Vurig op Flaminkevlei. Trish Goosen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vurig op Flaminkevlei - Trish Goosen страница 6

Vurig op Flaminkevlei - Trish Goosen

Скачать книгу

nuwe paar koop nie. Of miskien moet sy aanbied . . . seker die minste wat sy kan doen.

      Maar nee, hy doen haar mos nie ’n guns nie. Hy doen die voëls ’n guns. Sy arrogante gat, man! Hy kan sy eie nuwe skoene gaan koop. Sy sien hoe hy deur die biesiemuur worstel en dan kan sy hom ook nie meer sien nie.

      Daar vlieg nie meer voëls uit die biesies nie, en Sheila het stil geraak. Die skielike vrede maak Belinda so effe senuweeagtig. Nevermind die kat, die gedagte aan een van daardie voëls in Sheila se bek laat haar maag sommer heeltemal omkeer. Sy dink nou eers daaraan dat Velddrif mos ook ’n gewilde bestemming vir voëlkykers is. Voëlmoord op dié dorp gaan definitief nie ongesiens verbygaan nie.

      Sy sal maar die lendelam seehoof móét aandurf, net ingeval sy iets mis, of vir die man skree hoe om vir Sheila te probeer lok. Die houtlatte buig met kraakgeluide onder haar voete, maar sy slaag daarin om tot in die middel van die struktuur te stap. Verder gaan sy dit nie waag nie. Die res van die stellasie is in ’n baie swakker toestand as dié deel wat sy reeds oorgesteek het.

      Belinda hou haar hande bakkie om haar mond en roep nog een keer: “Sheila! Waar’s Ma se honne?”

      Sheila bars meteens bonsend deur die biesies tot op die modderbank langs die boot. Haar stert swaai opgewonde toe sy vir Belinda op die stellasie gewaar. Haar pote en bene is ook swart gesmeer van die klewerige dik modder.

      Die terugswem gaan nie so maklik wees nie, want dit beteken die hond sal stroomop moet swem. Netnou verdrink sy! Klara sal verpletter wees. O nee, asseblief tog nie.

      “Meneer, die hond is hier by die boot!” skree Belinda op haar hardste.

      En dan: “Bly net daar, Sheila. Klim in die boot!” So asof die hond sal verstaan wat sy sê.

      Sheila trippel onseker nader en sit haar voorpote in die vlak water.

      “Nee, Sheila. Bly!”

      Dan kom die man weer uit die biesies te voorskyn. Hy praat steeds met homself en sy gesigsuitdrukking lyk op dié afstand nog net so stroef soos vroeër. Hy lyk soos ’n onsmaaklike mens. ’n Regte ou suurknol.

      Die hond draf dadelik na die man en spring hom byna onderstebo van blydskap. Hy kyk vir haar, vryf haar kop vir ’n oomblik en mik boot toe. Hy hoef niks te sê nie. Die hond klim saam met hom in die bootjie. Wat ’n verligting!

      Die suurknol sukkel teen die stroom op, maar dit lyk tog darem of die boot stadig nader beweeg.

      Belinda oefen solank haar bedankingstoespraak. Dit gaan maar ’n aangeplakte affêre wees, gevolg deur ’n geveinsde glimlag. Maar hy sal met haar poging tevrede moet wees. Al bring hy haar hond nou na veiligheid, is sy steeds vies vir hom.

      Toe hy naby die seehoof kom, steek hy die spaan na haar toe uit.

      “Kom nader. Trek ons in,” beveel hy bot.

      Onbeskof! ’n Asseblief sou nogal nice gewees het, maar laat sy maar haar mond hou. Sy is immers bitter verleë en dankbaar dat hy vir Sheila gaan red het.

      Belinda tree versigtig vorentoe op die volgende kromgetrekte houtlat en steek haar hand na die roeiding toe uit. Hulle oë ontmoet toe sy die spaan in haar hande neem en die boot nader trek.

      Sy oë is ’n pragtige groen kleur. Dit het diepte. Die oë pas nie eintlik by die mens wat hy vroeër aan haar geopenbaar het nie. Hy’s ook nogal nie te lelik nie, noudat sy hom van naderby bekyk.

      Belinda glimlag verleë vir hom, maar sy gesig bly emosieloos.

      Sy begin ongemaklik voel en verskuif haar aandag na die taak op hande.

