Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 26

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman

Скачать книгу

keer, en ek het mos gesê ek is nie ’n vreemdeling nie. Ons sal seker in gemeenskap van goedere trou. Dan is alles wat ek besit in elk geval joune.”

      “En van al my besittings is die helfte joune. Ek sal net vir jou jou eie motor koop, Mynie. Die ou Mercedes is te lomp vir ’n fyn meisietjie soos jy om te bestuur. En ek sal natuurlik nuwe meubels koop. Jy sal nie daarvan hou om Liza se meubels te sien nie. As jy voel die huis het dalk ook te veel herinneringe, sal ek ’n ander een koop. As my dekselse geld net nie op lang termyn belê was nie … Ek kan myself skop dat ek so onnosel was.”

      “Jy het nie geweet jy gaan binnekort trouplanne kry nie. Sal ons môremiddag daardie geld gaan trek en … en vir my ’n verloofring koop?”

      Daar is ’n tinteling in die blou oë, dog Conrad se gesig bly ongelukkig.

      “’n Verloofring waarvoor jy self moet betaal?”

      “As dit jou beter sal laat voel, sal ek jou rente laat betaal op die geld wat ek jou leen. Ek sal jou met ’n volle vier en ’n half persent rente ruk. Sal dit jou troos, Conrad?”

      “Tien persent.”

      “Goed, vyf persent.”

      “Nee, tien persent, anders leen ek dit nie.”

      “Ons is nog nie eens getroud nie, en reeds boelie jy my!”

      “As jy parmantig is, gaan ons nie daardie diamantring uitsoek nie!”

      Mynie lag. Sy skrik nie vir Conrad se speelse dreigement nie. Die wêreld om haar is skielik weer blink en die toekoms rooskleurig. Die voorval met die arme kriek bly egter nog ’n bietjie krap en sy besluit dis beter om die lug te suiwer.

      “Conrad, my skat, hoe kon jy netnou so wreed gewees het? Daardie arme kriek het jou mos niks gedoen nie …”

      “Watter kriek?”

      “Die een wat jy … wat jy in die vuur gegooi het.”

      Conrad frons onbegrypend. Hy kyk na die vuurtjie en dan weer na Mynie.

      “Ek onthou daar niks van nie. Het ek ’n gogga in die vuur gegooi?”

      “Sy … sy hele lyf het opgekrul en … en sy dop het met ’n klapgeluid ge …” Sy ril. Sy kan nie die res van die woorde uitkry nie.

      Conrad kom vinnig na haar toe. Hy kom hurk voor haar en neem die hande weg wat in afgryse voor haar mond gehou word.

      “My engel, ek onthou nie dat ek so ’n wrede ding gedoen het nie, maar ek is jammer. Ek was ingedagte. Ek het nie geweet wat ek doen nie. Moenie so geskok lyk nie. Ek belowe jou ek sal nooit weer so iets doen nie. Ek sal môremiddag vir jou die mooiste verloofring in die hele wêreld gaan koop. Sal jy my dan vergewe?”

      Mynie knik. Sy kan nie lank vir hierdie man kwaad bly nie, veral nie as hy so boetvaardig lyk en op só ’n manier na haar kyk nie. Dan sal sy hom enigiets vergewe en ook die voorval met die kat en die petroljoggie diep in haar onderbewussyn indwing. Niemand is volmaak nie. As Conrad een of twee foute het, so ook elke mens op aarde.

      “Sal jy môremiddag vry hê?” vra Mynie. Conrad is wel ’n senior vennoot in die firma, maar sy wonder nogtans hoe hy so dikwels van die kantoor kan wegbly en of hy op sulke kort kennisgewing ’n maand vakansie sal kan neem. Heinz is ook senior, maar hy werk harder as sy ondergeskikte kollegas en hy kan nie sommer na willekeur enige middag van die kantoor wegbly nie.

      Conrad knik ongeërg. “Dis nie elke dag dat ’n man gaan trou nie. My kollegas moet môremiddag maar alleen opsnork.”

      Dis selde dat hy oor sy werk praat. Mynie gebruik die opening om taktvol te vra: “Is julle baie besig op die oomblik?”

