Eindspel. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindspel - Wilna Adriaanse страница 4

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Eindspel - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

skakel sy selfoon af sonder om te groet.

      Nadat hy vyf maande gelede deur kaptein Albert Greyling en sy trawante in hegtenis geneem is en van die ontvoering van luitenant Eleanor McKenna en Clara Veldman aangekla is, moes Monica inderhaas Kaap toe kom om te verduidelik wie en wat hy is. En toe ’n paar weke later, die groot vergadering. Almal was daar. Brigadier Andile Zondi, hoof van die polisie se intelligensieeenheid, saam met McKenna se kollega, Clive Barnard. Brigadier Ibrahim Ahmed, hoof van die eenheid vir ernstige ekonomiese misdaad, Albert Greyling, en nog mense wat hy nie geken het nie. Dit het vir hom gevoel hy staan kaal. Die dag as jy jou inlaat vir so ’n projek, vertel jy beslis nie vir die hele wêreld daarvan nie.

      Monica wou hom summier aan die saak onttrek, maar ’n mens stap nie sommer van vyf jaar se werk af weg nie. Selfs al beteken dit jou veiligheid is skielik nie meer slegs in jou eie hande nie. Daar is nou ’n paar ander mense wat weet dat hy nie werklik net die Allegretti-familie se hoof van sekuriteit is nie. Hy ervaar soms ’n krieweling teen sy rug af, maar hy onderdruk dit. Dit is maar net nog een risiko wat hy daagliks loop. Hoe vreemd dit ook al mag wees, die ding wat op die oomblik in sy guns tel, is die feit dat daar daagliks polisiebeamptes aangekla word van bedrog. Hy kan waarskynlik nou vir die Allegretti’s vertel hy is ’n polisieman en hulle sal nie ’n oog knip nie. Inteendeel, dit behoort hom dalk ’n groter bate te maak.

      Hy het egter nie kans gesien om weer in Allegretti se woonstel te gaan bly nie. Hoe luuks en hoe mooi die uitsig op die Atlantiese Oseaan ook al is. Op die ou end het hy hierdie woonstel in Tamboerskloof gehuur. Dis in ’n ou blok, maar die vertrekke is ruim en dit voel of hy aan die berg kan raak as hy sy arm uitsteek. Hier kan hy ten minste makliker asemhaal. Die paar meubelstukke het hy om die hoek by ’n tweedehandse winkel opgespoor. Sy gunsteling is die rusbank waarvan die leer al behoorlik ingeleef is. Sy bed is darem nuut. Hy was nie lus om in ’n ander mens se nagmerries wakker te word nie. Hy het genoeg van sy eie.

      Hy is egter nie op die oomblik in sy woonstel nie, maar in sy buurvrou s’n. Hulle twee het mekaar eendag op die trap raakgeloop en aan die gesels geraak. Daarna nog ’n paar keer so op die trap en in die gang gesels. En toe nooi sy hom een aand vir ete.

      Dit was ’n Dinsdag. Allegretti was by die huis en Nick het onverwags ’n vry aand gehad. Hy het nog altyd gedink Dinsdagaande is vaal en sonder potensiaal. Dis waarskynlik waarom hy gegaan het. Haar naam is Carin en sy werk vir ’n advertensiemaatskappy in die stad, reis baie en is maklike geselskap. Wat beteken sy vra nie onnodige vrae nie, in elk geval nog nie. Sy vermaak hom grootliks met stories van haar werk en reise. Dit pas hom. Daar was nog ’n paar etes, waar hulle ligtelik geflirt het.

      Toe hy die skuifdeur agter hom toetrek, praat sy agter hom. Hy draai om. Sy staan kaal. Haar lyf herinner hom aan Gabriella s’n. Skraal, maar met kurwes. Groot, ferm borste.

      “Dis swak maniere om oproepe van ander vroue te beantwoord terwyl jy by my is.” Sy glimlag.

      “Jammer. Dit was regtig werk.”

      “Dié tyd van die aand?”

      Hy het haar vertel hy werk in die sekuriteitsbedryf.

      “Ongelukkig, ja. En ek sal moet gaan.”

      “You must be joking.”

      “Ongelukkig nie.”

      “Ek is seker wat dit ook al is, kan wag.”

      Nick sit sy hand op haar heup. Haar vel is warm. Hy kan haar ruik. Dalk effens te blommerig na sy smaak, maar dis gelukkig subtiel.

