Eindspel. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindspel - Wilna Adriaanse страница 7

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Eindspel - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

jy vir hulle gesê?”

      “Net die waarheid. Ek weet nie of dit jy op die foto is nie … Is jy in die moeilikheid?”

      “Nie sover ek weet nie.”

      “Sou jy my gesê het as jy was?

      “As jy iets daaraan kon doen …”

      “Waarom glo ek jou nie?”

      Ellie lag. “Is dit nie altyd jy wat sê die tronk is vol nuuskierige mense nie?” Sy gee hom nie kans om te antwoord nie. “Wynand, ek moet gaan. Ek sal jou bel sodra ek terug is. Terloops, waar is my kar?”

      “Ek het dit vanoggend na Manie toe geneem.”

      “Dankie. Sê vir Manie ek sal regmaak sodra ek kom.”

      “Pas jouself op.”

      Sy vee oor haar gesig en kyk na die ma en kind wat by haar verbystap. Die ma hou die kind se hand vas terwyl die kind iets vertel. Sy nek ver agteroor gebuig, die stemmetjie skril en opgewonde.

      By die geriefswinkel op die hoek kyk sy na die toebroodjies in die glaskas, maar koop op die ou end net ’n appel en ’n piesang, en die nuutste koerante. Sy eet die vrugte op pad terug na die motorfiets, vang net vinnig die hoofopskrifte voor sy die koerante in haar rugsak druk, die helm opsit en die motorfiets se enjin aanskakel.

      Dis ’n glashelder dag en die see lê blinkblou. In die hawe is ’n groot hyskraan besig om houers van ’n skip af te laai. Robbeneiland lyk bedrieglik naby. Sy is lief vir die stad, en ’n deel van haar sal seker altyd lief wees vir hierdie kommetjie wat knus nestel tussen haar drie graniet-koppelaars, Duiwelspiek, Tafelberg en Leeukop.

      Die meeste winkels in Loopstraat is nog toe.

      Ellie is nog ’n entjie van Groentemarkplein af toe sy Happy gewaar. Hy staan op die hoek waar hy al jare lank staan. Hier waar sy hom die eerste keer ontmoet het, en waar sy hom omgepraat het om een van haar kontakte te wees. Hy kyk op terwyl hy met iemand aan die oorkant van die straat praat. Hy hou aan praat, maar sy kan aan sy lyftaal sien hy het haar herken.

      Toe sy by hom kom, haal sy geld uit om ’n koerant te koop.

      “Soos my ouma sou gesê het, ek het vandag eerder my dood verwag as hierdie visit. Ek het gedog jy is nie meer in hierie wêreld nie. Hoe lank is dit? Vyf maande en geen taal of tyding nie. My ma sou gesê het dis nou bad manners.”

      Ellie raak vlugtig aan sy arm.

      “Hoe gaan dit met jou?”

      “Nei, soos jy kan sien, still keeping the nation reading. Al is dit dan nou net oor Jay Zee en sy trawante se manewales. Ek is skoon bly ou Jules is ook terug op die scene. Dis darem ’n bietjie change of scenery.”

      Hy hou ’n koerant uit vir ’n man in ’n pak klere wat vinnig nader kom. “Morning, morning. Read all about it. Helen het vandag vir ’n slag weer die front page gehaal.”

      Die man groet, vra hoe dit gaan, gee vir Happy ’n tienrandnoot en stap met sy koerant onder die arm verder. Sonder om te wag vir kleingeld.

      “Daai is nou vi jou ’n man met class. Sy ma het hom goed grootgemaak. Sulke mooi manners. Jy moet vi jou so ’n jongetjie soek.”

      “Jy lyk goed. Moenie vir my sê daar is deesdae ’n meisie op die toneel nie.”

      Hy skud sy kop. “Ek sal vi jou sê soes een van my clients vi my gesê het toe ek hom eendag vra of hy getroud is. Hy sê as hy kak soek, koop hy eerder vir hom ’n Alfa. Nei, ek soek ook nie daai moeilikheid nie.”

      Ellie lag hardop en skud haar kop. “Ek het jou gemis.”

      Hy glimlag ook. “So sê hulle almal. Kan nie saam met my nie, maar kan ok nie sonner my nie.” Sy gesig raak ernstiger. “Jy lewe nog.”

      Ellie knik. “Ek lewe nog en dit gaan beter as toe jy my laas gesien het.”

      “Ek is bly. Is jy terug innie mother of cities of kuier jy net bietjie?”

      “Ek het besigheid hier gehad en wou ’n slag kom groet het.”

      Hy maak ’n ligte buiging. “I’m honoured. Het jy al vi miss Brenda ook gesien?”

      “Nee, ek wil haar nog bel. Sien jy haar soms?”

      “Ja, so dan en wan. Groet my darem, al is dit ook maar koeltjies. Sy temp nou as ’n receptionist. Oppie oomblik by ’n office net hier ommie hoek.”

      “Ek is bly. Ek sal haar bel. As ek haar nie in die hande kry nie, moet jy vir haar sê ek stuur groete en sal haar weer wil sien.”

      Hy knik. “Jy moet agter jouself kyk. Ek is nie lus vi funerals nie.”

      “Dit geld vir jou ook. Jy moet ook versigtig wees.”

      Sy is reeds ’n entjie weg toe sy hom langs haar gewaar. “Het jou besigheid hier iets met miss Clara te doen?”

      Ellie steek vas en kyk na hom. “Wat bedoel jy?”

      “Van wat ek hoor, het sy Vrydagaand weggeraak. Williams is blykbaar befok en Reggie wil net mense moer. Excuse the language.”

      “Waar het jy dit gehoor?”

      Sy wenkbroue lig. “Wil jy nou skielik my credibility bevraagteken?”

      “Nee, ek is jammer. Ek is net verbaas. Dink jy die polisie weet daarvan?” Sy dink aan Clive wat haar niks gesê het nie.

      “Ek weetie. Soms is hulle ok maar stadig.”

      Ellie kyk ’n oomblik lank in sy oë. “Dankie dat jy my vertel het.”

      “Jy weet ek preach nie, maar ek hoop nie jy steek weer jou kop in daai bynes nie.”

      “Weet jy hoe dit gebeur het?”

      Hy skud sy kop. “Ek hettie details nie. As jy belangstel, kan ek seker vi jou iets uitvind.”

      Sy haal ’n tweehonderdrandnoot uit haar beursie en druk dit in sy hand. “Nee, dankie. Ek sal jou weer sien.”

      “Jy moet wakker slaap,” praat hy agter haar aan.

      Sy lig haar hand, maar kyk nie om nie. Op die krop van haar maag lê nou ’n brandkol en sy sukkel om haar asemhaling egalig te hou. Sy wil haar mond oopmaak en groot happe lug sluk. Dis asof die suurstof skielik minder geword het.

      Sy sien Clara se gesig voor haar en sy wens sy was op die swaai onder die jakaranda. Sy het ’n keuse gehad. ’n Mens het altyd ’n keuse. Sy kon vir ’n dag of twee laag gelê het totdat almal tou opgegooi het om haar in die hande te kry, maar sy het gekies om uit te vind waarom hulle na haar soek. En nou voel dit of sy nie asem kry nie.

      Hoofstuk 4

      Nick stop vroegoggend by die klub in Groenpunt. Hy is verlig om te sien Paul se motor is reeds in die parkeergarage. Hy is egter verbaas om Gabriella se motor te sien. Dít op ’n Maandagoggend.

Скачать книгу