      “Redelik. Ons sal die volle som geld moet trek, Mynie, om jou ring te koop, vir die vakansie te betaal en daarna nuwe meubels aan te skaf.”

      “Goed. Spesialiseer jy as prokureur in een besondere afdeling of hanteer jy algemene sake, Conrad?”

      “So ’n bietjie van beide. Eintlik is ek ’n deskundige op die gebied van die Deeltitelwet, maar ek hanteer soms ook boedels en testamente. Is dit dan reg dat ons Maandagmiddag die geld gaan trek?”

      “Ja, dis reg so. Sal die bougenootskap vir my ’n tjek kan gee?”

      “Dis onnodige moeite en ’n tjek kan dalk probleme oplewer as ek dit op my lopende rekening wil inbetaal. Soms vereis die bank tien dae klaring voor ’n kliënt op die tjek mag trek. As dit gebeur, is jy jou ring kwyt en ons ons vakansie. So, ek dink kontant sal beter wees.”

      “Het bougenootskappe altyd soveel kontant byderhand?”

      “Daar behoort geen probleme te wees nie.”

      “Sê nou maar iemand slaan jou oor die kop en steel die geld as ons uit die bougenootskap kom?”

      “Moenie aan sulke grusame dinge dink nie, my skat. Dink liewer aan iets meer aangenaam … Volgende week hierdie tyd is ons meneer en mevrou Duvenhage, in ’n makrostraler op pad Parys toe vir ons wittebroodsdae. Kan jy dit glo?”

      “Ek moet myself kort-kort knyp om seker te maak dat ek nie droom nie.”

      Die mooi uitsig op die afgrond en die berge wat Conrad so graag wou sien, kry nie veel aftrek gedurende die volgende paar uur nie. Daar word drome gedroom en lugkastele gebou. Die eerste uur word gebruik om te besluit hoe laat die oggend die huweliksbevestiging in die landdroskantoor moet plaasvind en waar hulle dit daarna met middagete en vonkelwyn gaan vier. Tussendeur sit Mynie en prakseer hoe haar rok gaan lyk en watter kleur hoed sy wil dra. Die tweede en derde uur word aan Parys bestee.

      Conrad probeer die atmosfeer van die wonderlike ou stad vir Mynie skets. “As ’n mens Parys werklik wil ervaar, moet jy sommer net na willekeur deur die strate dwaal – van die kronkelstegies van Montmartre tot by die romantiese boulevards van die Champs Élysées, die Faubourg St Honoré en die Quai d’Orsay. En ’n mens moet op die wal van die Seine staan met jou geliefde aan jou sy …”

      “Kan ons gaan kyk hoe die Notre Dame lyk? En al die trappies tot bo in die toring klim?”

      “As jy genoeg stamina sal hê. Maar van bo is die uitsig op Parys die moeite werd. Dis mooier as bo van die Eiffel-toring af. As jy na ’n paar weke vir Frankryk moeg is, kan ons deur die res van Europa toer. Gaan ski in Switserland, ’n handvol munte in die fonteine van Trevi gooi, op Piccadilly gaan staan en kyk hoe die res van die wêreld verbykom …”

      Dan kom Conrad by die minder romantiese, maar meer praktiese.

      “Ek glo nie dis ’n goeie idee om binne gemeenskap van goedere te trou nie. Op huweliksvoorwaardes is beter. Ek sê nie dit sal gebeur nie, maar as ek byvoorbeeld bankrot speel, kan die balju nie aan my vrou se besittings raak nie. As ek ’n huweliksvoorwaardekontrak laat opstel, word my vrou beskerm. Ek sal in die kontrak onderneem om direk na ons troue my huis, meubels, plaas en ander besittings op jou naam oor te plaas. Ek sal ook onderneem om ’n som geld aan jou uit te betaal indien ons ooit sou skei.”

      “Dankie, Conrad. Dis lief van jou, maar jy moenie van sulke dinge praat nie. Ons het dan beloof om mekaar vir ewig lief te hê.”

      “Jy kan dalk vir my moeg word.”

Скачать книгу