Ultrasatyn 2. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler страница 2

Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler

Скачать книгу

mens swymel nie, maar sy begin ’n idee kry. Vlinders op die maag, knakkende knieë, droë mond – om net ’n paar dinge te noem. Swart satynlakens en soel nagte – Ella se beskrywing van netnou flits deur haar wankelende gedagtes. Help. My. Tog. Asseblief.

      Haar asem ruk in en saam daarmee asem sy hom in – ’n mengsel van hout, woud, kruisement en man. Haar knieë dreig weer om te knak en sy loer vinnig af na haar hande.

      “Ek is oukei,” keer sy. Hoekom op aarde klink sy so hees?

      “Laat ek sien,” sê hy weer en vat haar hande onder die lopende kraan uit.

      Willoos staar sy na sy bruingebrande hande wat haar nat vingers een vir een optel en deurkyk.

      “Ek …” begin sy en maak die fout om weer op te kyk na hom.

      Hy is sentimeters weg van haar en dis asof sy oë tot in haar siel peil, asof hy alles van haar raaksien in hierdie een, enkele oomblik.

      Sy moet iets sê, iets doen, maar nie een boodskap van haar brein kom by die res van haar lyf uit nie. Haar sintuie het oorgeneem en dis waarop haar liggaam reageer – op sy groot, gespierde lyf reg voor haar, sy geur, sy aanraking, sy asemhaling, sy alles.

      Haar borste voel swaar en sy trek haar hande vinnig uit syne. Sy kruis haar arms in ’n poging om te keer dat hy agterkom hoe haar liggaam op hom reageer, maar sy blik skuif af, ’n spiertjie spring in sy wang en toe hy weer na haar kyk, is sy blou oë donker poele begeerte.

      Dié keer is sy nie in staat om haar knieë se knak te keer nie en moet sy teen die toonbank agter haar leun om regop te bly.

      Om die een of ander waansinnige rede het Alan gedink dis ’n goeie idee om agter hierdie vroumens aan te stap, aan haar hand te vat.

      Hy moes nie eens hier gewees het nie, hy wou nie saamkom nie. Dis Doug wat gaan trou. Dis sý verloofde wat histeries is oor ’n bloemis wat nie op oproepe reageer nie, wat huil oor die Skotse heide wat skynbaar moeilik is om in die hande te kry. Maar dis Doug se probleem.

      Alan was egter nog nooit teen sy ma se pleidooie bestand nie. Hy moes maar ingee en saamry. Die opdrag was kort en kragtig: Soek ’n bloemis op wie Doug se bruid kan staatmaak. Daar is net drie weke oor voor die troue. En bewaar jul siel as … Die blomme is die bruidegom se verantwoordelikheid, het sy ma vingerswaaiend beduie, en ’n foto en ’n lys van blomme in Doug se hande gedruk.

      Hy was so de duiwel in. Doug was die afgelope ruk min by die werk en hy en sy drie ander broers moes benewens hul eie take ook nog die agbare bruidegom se werk doen. ’n Sagtevrugte-uitvoeronderneming kan nie vanself funksioneer nie. Hulle het eindelose probleme met sommige produsente en die stakings deur die werkers in die Ceresvallei maak dinge nie makliker nie. En die laaste ding waarvoor hy vandag tyd het, is om agter blomme aan te ry.

      En toe, in die tweede blommewinkel wat hulle binnestap, kom hierdie vroumens met haar koringblonde hare en blouselblou oë in die gang afgesweef, ’n rits armbande vrolik klingelend aan haar arm. Hy’t haar gehoor nog voor hy haar gesien het. Nietemin was die vuishou van begeerte totaal onverwags, die onmiddellike intense behoefte om aan haar te raak vir seker ’n nuutjie.

      Maar hier is hy nou, by haar. Of dit die blomme is waarmee sy werk of haar parfuum, weet hy nie, maar die sagte blomgeure wat om haar hang, sypel deur sy vel tot diep in sy wese en krap sy gewone logiese denke heeltemal deurmekaar.

