Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 25
“Hoekom sê jy so?”
“Omdat ek jou om verskoning moet vra.” Conrad tuur doer ver oor die horison. Toe hy weer praat, is sy stem byna onhoorbaar. “Ons sal nie meer kan trou en Parys toe gaan nie.”
Mynie weet nie wat om te antwoord nie. Dis so onverwags dat dit haar stom gelaat het.
“H-hoekom nie?” stamel sy na ’n lang en gespanne stilte tussen hulle.
“Ek het vir jou gesê ek is ’n ryk man. Ek is. Maar op die oomblik het ek nie ’n bloue duit aan my nie. Al my geld is vas belê. Langtermyn. Ek kan dit eers oor vyf jaar trek. Ek het nie ’n enkele los sent op my naam nie, buiten my maandelikse salaris. Dis ruim, maar dis nie genoeg om vir jou ’n duur verloofring, nuwe meubels en twee vliegkaartjies Parys toe te koop nie. Ek is jammer, Mynie. Ek was te voortvarend. Ek het nooit gedink ek sal weer trouplanne kry nie, daarom het ek my geld op vaste belegging gesit. Ek het die bougenootskap-sertifikaat in ’n laai gegooi en daarvan vergeet. Tot nou toe … Tot dit my soos ’n donderslag getref het dat ek geen los kontant het nie. Nie ’n enkele vervlakste sent nie … Beledig my maar, Mynie. Raak woedend kwaad en skel my uit vir ’n stommerik en ’n brandarm luis. Ek sal jou nie kwalik neem as jy sê jy wil my nooit weer sien nie. Vergeet van my. Dwing my uit jou gedagtes. Soek vir jou ’n ander man wat nie so onnosel en stiksienig soos ek is nie. Jaag my weg en …”
“Hokaai,” stuit Mynie die uitbarsting. “Wag eers, my liefste. Ek is seker dinge is nie so duister as wat hulle lyk nie.”
“Daar is geen ligstraaltjie nie. Ek wou jou Maandagmiddag geneem het om ’n duur verloofring uit te soek en ek wou gegaan het om plek op volgende Saterdagaand se Parys-vlugte bespreek …”
Hy lyk soos dieselfde klein seuntjie van netnou, behalwe dat iemand skielik al die liggies van die Kersboom uitgedoof en die geskenke weggeneem het.
Mynie kyk na die diep ongelukkige gesig en die hand wat kort-kort oor sy oë vee, asof hy die gedagte aan die toekoms sodoende kan uitwis. Sy is lank stil terwyl sy ingedagte met ’n stokkie op die grond voor haar sit en krap. ’n Ander insek sukkel verby en laat ’n ry spoortjies in die sand agter, maar sy sien dit nie. ’n Duif se gekoer klink in die stilte op sonder dat Mynie dit hoor. Sy krap ’n paar strepies in die sand, kruis hulle met ’n oneweredige patroon en vee dan alles weer uit. Skielik gooi sy die stokkie eenkant en kyk op na Conrad.
“Ek het genoeg geld.”
“Mynie, my liefste …” Sy stem is teer, maar hy neem nie haar hand nie en die skewe glimlaggie om sy mond is hartseer. “Ek waardeer jou aanbod. Ek is nie ondankbaar nie. Maar weet jy wat diamantverloofringe en oorsese vakansies kos?”
“Min of meer.”
“Jy is die allerliefste nooientjie, maar ek is jammer om te sê ook naïef en ooroptimisties. Dink jy dertig rand in ’n poskantoor-spaarbankboekie sal ons ver bring?”
Mynie lyk verbaas. “Jy weet mos dis nie net dertig rand nie.”
“Hoeveel is dit? Een-en-dertig rand? Jammer, my skat, maar dis nog steeds nie genoeg nie. Lewenskoste het gestyg.”
“Conrad, ek het mos vir jou geskryf dat my ouers my goed nagelaat het. In jou tweede brief het jy gevra hoeveel my erfporsie bedra het en ek het jou gesê hoeveel dit was. Ek het bygevoeg dat daar nog baie daarvan oor is, waarmee ek eendag vir my ’n droom wil koop. Onthou jy nie?”
Conrad se gesig is ’n studie van skok en ongeloof.
