Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten страница 7
“Blienkieng hel …” grom die kolonel, nie gewoonlik geneig tot sterk taal nie.
Die res kyk in stilte toe, die twee fotograwe reeds met hulle kameras op die gesig ingezoem. Veral op die seskantige geel koppe van die lang duimspykers wat in elke oog ingedruk is, haar wange blink van drooggeworde glasvog wat uit haar oë gelek het voor sy kop onderstebo oor die voetstoel gedrapeer is.
5
Ella sukkel om die vrolike, aantreklike Clara Heyns van die foto’s te versoen met die verrinneweerde gesig op die mat. Behalwe vir die twee indicator pins in haar oë het haar aanvaller haar nie uiterlik geskend nie; die rinnewasie is te wyte aan die sterwensproses self. Dié is nooit mooi nie. Haar oë is omraam deur perserige, dun vliese en ’n droë bloederigheid, asof sy trane gehuil het. En dit lyk kompleet of die duimspykers bedoel was om haar oë in hulle kasse op plek te hou terwyl sy verwurg is. Haar gesig is opgeswel en Ella merk dieselfde donker purper vel van versamelde suurstofarme bloed as aan haar hande en voete. Van die drukking aan haar nek is ook haar ore en neusgate gekoek met droë bloed. Oor haar lippe is ’n strook kleefband wat by een mondhoek opkrul waar ’n kors bloed en vomeersel gevorm het. Die serp is so styf vasgetrek dat dit skerp onder haar ken in die sagte vel van haar keel inkerf.
“Gee my tas en stoel daar, seblief … Hei, Ella!”
Sy skrik op van die groteske gesig, kyk na dok Koster.
“My tas en stoel.” Dan sagter: “Is jy oukei?”
Sy knik, vertrou nie haar stem nie, maar het ’n behoefte om te weet of Clara Heyns gely het, dis vir haar skielik belangrik.
Sy waag dit hees: “Dok, daardie duimspykers … was dit voor sy dood is, of is dit eers nadoods ingedruk?”
“Net die outopsie sal met sekerheid kan sê.”
Die antwoord sal ook baie verklaar van haar moordenaar se sieklike gees. Iemand wat duimspykers in sy slagoffer se oë indruk terwyl sy nog lewe, teenoor iemand wat dit doen nadat sy al dood is. Daar’s ’n groot verskil.
“Hierdie kneusings aan haar boarms lyk na vingermerke,” sê Dok.
“Sy’t teruggeveg,” sê Ella, asof trots op Clara Heyns se dapperheid. “Haar aanvaller het haar probeer beteuel, en toe hy dit nie kan regkry nie, het hy haar met daardie swaar glasbak geslaan. Tyd van dood, as jy moet skat, Dok? Ek weet jy bespiegel nie, maar help my, gee my ’n idee.”
“Ná middernag. Ek dink die outopsie sal dit bevestig.” Die japon het oopgeval. “Broekie lyk versteur, maar kan van die worsteling ook wees. Of erger,” sê hy. “En sy’t ’n frokkie aan.”
Hy druk op die dye, maag, bors om lykstyfheid te toets.
“Kamisool,” sê Ella.
“Ja, dis die naam. Jy kan dit later by haar man bevestig, maar miskien is dit mevrou Heyns se slaapdrag, broekie en kamisool.” Hy vou die japon kuis oor haar toe, kyk om stoep toe vir sy twee wagtende, stilswyende lykhuisdieners. “Bind die sakkies om haar hande en vat haar weg.” En aan Ella: “Kom Maandagoggend nege-uur vir die outopsie. Ek doen intussen die SAECK-toets.”
Dis wat sy nou boonop vrees, die uitslag van die Sexual Assault Examination Crime Kit. Aan watse verskriklike ánder dinge is die arme Clara Heyns alles laas nag onderwerp?
Sy voel die kolonel se groot hand aan haar elmboog. “Gaan skep ’n slag vars lug. En trek sommer daai bloemen oorpak uit, ek vrek van die hitte vir jou part.”
Op die stoep pluk sy die mus van haar kop af, kam haar vingers deur natterige kort hare, trek die pak uit en smyt dit op die patiotafel.
“Ons is klaar met haar kantoor,” sê Jimmy. “Over to you.”
