.

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу - страница 8

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
 -

Скачать книгу

      “A . . . jou ma, nè? En die mooi rooikop?”

      “Ek het nie geweet dit staan geskryf nie!” sê Dai afgehaal. “In elk geval, dis nou alles verby!”

      “Ek hoop so, ou kêrel! Dis nie my saak nie, maar ek dink nie die rooikop sal goed wees vir jou nie! Wat ek netnou wou sê, is dat jy niks te vrese het wat Sylvia aanbetref nie . . . sy . . .”

      “Dit weet ek, man!” lag Dai geforseerd. “Ek is nie heeltemal onkundig nie. Ek hou baie van haar. Sê my, waarom is sy nog nie getroud nie? Sy is seker al so agt en twintig, nie waar nie?”

      “Ja, maar dit weet ek nou regtig nie. Dit is bepaald nie weens ’n gebrek aan bewonderaars nie!”

      “Nee, seker nie,” beaam Dai ingedagte.

      3

      Die volgende paar maande verloop voorspelbaar. Daïrus is so besig dat hy feitlik net in die huis in die skilderagtige straatjie slaap. Sylvia bestel sy etes vir hom van ’n nabygeleë restaurant. Soms gaan drink hy ’n vinnige koppie koffie by Hugo en Sanet Malan, en gesels lekker. Maar van die staanspoor af het hy ’n paar uiters kritieke pasiënte, wat al sy aandag verg, en hy het min tyd vir homself. Hy vind sy voete in die kliniek en is verheug dat alles net so gespesialiseerd is as wat Charles-Henry gespog het. Drie maande ná sy aankoms, word die ou tantetjie wat langs hom op die vliegtuig gesit het, tot die kliniek toegelaat met ruggraatprobleme. Sy is verheug om haar blonde reismaat vir ’n dokter te hê, al moet sy nou weke lank daar bly.

      Maar Dai is gelukkig. Ten spyte van sy veeleisende werk, is daar ’n rustigheid in hom wat hy nie tevore geken het nie, veral nie die laaste twee jaar nie. Hy voel vry, heeltemal los van enige kwelgedagtes. Hy besef nie in hoe ’n groot mate hy dit aan Sylvia te danke het nie. Sy is die perfekte spreekkamersuster. Sy hou alle onnodige spanninge en konflikte van hom af weg, hanteer moeilike pasiënte met gemak – en dit alles sonder om haar teenwoordigheid ooit voelbaar te maak. Op ’n dag kom hy dit tog agter en is haar baie dankbaar, want dis asof hy ’n emosionele stilstand bereik het, ’n soort tussentoestand waarin hy nie aan die verlede dink nie en hom ook nie oor die toekoms bekommer nie. Hy is onwillig om by enigiets behalwe sy werk betrokke te raak. Die enkele aande wat hy vry het, bring hy in sy studeerkamer deur, wat Sylvia eerste laat herversier het. Dis ’n rustige vertrek waarin hy met sy vakliteratuur kan ontspan of sommer net luilekker kan luister na die ingeboude klanktroustel.

      Gaandeweg raak dinge egter meer geroetineerd, en hy het meer vry uurtjies. Sylvia en die binnenshuise versierder se bedrywighede interesseer hom nogal. Hy kan geen fout vind met haar smaak nie, en sy woonplek is vir hom ’n groot plesier. Uiteindelik bly daar nog net die slaapkamers oor om te doen. Hy besef dat Sylvia haar vry dae opoffer om sy woonstel vir hom bewoonbaar te maak, en hy dink daaraan om haar paslik te bedank deur aan haar ’n geskenk te gee en ’n week se verlof voor te stel. Voordat hy egter hieraan volvoering kan gee, gebeur daar iets wat sy rimpellose bestaan heeltemal omkarring.

      Een aand kom hy laat tuis na ’n noodoperasie op ’n pasiënt wat inwendig aan die bloei gegaan het. Hy is moeg en bekommerd. Toe hy in die portaal kom, lê daar reg onder die posgleufie in die deur ’n persblou koevert. Sonder dat hy na die handskrif hoef te kyk, weet hy dat dit van sy ma af kom. Hy sug, tel dit op en stap deur na die studeerkamer.

      Die inhoud van die brief het ’n uitwerking op hom wat hy nooit sou kon voorspel het nie. Maar nou is dit so dat ’n mens soms die krag van ’n invloed in jou lewe geringskat, om dan later tot die ontdekking te kom dat dit jou gemoedsrus totaal kan versplinter.

      Anne Deetlefs skryf dat sy en Martine op ’n uitgebreide reis gaan. Hulle sal drie weke lank in Engeland wees. Miskien bly Martine agter as sy so voel. Sy het lus om ’n onbepaalde tyd lank in Londen te gaan werk. Daar is sterk sprake dat sy ’n pos in die ambassade kan bekom. Dat sy vlot Engels, Duits en Frans praat, is ’n aanbeveling. Dai snork onelegant deur sy neus, gooi die brief op sy lessenaar neer – en voel hoe die ou beklemming weer oor hom toesak. Dis ’n byna kloustrofobiese gevoel.

