel raak nie. Ek sal begin by die eerste klagte, met spesifieke verwysing na die opmerking oor die tuin wat vir besoekers oopstaan en as openbare besit beskou word . . .

      “Of nee. Wag. Laat ek dit eerder chronologies benader. Meneer. Die besoekers. Of sal ek liewer sê: die gebrék aan besoekers. Dít is waar alles begin het.

      “Meneer die Voorsitter, kom ek vertel u hoe my dae hier in die museum verloop. Of meer akkuraat: hoe my dae verloop hét. As agtergrond tot die groter verhaal. Ter inleiding. Ek het, soos u kan sien, ’n lêer saamgebring met die nodige dokumente om my kant van die saak te steun. Ek sê nou ‘lêer’, maar dit is veel lywiger as ’n lêer. Dalk moet ek eerder van ’n wakis vol bewyse praat.

      “Meneer die Voorsitter. Hierdie dokument, die een getiteld Finansies. Laat ek dit hier op die tafel vir u neersit. Ek sal telkens daarnatoe terugverwys. Die eerste bladsy is ’n opsomming. Kyk. Hier kan u self sien wat ek reeds ’n geruime tyd besef het. Ek vermoed u moet dit ook al begin dink het? Dat hierdie museum in die beseringstyd van sy bestaan is. Niks oorleef deesdae meer as dit nie geld maak nie. Dit is hoe dit in vandag se samelewing gaan: Maak geld, of maak toe.

      “Kyk, hier op die eerste bladsy. Wat sien u, Meneer die Voorsitter? As ons vandag eerlik is met mekaar, moet u erken: Dit gaan nou al etlike jare só. Broekskeur. Nie dat die museum hier op Bredasdorp ’n uitsondering is nie. Nee. So gaan dit seker maar by die meeste plattelandse museums wat op donasies en toegangsgeld moet staatmaak om te oorleef. En by die Skeepswrakmuseum is besoekers skaars.

      “Daar is weliswaar die laerskool se jaarlikse uitstappie, maar soos u self weet, Meneer: Die toegangsgeld wat die skool betaal, is gewoonlik minimaal. Die skoolhoof kom reeds aan die begin van elke jaar met u, die Museumraad, oor die bedrag ooreen. Dit word gesien as ’n skenking, ’n gebaar van waardering van die skool se kant. Maar, Meneer die Voorsitter, mag ek u vra: Weet die Museumraad dat die kinders jaar ná jaar ’n spoor van verwoesting hier agterlaat? Ek wil amper vir u sê dis die skenking nie werd nie. Hier binne moet ek net keer. Die spul vingertjies wil elke knoppie druk. Die klein besoekers hardloop rond en stamp aan mekaar. Een jaar moes ek glad die onderwyser vra om een van die klein rampokkers uit die gebou te verwyder. U sal dit nie glo nie, Meneer die Voorsitter: Hy, die bose besoekertjie, het met gebalde vuiste teen een van ons glasvertoonkaste gestaan en hamer!

      “En dan, Meneer die Voorsitter, asof dit nie genoeg is nie, vaar die spul terroriste, wanneer hulle hier binne klaar is, die tuin in. Die einste tuin waar ék kwansuis verwoesting gesaai het. Daarby kom ek nog. Netnou, wanneer ek een vir een op die klagtes reageer. Nou skets ek eers die agtergrond. Die scenario, die verhoog waarop alles afgespeel het. Meneer die Voorsitter, daar onder die groot melkhoutboom, daar gaan sit die kinders ná elke besoek met hulle kospakkies. Meneer! En alles word net daar neergegooi. Álles!

      “Jaar vir jaar is dit maar altoos ek, ék wat juffrou Visagie is, wat agterna moet opruim.

      “En ek ruim op. Ek vryf die vertoonkaste totdat hulle weer blink, daar waar die vetterige handjies gevat het. Nou moet ek byvoeg: Ek is bly die kinders kry darem die blootstelling. Dat hulle soms, al is dit maar een maal ’n jaar, kan sien die wêreld is nie net sewe jaar oud nie.

      “Máár, Meneer die Voorsitter, geen besigheid kan bestaan as daar nie geld deur die boeke kom nie. U weet wat in hierdie dokument met die opskrif Finansies staan. Maar kyk gerus weer. Hierso. Links is die uitgawes neergeskryf, en regs die inkomste. Elke keer as daar ’n uitgawe aangegaan

Скачать книгу