Hanna. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hanna - Maretha Maartens страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Hanna - Maretha Maartens

Скачать книгу

mure gevorm en gebak.

      Soos wat hy lappies bewerkbare aarde vir homself en ander teen die berghelling onder die dorp en teen die rante in die heuwels aan die ander kant van die vallei ont­bos het, so het Elkana gebou. Soos wat die doringagtige struike voor sy pik en byl platgeval het en daar dag vir dag anderkant die rugbreekwerk iets nuuts, iets beters vir homself of ander was, so was dit daar by die rotsagtige plek wat hy vir die fondasie van háár kliphuis afgemeet het. Anderkant die ge­stoei van die dag het daar elke aand méér as die vorige dag gestaan – vir hulle albei.

      En anderkant elke dag se geduldige volharding was daar nou soms onthougoed wat hy in ál die jare van hul saam­wees nog nie met haar gedeel het nie. Daar was stukkies familiegeskiedenis, talle óú voorvalle uit sy kinderdae. Dit was amper asof hy sy kop en gedagtes ook ontbos het. Asof hy dele van sy familiegeskiedenis – gebeurtenisse wat Jero­gam, sy pa, terloops genoem het, eie herinneringe, ver­liese en die baie dinge waaroor hy as jong seun gelag het – een vir een soos klippe gevat en daaruit ook iets opgebou het.

      Dit het haar verwonderd gelaat, dié dinge uit haar man se familiegeskiedenis, dié andermanstragedies, waaroor sy haar ouers en broers lank gelede hoor praat het.

      Hy het dit ná al die jare met háár gedeel omdat hulle met mekaar verweef geraak het. Voordat hy sy besluit aan­gekondig het, was sý die een met wie hy verweef was. Ná sy besluit kon die weefwerk van hul lewe as man en vrou – net een man en een vrou – nie behoue bly nie.

      HOOFSTUK 4

      “Die eerste huis van klip en steen in hierdie gebied is deur ’n Suffiet gebou. Dit was die huis waaraan my oupa Elihu byna vier jaar lank gebou het,” het Elkana een middag in die lig van die ondergaande son vir haar gesê. “Daardie huis het ses vertrekke gehad. Daar was ’n eie kamer vir my oupa- en oumagrootjie, ’n slaapkamer vir hom en my ouma, ’n slaapkamer vir die seuns wat wat hy nog sou hê, ’n ver­trek vir sy dogters, ’n stoorkamer en ’n binnekamer. Jy weet mos wat my oupa se naam beteken: My God is Hy. Daar­om het hy sy huis met ’n binnekamer gebou, ’n klein ver­trekkie met niks anders as ’n gebedsmat daarin nie.”

      Sy het hom verbaas aangekyk. Ou Elihu het nog ge­leef. In daardie tyd was sy tent reg in die middel van die staning wat lankal nie meer die tydelike kamp van ’n paar familie­groepe was nie. Die granaat- en vyebome, die wingerd­stok­ke en huistuintjies van hul heuwelkruindorp was lank reeds gevestig, soos die klein saailandjies en wingerde teen die berghelling en in die vallei onder die dorp.

      Die granaatboom langs Elihu se tent het in die jaar van haar en Elkana se troue só geil gedra dat oud en jonk, die voëls van die hemel en die insekte gelyk het asof hulle van granate, granaatpitte en granaatsap leef. Sy, die in­kom­mer in die buurt van die Suffiete van Ramatajim, het nog heim­lik gedink: As jy kinders sien granate eet, kan jy maar weet hulle is Suffiete, familie van my bruidegom. Die gra­naat­eters, het die woord in die tyd van die granate by haar opgekom.

      Haar skoonpa het eenkant geleef, al was hy nie melaats nie. Sy tent was op die rand van die tentedorp en hy het dit gereeld verskuif.

      Hanna het van taal en woorde gehou. Iewers in haar was daar woorde vir enigiets – pyn, haat, meegevoel, ver­wondering, lofprysing, elke soort belewenis. Daaroor het Elkana maar net die kop geskud. “Gelukkig het ek vir my ’n vink as vrou gevat,” het hy soms gekorswel. “Dit woel en dit werskaf, dit weef en pluk uitmekaar, dit tjirp en kwetter en sing. As ek nie vir my ’n vrou gaan kry het nie, het ek doof geword van my eie stilte.”

      Sy was as bloedjong bruid half skrikkerig vir ou Elihu, die patriarg van die familie. My oupa Elihu, het Elkana hom genoem. Maar toe sy hom die eerste keer ontmoet, het die ou man homself as Eliël aan haar bekendgestel. My God is God.

