Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 24
“Daar is vyf sent te min,” sê hy kil.
Een blik na die koue gesig laat die petroljoggie besluit om nie te redekawel nie. Hy haal blitsig vyf sent te voorskyn en lyk verlig toe ’n ander motor agter die Mercedes stilhou sodat hy ’n verskoning kan hê om hom uit die voete te maak.
“As mens jou oë nie oophou nie, word jy om elke hoek en draai gekul,” sê Conrad grimmig.
Mynie verwonder haar aan hierdie man se luime wat soos kwiksilwer kan verander. Een oomblik is hy sagmoedig en liefdevol, die volgende wreed en ongevoelig. Conrad is ryk. Vyf sent sou hom nie armer gemaak het nie en die arme petroljoggie het dit miskien nodiger gehad as hy. Kon hy nie maar geswyg of die vyf sent as ’n fooitjie toegelaat het nie?
“Die vermetelheid om vyf sent van my geld in sy sak te steek … Dis nie die geld nie. Dis die beginsel. Stem jy saam?”
Mynie stem nie saam nie. Conrad het baie haastig getel. Is hy seker daar is vyf sent te min?
“Ja, Conrad,” sê Mynie sag. “Jy was reg om op die korrekte kleingeld aan te dring.”
Onmiddellik is Conrad weer die ene lieftalligheid. Hy glimlag verleë en neem sy hand van die stuurwiel af om oor Mynie se blink, donker hare te streel.
“Ek weet ek is ’n ou brombeer, my liefste. Kwaad vir my?”
“Om vir iemand lief te wees, beteken om nooit vir hom kwaad te wees nie.”
Die afgesonderde piekniekplekkie bo-op die kruin van die bergreeks is alles wat Conrad belowe het. Dis stil en rustig. Net ’n dowwe paadjie, die wind, voëls, doringbome en hulle twee. En ’n asemrowende uitsig op die panorama van klowe en valleie ver onder hulle reisdeken en smeulende hardekoolvuurtjie. Mynie vra nie weer waar hy die brandhout vandaan gekry het nie. As dit dalk is van iemand wat hom aan Liza herinner, is dit beter dat sy nie uitvra en miskien ou wonde oopkrap nie.
“Wat was die baie belangrike vraag wat jy vir my wou vra, Conrad?” wil sy weet.
“Of die dertigste Mei jou pas.”
“Die … Die dertigste Mei?”
Conrad gooi die vurk neer waarmee hy die vleis omgekeer het. Hy kom langs Mynie op die reisdeken sit en plaas sy arms op haar skouers.
“Mynie, jy het my roepstem uit die woestyn gehoor en my geantwoord. Ek was soos ’n verlore siel wat doelloos rondgeswerf het. En toe kom ek skielik by ’n oase uit. My siel het ’n rusplek gevind en ek het uiteindelik tuisgekom. Ek wil nie weer eensaam en verstote ronddwaal nie. Ek is moeg vir die barre woestyn sonder die koel, groen oases. Ek wil vir altyd by jou wees. Jy is my oase. Sonder jou wil ek nie lewe nie. Ek het ’n goeie werk en ’n gesonde bankbalans. Ek kan jou in weelde onderhou. Ek is miskien ’n bietjie oud vir jou, maar …”
“Nooit. Nie jý nie, Conrad.”
“… maar ek belowe om vir jou goed te wees en jou altyd lief te hê. Ek wil nie langer wag nie, my liefste. Ek is haastig. Selfs ’n week sal soos ’n oneindigheid voel. Belowe jy sal my marteling nie langer uitrek en my terugstuur in die woestyn nie. Sê jy sal, Mynie. Asseblief, sê jy sal.”
“S-sal wat?”
“Met my trou.”
Mynie het met toenemende opgewondenheid na Conrad geluister. Sy het ’n idee gehad waar die lang aanloop gaan eindig. Nou glimlag sy bewerig en lê haar hand op Conrad s’n.
“Ek sal met jou trou, Conrad.”
“Die dertigste Mei?”
“Dis maar binne ’n week!”
