Griet skryf ’n sprokie. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver

Скачать книгу

hoe voel jy daaroor?” vra Rhonda.

      Ja, sy glimlag beslis. Griet sug weer ’n keer en glimlag dan maar gelate saam met haar sielkundige.

      “Wel, ek het amper verstik in die walms van Mister Oven. Dit moes ’n baie ou kannetjie gewees het. Dit het nie gelyk of dit ooit in daai vuil oond gebruik is nie! Miskien het die een of ander che­miese reaksie plaasgevind, ek weet nie, iets wat dit giftig gemaak het. Ek het gewonder of iemand al ooit met Mister Oven selfmoord gepleeg het …”

      “Dit lyk of jy darem die humor in die situasie raaksien.”

      “Dit was beslis nie snaaks terwyl dit aan die gang was nie!” sê Griet geïrriteerd. “Ek het heeltyd gedink aan iets wat Athol Fugard iewers geskryf het, dat hy sal aanhou om ’n gek van homself te maak tot hy die dag doodgaan, and I’ll probably fuck that up too. Iets in daai lyn.”

      Rhonda sê nie ’n woord nie.

      “Ja, ek weet wat jy nou gaan sê. Ek lewe nog steeds deur boeke en movies. Ek beskerm myself teen die werklikheid deur te maak of ek Scarlett O’Hara in Gone with the wind is.”

      “Bietjie meer intellektueel,” glimlag Rhonda. “Die vrou met die groen hare in The house of the spirits.”

      “Sy’t blou hare gehad,” sê Griet stuurs, maar sy wonder of haar sielkundige nie soos gewoonlik reg is nie. “En sy was in One hun­dred years of solitude.”

      “Sien jy wat ek bedoel? Jy gryp dadelik na ’n gesprek oor ’n fiktiewe karakter. Jy kom na my toe om oor jouself te praat en die helfte van die tyd gee jy vir my aanhalings uit boeke.”

      “Maar fiktiewe karakters is meer … ek weet nie, hulle is some­how meer … geloofwaardig.” Griet kyk weer na die Mickey Mouse-horlosie. Nog vyf minute oor. Dit beteken R5 – genoeg om ’n bord kos vir ’n honger kind te koop. Of drie pakkies sigarette vir haarself. As sy net kon ophou rook! Sy sug vir die hoeveelste keer die afgelope uur. “Ek bedoel, het jy al ooit iewers gelees van iemand wat deur ’n kakkerlak van selfmoord gered is? Dit kan net in die werklikheid gebeur.”

      Rhonda sê weer niks nie, maar haar wenkbroue lig amper on­merkbaar.

      “Kafka het ’n storie geskryf oor ’n ou wat in ’n kakkerlak veran­der, Gregor Samsa. Dieselfde voorletters as ek. En sy suster het ook so ’n Grieterige naam gehad. Gretha? Gretchen?”

      Dis tyd om weer die storie te lees, besluit Griet. Dit was nog altyd een van haar gunstelinge, miskien omdat die arme kakkerlak ook op ’n manier deur ’n appel doodgemaak word. Die appel waarmee sy pa hom gooi, die een wat in sy rug vassit. Die appel as simbool in die letterkunde van die wêreld. Nog ’n belaglike titel vir die literêre tesis wat sy nou al tien jaar lank uitstel.

      The fruit of that forbidden tree, whose mortal taste brought death into the world, and all our woe, het Milton geskryf. Dis moeilik om Eva met ’n piesang of ’n peer – of enige ander vrug – voor te stel. En dit was ’n appel wat tot die val van Troje gelei het. Die beroemde twisappel wat op die tafel gegooi is vir die mooiste onder drie godin­ne. Paris het vir Aphrodite gekies en die ander twee het wraak ge­neem. Heaven has no rage like love to hatred turned, het William Congreve gesê, nor Hell a fury, like a woman scorned.

      “Maar selfs Kafka het nie oor ’n kakkerlak as lifesaver geskryf nie. Sneeuwitjie word deur ’n prins op ’n wit perd gered – en Griet Swart deur ’n dooie kakkerlak in ’n vuil oond. Sou jy nie ook liewer Sneeuwitjie wou wees nie?”

      Hansie en Grietjie en die Struggle

      Drie weke sonder man, skryf Griet in haar Creative Arts Diary, bo haar inkopielys vir die naweek. Wyn, brood, botter, kaas, koffie, toiletpapier en tampons, nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie. Dis een van die voordele van sonder man wees, die ingekorte inkopielys, sonder skeerskuim en sjokolade vir hom en ’n klomp kos vir sy kinders.

