Met liefde wat saamgaan en ander stories. Annalise Wiid

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid

Скачать книгу

en Pa wat die blou Peugeot was. Hy en Pa wat bal skop en krieket oefen. En foto’s van hulle hele gesin saam wat snap speel of rummy; vetkoek eet op die wildtuinvakansie. Hulle lag op die meeste van haar foto’s. Die enigste kwaaifoto is die ene waar sy hom aan die ore beet het en sy kop teen die badkamerteëls kap – sy was so woedend; sy het gedink haar ma het vir hom liewer geword as vir haar. Sy het nie verstaan nie. Haar ander bakleifoto’s is weg. Sy moes hulle opgeskeur het in haar kop toe hy weg is. ’n Mens kies om liewer die lekker te hou, soos die kere wat hy vir rukkies kon, wou terugkom. Elmboë op die kombuistafel, koffie en beskuit soos altyd, terwyl hy vertel van die skool, die army, sy planne …

      Hy het verlede week 50 geword. Iewers. Hulle het ’n groot bos rose gekoop, alles onthou, en hom gedenk.

      4. Troos my met ’n teddie

      Onverwags, een aand in die Baai, sit tannie Monica weer my kindertydteddie op my onthou-skoot neer: my swartsnoetbeertjie met die begrypende blink ogies, die styfgestopte boeppensie en die sagte, gladde leerpootjies wat ek soms vasgehou het soos ’n maatjie se hand.

      Monica is nie regtig ’n tannie nie, al raak-raak sy aan 80. Die ewige kind in haar lag vir die ouderdom; speel in haar stem wat sag is en vol troos, nes haar beertjies. Sy maak hulle met die hand. Deesdae net vir die kerk se kermis of vir die een of ander verdienstelike fondsinsameling. Maar vroeër jare, toe haar hande nog sterker kon vat en haar oë nog fyner kon kyk, het sy teddies gemaak vir getraumatiseerde kinders en verrinneweerde vroue.

      Seker so 15 jaar gelede sleep Monica se suster haar saam na ’n beertjie-maak-klas by ’n teddiewinkel. Sommer vir die lekker. Twee agtereenvolgende Saterdae. Van toe af was daar geen keer nie; die gogga het gebyt. Sy het ontwerpersteddies van duur ingevoerde Duitse materiaal begin maak. Elk met sy eie naam, gevoel en karakter. Tabitha, Bileam, Richard. Benson was ’n biker met ’n leerbaadjie en ’n attitude. Outback Aussie was ’n edelsteendelwer Down Under, kompleet met sy kurkprophoedjie en sy stapstok oor die skouer. Ag, en die ou sagte, ligte enetjie was Emily. Monica vertel met soveel liefde van hulle dat my ore eintlik hulle troetellyfies in haar woorde voel.

      ’n Vriendin wat by Rape Crisis werk, het vir Monica vertel van die swaarkry van getraumatiseerde kinders. Vroue ook. Wat kan ek doen om te help? wou Monica weet. Maak vir my bere, was die antwoord. Die gevolg was ’n hele klomp terapie-teddies. Veilige vashoubeertjies waarmee ’n bang kindjie kan speel en vir wie ’n mens alles kan vertel wat met jou gebeur het, amper sonder dat jy agterkom jy het nou uiteindelik daaroor begin praat. Want dit is so moeilik om die regte woorde te kry wanneer ’n mens die slegte goed vir grootmense moet oorvertel of probeer verduidelik wat met jou gebeur het. Maar ’n beertjie hoor en verstaan en troos en gee nie om vir gebreekte woorde nie.

      Ook vroue wat slagoffers was van gesinsgeweld of verkragting het baat gevind by ’n beertjie. Party van hulle kon daarmee weer iets van ’n lankverlore onskuld en geborgenheid teen hulle vasdruk; ander kon die onverwoordbare teen ’n venynlose teddielyfie uitstamel of uitskreeu.

      Daar was eenkeer ’n man, vertel Monica, ’n hawelose gestremde man. Hulle het haar eendag gebel en gevra of sy sou omgee as hulle vir hom ook ’n beertjie gee. Agterna laat weet hulle hoe verstom hy gevra het: Is it really mine? May I keep it for good?

      Dan was daar ook die bejaarde weduwee Joubert wat sonder kind of kraai agterbly. Toe hulle vir haar ’n teddie gee, het sy weer iets om vas te hou; gesels sy land en sand met hom. Vernoem hom selfs na haar oorlede man, soos ’n kleinkind.

      Ja, erken Monica, sý gesels ook met die beertjies. Terwyl sy hulle maak, ontwikkel elkeen sy eie karakter onder haar hande. Die neusie sit dalk net so effe skeef, of die oortjies spits so kordaat, ene persoonlikheid. Ek weet, ek weet. Ek onthou dan my eie teddie so goed! Hy was perfek. Al was sy een arm ’n bietjie stram en sy pels al kol-kol skif gespeel.

