Hanna. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hanna - Maretha Maartens страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Hanna - Maretha Maartens

Скачать книгу

so ’n vrou wou bly? Dit is onbetaamlik. My huis is nie my huis nie, want jy, ’n vroumens, wil hier baas wees. Dit is onbetaamlik.”

      Voordat Nemuel aan sonsteek beswyk het, was die Wet die hele lug vol. Die Wet, soos haar pa dit by sy pa leer verstaan het, het ’n opgeskorte vonnis oor haar ma uitge­spreek: As ’n man sy vrou nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het, mag hy ’n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis wegstuur.

      Hulle verdraai die Wet, het haar ouma gesê. Maar haar ma en haar ouma het nie toegang tot die boekrolle gehad nie. In hul ongeleerdheid het hulle maar net oor die God van Israel gepeins en gepraat. Só was die Here tog seker nie? Het Hy hom dan nie ook oor vroue ontferm nie? Sal die God wat vir Hagar raakgesien en aan haar en haar seun uitkoms gegee het, verbanning en ongenade teenoor vroue deel van sy Wet maak?

      Haar ma en ouma was radeloos oor baie dinge. Sy, Hanna, ook oor die ding waarvan hulle nie geweet het nie. Ge­dag­tes het verbode woorde in haar geword, soos spin­ne­kop­pe wat uit spinnekopkokonne kom en oral in haar krioel. Sy moes die woorde van woede en haat in haar dood­slaan en dooddruk voordat hulle uit haar keel en oor haar lippe kom, soos wanneer sy in die rante in die skadu­wee van ’n groot rots oor Nemuel gaan huil het.

      “Jou familie woon lankal in huise van klip en gebak­te stene,” het Elkana niksvermoedend met haar gepraat. “Vir jou was dit nie iets besonders om huise om jou te sien opgaan nie. Maar by ons … Van al die Leviete in die Efraimsberge was my oupa die eerste een wat in ’n huis met ’n houtdeur, ’n vaste fondament en ’n klipmuurkraal teenaan die woonhuis gewoon het. Kan jy jou dit indink? Toe die huis klaar was, het sy bokke saans huis toe gekom. En my pa, wat toe nog nie agt jaar oud was nie, kon die hek tussen my oupa se bokke en die roofdiere van die nag elke aand gaan grendel.”

      “En nou woon jou oupa in tente, soos al die ander hier.”

      Elkana het half by haar verbygekyk. “My oupa se huis is deur Israeliete uit Gilead afgebrand.”

      “Jy bedoel seker die Ammoniete?” Sy het gedink hy het hom verspreek. Voor haar en Elkana se troue was haar broers altyd aan die uitgaan of inkom. Vir die uitgaan het sy vir hulle kos in hul velsakke gepak – rosyne, dadels, brood en lensies. By hul terugkeer het hulle soos diere geruik en was hulle vol skrape en gevegswonde. Daar was geen einde aan die skermutselinge met die Ammoniete aan die oostekant van die Jordaan nie.

      As Nemuel bly leef het, het sy as jong meisie gedink, sou my broers hom dalk ook in ’n put gegooi het, sonder ’n Ruben wat heimlik planne sou beraam om hom daar­uit te bevry. Bring die ewige God soms ’n dood van genade oor iemand vir wie die lewe te wreed sou gewees het?

      Laat die Here soms iemand soos Nemuel sterf, sodat hy nie die lewe waarin mense hom sou kon dompel, hoef te leef nie?

      “Ek droom nog partykeer van my broers wat optrek teen die Ammoniete,” het sy vir Elkana gesê.

      Maar hy het sy kop geskud: “Dit was nie die Ammo­niete wat my oupa se huis aan die brand gesteek het nie, Hanna. Dit was ons volksgenote, die Gileadiete. In die tyd van die burgeroorloog tussen die Efraimiete en Gileadiete onder die rigter Jefta, het broer teen broer geveg.

      Die burgeroorlog. Die stormagtige geluide van haar ouerhuis het lank reeds in haar en Elkana se huweliks­geluk vervaag. Sy het net af en toe nog daarvan gedroom, wakker geskrik en dan in die donker digter teen Elkana aangekruip.

      Haar pa en broers het nie ooghare vir die rigter Jefta gehad nie. ’n Lafhartige droster, het hulle Jefta genoem, wat nie kans gesien het vir die stryd wat die stamme van Efraim en Manasse nog moes stry nie; ’n dwaas wat sy eie dogter as brandoffer aan die God van Israel beloof het, net vir ’n oorwinning oor die Ammoniete. Net skuim doen so iets. Jefta is skuim, ’n vuilgoed.

