Griet skryf ’n sprokie. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver

Скачать книгу

      

      MARITA VAN DER VYVER

      Griet

      skryf ’n sprokie

      Tafelberg

      Alle karakters is fiktief, soos in alle sprokies.

      Vir I.B.

      The union of a frivolous form and a serious subject

      lays bare our dramas (those that

      occur in our beds as well as those we play out

      on the great stage of History)

      in all their terrible insignificance.

      MILAN KUNDERA

      Grieselsprokies

      Whatever else has changed on the continent of Africa,

      the deep-rooted belief in magic,

      both white and black, has not. Africans base

      their fear of witches on the argument

      that somebody – some person or spirit – has to be

      responsible for the inexplicable.

      ENCYCLOPEDIA OF MAGIC AND SUPERSTITION

      Sneeuwitjie skil ’n appeltjie

      Sylvia Plath het dit in ’n oond gedoen. Virginia Woolf in ’n rivier. En Ernest Hemingway met ’n rewolwer. Of was dit ’n geweer? In elk geval ’n falliese simbool.

      Nogal snaaks, dink Griet. As vroue dit doen, is dit duidelik dat hulle weer in die baarmoeder wil wees. Die warmte van ’n oond. Die water van ’n rivier. Die geleidelike, gerusstellende gevoelloos­heid van pille, soos om aan die slaap te raak.

      Maar mans pleeg selfmoord op die manier waarop hulle kos maak – dramaties en morsig. Skiet hulle koppe weg, spring by ge­boue uit, sny hulle slagare af. Die hele wêreld vol bloed en binne­goed. Seker omdat hulle weet hulle hoef nie agterna skoon te maak nie. Daar sal altyd ’n vrou wees om dit te doen.

      Anna Karenina het voor ’n trein ingespring, onthou Griet, wat nogal morsig kon wees. Maar dit was ’n manlike skrywer wat haar dit laat doen het. Shakespeare het vroue waarskynlik beter ver­staan as Tolstoi. Die arme Ophelia het nie ’n swaard gegryp soos Hamlet nie, sy het rustig en romanties in ’n rivier afgedryf. En Ju­liet sou verkies het om gif te drink, maar Romeo het niks vir haar gelos nie. Shakespeare het mans blykbaar ook beter verstaan as die meeste ander skrywers. Toe moes sy maar bloei.

      Vroue hou nou eenmaal nie van bloed nie. Mans sou miskien ook minder daarvan gehou het as hulle dit elke maand uit hulle onder­klere moes was, bespiegel Griet.

      Selfs Sneeuwitjie se berugte stiefma het ’n bloedlose manier ge­kies om van haar man se mooi dogter ontslae te raak. Maar ook in haar geval kan ’n manlike waardestelsel op die agter­grond bespeur word. ’n Appel is in die Westerse godsdiens immers die simbool van vroulike lis. That fair enticing fruit, waarvan die arme Adam geëet het, against his better knowledge; not deceived, but fondly over­come with female charm. Sneeuwitjie wat vir Eva se sonde gestraf word. En op die ou end, soos Eva, deur manlike deug gered word. Sneeuwitjie deur ’n pragtige prins op ’n wit perd, Eva deur ’n mag­tige god op ’n goue troon.

      “Ek het besluit die oond is die enigste uitweg,” sê Griet vir haar sielkundige wat haar soos gewoonlik emosieloos dophou. “Ek weet nie hoekom nie, maar daai oond fassineer my al van ek die dag in die woonstel ingetrek het. Seker omdat ek nog nooit met ’n gasoond te doen gekry het nie. Behalwe natuurlik in boeke en movies.”

      Rhonda se oë is damme van onskuld, blou en roerloos. Sy lyk asof sy nog nooit ’n vloekwoord gehoor het nie. Jy sou nooit raai dat dit haar werk is om heeldag na ander mense se diepste en donkerste perversies te luister nie.

      Haar hare is blond en krullerig en haar hande lê stil op die oop lêer op haar skoot. Af en toe skryf sy iets in die lêer, vinnig en so ongemerk moontlik, maar Griet let dit elke keer op. Wat het sy nou weer van haarself verklap, wonder sy verbouereerd, en sukkel om nie oor haar volgende woorde te struikel nie.