      Dié dat ek die dag toe ek my ma se make-up beetkry, maar liewer op my sussie se teddie geoefen het as op my eie. Net ingeval die blou oë en rooi lippe hom so vreemd sou maak dat hy my nie meer kon troos nie.

      5. Die soet, sóét genade van klank

      Verbeel jou jy sit op ’n Sondagmiddag aan die familietafel. Dis rumoerig. Almal lag en gesels vrolik. Eetgerei klik-klak, glasies klink. Stemme vloei welluidend. Musiek murmel tussendeur; gedemp, strelend. En eensklaps raak alles net morstjoepbotdoodstil. Jy hoor NIKS!

      Dit het met Maurien Rautenbach gebeur. ’n Senuwee-doofheid wat so skielik toegeslaan het dat sy die een oomblik nog alles kon hoor en die volgende oomblik, letterlik die volgende sekonde, sien sy net hoe haar familie se monde beweeg, maar sy hoor geen geluid nie. NIKS!

      Sy was toe in haar twintigs. Haar tweede kind was maar nege maande oud. En die NIKS het vir 43 jaar geduur …

      Haar man, George, was ’n predikant. Sy was die orrelis. Begaafd, en so bevoorreg om by van die bestes te kon les neem. Bladlees is met Bach se fugas vir ewig in haar brein vasgelê: senuweepaadjies wat in haar jong jare gebaan is sonder dat sy geweet het hoe nodig sy hulle later in haar lewe sou kry.

      Toe die doofheid kom, het sy vir twee jaar ophou orrel speel. Sy kon dan nie hoor nie. Dit sou mos nie werk nie. En die lewe het aangegaan. Hulle het nog twee kinders gehad, maar toe is daar een Kersfees nie ’n orrelis beskikbaar nie en George vra: Sien jy kans om te probeer speel?

      Sy was eers ’n bietjie skrikkerig. Sy wou nie droogmaak vir die Here nie. Maar toe sy begin speel, was sy verstom om te ontdek haar koördinasie, haar gevoel vir die orrel, was steeds daar. Haar vingers was nog ewe vaardig, haar voete ewe vlug. Haar kop en haar hart kon nog steeds die musiek hoor, al kon haar ore nie.

      Dit het gewerk. Sy het ’n spieëltjie by die orrel gehad. George het vir haar seine van die kansel af gegee: Begin nou; harder, sagter; mooi so! Sy moes net sorg dat sy die musiek baie goed ken sodat sy hom kon dophou eerder as om heeltyd op haar hande of die note te moet kyk. Later jare het haar musikale kinders gehelp en dit het aanhou werk, vir meer as 40 jaar. Die mense het gesê: Ons sing so lekker!

      Maurien se dogter het mettertyd begin wonder oor kogleêre inplantings; of dit haar ma sou kon help om weer te hoor. Dit sou. Wel net aan die een kant en nie albei nie, maar dit sou beslis. Dit sou ook ’n plaas se geld kos. Met ondersteuningsbriewe van die medici het sy begin fondse insamel. Al die gemeentes waar hulle oor die 43 jaar was, al hulle vriende, het ingespring en bygedra om die operasie moontlik te maak.

      Die dag toe hulle die apparaat aanskakel, was Maurien se dogter en een seun by. ’n Mens hoor aanvanklik net klanke. Deurmekaar geluide wat galm en nie noodwendig sin maak nie. Jou brein moet eers weer leer om dit te dekodeer. Maar vir die eerste keer in jare kon Maurien weer die stemklank van haar spruite hoor. Sy het altyd gewens sy kon weet hoe haar volwasse kinders se stemme klink.

      ’n Paar maande later kuier sy by vriende. Hulle speel vir haar musiek, en veral André Rieu se opnames van die bekende melodieë waarmee sy grootgeword het. Iewers, het hulle geglo, sou haar brein helder klanke begin onderskei uit die warboel en weer die wysies herken. Dit gebeur toe op die dag wat hulle luister na Rieu se unieke opname van “Amazing Grace” – die hoendervleis-ene met die begeleiding van 300 doedelsakke wat by die Waldbühne gemaak is. Daardie dag kon Maurien vir die eerste keer ’n melodie weer duidelik, skoon, klinkklaar hoor: Amazing Grace, how sweet the sound!

      6. Genade se gelukkige gesig

      Só gelukkig is ’n mens nie aldag nie – dat jy betyds en duidelik gewaarsku word oor ’n spoedlokval en dat jy ’n sak vol verlore geld … Wag, wag, wag, ek loop myself nou vooruit. Laat ek eerste vertel van die tydige spietkop-waarskuwing:

Скачать книгу