Griet skryf ’n sprokie. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Griet skryf ’n sprokie - Marita van der Vyver

Скачать книгу

hy so skuldig oor soveel weelde dat hy elke naweek in die berge gaan stap en die sleutel vir sy minderbevoorregte swart vriende gee. En hy lees graag mitologie en legendes, waaroor hy gewoonlik met niemand anders as Griet gesels nie.

      Dit was George wat oor Nelson Mandela se sewentigste verjaar­dag in die Victor Verster-gevangenis begin bespiegel het – terwyl hy vir almal aan tafel nog vonkelwyn geskink het. Anton-die-Advokaat en Gwen-die-Joernalis het in die gesprek ingeduik met die gretigheid van kinders wat wil wys dat hulle nie bang is vir diep water nie. Gwen se lover, Klaus, het spottend gesê nie een van die liberals om die tafel sal Mandela herken as hy nou by die restaurant instap nie. Nie eens ’n radical soos Jans nie. Die enigste foto’s wat ons van hom gesien het, is byna dertig jaar oud. En An­ton se vrou, Sandra, het soos gewoonlik gelyk asof sy telepaties probeer luister of een van haar kinders by die huis nie dalk huil nie.

      “O, dáárdie Hansie,” het Jans gesê.

      “Ek hoor hy het sy eie siekeboeg waar ’n majoor in die gevange­nisdiens hom twee keer elke dag medies ondersoek.”

      “Hansie en die heks?”

      “Mandela en die majoor,” het Griet geknik.

      Jans het geglimlag en ’n lang string pasta behendig om sy vurk gedraai. Klaus het die res van die geselskap vertel van ’n artikel oor Suid-Afrika wat hy in die Economist gelees het.

      “En jy dink hy’t ’n Grietjie nodig om die heks in die oond te stamp?”

      “Miskien – maar onthou, Hansie het nie passief gesit en wag dat Grietjie hom moet red nie.” Griet het haar eie pasta in stukkies gesny en versigtig op haar vurk gelaai. “Hy was slimmer as die heks. Hy’t nie rêrig sy vinger uitgesteek nie.”

      “Hy’t haar met ’n stokkie gefool!” Jans het gelag en ’n groot sluk uit sy vonkelwynglas gevat. “En jy dink Mandela is besig om stok­kies te draai?”

      Griet het haar skouers opgetrek.

      “Ek kan maar net hoop hy onthou die sprokie.”

      Die Struggle, dink Griet terwyl sy na haar kantoor vol kinderboeke stap, die alewige Struggle. Sy het al vir Jans probeer oortuig dat sprokies niks minder as people’s culture is nie. Stories wat uit die mense en vir die mense ontstaan het. Dieselfde glashelder grense tussen goed en kwaad – prinse en drake, swart gevangenes en wit bewaarders, feë en hekse, township-kinders en voorstedelike huis­vroue – dieselfde eenvoudige aanbieding, dieselfde morele lessies. Maar om heeldag te sit en sprokies spin, gee haar natuurlik nie veel geloofwaardigheid in die Struggle nie.

      Sy sal vanaand haar balkondeur wyd oopgooi, besluit Griet ter­wyl sy by die verkeerslig oorkant haar kantoorgebou wag, en sy sal saam met die wind wegvlieg. Aljander, aljander, so deur die wolke, bo-oor die slapende stad saam met ’n vurk en ’n lepel, bok-bok oor die mik van die maan. Op, op, op tot by die plat blad van die berg, waar die hekse waarskynlik op Allerheiligeaand sou bymekaar­kom. Om hierdie reusetafel tussen die wolke, met ’n leeu en ’n duiwel wat aan weerskante wag hou. Wie sou dit waag om hulle weg te jaag? Nie eens die engele nie.

      Domhans en die goue gans

      Die vrou, heks of opstandige engel of doodgewone sondares, het in ’n verskriklike land gewoon. Die son het altyd ge­skyn, behalwe snags wanneer die maan geskyn het, en die mense in die land het soos brode in ’n oond van kleur verander. Van roomwit tot brosbruin tot roetswart, of van roospienk tot papawerrooi, of van bottergeel tot borriegeel. Soms sommer van blou tot groen. Maar die ergste sondaars het nooit verkleur nie. Hulle het net witter en witter gebleik.