“Nee, ek onthou nie. Ek onthou ook glad nie dat ek so onmanierlik was om na jou privaat sake uit te vra nie. Ek herinner my wel dat jy geskryf het van jou ideaal om eendag op te hou met skoolhou en voltyds te skilder, maar ek het gedink dis ’n droom ver in die verskiet, ’n ideaal wat nie gou verwesenlik sal word nie. Mynie, ek is seker jy het nie vir my geskryf dat jy ’n skatryk jong meisie is nie.”
“Het jy nie my briewe so oor en oor gelees soos ek joune gelees het nie?”
Dit lyk eers of Conrad vir haar wil jok, dan grinnik hy verleë.
“Nee, ek het nie.” Toe Mynie seergemaak lyk, voeg hy gou by: “Dis nie omdat jou briewe vervelig was nie. Dis net … Ag, ek is sommer net nie ’n ou vir briewe lees nie. Ek verkies die produk in lewende lywe. Ek het jou briewe verslind, maar dit was lekkerder om te wonder hoe jy lyk en of ek jou ooit sal ontmoet. Dié het ek net so oor en oor bedink as wat jy my briewe gelees het.”
“Kon jy onthou dat ek geskryf het ek weeg net ses-en-vyftig kilogram?”
Conrad lyk baie skaam. Hy bly stil, dog Mynie weet wat sy antwoord sou gewees het.
“Dus was dit nie eens nodig om daarna vir jou te sê dat ek gejok het en in werklikheid swaarder weeg nie?”
“Ek is jammer, Mynie. Ek is wreed en onbedagsaam. Pleks dat ek oor jou briewe gejok het. Maar ek was nog nooit ’n goeie leuenaar nie. Ek bloos, stamel en stotter altyd en almal kan met ’n stok voel ek jok. Ek is opreg jammer dat ek jou gevoelens seergemaak het, veral omdat jy seker baie moeite met jou briewe gedoen het. Dit was gemeen van my. Jy het dit nie verdien nie. Miskien is dit ook maar goed dat ons nie meer gaan trou nie. Jy verdien ’n beter man as ek.”
“Wie sê ons gaan nie meer trou nie?”
“Skatlief, ek waardeer jou aanbod om daardie geld vir my te leen, maar ek kan dit nie aanvaar nie. Ek sou nie eens jou dertig rand in die posspaarbank geleen het nie. Ek is te trots om ooit by ’n dame geld te leen.”
“Ek is nie ’n dame nie. Ek is jou aanstaande vrou.”
Conrad glimlag, maar hy skud nog steeds sy kop.
“Jou geld is seker ook op vaste belegging. Al sou ek ingestem het, sou jy dit nie vir my kon leen nie.”
“Ek weet nie veel van finansiële transaksies, van beleggings en vaste deposito’s en sulke dinge af nie. Ek het mos vir jou geskryf ek het my geld by ’n bougenootskap gedeponeer. Ek kan dit enige tyd trek.”
“Jou dom meisiekind. Besef jy hoeveel rente jy verloor?”
“Ek het mos gesê ek weet nie veel van finansies af nie. Ek het ook nie ’n pa of ’n broer of iemand wat my raad kan gee nie.”
“Jy het tog seker ’n goeie vriend gehad wat jou kon aanraai om jou geld te belê waar jy meer rente sou kry?”
Dit was ’n klip wat Conrad in die bos gegooi het. Hy wou uitvind of daar nie dalk ’n kêrel was nie. ’n Kêrel wat dalk nog belangstel en dalk probleme kan veroorsaak. Dog daar kom niks insiggewend uit die bos nie.
“Daar was eenmaal ’n ou, ja, maar hy het gesê hy stel nie in my geld belang nie. Hy het gesê hy sal sy vrou eendag self onderhou. Intussen is sy nooi se geld hare om mee te maak wat sy wil.”
“Hierdie ou … Was jy lief vir hom?”
Mynie haal haar skouers op. Sy weet nie wat om te antwoord nie. Wat was – en is – haar gevoel vir Heinz? Sy het self nie sekerheid nie en sy verkies om die onderwerp te verander.
“So, ek kan daardie geld môremiddag gaan trek as