      Hulle sal hom nie uitlos nie! dink hy beangs. Hulle sal hom wragtig nooit uitlos nie! Hulle is net nie mense wat nee vir ’n antwoord aanvaar nie. En praat sal nie help nie. Hy sal sy ma nooit kan oortuig dat Martine liewer nie moet kom nie. Dit sal so goed wees as om die westewind te probeer afkeer, of om die loop van die Teems te probeer verander . . . Hy sal eenvoudig iets ingrypends moet dóén. Iets wat so drasties is dat dit alle kontak tussen hom en Martine sal uitskakel. Mog dit moontlik wees! wens hy byna biddend. Want een ding weet hy: só vasgevang in dié twee vroue se wense kán hy nie meer leef nie. Hy verstom hom by die dag dat hy dit so lank gedwee verdra het . . .

      Dit word ’n lang, lang nag waarin Dai glad nie tot ruste kan kom nie. ’n Nag waarin hy werklik worstel met dié probleem. Op die oog af is dit tog eenvoudig: hy hoef maar net die voet dwars te sit. Hy is tog nie iemand wat hom aan die neus laat lei nie. Maar dit is ook so dat hy nooit konfrontasie soek voordat hy daartoe genoodsaak word nie. Miskien, dink hy in die vroeë ure, is dit ’n basiese onvermoë om te weet wanneer om tot direkte konfrontasie oor te gaan. Want as hy sy ma jare gelede al ferm daarop gewys het dat net hý die fyn spel van die liefde speel – hý en die maat van sý keuse – miskien sou dit dan anders gewees het . . .

      Al dié spytgedagtes krap aan hom, torring sy gemoed so los dat hy skoon ontwortel voel. So asof hy alle bekende emosies as vreemde gewaarwordinge ervaar. Met skok dink hy dat hy in der waarheid nie weet hoe die liefde voel nie. Vóél ’n mens dit, of wéét ’n mens dit? Of is dit ’n wete wat ’n gevoel losmaak? Al waarvan hy klinkklaar seker is, is dat hy niks, veral nóú, niks vir Martine voel nie! Wat háár aanbetref: ’n mooi ding was nog nooit lelik nie, maar dit is al. Hy het nou net een begeerte en dis om lós te kom. Los van enige verbintenis wat hom hokslaan, op so ’n manier dat hy nie homself kan wees nie.

      En hy sal homself nie geleidelik kan losdraai soos wat hy tog onbewustelik gedink het nie. Met een felle slag sal hy alle bande moet breek. Hierdie ding besef hy weer met groot spyt sal nooit in der minne geskik kan word nie. Dit maak hom sielsongelukkig, want hy is geen vegter nie. Alles in hom skram weg van onenigheid, veral tussen hom en dié wat na aan hom is . . .

      Eers wanneer die oggendwind eindelik rosige vlieswolkies oor die stad blaas, sien Dai dié kwessie vierkant onder oë. Hy weet presies wat fout is. Hy twyfel ook nie aan die aard van die oplossing nie. Dit sal drasties en doeltreffend moet wees . . .

      Die dag begin uit die staanspoor verkeerd. ’n Pasiënt, wat al byna herstel het, sterf skielik. Hy opereer op ’n baie klein seuntjie en vind ’n lelike gewas. Hy doen ’n amputasie, en vyf ure later kan hy aan die ontstelde ouers sê dat die kleinman se kanse redelik is. Die operasielys is lank en veeleisend en daar is net ’n halfuur se speling vir ’n vinnige middagete. Sylvia het vir hom ’n ligte ete bestel.

      “Ek het gedink jy sal dalk nie nou ’n groot biefstuk wil inwurg nie, dokter. Daar’s so min tyd,” verduidelik sy.

      Dai wikkel hom los uit die groen operasiekleed, haal die pet en masker af en gooi dit eenkant. Hy kyk dankbaar na haar.

      “Dis gaaf so, suster.”

      Sy knik net en begin koffie skink. Hy kyk na haar slanke wit hande, die pikswart hare teen die blankheid van haar slape. Die eerste maal in weke sien hy haar regtig raak. Watter sieraad van ’n mens, dink hy. Sy is so . . . so bruikbaar, so geheel en al nuttig. En meer nog – as sy ’n man was, sou hulle boesemvriende kon wees!

      Toe kom die ander dokters ook ingewaai vir ’n haastige happie, en daar word so tussen die eet van brood en ham net van bekkenbene, gekraakte ribbes, Röntgenstrale en operasies gepraat. Enigiemand wat dit nie gewoond

Скачать книгу