      Dis wat Griet vanmiddag op ’n vel papier in haar kantoor vol kin­derboeke geskryf het. Dit voel soos lank, lank gelede, dink sy met haar ken in haar hand en haar elmboog op ’n kroegtoonbank. Sy het die papier opgefrommel en haar vriend Jans gebel: “Wil jy saam met my ’n drankie kom drink?”

      “Wat’s die geleentheid?”

      “Dit was gister die Dag van die Dooies.”

      “Kan ons nie maar soos gewone mense drink net oor dit Vrydag­aand is nie?”

      “Dis ’n feesdag in Suid-Amerika! Die Mexikane koop suikerbrood­geraamtes en dek ’n plek aan tafel vir ‘afwesige gaste’. Hulle glo dis die dag waarop die dooies hemelse verlof kry om op aarde te kom kuier.”

      “Ek kan nie aan ’n beter rede dink om my dronk te drink nie.”

      “OK, Jans, dis Vrydagaand, ek het nog ’n week op my eie oor­leef, en as jy nie saam met my kom drink nie, donder ek jou dood as ek jou weer sien.”

      En nou, verskeie drankies later, onthou sy dat sy iets belangriks vir hom wou gesê het, maar sy kan nie dink wat dit was nie. Haar kop voel soos ’n blom wat te swaar geword het vir sy stingel.

      “Ek is gatvol vir slim mans,” mompel sy in haar hand. “Ek soek ’n dom man. Dom en sterk.”

      Jans kyk haar onbegrypend aan deur sy ronde goueraambril wat tot op die punt van sy neus afgesak het. Hy het nog sy werkklere aan, ’n konserwatiewe donker pak en wit katoenhemp en onopval­lende paisleydas, maar die hempskraag is oopgeknoop en die das is losgewoel. As Jans nie elke dag ’n pak moes dra nie, het Griet al dik­wels gedink, sou ’n mens hom maklik vir ’n boemelaar kon aansien. Hy lyk altyd asof hy twee dae laas geskeer het en drie dae laas sy hare gekam het. En vanaand lyk hy boonop asof hy vier dae laas ge­slaap het, sy mond moeg en kneusplekkringe onder sy oë.

      “Ek bedoel nou nie die village idiot nie, Jans. Hy moet darem kan lees en skryf. Ek vertrou nie mans wat nie lees nie. Dis miskien waar my hele probleem begin het. Plaas dat ek kyk of hy van honde hou, soos my ma my altyd gewaarsku het. Of hoe sy onderbroeke lyk.”

      Haar suster Petra is ’n kenner van mans se onderbroeke. Sê dit spreek boekdele. Moet nooit ’n man met gate in sy onderbroek ver­trou nie. Sy hou ook nie eintlik van rooi onderbroeke nie. Sê dis ’n diktatorskleur.

      “Maar ek kyk na sy boekrak,” sug Griet.

      “As hy Camus lees, is hy OK?” vra Jans, en dit lyk of ’n lig agter sy brilglase aangeskakel word.

      “So iets, ja.” Griet vat nog ’n sluk wyn en skud haar swaar kop. “En ek sien elke keer my gat.”

      “Ons praat nou nie net van George en die onlangse verlede nie?”

      “Nee, ons praat oor mans in die algemeen, die hele boksem­dais. Ek het nog nooit ’n ordentlike verhouding gehad met ’n man wat nie ’n helse hoop intellektuele pretensies het nie. Dit sê natuurlik heelwat van my eie intellektuele pretensies. Maar die beste one-night stand van my lewe was met ’n gimnasiumafrigter wat niks swaarder as die agterblad van ’n Sondagkoerant gelees het nie.”

      Dit was natuurlik lank gelede, toe sy nog haar beenhare gereeld geskeer het. Die arme afrigter sou sy indrukwekkende ereksie heeltemal weggeskrik het as hy haar vanaand moes sien, haar hare in ’n plat poniestert en haar lipstiffie alles aan haar wynglas afge­smeer, klouend aan ’n kroegtoonbank. Dan is dit wat mense op ’n Vrydagaand doen. Daar was ’n tyd toe sy ook op Vrydagaande uit­gegaan het, toe sy nog maskara gedra het en met gespierde afrigters geflirt het, maar dit moet in ’n vorige lewe gewees het.

      “Sê nou jy kon saam met hom woon?” Jans staar na die rye en rye bottels agter die kroegtoonbank, eindeloos geweerkaats in skitterende spieëls, ’n alkoholiese

Скачать книгу