Sirkus. Irma Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkus - Irma Venter страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Sirkus - Irma Venter

Скачать книгу

skud my kop stadig, versigtig. “Nee.”

      Die hek skuif oop, dan toe. Seker oom Freddie wat sy fiets vat en ry.

      “Wie is jy?”

      “Polisie.”

      “Wys my jou identifikasiekaart.”

      Ek hou my hande op. “Okay, wag. Adriana de Klerk het my gestuur.”

      “So jy’s nie van die polisie nie.”

      “Nee.”

      In die stilte hoor ek ’n deur oopgaan. Het oom Freddie iets vergeet?

      Ek is dadelik op my voete. Besef nou wat nog heeltyd in my agter­kop krap: Liesbet het nie die sydeur gesluit nadat ons ingekom het nie.

      Sy laat sak haar regterhand tot langs haar stoel, haar oë heeltyd op my. Sy soek deur haar handsak, haal ’n selfoon uit. Maar sy gebruik nie die foon nie, staar net kalm na my.

      “Daar’s geen geld in die gebou nie. Ek belowe jou dit.”

      Ek skud my kop. “Ek soek nie geld nie. Adriana …”

      Die voetstappe wat nader kom, is versigtig, maar swaar genoeg om die vloerplanke te laat kraak. Ek kan drie pare uitmaak. Ses voete.

      Dit kan nie die blomme wees nie, dit neem nie drie mans om ’n begrafnisruiker af te lewer nie.

      Liesbet se vraende oë sê sy het ook die voetstappe gehoor.

      Ek is met twee treë by die kantoordeur, maak dit oop en bereik die konsistoriedeur, draai die sleutel in die slot.

      My foon lui. Ek ruk dit uit my sak. “Adriana?”

      “Kry vir Liesbet en gee pad. Nou dadelik!” Sy klink uitasem.

      “Wat gaan … Is jy okay?”

      “Liesbet. Maak gou!” Die foon gaan dood.

      Ek trek die Glock uit die holster agter my rug en haal dit oor. Beduie vir Liesbet: Kom.

      Die kalmte wyk uit haar gesig. “Wag nou, ek …”

      “Sjuut!” fluister ek dringend. “Daardie voetstappe wat jy hoor … Dis mans wat kom om jou seer te maak.”

      “Dis dalk die blomme …”

      “Dit is nie.” Ek trek haar hardhandig op. “Is hier ’n buitedeur?”

      Sy beduie na die oorkant van die konsistorie. “Daar agter die gordyn. Maar ek …”

      “Kom!”

      Sy rem terug, haar lyf swaar en onwillig.

      Ek dwing myself om kalm te praat. “Liesbet. Vertrou my. Asseblief.”

      Sy ruk my hand los, mik terug na die konsistoriedeur.

      “Dominee Fey?” Die stem aan die ander kant van die deur is diep, ongeduldig. “Ons moet dringend met jou praat.”

      Sy vries in haar spore.

      “Kom, in hemelsnaam,” sis ek.

      Die deur voor haar se koperhandvatsel beweeg.

      “Dis gesluit. Breek dit af,” sê dieselfde stem.

      ’n Harde stamp laat die deur in die kosyn sidder.

      Dit laat Liesbet lewe kry. Sy spring om, gryp haar handsak, hardloop na die buitedeur, grawe vir sleutels.

      Die konsistoriedeur splinter in die middel.

      Liesbet druk ’n sleutel in die slot. Verkeerde een.

      Ek draai om, my rug teen hare, pistool gereed.

      Sy hou aan soek, haal vlak en vinnig asem.

      “Komaan, komaan, komaan,” bid ek sag.

      Nog ’n harde stamp teen die deur. “Dominee Fey, kom nou. Moenie moeilik wees nie.”

      Uiteindelik, die regte sleutel. Liesbet sluit die deur oop, dan die veiligheidshek.

      Agter ons gee die konsistoriedeur mee.

      Ons hardloop uit. Liesbet mik na die Renault.

      “My kar is beter,” sê ek.

      Sy swenk agter my aan in die rigting van die Hilux, kry in die hardloop die afstandbeheerder. Die hek skuif oop.

      “Shaquel! Keer!” roep ’n stem agter ons.

      Ek grawe in my baadjiesak na die bakkie se sleutels.

      Toe ek opkyk, draf ’n man by die hek in. Taai en seningrig, met ’n taai en seningrige gesig. ’n Rot met ’n pistool in sy hand en helder oranje tekkies aan sy voete.

      Ek soek vinnig op en af in die straat. Waar is almal? Al die motors van netnou is weg. Die sypaadjie is leeg, behalwe vir ’n ou swart 3-reeks BMW met blink wiele.

      Ek swaai om. Twee mans kom nader uit die kerk se rigting, elk­een met sy wapen op ons gerig. Waar’s die derde man? Ek is seker daar was drie in die kerk.

      Weer kyk ek hek se kant toe.

      “Stop net daar.” Die rot lig sy wapen.

      Ek ignoreer hom, skuifel agtertoe, nader aan die Hilux, Liesbet langs my.

      “Stop!” sê hy weer. “Ek fokken skiet julle.”

      “Watch it,” sê die grootste man. “Niemand moet die reverend seermaak nie.”

      Die rot beduie met sy pistool ek moet eenkant toe staan. “Gee pad. Nou.”

      Ek ignoreer hom weer. Skuifel tot my rug teen die Hilux is, Liesbet langs my.

      Waar ís die ander man?

      ’n Geraas laat my skrik, omkyk.

      ’n Man – die een van die kerk wat ek vermis het – spring van die bakkie se laaibak op my. Ek tref die grond. Die Glock spat uit my hande.

      “Liesbet! Hardloop!”

      ’n Vuis tref my, net onder die ribbes. Die lug plof uit my longe. Ek val op my knieë neer.

      “Ek het die reverend!” ’n Man het Liesbet aan die hare beet. Sy gil, baklei teen sy greep. Hy sleep haar agter hom aan hek toe.

      Iemand skop my hard in die sy. Ek sien skrams oranje tekkies.

      “Shaquel!” roep die groot man. “Los die stupid bitch en kom! Ons het wat ons wil hê.”

      Ek probeer orent kom. Die rot se laaste skop tref my in die maag. Ek soek na asem. Val plat op die grond neer

Скачать книгу