Man van Cirene. F.A. Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Man van Cirene - F.A. Venter страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Man van Cirene - F.A. Venter

Скачать книгу

tussen sy skouers.

      Miga steek vas. “Dit … dit is my perd …” sê hy.

      “Dit is Filippus, jou oudste!” roep Simon hard.

      Hulle hardloop saam vorentoe. Simon gryp die dier aan die stang, en Miga trek sy seun van die perd af, lê hom op die grond neer. Simon hurk by hulle.

      Filippus se bebloede lippe roer en hy klou hygend aan Miga vas.

      “Hulle … het die … volk verslaan … Markus Camillus … het die paleiswag … agterom gebring …”

      “En Simeon?” vra Miga, buk laag oor sy sterwende seun.

      “… Langs my … gesterf.”

      Toe sterf Filippus in Miga se arms. Sy lippe bewe van woorde wat hy nie kan uitspreek nie.

      “Dit is klaar,” kerm Simon. “Wat ek begin het, kan nie volvoer word nie.” Hy kom nader en help Miga op.

      “Jy moet vlug, Simon Niger. Die tyd is kort,” waarsku Miga.

      “Hoe kan ek vlug as almal agterbly en sterf?”

      “Almal sal nie sterf nie. Quirinius kan nie ’n hele volk kruisig nie. Maar jy … jy sal sterf net so seker as wat jy leef.”

      “Waarom kan ek nie vir Israel sterf nie?”

      “Wat kan jy vir Israel en vir Cirene doen as jy aan ’n kruishout hang? En jy het ’n vrou, Simon Niger.”

      “Ek sal gaan as jy saamgaan, Groot Miga. Ons het hier saam grootgeword. Vandat ons kinders was, was ons soos broers.”

      “Nee, ek bly hier – hier waar die bloed van my seuns lê.”

      Groot Miga bewe so groot soos hy is toe hy Simon aan die skouers vat. “Gaan werk vir Israel op ’n ander plek,” smeek hy. “Hier kan jy nou niks meer doen nie. Hier sal jy net sterf.”

      Hy stoot Simon na die perdewa en groet hom met ’n kortstondige, stewige omhelsing. “Vlug na Egipte, Simon. Esegiël het vir julle kamele in die hande gekry.”

      Alles draai in Simon se kop toe hy die leisels gryp en kletterend met die wa in die straat af jaag. Hy kyk een maal om en sien hoe Groot Miga met sy seun in sy arms staan, asof Filippus in die dood weer klein geword het.

      Simon jaag tussen landerye deur waar die rook van smeulende koring blou oor die wêreld lê. By sy huis hou hy onder die populiere stil.

      Esegiël en Juba werskaf daar met kamele. Hy praat nie, hardloop die huis binne.

      Toe Simon in die deur verskyn, kyk Debora op en hardloop na hom toe.

      “God het my verhoor … jy is veilig,” snik Debora.

      “Ek leef – God sy dank,” sê hy. “Die opstand het misluk … Groot Miga het my gered. Hy het sy seuns verloor, maar ek dink sy trots is net so groot soos sy hartseer … Alexander! Waar is Alexander?”

      Debora gaan staan voor die herd. “Vannag toe die brande begin het, is Alexander terug na sy skip … Waarom het jy dit gedoen, my man? Jy het ’n ramp oor Cirene gebring.”

      Debora se aanklag skroei deur Simon en hy gaan radeloos sit.

      “Dikwels word vryheid uit ’n ramp gebore, net soos lewe uit pyn gebore word,” probeer hy homself verweer.

      “Vandag is alles vir ons verlore – ons huis, ons grond, alles wat ons hier in Cirene tot stand gebring het … en dit oor ’n halwe denarius,” hou sy vol.

      “Met ’n halwe denarius kan ’n mens vryheid koop of dit ter wille daarvan verloor. Ons het nog ons vryheid, ons geloof. Ons het nog die genade van ons God … en ek het nog vir jou. Ek het nog krag om weer te begin.”

      Debora wil eenvoudig nie skiet gee nie. “Ons was gelukkig hier – gelukkig en vry … Jy het dit alles vernietig, Simon.”

      Toe praat hy hard, verbitterd. “Hulle wou my koring vat, hulle wou my grond vat – hulle wou my kruisig! En nou veroordeel my vrou my nog!”

      Debora swaai met ’n uitroep voor die herd om: “Kruisig?”

      Haar skrik en ontsteltenis laat hom kalmer voel. “As Groot Miga nie sy lewe gewaag en my gered het nie, het ek vanaand aan die kruis gehang.”

      Debora loop na hom toe. “Ek het dit nie geweet nie,” snak sy. “Ek het nie geweet van die kruis nie.”

      “Ons moet vertrek, Simon Niger,” sê Esegiël in die deur. “Die Romeine kom nou-nou hier soek … Die kamele staan gereed. Ons het kos en water en slaapgoed opgepak.”

      Simon neem alles om hom in hom op: die herd wat hy gebou het, die houtskottels wat hy gemaak het, die tafel, die stoele, die vate, die boksakke teen die mure …

      Toe haas hy hom na die slaapvertrek, gryp sy swaardskede, bind dit om sy middel vas; gryp sy lang boog, sy pylkoker.

      Hy wil nog ’n oomblik steel om in stilte afskeid te neem van alles wat hy en Debora verwerf het, maar toe die gedruis by die praetorium weer ’n slag hoorbaar word, gaan hy haastig uit na waar Debora huilend wag. Hy sit sy arm om haar en lei haar uit.

      Esegiël bring ’n kameel nader. Hulle laat hom lê en help haar op. Sy groet haar huis – die deure oop, die luike oop, met twee van haar eende by die drumpel; en haar wit hanslam wat teen die muur staan en skuur.

      Debora se smart word vir Simon te veel. Daarom klim hy vinnig op sy kameel. Juba en Esegiël doen dieselfde.

      “Vlug julle saam?” vra Simon.

      “Ons vlug saam, meneer,” antwoord Juba die Numidiër.

      “Ek weet nie waar die reis sal eindig nie. Dalk sal ons honger ly; ons kan selfs sterf. Julle kan hier bly en werk. Rome het niks teen julle nie.”

      “Ek en Juba het lank vir jou gewerk, Simon Niger,” sê Esegiël. “Jy was goed vir ons. Waar jy en Debora gaan, daar gaan ons saam.”

      Simon wil iets sê, maar sy gemoed is te vol. Hy trek sy kameel op en Debora volg hom. Esegiël en Juba kom agterna.

      Hy lei die klein stoet na die rand van die terras. “Ry julle die terras af,” sê hy vir Esegiël, “swaai dan regs onder die waterleiding deur tot by die see. Dis hoogwater – die see sal ons spore uitwis.”

      “En jy?” vra Debora.

      “Ek kom nou agterna. Ek wil net bietjie vertoef om te sien of die Romeine ons nie volg nie.”

      Hy kyk ’n rukkie hoe Esegiël-hulle die swaarbelaaide kamele op ’n stywe draf hou. Toe ry hy na sy grond toe.

      Aan die kant van die wingerd hou hy stil. Die trosse swel onder die groen lower. Die olyfbome glinster; die muile vreet aan die vars kaf. Die koringhoop smeul nog.

      Met byna ondraaglike hartseer kyk Simon vir laas na alles wat hy verloor het. Dit het so vinnig gebeur dat hy hom ’n oomblik verbeel hy droom.

Скачать книгу