      “Hoekom wil jou oupa hê ons moet hom eerder Eliël noem?” wou sy agterna van Elkana weet.

      “Om mense voor ’n keuse te stel soos wat Josua gedoen het,” het Elkana gesê. “My God is God, wil my oupa met sy naam sê. Ek en my familie dien die lewende God. Wie of wat dien jy?”

      So plegtig as wat die kinders van Israel in die tyd van Moses en Aäron na die tabernakel in die middel van die laer gegaan het, so plegtig was haar besoeke aan die ou man se tent altyd. Só het Aäron seker na mense gekyk en met hulle gepraat, het sy daardie eerste dag gedink toe Elkana haar aan hom gaan voorstel het.

      Maar dit is nie al nie. Die eggo’s van Josua se woorde op die grens van Kanaän is in sy naam. Sy andersheid is die andersheid wat Simson se ouers vir hul seun gekies het. Daar was net een verskil. Simson het nie ’n keuse gehad nie. Die engel van die Here het voor sy geboorte al vir sy ouers gesê dat die seun aan wie Manoag se eens onvrugbare vrou die lewe sou skenk, lewenslank en onafgebroke ’n na­sireër moes wees. Sy ma moes selfs as nasireër lewe terwyl die kind in haar groei. Sy mog niks wat vir nasireërs ver­bode is, eet of drink nie. Selfs deur die naelstringver­binte­nis tussen haar en die kind het sy nie die toewyding aan El Yisra’el durf ontwy nie.

      Selfs toe sy die ou man beter leer ken, het dit niks aan haar eerste indrukke verander nie. So streng en wit bebaard soos Moses se broer seker was, so was ou Elihu vir haar. Van al die mense van die gebied was dié ou man die enigste wat die nasireërsgelofte op 30-jarige ouderdom afgelê en dit daarna nooit opgegee het nie, selfs nie vir ’n week of ’n maand nie.

      Toe sy een oggend kort ná hul troue vir hom brood en rosyntjies neem, het hy die skottel rosyne met ’n diep frons eenkant toe gestoot en sy nasireërsgelofte aan haar uit­ge­spel: Geen produk van die wingerstok as voedsel of drank nie, die hare en baard kan nooit geskeer word nie en hy mag geen lyk aanraak nie. Ja – mag die Here dit verhoed – selfs nie die oorskot van ’n doodgebore baba of die lyk van ’n eie seun of kleinseun sou hy ooit aanraak nie.

      Sy het hom aangestaar. Die rosyne is soet en lekker, my vader, wou sy vir hom sê, maar sy het dit nie gewaag nie. Die ou man vir wie die Here tot op die been gestroop het, die Leviet wat nie eens sy binnekamer se mat oorgehou het nie, het volkome toewyding aan die Here bo die vreugdes van die tafel, die grond, die aarde en aande ná die dag se werk gekies. Om sy nasireërsgelofte te laat verstryk, het klaarblyklik nie eens by hom opgekom nie.

      Met Elkana se arm oor haar het sy dikwels tot laatnag wakker gelê. Nasireërskap, het sy half deurmekaar in die donker gedink, is soos ’n heilige melaatsheid. Dit ver­oor­saak dat die een wat só volkome aan die God van Israel behoort, eenkant, mensalleen weeklaag wanneer een van sy kinders of kleinkinders deur ’n roofdier verskeur is. So ook wanneer ’n kind uiteindelik, ná die gevreesde dors en hoofpyn, die vlak asemhaling, die sweetlose koors en – mag die Here dit verhoed – die stuipe van sonsteek, sy laaste asempie uitblaas.

      Soos my broertjie Nemuel, het sy gedink. Die een wat op die dag van die Here gebore is, die een wie se naam dag van die Here, rusdag, beteken. Die een vir wie my pa laat werk het terwyl die ander in die skaduwee kon eet en rus.

      “Vir jou straf sal jy nie rus nie,” het haar pa daardie ver­skriklike dag van die takbondels gesê. “Jy sal werk totdat ek sê jy mag ophou.”

      Soos my speelmaat Nemuel, die een wat in stuipe, ja, tot in die graf, getugtig is. So is ons ma ook in onder­danigheid, tot diep agter haar sluier in, getugtig. So is sy, wat vir Nemuel opgekom en voorspraak gedoen het, tot in smart en stilswye getugtig.

      Om stil te bly was vir haar ma beter as om te praat, beter as verwyte, beter as dreigemente. Sy was bang vir ’n skeibrief en is nog altyd bang daarvoor.

Скачать книгу