“Oukei, dankie.” Sy stap van die stoep af, haar T-hemp klam van die sweet, en gaan staan by die visdam na die koi en kyk, haar gedagtes hinkend tussen Clara Heyns en Lou Pepler. Maar eintlik wil sy nie nou aan een van hulle dink nie. Moet haar kop eers leegmaak en afstof en uitvee en lug gee voor sy hulle weer kalm en ordelik kan toelaat om terug te kom.
Sy word weer bewus van kolonel Sauls langs haar. “Enige idees?”
Sy skud haar kop. Vir idees is sy ook nog nie reg nie, te veel los flardes sonder verbande en verklarings, soos … en sy spreek dit hardop uit om die geldigheid te probeer toets: “Adam Jonker sê die skuifdeur was op ’n skreef oop. Die aanvaller kon daar ingekom het. Maar hoe het hy oor die hoë muur om die erf ingekom?”
“Dalk gevlieg, soos sy en die dooie mynah daar op die stoep.”
Sy wonder of dit ’n poging tot ’n grappie is om die somberheid te probeer verlig.
“Sersant Stalmeester loop al by bure en uitvra oor nagtelike besoekers,” sê hy. “En Fred … luitenant Lange kom ook help sodra hy klaar is by die veearts. Op sy laaste bene. Sy ou hond, nie Fred nie. Goed, spring aan die werk, warrant!”
Sy kyk die kolonel agterna, dankbaar dat hy haar nie op ’n Saterdag alleen los met ’n moordondersoek nie, dat hy Stallie en Fred opgekommandeer het, al sou dit ou suurgat Fred nie erg beïndruk nie.
Sy kry lewe, gaan vra ’n ziploc-sak by een van die forensiese manne, en kry die mynah, intussen uit die pad geskop agter een van die twee potte in. Die lyf stokstyf toe sy dit met ’n lateks-hand in die plastieksak laat val en die sak verseël. In die kombuis kry sy in ’n groentelaai van die yskas plek vir die voëlkarkas tot sy vanaand huis toe gaan.
Die massiewe dubbeldeur-yskas van vlekvrye staal, die graniet van die kombuis se werkoppervlakke – alles net die beste. Duidelik draai die Heynse nie sente om nie. Wat sou meneer Heyns doen wanneer hy nie diere doodskiet nie? Van die kombuis af stap sy voorportaal toe waar Clara Heyns haar mooi, groot huis skaars ’n halfuur terug die laaste keer verlaat het, op ’n draagbaar in ’n groen lyksak.
Nie eintlik ’n portaal nie, eerder ’n ruim foyer, Persiese mat, antieke kapstok, antieke penanttafeltjie met droë rangskikking, teen die muur ’n skildery van drie kleurryke kopdoekvroue teen ’n rokerige township-agtergrond. Koloane, is dit onderteken.
Uit die foyer, net regs van die voordeur, is Clara se kantoor. In dié deur staan Ella nou eers die vertrek en beskou, doodgewoon en prakties, selfs onpersoonlik. Die blindings voor die venster is toegetrek en op die lessenaar is die staanlig aan. Dit sê Clara Heyns is laas nag in ’n stadium hier by haar lessenaar onderbreek, net tydelik, want sy het verwag om terug te kom.
En sy is nie onsag onderbreek nie. Afgesien van die tekens van vingerafdrukpoeier is daar geen versteurings nie – geen laaie is oopgepluk, geen papiere lê verstrooi nie. Die kantoor is net so ordelik as die res van die huis.
Dis nie hoe gewelddadige inbrekers ’n vertrek agterlaat nie. Hulle werkwyse is net so chaoties as die barbaarse impulse wat hulle dryf. Watter inbreker sal daardie skootrekenaar net so los, en die iPhone en iPad, alles so oop en bloot?
Dis ’n moderne L-vormige lessenaar met ’n draaistoel. Oor die stoelrug hang ’n handsak. Die skootrekenaar staan op die kort been van die L, die skerm opgeslaan en donker, maar blou en rooi liggies wys dit slaap net, langsaan ’n boks Kleenex en ’n stapeltjie lêers. Op die lang L-been is die staanlig, ’n foto van haar twee seuns, twee aanknip-oorringe