      Haar lyf reageer duidelik op hom net soos syne op hare. En al waaraan hy kan dink, is om haar so gou moontlik êrens alleen te kry sodat hy haar styf teen hom kan vastrek, sy arms om haar kan vou en daardie aanloklike lippe kan soen totdat sy teen hom smelt. Hel, watter man sal ooit moeg word daarvoor! Dalk is sy vanaand beskikbaar en kan hulle uitgaan, wie weet …

      Hy knip sy oë. Wat de hel? Hy staan en maak planne soos ’n verliefde skoolseun. Dis ’n wildvreemde vroumens, glad nie die tipe wat hom normaalweg aantrek nie en al wat hy van haar weet, is … Hoe het sy nou weer gesê? Sy is te veel van ’n vrye gees om te trou en die man wat haar liggies aanskakel … Sy het nie haar sin voltooi nie, maar hy kon darem aflei dis nie iets wat al gebeur het nie.

      Tot nou toe. Obviously.

      Sy kruis haar arms, skynbaar sodat hy nie kan sien hoe sy op hom reageer nie. Maar haar beweging het die teenoorgestelde uitwerking en die glimp van die bolyn van haar borste laat die bloed verder suid van sy middel sak.

      Bliksem. Hy besef twee dinge tegelyk – hy moet vinnig van haar af wegkom en hy sal eers sy liggaam in beheer moet kry voordat sy broers hom sien.

      En asof sy presies weet wat in sy gedagtes aangaan, sak haar blik af. Die sagte kreun oor haar lippe por sy lyf verder aan. Toe sy weer opkyk, is daar ’n blos op haar wange, verwondering in haar oë en ’n geamuseerde glimlag om haar mond.

      Sy maak keel skoon en gooi ’n sliert lang hare oor haar skouer. Haar armbande lok klingelend. “Ek … ek dink jy moet eers ’n rukkie hier wag,” kry sy dit uit, maar sukkel duidelik om haar lag in te hou.

      “O, jy dink dis snaaks?” brom hy vies. “Jy moet dalk ook ’n paar oomblikke wag voordat jy voor mense verskyn,” sê hy en beduie na die twee puntjies wat styf teen haar toppie beur.

      Sy kyk vinnig af en trek haar asem skerp in. “Dis … dis koud,” stamel sy en kies koers deur se kant toe. Teen die een muur hang ’n dunnerige los trui wat sy gryp en aantrek net voor sy, armbande en al, om die hoek verdwyn.

      Ha, so dit is toe nie so snaaks as dit met haar ook gebeur nie.

      Hy leun teen die wasbak en tel tot by tien, toe twintig. Sy liggaam kom uiteindelik tot bedaring. Haar klokhelder lag en die geklingel om haar arm trek oor die luggolwe teen die gang af en bereik hom op dieselfde oomblik. En dadelik is die sukses van sy tellery tot niet.

      Swetsend draai hy die kraan oop en druk sy hande onder die koue lopende water. Hy spoel die water oor sy gesig en gryp ’n papierhanddoek wat daar naby lê om sy gesig mee af te vee.

      Met lang treë stap hy terug na waar sy broers ewe vrypostig oor die toonbank hul flikkers vir die twee vroumense gooi.

      “Corinne, dit is Doug Sutherland,” stel die donkerkop sy ouboet aan die godin met die armbande voor. Doug steek sy hand na haar toe uit.

      “En hierdie spulletjie is sy jonger broers … uhm … wat het julle nou weer gesê is jul name?” Die donkerkop giggel soos ’n bakvissie.

      Doug beduie na hul drie broers wat agter hom staan. “Edward, Finlay en Quinn – en daar agter jou staan Alan.”

      Mejuffrou Armband glimlag. “Aangenaam. Ek is Corinne en dit lyk my julle het reeds deeglik met Ella kennis gemaak.”

      Sy broers grinnik. Hulle het natuurlik skaamteloos met dié poppie geflankeer terwyl hy saam met Corinne in die kombuis was. Hel, en wat het hý nogal gedoen?

      “Sutherland? Dit klink Skots?” sê-vra die blondekop.

      Corinne. Die naam pas by haar. So effens anders as die gewone. Dit klink soos ’n soort blom, met fluweelsagte blare en geurig.

      “Ja, en dis hoekom ons hier is, om blomme vir my Skotse troue te reël,” sê Doug. “Ek trou oor drie weke. Kan jy dalk help? Moet asseblief tog nie nee sê nie! Die bloemis wat Annabel … dis my verloofde, gereël het, het in die niet verdwyn en reageer nie op oproepe nie. Ons sukkel nou al dae lank om ’n ander bloemis

Скачать книгу