      Wanneer sy van daardie tyd in haar ouerhuis gedroom het, staan haar ma altyd teen die agterste muur van die eenvertrekhuis met haar hare onbedek en die punt van haar bokleed teen haar gesig gedruk. Ná al die jare het haar hande nooit ophou bewe nie. In elke droom bewe hulle net so sigbaar soos daar teen die agterste muur.

      Haar ma, radeloos en onbegrypend soos sy was, het die Here gevrees – soos haar ouma Jeriot aan vaders- en ouma Seruja aan moederskant.

      Nooit moes Elkana weet hoe dit in haar ouerhuis ge­gaan het en hoe haar ma teen die muur gestaan en bewe het nie.

      “Die burgeroorlog was ’n tyd van skande, Hanna. My oupa Elihu, die Efraimiet, het by die Jordaandriwwe by die Gileadiete verbygekom. Hy het die woord sjibbolet soos een van hulle uitgespreek. Maar toe hy by die huis kom waaraan hy so lank gebou het, was dit afgebrand – die werk van Jefta se Gileadiete. My pa sê my oupa het as van die afgebrande huis op sy kop gegooi en soos ’n dier gekerm. Drie dae later het hy pale gaan kap en sy bokvelle van vroeër daaroor gespan. My oupa het ’n eed afgelê om nie weer ’n huis in die Efraimsberge te bou wat ’n murasie kon word nie. Nie voordat die Here ’n rigter wat vrede kon bewerkstellig, aan Israel gegee het nie.”

      HOOFSTUK 5

      Hoe volmaak was die negende jaar van haar en Elkana se huwelik nie! Dit was die jaar voor sy besluit.

      Wanneer die son saans sak, het Elkana die vordering wat hy dié dag gemaak het, stil en hande-agter-die-rug ge­staan en betrag. Uiteindelik was ’n klip-en-kleihuis op ’n vaste fon­da­ment van ongekapte klippe besig om vorm aan te neem. Die mure was dik en die vensterbanke breed ge­noeg vir kruike en lampe. Akkedisse en skerpioene het voor­tydig, terwyl Elkana nog aan die bou was, by die ruitlose ven­ster­openinge ingekom, die vertrek van hoek tot kant be­sigtig en hulle spoedig in dié beskutte ruimte tuisgemaak.

      Elkana het die huis volgens sy plan gebou. Daar was twee ewe groot reghoekige vertrekke. Die een was vir sy pa, die ander een vir hom en haar. Albei vertrekke het vier vensteropeninge sonder traliewerk naby die dak gekry en elke vertrek sy eie deur, wat op houtpenne in die gate in die latei en drumpel skarnier.

      “Die vyeboom by Pa se deur is vir Pa,” het Elkana die digte skaduwee aan Jerogam, sy pa, toegeken. “Dit is vir Pa en Pa se kuiergaste.”

      Hy het aan die blinde man se skouer gevat en sagter gepraat: “Binnekort sit Pa dalk hier met Pa se kleinseun op Pa se skoot.”

      Amen, het sy gedink, want sy het hom gehoor. Alles vind nou sy regte plek, selfs die skaduwee van die vyeboom.

      Haar skoonpa was nie maklik oortuigbaar nie. Hy het hom vir maande teen die idee bly verset om in die kamer onder hulle in te trek. Wat is verkeerd met sy tent? Lyk hy vir hulle soos iemand wat langs ’n ander se tafel moet aanlê of soos ’n hulpbehoewende?

      Elkana het ál sy dae met sy pa gehad en elke argu­ment aangevoor.

      Die enigste een wat gewerk het, het soos weerlig deur Hanna gegaan. “Kinders het oupas nodig, Pa. Pa moet by ons intrek, want …”

      “Elkana! Wat vertel jy my? Is Hanna al in haar sesde maand? Jy kon dit vir my gesê het! Ek is jou pa.”

      O, die teleurstelling op haar skoonpa se gesig toe El­kana vir hom sê dat hy besig was om die plek vir sy pa in die geloof gereed te kry.

      “Hoe bedoel jy – in die geloof?”

      “Pa weet mos wat dit beteken. Met vertroue op die Here.”

      “Jy sê dus sy is nog nie …”

      Elkana het sy kop byna nie beweeg nie. “Maar dit sal gebeur, Pa.

Скачать книгу