Pirana. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Pirana - Rudie van Rensburg страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Pirana - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

in die woonstel gehou het en drank mildelik op “ons” rekening gevloei het.

      Dié situasie het die eerste ernstige krake in ons vriendskap veroorsaak . . . krake wat later van my kant af in enorme kraters sou verander.

      11

      “Die vier bliksems het elk net ses jaar tronkstraf gekry,” sê Karel Koster, Musina se bedrywige omgewingsjoernalis. Hy vee sy kuif uit sy oë, stoot sy diklensbril hoër op sy neusbrug en maak sy notaboek oop.

      “Ja, dis ’n skande,” sê Natasha. “En die ergste is dat die baasbrein iewers hoog en droog sit en seker al klaar sy volgende stropingsoperasie beplan.”

      “Presies. Ons gaan dié oorlog nie ’n donner wen nie.”

      Natasha knik met ’n sug. Hoewel die stropers lig daarvan afgekom het, gaan hulle ten minste agter tralies sit. En dat dié spesifieke stropers vasgetrek is met inligting wat IESA ingesamel het, is darem nog ’n rede om die Amerikaanse donateurs te laat herbesin oor die begroting. Sy wil hulle toegooi met suksesverhale. Sy het gisteraand haar aanbevelings aan Sanparke gestuur oor hoe die teenstropereenheid hul werkswyse kan verbeter, met afskrifte aan Tim en die donateurs. Hulle moet kennis neem van die volle omvang van IESA se bydrae. Sy’t ’n vermoede Werner Erwee het in die verlede nie al haar verslae aan die Amerikaners deurgegee nie.

      “Waaroor wil jy vandag praat?” vra sy vir Karel.

      “Viëtnam.”

      “Reg met my.”

      Die joernalis kan soms bitter lastig wees en hy neem baie van haar kosbare tyd in beslag, maar hy skep goeie reklame vir IESA. Hulle is die afgelope paar maande besig met ’n reeks renosterartikels vir sy koerantjie. Hoewel die leserstal beperk is, stuur hy vir ekstra inkomste Engelse vertalings van die artikels aan ’n verskeidenheid oorsese bewaringspublikasies. Daardeur kry IESA en die renosterkrisis gereeld wêreldwye blootstelling.

      “Net eers as agtergrond vir my lesers . . . hoe lank was jy destyds in Viëtnam?”

      “ ’n Maand, maar toe was ek nog by die Conservation Action Trust. Dit was vier jaar gelede.”

      Karel skryf, skuif weer sy bril reg. “Hoekom is juis die Viëtnamese so agter renosterhoring aan? Was hulle maar altyd die culprits?”

      “Nee, China was die groot sondaar in die verlede. Dáár was renosterhoring vir bykans tweeduisend jaar ’n integrale deel van hul tradisionele medisyne. Hulle was tot in 1993 van die grootste gebruikers van horing. Hongkong het in ’n stadium die wêreldhandel in renosterhoring oorheers, merendeels vir Chinese gebruik. Taiwan was ook ’n groot eindgebruiker, hoofsaaklik voorsien deur Suid-Afrika. Maar streng Chinese wetgewing teen horinghandel het stroping in die middelnegentigs kwaai laat afneem. Hulle bly groot gebruikers, maar laat deesdae die vuilwerk aan die Viëtnamese oor.”

      “Wanneer het die Viëtnamese dan op die bandwagon geklim? En hoekom juis hulle?”

      “Sedert 2003 kan renosterstroping toenemend teruggespoor word na hulle. Die groot rede is Viëtnam se buitengewoon goeie ekonomie, saam met ’n wydverspreide herlewing van die geloof dat renosterhoring nie net ’n wonderkuur is vir kanker nie, maar vir ’n duisternis ander goed.”

      “Soos wat?”

      “Enigiets onder die son . . . artritis, rugpyn, hoofpyn, konvulsies, hoë koors, infeksies, babelaas, vergiftiging en om die gehalte van jou bloed te verbeter. Die probleem is dat die staatshospitale en duisende van die gesondheidsentrums tradisionele medisyne onderskryf. Ek het onlangs gelees advertensies op Viëtnamese webwerwe beveel renosterhoring aan vir meer as sewentig mediese toestande. Die aanvraag na horing raak elke dag net groter.”