      Dinsdag 31 Oktober 1989 – amper drie maande op haar eie, maar drie weke sonder enige kontak. Sonder om hom te sien of te bel of briewe te skryf. Sy voel so trots soos laas toe sy drie weke sonder sigarette klaargekom het.

      Daar is besliste ooreenkomste. Haar verhouding met George doen aan haar gemoed wat nikotien aan haar longe doen, het sy lankal geleer, maar dis ’n gewoonte wat so moeilik soos sigarette ge­los word. Meer as ’n gewoonte – ’n obsessie, ’n liggaamlike afhank­likheid, ’n oral fixation. Waarlik, jy bêre die vier seisoene tussen jou lieste, soos sy hom altyd gespot het.

      Sy het seks met George geniet, meer as met enigiemand voor hom. Dit was nie ’n aardskuddende affêre vol verskietende sterre en ander hemelse verskynsels nie. Dit was spelerig, speels, spuls, soms selfs belaglik. As George avontuurlustig was en ’n ongewone posisie wou probeer, het hy gewoonlik van die kombuistoonbank afgeval of sy kop teen die rand van die bad gestamp of met ’n stywe nek pleks van ’n stywe penis gesit. George was nie die akrobatiese soort nie, maar soms het hy die beperkinge van sy eie lyf vergeet en haar saam met hom meegevoer, en dan het hulle ’n paar oomblikke van seksuele sweefkuns belewe voordat hulle holderstebolder vloer toe geval het. Voordat die motorsitplek te ongemaklik geword het of een van sy kinders wakker geword het van die vreemde geluide uit die eetkamer.

      Nie dat George veel geluide gemaak het nie. Skreeuende orgasmes was nie sy styl nie. En met die kinders uit sy eerste huwelik na­weke saam met hulle in die huis, moes Griet ook maar leer om stil en donker seks te waardeer. Soos ’n doofstom blinde, het sy soms in ’n oomblik van opstandigheid gedink.

      Griet drink ’n koppie koffie op die balkon van haar vriendin se woonstel, soos elke oggend vandat sy hier ingetrek het, terwyl die straat onder haar geleidelik begin lewe. Voor haar op ’n lendelam plastiektafeltjie lê die Engelse koerant waardeur sy pas geblaai het, die oop afspraakboek met die inkopielys en ’n potlood om haar so­siale verpligtinge vir die week neer te skryf. Met ’n skok besef sy dat sy geen sosiale verpligtinge het nie. Nie ’n enkele afspraak nie. Die gedagte aan nog ’n Vrydagaand op haar eie laat haar van voor af na die troos van ’n oond verlang. ’n Skoon oond, dink sy voordat sy haarself kan keer.

      Dis gevaarlik om alleen te reis, skryf Griet in haar dagboek, veral ná jou dertigste verjaardag. Dis Allerheiligeaand vanaand, besef sy toe sy weer die datum sien, Oujaarsaand op die ou Keltiese kalen­der. Die aand van hekse en elwe en ander onheilige geeste, het die Skotte geglo. Met ’n Skotse seeman se bloed in haar are – en ’n buitengewone beroep as spinner van sprokies – is sy die enigste mens wat sy ken wat dié aand nog ernstig opneem.

      Die Amerikaners het dit lankal banaal gemaak, soos hulle alles banaal kan maak, met kinders in snaakse kostuums en kerse in uit­geholde pampoene. En Hollywood het dit in geld omskep, soos hulle doen met alles wat veronderstel is om heilig te wees, deur ’n hele reeks rolprente te maak wat hoofsaaklik uit bloed en gille bestaan.

      Môre is die Dag van die Heiliges, dink Griet met heimwee, en oormôre die Dag van die Siele wanneer ’n mens veronderstel is om vir die siele van die gestorwenes te bid. Sy het baie siele vir wie sy behoort te bid: dié uit wie sy voortspruit en dié wat uit haar voort­spruit, haar voorgeslag en haar nageslag. As dit net nie so moeilik was om te bid nie.

      Sy tel die flentertjie papier op wat sy uit die koerant geskeur het. One in five women heading Aboriginal households have told researchers that their stressful lives have driven them to attempt suicide. Sy steek die beriggie met ’n skuifspeld langs die datum in haar dagboek vas.

      Seks kan miskien voorspelbaar word ná sewe jaar saam met die­selfde man. Maar daar is tog ook troos in sulke voorspelbaarheid,

Скачать книгу