      “Maar … maar soos jy weet …” Die goue pen in Rhonda se hand girts oor die papier, ondraaglik hard in die stil spreekkamer, en Griet skep diep asem. “Wel, ek dog toe ek sal net eers kyk hoe dit voel, jy weet, my kop insteek sonder om die gas oop te draai. Net om te kyk of ek dit sal kan doen.” Rhonda skryf weer iets in haar lêer. Die tweede keer in minder as ’n minuut, besef Griet benoud. “Ek … wel … ek gaan sit toe op my knieë voor die oond en maak die deur oop en steek my kop stadig in, so na die kant toe gedraai, sodat my een wang op die draadrak kan rus.”

      Soms wonder Griet of enigiets Rhonda ooit sal skok. As een van haar pasiënte sonder enige waarskuwing in haar spreek­kamer be­gin masturbeer, sal sy waarskynlik nie ’n oog knip nie. Niks sal ooit daardie blou damme vertroebel nie. “Ek kon nie my kop lekker ingepas kry nie … dis ’n taamlike klein oondjie … ek maak toe my oë oop om te sien wat aangaan … Nee, ek weet nie hoekom ek my oë in die eerste plek toegemaak het nie. Dit het vanself gebeur, soos toe ek die eerste keer ’n French kiss op ’n skoolpaartie gekry het. Miskien omdat ek dit in die movies gesien het. Anyway, ek maak toe my oë oop – en kyk vas in ’n dooie kakkerlak wat vlak voor my lê!”

      Rhonda hou haar roerloos dop.

      “Ek kon dit nie glo nie! Ek bedoel, ek weet my vriendin is nie vreeslik netjies nie, en sy’t seker nie die oond gereeld gebruik nie, en ek het dit nog nooit gebruik van ek daar ingetrek het nie – maar ’n kakkerlak! Ek het my kop so vinnig uitgeruk dat ek dit teen die dak van die oond gestamp en amper bewusteloos op die kombuis­vloer neergesak het! Stel jou voor die vernedering as iemand my daar sou aantref! Buite weste geskrik vir ’n kakkerlak. Ek sou nooit die einde daarvan hoor nie. Anyway, toe ek eindelik oor die skok kom en weer in die oond kyk – dié keer sonder om my kop in te druk, natuurlik – toe sien ek nie net ’n kakkerlak nie, maar net so ’n dik laag ou krummels en klipharde vet en die hel alleen weet wat alles saam met die kakkerlak!”

      Verbeel sy haar, of is daar ’n aanduiding van ’n glimlag om Rhon­da se mondhoeke? Dit kan nie wees nie, besluit sy, en kyk weg na die oorkantse muur. ’n Geel muur met ’n groot Mickey Mouse-­horlosie – die muis se arms is die wysers, die een korter as die ander – waarna sy gereeld gehipnotiseerd staar terwyl haar skuld­gevoel groter en groter word met elke beweging van die lang arm. Daar is kinders wat nie kos het om te eet nie en sy betaal ’n vreemde vrou R60 ’n uur – R30 ’n halfuur, R15 ’n kwartier, R1 ’n minuut, meer as ’n sent vir elke sekonde! – om na haar patetiese probleme te luister.

      Rhonda se spreekkamer is so kleurryk soos ’n kindertuinklas­kamer: geel en blou en rooi meubels en matte en gestreepte gordy­ne. Seker om haar slagoffers vroliker te laat voel, het Griet al dik­wels gedink. Leunstoele wat jou soos dryfsand insluk, sodat net jou kop en jou knieë sigbaar is wanneer jy eers sit. Dis onmoontlik om waardig te voel as jy skaars oor jou kniekoppe kan sien. Dis soos ontgroening op universiteit, ’n manier om iemand se ego af te breek, net meer subtiel.

      Rhonda sit nooit self in hierdie leunstoele nie. Wat Griet net meer agterdogtig maak. Rhonda sit regop op ’n rooi rusbankie, haar enkels netjies oormekaar gekruis. Sy dra ’n langbroek van linne, ’n ge­vlegte leergordel, ’n goue Rolex. Griet het ’n bont rok aan, lank en los, en langs haar sielkundige voel sy soos altyd verkreukel en verwaarloos.

      “Ek

Скачать книгу