Vurig op Flaminkevlei. Trish Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vurig op Flaminkevlei - Trish Goosen страница 3
“Wel, die ooms wat hier op die plase boer, brand soms hulle lande, dan lyk die wêreld swart.”
“Hoekom?” Klara se ogies is skielik yslik groot. Dit lyk amper of sy uit haar stoeltjie wil klim van nuuskierigheid. Ditsem! ’n Ander kind binne sekondes. Die lokaas het sommer gou gewerk.
“Ek is nie seker nie, Klara. Jy moet tog vir tannie Wollie vra wanneer ons nou daar by haar stilhou. Sy het hier grootgeword en weet alles. En ons gaan sommer lekker lank by haar kuier. So, jy kan haar alles vra wat jy wil weet.”
“Nee.” Klara se armpies is voor haar bors gevou.
“Wat bedoel jy met nee?”
Klara skud haar kop. “Ek en Mamma en Sheila moet alleen gaan vakansie hou.”
Sheila gee ’n blaffie van agter uit die bakkie, so asof sy Klara se versoek beaam. Belinda sien die hond se lang gespierde stert agter Klara se kop uitsteek. Die mêdempie het seker pas ontwaak.
“Ek, Mamma en Sheila,” herhaal Klara.
“Komaan, liefie. Die tannie is baie vriendelik. Jy sal van haar hou.”
“Nee,” brom Klara weer en stoot haar onderlippie vorentoe.
Ai, dit is so maklik om te vergeet dat kinders alles wat ’n mens sê só doodletterlik opneem. Belinda belowe Klara al maande lank dat sy saam met haar mamma gaan vakansie hou en die kind het natuurlik aangeneem dat hulle twee alleen sal wees. Die waarheid is dat Belinda dalk nooit sover sou gekom het om hulle tasse te pak en uit Mosselbaai te wyk as dit nie vir tannie Wollie se onverwagse aanbod was dat hulle by haar kan kom kuier nie.
Die tannie het destyds gereeld by Belinda se ouerhuis in Kaapstad kom kuier toe sy nog op skool was en was ’n gas by Belinda en Janus se troue, maar sy het tannie Wollie laas by Janus se begrafnis gesien. Hoewel Wollie elke nou en dan bel om te hoor hoe dit met haar en Klara gaan, het Belinda sowaar nie verwag haar ma se ou skoolvriendin sou voorstel dat hulle by haar moet kom vakansie hou, toe Belinda noem dat sy ’n ruskans nodig het nie. Dit is tog soveel geriefliker om blyplek by ’n bekende te hê, want Belinda het juis opgesien teen ’n rits reëlings voordat sy uiteindelik die pad sou kon vat. Sy het die geleentheid aangegryp. ’n Hele paar keer het sy van tannie Wollie se uitnodiging voor Klara gepraat, maar dit is duidelik dat haar vierseisoenekind verkies om dié inligting te ignoreer.
Belinda grinnik. Klara is Janus uitgeknip, want het sy hom nie altyd geterg dat hy haar vierseisoeneman is nie? Sy sien sy blitsvinnige ommeswaai van hartseer, na vrolik, na kwaad ook in Klara se geaardheid.
“Liefie, ek en jy gaan heeltyd bymekaar wees. Tannie Wollie is baie dierbaar om ons . . .”
Belinda hou op met praat toe sy sien hoe Klara met groot konsentrasie by die venster uit tuur. Haar neusie is gekreukel van die inspanning. Dit is dalk nie nodig om verder te verduidelik nie. Die belangstelling is reeds elders.
“Mamma?”
“Ja?”
“Waar is die swart velde? Ek kan hulle nie sien nie. En wat van die diertjies? Gaan hulle nie brand nie?”
Klara se vrae oor die diere het haar onkant gevang. Sy is darem wraggies ’n slim dogtertjie vir haar ouderdom.
“Uhm . . . Ek is seker die diertjies gaan bly op ’n ander plek wanneer die veld gebrand word,” jok sy . . . of dalk jok sy net gedeeltelik. ’n Vierjarige verwag mos mens moet ’n kenner op elke gebied wees.