      “En wat betaal ’n mens daarvoor?”

      “Belaglike bedrae . . . dit kan tot soveel as veertigduisend dollar per kilogram wees. En op die Chinese en Thaise swartmark behaal dit soms nog hoër pryse. Dit maak renosterhoring ’n uiters betalende bedryf vir die sindikate, as jy in ag neem watse peanuts hulle die stropers betaal.”

      “Hoe neem hulle die horing in? Ek weet hulle maal dit.”

      “Drink die fyngemaalde horing saam met warm water. Daar is letterlik honderde verskillende drankies en resepte vir horingdisse. Hulle bemark tot renosterwyn – dié sit glo die skop terug in ’n man se performance in die bed. Die horings word gewoonlik in klein stukkies opgesaag en só aan die verbruikers verkoop. Dis ook ’n helse statussimbool in Viëtnam om ’n renosterhoring teen jou muur uit te stal. Ryk sakemanne gee selfs deesdae stukkies horing as corporate gifts weg.”

      Karel fluit deur sy tande en skryf verwoed. Ná ’n uur is hy tevrede dat hy genoeg inligting het. Hy maak sy notaboek toe en leun vorentoe.

      “Ek’t gister met ’n Kaapse vriend oor die foon gesels. Hy’t vertroulik ’n groot storie by ’n pel van hom in die Valke gehoor. Blykbaar het die Valke-eenheid wat stroping ondersoek verlede week ’n warm tip van ’n anonieme inbeller gekry.”

      Hy praat met ’n fluisterstem, iets wat Natasha altyd amusant vind, want daar is niemand anders in die omgewing nie.

      “Die inbeller het homself glo Deep Throat genoem,” gaan Karel voort. “Hy beweer ’n sekere donner by die Viëtnamese konsulaat in Kaapstad is op groot skaal betrokke by renosterhandel. Hulle hou nou elke beweging van die knaap dop.”

      Natasha skud haar kop. “Kan jy dit glo! Tot hul diplomate al!”

      Karel steek sy notaboek in sy sak en staan op. “Sien jou oormôreaand by die Sakekamer se do. Jy’s glo die gasspreker.”

      “Ja, ek voel eintlik skuldig dat ek nou eers my gesig daar gaan wys. Ek moes dit lankal gedoen het. ’n Mens weet nooit of daar potensiële skenkers is nie.”

      “Dit kan jy weer sê. Almal wat tel in dié deel van die wêreld is gewoonlik daar.”

      * * *

      “Ek sien jy’s nou famous, Kassie,” sê kolonel Daniels vlak by Kassie se lessenaar. Hy hou die koerant omhoog sodat die ander in die kantoor dit ook kan sien.

      Kassie lag verleë. “Ja, ek weet nie hoe hulle die storie so vinnig opgetel het nie.”

      “Jy lyk moerse tevrede met jouself op daai kiekie!” spot Da Silva. “Pak omtrent tanne uit.”

      “Kry jy prysgeld daarvoor?” vra Rooi.

      Kassie skud net sy kop. Hy moet erken hy’s nogal ingenome met die foto en die beriggie. Toe die verslaggewer hom gistermiddag bel en die afspraak maak, kon hy nie vinnig genoeg by die woonstel kom nie. Vanoggend was hy al lank voor werk by die kafee om die koerant te kry. Hy’t dit omtrent heel deurgeblaai voor hy op die berig afgekom het. Hy hou veral van die opskrif: Plaaslike versamelaar palm groot internasionale seëltoekenning in.

      Hy’t sommer vyf koerante gekoop.

      “Vat dié maar vir jou,” sê Daniels en sit die koerant op Kassie se lessenaar neer. “Ek’t dit klaar gelees. Jy sal dit darem seker wil hou.”

      “Dankie,” mompel Kassie sonder om op te kyk.

      Daniels wil omdraai, maar steek vas. “Ek sien jy en Rooi het nou ’n saak van ’n vermiste

Скачать книгу