“Mynie, ek was veertig jaar lank eensaam. Selfs toe ek met Liza getroud was, het ek alleen en verstote gevoel. Sy het my nie verstaan nie. Ons was nie geesgenote nie. Toe sy dood is, het ek geglo ek sal nooit geluk vind nie. Ek sal die res van my lewe eensaam bly. Ek het dit so aanvaar, tot – tot ek … jou ontmoet het. Moenie my pyniging langer uitrek of my van jou af wegstuur nie. Sê jy sal op die dertigste Mei myne word en vir die res van jou lewe by my wees.”
Die rook van die vuurtjie dwarrel verby hulle, maar deur die rook sien Mynie Conrad se gesig. Dis gloeiend en opgewonde, soos ’n klein seuntjie se gesig by die eerste aanblik van ’n Kersboom vol liggies en geskenke. Hoe kan sy hom hierdie grootse geskenk weier?
“Goed, die dertigste Mei,” sê sy in ’n klein stemmetjie.
Conrad vergeet van die vleis wat amper gaar is, vergeet van die kole wat te warm is en van sy blikkie bier wat by sy elmboog staan. Sy hande sluit stywer om Mynie se skouers en hy trek haar nader. Hierdie soen is anders as enige van die voriges. Daar is minder hartstog, minder vuur en meer teerheid. Ook verwondering in die mond wat oor Mynie se wang streel, asof hy nie kan glo dat hierdie fyn donkerkopmeisietjie uiteindelik syne gaan word nie.
“Conrad!” roep Mynie na tien minute uit. “Die vleis … ! En jou bier het omgeval! ”
“Drinkgoed sal ek nooit weer nodig hê nie … noudat ek my eie oase gevind het. Die vleis maak ook nie saak nie. In die toekoms gaan ek van droë brood en liefde leef.”
Mynie is meer pragmaties as haar aanstaande man. Sy is honger en sy kan nie belangrike sake op ’n leë maag bespreek nie. Sy red wat daar van die vleis te redde is, pak toebroodjies op hulle borde en soek vir Conrad nog ’n bier.
Conrad let skaars op wat hy eet. Hy drink die bier sonder dat hy dit agterkom. Sy blou oë is dromerig terwyl hy lugkastele bou.
“Ons gaan Parys toe vir ons wittebroodsdae. Parys is die stad van Edith Piaf, Toulouse-Lautrec en Irma la Douce, van joie de vivre en verliefdes. Ek het gesê ek was al dikwels oorsee, maar geen vakansie sal so opwindend wees soos die volgende een wat ek beplan nie. Dis omdat ek toe reeds gehoop het dit sal saam met jou wees. Dink net, my liefste: ons twee saam op die walle van die Seine, by die Notre Dame, bo-op die Eiffel-toring, wandelend in die Tuileries-tuine … Besig om inkopies te doen in die Champs Élysées …”
Conrad bly skielik stil. Hy spring op, skop die vuurtjie uitmekaar en gaan staan met gebalde vuiste op die wal van die afgrond. Dan tel hy ’n klip op en gooi dit met alle mag so ver as wat hy kan.
“Wat is dit, Conrad?” vra Mynie ontsteld. “Wat makeer?”
“Ek is lus en spring by die afgrond af,” sê hy verbitterd.
Mynie hardloop tot by hom en trek hom aan sy arm terug. Sy is geskok en hewig ontsteld.
“Wat is dit?” herhaal sy verskrik.
“Niks.” Die antwoord is mompelend en Conrad kan haar nie in die oë kyk nie. Hy gaan sit op sy hurke en krap die gloeiende kole met ’n stokkie bymekaar. Toe daar ’n kriek ’n entjie van hom af verbysukkel, gryp hy dit en druk dit in die vuur. Dis asof hy in die sissende lyf en skoppende pote en gekraak van die dop ’n uitlaatklep soek.
Mynie draai haar kop weg en druk haar ore toe.
“Kom ons gaan huis toe,” sê Conrad kortaf.
Mynie het nie gehoor wat hy sê nie, maar sy sien toe hy skielik die rooster en vurk en hulle borde begin