“Regtig, Mamma? Almal van hulle?”
“Ja, ek dink darem so.”
Belinda kan aanvoel Klara is nie tevrede met die antwoord nie.
“Maar . . .”
“Kyk, Klara! Kyk die mooi rivier,” sê Belinda gou om haar aandag af te trek.
Belinda sien in die truspieël hoe haar dogtertjie in haar karstoeltjie rek soos sy kyk. En dan verskyn daar ’n ingenome glimlaggie op haar gesig. Vlak voor hulle blink die mooiste groenblou watermassa in skerp kontras met die dorre, boomskaars omgewing. Op die oorkantse digbeboude wal, anderkant die brug, sien Belinda die dorp lê.
Wit skuimkappies dans op die onstuimige water. Regs van die pad staan ’n bakkie op ’n breë wit sandwal, by ’n gazebo waarvan die seil in die wind wapper. Net duskant die ryding staan twee mans met hulle lyne in die water. Sjoe, dit lyk sommer heerlik gesellig.
“Mamma, Mamma! Kan ons gaan swem?” jil Klara opgewonde.
“Sjj, nie so hard nie, Klara. Mamma se ore.”
Bietjie sagter die tweede keer: “Asseblief, Mamma? Kom ons gaan swem.”
“Nie vandag nie. Anderdag miskien. Net as dit veilig is.”
Links sien Belinda die Cerebos-soutfabriek se geboue, reusehope wit sout en die soutpanne waarvan tannie Wollie gepraat het. Dan is hulle op die brug wat hulle oor die rivier en tot op Velddrif sal neem. Sy weet die rivier loop hier iewers uit in die see, maar die horison links van die brug is te plat om te bepaal presies waar die see is. Tog, sy reken dit moet baie naby wees, want op die brug sit ’n paar groot seemeeue in die sonnetjie en bak.
Sy druk die knoppie om haar venster af te draai. Die buitelug wat meteens haar gesig streel, is warm in vergelyking met die verkoelde lug in die bakkie. Die soel windjie ruik na vars vis en sout. Dit is heerlik en stem haar sommer dadelik in ’n ligte luim. Vir ’n verandering voel sy ontspanne. Sy het al amper vergeet hoe dit voel om in ’n vakansiebui te wees. Dié is beslis die beste besluit wat sy in ’n lang tyd geneem het.
Tannie Wollie het eenvoudige rigtingaanwysings tot by haar huis gegee: Steek die brug oor. Draai regs by die eerste stopstraat. Belinda maak so.
Sy ry verby die hotel en ’n paar winkels. Dan volg die strook skeef gewaaide palmbome langs die pad, en die houtskuiling waarvandaan mens voëls kan dophou aan die ander kant van ’n lang houtseehoof wat tot ver in die vleiland strek. Doer is voëls in die water, lyk soos flaminke, maar sy kan nie mooi sien nie. Hulle is te ver.
Volgende tref sy ’n woonbuurt aan met huise links en regs van die pad. Die sanderige erwe is groot, die tuine ongekunsteld en die mure laag. Sover kan sy twee afleidings maak: Die water is min en die misdaad is min.
Waterskaarste is nooit ’n goeie ding nie, maar ’n lae misdaadsyfer is mos uiters benydenswaardig. Wat is dan nou beter as om jou kop elke aand kommerloos op jou kussing neer te lê? Sy hou sommer klaar van die plek.
O ja, en ’n derde . . . Lyk of hier min jong mense woon, wat beteken min jong mans. As sy en Klara die hele drie weke saam met pensioenarisse kan deurbring, sal dit haar sommer baie goed pas.
Oral tussen die meer moderne Weskushuis-nabootsings met hul skoon lyne, let sy die oorblyfsels op van die kenmerkende tradisionele huisies wat sy al in reistydskrifte en skilderye gesien het. Beskeie, niks fênsie, met abbaskoorstene wat aandui waar die Velddriwwers van toeka se dae in hul kombuise kos gemaak en gekuier het. Of altans, so het sy gelees.
Sommige van die plekkies lyk meer outentiek as ander.