      Sy tree nader en maak die laaste knoop van sy hemp los. Hy soen haar kaal skouer en besluit dit sál swak maniere wees om nou te loop. Hy trek haar nader.

      Toe Nick later sy woonsteldeur oopsluit, kyk hy op sy horlosie. Hy wonder of Allegretti al die nuus gekry het. Die kanse is goed hy is teen hierdie tyd nie meer in ’n toestand om enigiets te registreer nie. Clara is die enigste mens wat dit nog ooit kon regkry om soms sin in sy kop te praat en hom te stop as hy heeltemal beheer verloor.

      Nick stroop sy klere af, stort vinnig en raap dan sy bakkie se sleutels op en drafstap by die trap af. Hy hoop regtig nie die nuus het al by Allegretti uitgekom nie. Hy is kapabel en ry na Williams toe.

      Op pad Bantrybaai toe tref ’n ander gedagte hom – wat as Allegretti vir Clara ontvoer het? Vir hulle almal se onthalwe hoop hy dis nie die geval nie. Die gevolge gaan bloedig wees.

      Die huis lyk stil en donker toe Nick daar parkeer. Die huis is deesdae dikwels stil. Allegretti nooi nou en dan nog mense oor, maar dit gebeur gereeld dat hy hulle na ’n uur aansê om te gaan. Hy het nie meer lus vir hulle nie.

      Die sekuriteitswagte verseker hom Allegretti was die hele dag by die huis. Nick kan nie besluit of dit goeie of slegte nuus is nie.

      Hy sluit die voordeur oop en draf teen die trap op. Die ruim leefkamer is donker, maar op die trap boontoe brand ’n lig. Hy hoor stemme in die televisiekamer en steek vas. Die wagte sou seker gesê het as daar gaste was. Toe hy bo kom, sien hy dis die televisie wat hy gehoor het. Op die koffietafel staan ’n halfvol bottel tequila en ’n leë bottel Bollinger. Daar lê ook spore van wit poeier.

      Nick roep en toe hy nie antwoord kry nie, gaan kyk hy in die hoofslaapkamer. Die bed is omgekrap, maar daar is geen teken van Allegretti nie. Die badkamer en aantrekkamer lewer ook niks op nie. Nick draf weer ondertoe, gaan kyk eers in die gym aan die agterkant van die huis. Nie dat hy dink Allegretti het skielik lus gekry vir oefening nie. Toe hy hom ook nie daar kry nie, stap hy deur die res van die vertrekke en die woonstel onder die huis.

      Daarna gaan klop hy aan Patrice se deur. Die deur staan effens oop en toe daar nie antwoord kom nie, stoot Nick dit wyer oop. Dit lyk of ’n orkaan die plek getref het. Van die meubels lê onderstebo. Net binne die deur is ’n groterige donker kol op die mat. ’n Rooibruin streep loop daarvandaan deur die slaapkamer badkamer toe.

      Nick vind Patrice op die badkamervloer. Hy lê in ’n plas bloed. Sy oë is oop en hy haal hortend asem.

      Nick haal sy selfoon uit terwyl hy by Patrice buk.

      “Ek het dringend ’n ambulans nodig,” sê hy toe iemand antwoord. Hy gee die adres. “Iemand is geskiet.”

      Hy raak aan Patrice. “I’m here and the ambulance is on its way. Just keep still.” Hy haal die handdoek weg waarmee Patrice vermoedelik die wond wou toedruk en sien sy vermoede was reg. Dis ’n skietwond in sy buik. Hy haal ’n skoon handdoek van die reling af en druk dit teen die wond. Hy wil kyk vir ’n uitskietwond, maar die risiko is te groot om hom nou te verskuif.

      “What happened?” Hy is nie op die oomblik so vreeslik gepla met wat gebeur het nie, maar hy wil nie hê Patrice moet sy bewussyn verloor nie. “What happened? Where is Enzio?”

      Patrice probeer sy kop skud. “Sorry.”

      “Who shot you?” Hy kry nie ’n antwoord nie, gaan sit en bel die waghuisie onder by die hek.

      “Ek verwag ’n ambulans. Maak solank die hek oop en dan moet een van julle hulle so vinnig moontlik na Patrice se woonstel toe bring.”

      Nick wag nie vir ’n antwoord nie, sy aandag is reeds weer by Patrice. “Open your eyes and talk to me. Who shot you?”

      Patrice se oë val egter toe en hy antwoord nie verder op enige vrae nie.

      Hy

Скачать книгу