Hanna. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hanna - Maretha Maartens страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Hanna - Maretha Maartens

Скачать книгу

soos sy hare was toe sy hom die heel eerste keer sonder sy kopdoek gesien het, so het Elkana se dik bos hare al die jare gebly. Die diep rooibruin sou uiteindelik in sy ouder­dom vanself versilwer. Die kroon van die ouder­dom, het sy geweet, sou hom pas.

      Elkana het valsheid nog altyd ’n lae soort boosheid ge­noem. In die tyd toe hy haar huis gebou het, het hy twee van Sagaria se kleinseuns reguit daaroor aangespreek. Dié twee het hom in daardie tyd nie altyd in die oë gekyk nie. Terwyl hulle hul pa se vee oppas, het hulle Elkana se bok­ke met klippe gegooi. Elkana het hulle op heterdaad be­trap waar hulle hul niggies en eie oudste susters afloer terwyl die meisies hul reinigingsbad neem. Die oudste van die twee het dit ontken dat die spoeg spat, soos ook die aan­tyging dat hy in die jaar toe hy 15 was by die beelde naby Gilgal met ’n prostituut omgang gehad het.

      As Elkana dié twee dan iewers sou teëkom, was dit sha­lom! en shalom! uit albei monde. En: “Hoe lyk die wolke vir Oom? Is daar reën aan die kom?”

      Elkana se uitgangspunt was nog altyd dat valsheid en boosheid soos dorings en distels aangepak en uitgeroei moet word. Daarom het hy die twee een middag nader geroep. “Kom hierso. Daar is iets wat ek vir julle wil sê – of eerder móét sê.”

      Daar was onderlangse blikke en nekhare wat jy onder albei se ma’aforet kon sien rys. Hulle het egter nader­ge­staan, hardgebak soos gebakte stene. Die een het gesê: “Ons kan nie eintlik lank bly nie. Ons gaan vannag bokke oppas. Daar is wolwe in die rante. Maar Oom wou iets sê?”

      Elkana hom hom nie van stryk laat bring nie. “Valsheid is ’n skuilplek wat nie lank skuiling bied nie, my seuns. Dit is soos ’n gat in die sand. Jy dink nog jy het ’n weg­kruipplek, dan begin die sand by die gat inloop. Jy raak daarin vasgeval.”

      Hulle het eers na mekaar en toe verby Elkana gekyk. “Is daar fout dat Oom so met ons praat?”

      “Julle weet goed dat ek julle gesien het toe julle die bokke met klippe bestook en jul susters afgeloer het.”

      Hulle het ongemaklik rondgetrap. Uitgevang. “Hý het daarmee begin,” het die oudste die jongste beskuldig.

      “Dit lieg jy,” het die jongste teruggekap. Hulle het gesis en na mekaar gepik soos slange doen wat in die holtes geskuil het van ’n kraalmuur van gestapelde klip as jy die muur afbreek.

      Elkana het sy arms gekruis en gewag. “Ek dink ek moet later vanaand oorstap na jul pa toe.”

      Hulle het geskrik. Hul pa, Sagaria se jongste seun, was ’n man wat maklik met die vuis geslaan het.

      “Ek is jammer, Oom,” het die oudste onmiddellik gesê.

      “Ons luister na Oom,” het die jongste ook ingeval. “Oom doen wat Moses gesê het, en ons luister.”

      Elkana het sy linkerwenkbrou gelig en die oudste het so byna-byna gesoebat. “Oom skerp die gebooie by ons in. Oom praat met ons daaroor – beter as wat my pa dit kan doen, Oom. Oom weet van sy beeldjies. My pa praat nie meer so met ons soos Oom nie.”

      Die jongste het ook nog iets van die voorskrifte van die Here geweet: “Oom graveer die waarheid op ons voor­koppe in. Oom bring nog daardie merk op ons voorkoppe aan, Oom.”

      Na dié gesprek het Elkana lank met ’n diep frons tussen die oë geloop. Dae lank was hy stil – ’n Leviet in rou oor die afvalligheid en leegheid van sy volk.

      HOOFSTUK 7

      Jerogam, haar skoonpa, was wakker en het in sy vertrek onder in die huis gehoes kort voordat die swaarder vonnis oor haar uitgespreek is. Sy het nie geweet wat kom nie. Sy het dié vonnis nie verwag nie.

