Ena Murray Keur 10. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray страница 17

Ena Murray Keur 10 - Ena Murray

Скачать книгу

staan en kyk belangstellend toe hoe die man onder bespreking tydsaam stap na die hoek waar Lille die middelpunt van ’n groep jong mans is. Sy gee voor dat sy hom nie sien nie, maar hy druk tussen die omstanders deur, en buig weer koel voor haar. Tot die goewerneursvrou se groot ontsteltenis sien sy hoe die meisie haar kop skud. Sy weier hom sowaar!

      Ook die jong mans lyk openlik verbaas. Hulle is so gewoond om tweede viool te speel wanneer René de Louvois op die toneel is, dat hulle nie eens meer omgee nie. En hier is nou skielik ’n dametjie wat sy aanbod koel en uit die hoogte van die hand wys.

      “Jammer, m’sieur, maar ek is reeds gevra.”

      Sy draai blindelings na die naaste jong man, en dié lyk verbouereerd. Die vonkel in die jong graaf se oë vertel ook dat hy nie mislei is nie. Tog wend hy hom beleef tot die verleë Kaapse jong man.

      “Gee u om om dié dans aan my af te staan, mijnheer?”

      “Nee. Nee, natuurlik nie …” stamel die arme man bloedrooi in die gesig, en hy ontvang ’n koninklike knik van die kop.

      “Baie dankie, mijnheer. Kom, mam’selle.”

      Sy rem terug terwyl die oë na hom blits. “Maar ék gee om, m’sieur. Ek wil nie …”

      Hulle is beslis nou die middelpunt van aandag, en die geamuseerde vonkeling in die graaf se oë verdwyn. As daar een ding is waarvan René de Louvois nie hou nie, is dit om ’n gek van gemaak te word.

      Sy gesig lyk styf en gespanne in die lig van die kroonkandelaar bokant sy kop toe hy sê: “U is mos vanaand hier om die mans te onthaal, nie waar nie, mam’selle? Ek is een van hulle.”

      Lille kyk hom verstom aan, te verslae vir sulke openlike onbeskoftheid en brutaliteit. Insinueer hy …?

      “Ekskuus? Wat het u gesê, m’sieur?”

      Sy oë kyk stip terug. “U het reeds met elke man in hierdie saal gedans. Dis nou my beurt. Kom.”

      Sy staan stokstyf voor hom, haar oë so groot soos pierings. Nog nooit in haar lewe is sy so beledig nie. Nogtans probeer sy haar soos ’n dame gedra. As hierdie onbeskaafde buffel nie sý maniere ken nie, ken sy darem seker nog hare.

      “U verkeer onder ’n wanindruk, m’sieur. Ek is nié hier vir die vermaak van mans, en beslis nie vir jóú nie.”

      “Waarvoor is jy dan hier, mam’selle?” Haar oë vermoor hom, maar skielik is die haatlike glimlaggie terug om sy een mondhoek. “Ek is seker ook geregtig op mý deeltjie van die vermaak. Trouens, ek dink jy is eintlik hier vanaand om net vir mý te vermaak, as ek sake reg opgesom het.”

      “Jou … jou verwaande …”

      “Ek dink nie jy is in ’n posisie om mý name te noem nie, Lille Jacquard. Weet jy wie ek is?”

      “Ja. Jy is een van daardie soort wat jouself op ’n graafskap beroem, maar nie die agtergrond en opvoeding het om dit te staaf nie.”

      ’n Doodse stilte het meteens neergesak, maar nie een van die twee is bewus daarvan nie. Hier langs die goewerneur beweeg sy vrou, maar hy hou haar terug, sy oë diep belangstellend gerig op die twee wat soos twee swaardvegters teenoor mekaar staan. Hy sal graag wil sien wat nou gaan gebeur. So ook die ander omstanders wat nie eens meer ter wille van goeie maniere voorgee dat hulle niks agtergekom het nie. Almal staar openlik.

      “As jy ’n man was, het jy nou gesterf aan die punt van my swaard.”

      “Wat laat jou dink jy sou gewen het?”