      Die bootjie glip met min moeite tot teen die seehoof, en Sheila spring sommer dadelik uit.

      Belinda gryp haar aan die halsband en klik die leiband se metaalgespe in plek. “Nee, Sheila! Staan anderkant toe. Jy’s vieslik!” Maar dit is klaar te laat. Die hond kom leun met haar modderbesmeerde lyf teen Belinda se skoon broek. Dan druk sy haar groot kop onder haar ounooi se hand in om gevryf te word. Belinda ruk haar hand weg – kamma kwaad vir die dierasie.

      “Uh-uh, mêdem. Jy was mos stout. Moenie dink jy kan nou kom witvoetjie soek nie.”

      Genade, maar die hond ruik vreeslik. Dit is seker die modder wat so vrot. Die uitstappie gister na Lita se hondesalon is nou wraggies geld wat in die water gegooi is – geld in die rivierwater om presies te wees.

      Die man kyk vir haar. Hy sit net daar in die boot. Toe snap sy. Dit moes hý gewees het wat haar vroeër van agter die blindings by die siersteenhuis dopgehou het. Wat dink hy nie als nie? Tyd om haar trots te sluk en dankie te sê. En dan moet sy hier wegkom voor sy vergaan van skaamte en ongemak.

      Sheila kom flikflooi weer om gestreel te word en Belinda gee toe.

      “Ek is Liam,” sê die man uiteindelik. Sy stem is diep en hees.

      Mooi naam. Mooi stem. “Belinda.” Sy kyk op, maar vermy oogkontak.

      Hy klim uit die boot en die onvaste seehoof wieg onder haar voete toe hy nader stap. Sy ruik die riviermodder ook aan sý lyf toe hy by haar kom. Hy is lank, toring bo haar uit. Hy lyk soos iemand bekend. ’n Akteur dalk? Maar wie?

      Sy wil net haar mond oopmaak om hom te bedank, toe hy haar voorspring: “Jy kan bly wees jou hond is nie geskiet nie.” Hy sê dit doodluiters, so asof hy die agtuurnuus voorlees.

      Haar blik soek onmiddellik na syne. Sy mooi groen oë verraai dat dit net ’n ydele dreigement is. Maar wat ’n aaklige ding om kwyt te raak! En dít om aan haar ’n punt te bewys.

      “Wat?” is al wat sy kan uitkry. Skok word binne sekondes ergernis en dan woede: “Dreig jy my hond?” Sy is nou lus vir baklei. Die skaamte is sommer skoonveld weg. Inteendeel, hý is die een wat hom behoort te skaam. Dink hy die dorp behoort aan hom of wat? Wie gee hom die reg om so met haar te praat?

      “Nee, jy verstaan my verkeerd. Ek bedoel almal in die straat is nie so nice soos ek nie.” Hy verhef nie sy stem nie, stoot sy hand net ewe cool deur sy donker hare en kyk haar weer stip aan.

      Sy het gedink die man se hare is swart, maar nou sien sy dit is eerder ’n baie donker bruin, soos bittersjokolade – die heerlike soort wat negentig present kakao bevat.

      Nie almal in die straat is so nice soos hy nie? Nice? Nou het sy regtig alles gehoor. Jy is g’n nice nie, meneer Liam, of wat ook al jou naam is. As dié man aan homself as nice dink, wil sy nie graag weet wie is die “nie so nice” mense na wie hy verwys nie.

      Nice se gat!

      Sy dink aan honderd sêgoed waarmee sy hom terug kan kap, en tog kom daar niks by haar mond uit nie. Ook maar beter, want sy is so kwaad dat haar hande skoon bewe. Sy draai haar rug op hom. Hy kan maar van ’n dankie vergeet.

      “Kom, Sheila. Ons moet huis toe.”

      Sy pluk liggies aan die hond se leiband, en Sheila begin gehoorsaam wal se kant toe stap. Die bedorwe brok is ook net gehoorsaam die dag wanneer sy lus het.

      Belinda se kop is so besig dat sy nie eens huiwer toe sy die vreesaanjaende seehoof weer oorsteek nie. Sy is halfpad deur die veld en teen die bultjie uit toe sy besef die man gaan haar sonder ’n verdere woord laat gaan.

      Sy

Скачать книгу