      “Jou pa bly hoes,” het sy nog opgemerk. “Moet ek nie dalk vir hom ’n bietjie heuning …”

      “Los die heuning,” het Elkana gekeer. “Laat ons liewer oor hóm praat, oor my pa.”

      Dit was die waterskeiding tussen alles wat was en alles wat vir haar voorgelê het.

      Daar het ’n gevoel van onrus oor haar gekom. ’n Swaar medewete waaroor sy nie presies seker was nie.

      Dit was dié soort wete wat haar ouma Seruja gehad het voordat mense na aan haar sou sterf. Haar ouma wóú nie vooraf weet nie en sy het selde oor die voorafwetes gepraat. Sy het daaronder gely.

      “Ouma kan geld uit dié ding maak,” het haar broer Jispan by meer as een geleentheid gesê, “soos die ou vrou by En-Dor.”

      “Watter ou vrou?” het Nemuel nog gevra. Hy het vir hom ’n nuwe rietfluit langs die binnevuur gesit en kerf, want dit was in die winter.

      “Die heks van En-Dor,” het Jispan saaklik gesê, asof enigiemand die heks-woord sommerso kon sê. Asof daar nie elke soort boosheid aan ’n heidense heks kleef nie.

      “Heks?” Nemuel was nog klein. Die groot broers het hom nog nie van sy onskuld beroof nie.

      “Dodebesweerster,” het ouma Seruja sag vir hom gesê, “as jy dan moet weet. En sodat jy kan ophou om te vra. En vergeet nou dadelik daarvan. Daardie woord kom nie eens oor ons lippe nie.”

      Ouma Seruja se wetes was van God en hulle het haar ouma stom gelaat. Sy het nooit soos die waarsêers en do­de­be­sweer­ders gepraat wat in grotte en by die onheilige boom­stam­me in ’n trans raak en in ander stemme as hul eie skreeu en fluister nie. Die wetes wat van die Here kom, het haar verskrik.

      Sy, Hanna, het daardie nag geweet hoe ouma Seruja ge­voel het wanneer die wetes kom. Dit was asof sy vir oom­blikke in haar ouma se lyf was – magteloos en wetend.

      Elkana het begin praat. “My pa word nie jonger nie. Ek ook nie. Dinge het nou tot ’n punt gekom. Ek het lank gedink en het verlede week by hom onder die vyeboom gaan sit om met hom te praat. Wel, ek het gedink ek gaan die praatwerk doen. Dit was toe hý wat praat. Dit was soos ’n stroom wat in my pa afkom, ’n vloed. Hy rol snags rond omdat sy naam in Israel sal uitsterf en omdat hy en ek nie ’n opvolger in die heiligdom sal hê nie. Die landerye, die grond wat ons bewerk en hierdie huis sal deur ander bewoon word wanneer eers hy, dan ek sterf. Dit is egter nie die tragedie nie. Niks behoort tog regtig aan ons nie. Aan die stam van Levi is immers geen familiegrond ná die inname van die land toegeken nie. Vir my pa gaan dit oor ’n volgende Leviet en oor ons opvolger in die heiligdom. Daar is nog nie ’n seun vir my gebore nie. En jy weet hoe hy oor ’n nageslag voel.”

      Asof dit nodig was dat haar man dit aan haar moes uitspel – en dít in die middel van die nag. Haar skoonpa se lewensverhaal het nie uit haar gedagtes gewyk nie.

      “Vir twee dinge sal ek bid,” het haar skoonpa vir haar gesê. Nooit sou sy dié twee dinge kon vergeet nie. Een van die twee dinge was ’n seun vir Elkana. ’n Klein Leviet om in die heiligdom te doen wat sy voorvaders gedoen het.

      Hoe dikwels het haar skoonpa die name van sy voor­vaders oor sy lippe laat rol. Die seun waarvoor haar moe­der­skoot maand ná maand gereedgemaak en die hoop laat vaar het, sou die naam van een van sý voorvaders ont­vang. Sy het haar skoonpa die name van die oues van sy fa­mi­lie­groep hoor noem. Elkeen van hulle was uiteindelik so be­kend aan haar soos die name van haar eie voor­vaders en die geliefde naam van haar ouma.

      Haar skoonpa het die karakters van die oues, hul wandel met die Allerhoogste, hul dade en elkeen se stryd op die aarde by haar ingeskerp: Elkana die eerste van Efrata, dap­per held van

Скачать книгу