Die skaalmodel. Anneli Groenewald
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald страница 3
“Ander dae staan ek daar teen die boeg van die boot in die skeepswrakafdeling en luister na die klankbaan van die museum. Dít, die klankbaan, skakel ek aan wanneer ek hier instap. Die heel eerste ding wat ek doen, dis nou nadat ek die alarm afgesit het, is om die speelknoppie te gaan druk. Sommer nog so handsak onder die arm. Dan spoel die klanke deur die luidspreker en deur die hele museum. U weet van watter opname ek praat, Meneer die Voorsitter. Die branders wat teen die strand breek, en die seemeeu wat tussendeur roep. Oor en oor laat ek dit speel. ’n Deuntjie kan ’n mens dit nie noem nie. Die branders wat elke keer op presies dieselfde oomblik breek, die meeu wat in dieselfde stilte skrou. Ook saans, voor ek huis toe gaan, is dit die laaste ding wat ek doen. Handsak onder die arm druk ek die stopknoppie. Dan verstil die lewe hier in die museum totdat ek die volgende oggend terugkeer.
“Nou moet ek darem byvoeg: In die ganse land is daar op die platteland nie nóg ’n museum met sulke vernuwende idees nie, daarvan is ek oortuig. As ek reg verstaan het, is daardie seegeluide-bandjie al van die 1970’s of 1980’s af hier in gebruik. So innoverend! Agtergrondmusiek tot die lewe self, dink ek altyd. Nes die verwagting wat deesdae se films by mense wek. Ook vir die werklikheid van hulle bestaan soek hulle ’n klankbaan. Ek sien mos hoe die hoërskoolkinders smiddae hier verbystap. Op pad huis toe. Of terug skool toe vir atletiekoefening. Of rugby. Altyd met die oorfone in hulle ore. Hoofkarakters in hulle eie onderskeie verhale. Die klere sorgvuldig gekies om by elke spesifieke rol te pas.
“Nou, mý verhaal het so stil-stil hier in die Skeepswrakmuseum afgespeel. Met uitsondering van die laaste jaar of wat – die tydperk vandag hier onder bespreking – was die res van my tyd hier omtrent elke dag dieselfde. Dagin, daguit. Jaarin, jaaruit.
“Met die opdroog van die lewe hierbinne het ek al geworstel lank voordat die navraag van die koerant gekom het – daarby, by die oproep van die koerant, kom ek spoedig, Meneer die Voorsitter. Maar eers: Hoe kon ek die wrakuitstalling verbeter? Dit het ek baiemaal daar teen die boeg gestaan en wonder. Terwyl ek na die beelde van toentertyd se duikers in hulle loodsware duikpakke kyk, het ek my die koue, stil onderwaters probeer verbeel. Die breekware wat hulle op die bodem van die see gaan haal het. Koperware. Vrag uit vergane skepe. Koppies en messegoed. ’n Stukkende pop. Wit en blou skerwe porselein. Die lyste vragitems wat ná skipbreuke op veilings verkoop is, het ek bestudeer. Kiste vol tee, gars, koffie, whiskey. Wol. Hoe drinkbaar nog sou u reken, Meneer die Voorsitter, is tee nadat dit in die see geval het? Stel u voor! ’n Overbergse Tea Party op Waenhuiskrans.
“Kan u u dit indink? Die dek van die Arniston. Vol gewonde soldate, al wiegend op pad huis toe van Ceylon af. Sonder chronometer aan boord neuk hulle noord – onwetend land toe. Verbeel u u is self soldaat op daardie skip, onder in die klam pakruim, wanneer die kaptein – só seker van sy koers – teen die rif vasvaar.
“Dink aan die Birkenhead. Hoor u die dowwe stamp van die romp teen daardie voorheen ongekarteerde rots? Of sou dit ’n harde knal gewees het? Die chaos in die stuurkajuit. Die kaptein wat roep: Vroue en kinders word eerste gered! Die doodse stilte van die soldate wat asof versteen bly staan en so, op aandag, na die seebodem wegsink.
“Al die skepe wat hier aan die Suid-Kaapse kus op die rotse geloop het.
“Meneer die Voorsitter, sou u Amsterdam eendag besoek, moet u daar tog iets gaan besigtig. Ek praat nou nie van Amsterdam hier, in Mpumalanga, nie. Nee. Amsterdam in Nederland. Daar moet u tog gaan kyk na die VOC-skip wat as museum gerestoureer is. Dít is nou ’n goeie idee vir ’n museum, het ek gedink. ’n Houtskip, gerestoureer tot sy eertydse glorie. ’n Museumskip, drywend op die water. Daar waar dit hoort. ’n Mens klim met ’n trapleertjie op na die dek en verken van daar af al die verskillende vlakke en kajuite. Die bodek, die uitkykpunt, die kaptein se kajuit, die stuurkajuit, die hangmatte van goiing onder in die buik, waar die matrose geslaap het.