      Weer spat die vonke tussen die twee paar oë.

      “Mam’selle Jacquard, dis nie nodig om tot sulke uiterstes te gaan nie. Jóú soort vrou sal ek nie eens met ’n vuuryster aanraak nie. Ek hou nie daarvan om een in ’n bondel te wees nie.”

      Dis ’n rukkie grafstil in die groot balsaal nadat die weerklank van haar palm teen sy wang weggesterf het. Selfs die lede van die slawe-orkes het al teen dié tyd agtergekom dat iets buitengewoons in die hoek oorkant hulle aan die gang is en het opgehou met speel. Skok en verbystering en algehele ongeloof is op elke gesig te sien. So iets het nog nooit hier gebeur nie!

      Ook die man wat die klap ontvang het, staan roerloos, baie duidelik onkant betrap deur sulke ongehoorde optrede. Maar Lille is te kwaad om om te gee. Nog nooit in haar lewe is sy as ’n goedkoop meisie bestempel nie, en dit nogal ten aanhore van ’n hele skare!

      “Jy trek onmiddellik daardie beledigende woorde van jou terug, m’sieur!”

      “Ek sal liewer byvoeg.”

      “In daardie geval dan … Moenie die feit dat ek ’n vrou is, jou weerhou om teen my te veg nie. Waar en wanneer kan ons mekaar ontmoet?”

      “Lille!” Die goewerneursvrou tree nou tussenbeide, haar gesig bleek van ontsteltenis.

      Maar Lille Jacquard was nog nooit só vasbeslote in haar lewe nie.

      “Dit is ’n saak tussen my en die graaf De Louvois, mevrou.” Sy kyk hom spottend aan. “Toe, m’sieur. Is jy bang?”

      Hy buig styf, formeel, ’n ligte rooi gloed op sy wange, skielik weer intens bewus van die omstanders en dat elke oog met heimlike geamuseerdheid op hom gerig is. Die graaf De Louvois word deur ’n vrou uitgedaag!

      “Soos u verkies, mam’selle. Die plek en die wapens is jou keuse.”

      “O nee, m’sieur. Geen spesiale voorregte omdat ek ’n vrou is nie. Ons ontmoet mekaar op gelyke voet. Die plek en tyd kan jý maar kies. Ek kies die wapens. Waarin is u die beste? Pistole of die swaard?”

      Sy oë brand in hare. “Albei.”

      “So?” Haar oë lag hom uit. “Dan maak ons dit maar swaarde. Nou – hoe laat en waar?”

      Sy lippe is ’n dun, wit lyn terwyl ’n gedempte gegiggel agter sy rug opklink. Die Kaapse mense geniet hierdie belaglikheid terdeë – en dit ten koste van hom! Sy tande kners onhoorbaar.

      “Môreoggend om sesuur. My koets sal hier wees om jou te kry. Goeienag, mam’selle – tot môre.”

      Hy draai om en stap reguit op die goewerneur af, buig vlugtig in sy en sy vrou se rigting en stap dan uit. Agter hom hoor hy ’n vrou se lag klokhelder opklink.

      Hoewel Lille ná sy vertrek voorgee dat sy alles nog net so geniet soos vóór die onaangename voorval, is dit tog nie die geval nie. Hoewel sy oënskynlik as oorwinnaar uit die stryd getree het, is daar tog ’n ongemaklike gevoel in haar. Iets waarsku haar dat sy vanaand ’n groter hap afgebyt het as wat sy kan verorber. Die gespot en geterg van die mense laat haar ook nie beter voel nie. Ook die goewerneursvrou se ontsteltenis is opmerklik.

      “Besef jy dat René die beste swaardvegter aan die Kaap is?”

      “Werklik, mevrou?” Sy probeer haar ongeërg hou. “Dan moes ek liewer pistole gekies het.”

      “Dit sou jou weinig gebaat het, mam’selle,” laat die goewerneur hoor. “Het jy vergeet hy is ’n grootwildjagter? Daar is geen soort vuurwapen wat hy nie ook meesterlik hanteer nie.”

Скачать книгу