“Het ons maar die fondse gehad om op Waenshuiskrans of L’Agulhas só ’n museum te bou, Meneer die Voorsitter! Kan u u die aardigheid voorstel?
“Noudat ek daaraan terugdink. Was daar in die buik van daardie VOC-skip nie ook geluide uit ’n bandspeler hoorbaar nie? ’n Onheilspellende gesnork wat opklink uit die hangmatte? Of dink ek nou aan die tronkmuseum in Skotland? Daar is ook sulke goiingmatte waarin slagoffers van die geskiedenis slapend op hul sy lê – van die besoeker af weggedraai. Al snorkend. Koue rillings het die hompe mens my gegee toe ek daar deurstap. So werklik! Maar waar het die bandjie gespeel? Dit kan ek nou nét nie meer plaas nie! Ek vervies my so wanneer herinneringe deurmekaarloop. Maar ek is seker dit gebeur met u ook maar, Meneer. Die tyd spaar niemand nie.
“Nietemin. Ek reken steeds die Skeepswrakmuseum is op die Suid-Afrikaanse platteland die enigste museum met ’n klankbaan.
“Ja. Byt asseblief vas, Meneer die Voorsitter. Ek is amper by die draai in my storie. Ek vertel u net eers van my eerste nege jaar hier op Bredasdorp. Elke dag was maar dieselfde. So, dié deel van die storie is kort.
“Meneer die Voorsitter, net gou terug by die boeg. Dikwels, wanneer ek so gestaan en wonder en droom het daar by die skip, het ek gewens daar was ook ’n manier om die reuk van die see na te maak. Sodat besoekers hulle sou kon verbeel hulle rúik die branders, al die pad van Waenhuiskrans af.
“Nou ja, juis so was ek weer eendag daar by die wrakuitstalling doenig, toe ek deur die newels van my verbeelding en bokant die branders se gedruis en die meeu se gekrys die telefoon hoor lui.
“En destyds, dis nou voor die afgelope ruk se omwentelinge, het die telefoon hier nooit gelui nie. Nóóit.
“Toe die skril geluid dus so skielik bo die seegeruis opklink, het ek my gedagtes net daar laat val en dadelik gehardloop. ’n Bietjie stadiger daar om die draai waar die skeepslatrine staan, want daar is ’n plank in die houtvloer wat kraak. As ’n mens op hom trap, wiegel die latrine op sy plek, groot en stewig soos hy daar staan, en ek vat liewer nie kanse nie.
“Ja, lag maar, Meneer die Voorsitter. Ek kry vir myself ook lag, maar daar is altyd ’n stemmetjie wat waarsku die kontrepsie kan, teen elke natuurwet in en stewig soos hy daar is, dalk tóg eendag kantel en tiep. Bo-op ’n mens. En so stil soos wat dit destyds hier was . . . Wie sou my tog nou ook vermis het en kom kyk het waar ek was? Ek sou al gangreen gehad het en niemand sou nog onraad gemerk het nie.
“Ek is by die telefoon, Meneer die Voorsitter.
“Bredasdorp Skeepswrakmuseum. Goeiedag.
“Ek sorg altyd dat ek formeel antwoord. Julle kan van my baie dinge sê, Meneer – soos die skrywer van die brief inderdaad ook doen – maar een ding kan julle nié sê nie, en dit is dat ek nie te alle tye professioneel teenoor die publiek optree nie. Of dan nou opgetree hét nie.
“En toe is dit die joernalis.
“En dit is waar dit alles begin het. Die draai in die storie. U weet nou waar ek was, wat my bekommernisse was. Maar wag. Laat ek die e-pos uithaal wat sy ná die oproep gestuur het. Sien u, Meneer die Voorsitter? Elke ding is netjies op sy plek geliasseer.”
Aan: Bredasdorp Skeepswrakmuseum
Van: Bea Weideman
Gestuur: 14 Januarie 2012
Onderwerp: Skipskop
Hallo juffrou Visagie
Baie dankie vir jou tyd vanoggend.
Soos ek oor die telefoon gesê het: Ek is ’n joernalis wat oor grondsake skryf by Die Dagblad.
Ons wil graag ’n reeks artikels plaas oor Skipskop en die onteiening