Kamikaze. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg страница 8

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Kamikaze - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

hy ’n spesialisgebied gehad … waaroor hy geskryf het, bedoel ek?” vra Rooi.

      Sy skud haar kop. “Nie regtig nie, maar hy was passievol daaroor om onreg bloot te lê. Hy was baie bedrywig in Afrika, soms in die Midde-Ooste. Was selfs al in Indië en China agter stories aan. Sy reeks artikels van so drie jaar gelede oor kinderarbeid in Indië het tot die Time gehaal.” Sy glimlag hartseer. “Hy was so trots daarop. Hy’t ook nog ’n belangrike Amerikaanse joernalistieke toekenning vir daardie artikels gekry.”

      “Was hy nou weer besig om iets te ondersoek?” vra Kassie.

      “Ja. Dis juis waarom hy in die Kaap by ons kom bly het. Hy’s eintlik van Johannesburg.”

      “En wat het hy ondersoek?”

      Sy skud haar kop. “Dit weet ons nie. Fred het nooit ’n woord gerep oor sy ondersoeke nie. Omdat hy vir homself gewerk het, was hy baie geheimsinnig – altyd bang iemand anders kom daarvan te hore en scoop hom. Hy was die afgelope jaar of twee baie in Afrika vir dié storie. Hy’t net genoem hy’s amper klaar, maar dat hy eers nog mense hier in die Kaap moet sien.”

      “Het hy al die mense gaan sien?”

      Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie. Ons was net twee dae saam met hom hier voordat ons Hermanus toe is. Ons was die afgelope twee en half weke daar … ons sou eintlik eers môre terugkom. Hy’t sommer ook die huis vir ons opgepas.”

      “Het hy dalk laat val vir watter publikasie hy van plan was om sy artikels te gee?” vra Rooi.

      “Nee, ek dink nie hy’t al self besluit nie.”

      “Verskoon dat ek vra,” sê Kassie fronsend, “maar hoe kan ’n vryskutjoernalis bekostig om die wêreld te deurkruis sonder om deur ’n publikasie geborg te word? Hy kon tog nie so baie geld met die artikels verdien het nie?”

      Die vrou lyk verleë. “Ek en my broer het goed geërf toe ons ouers oorlede is – hulle was jare gelede in ’n motorongeluk. Hy kon die reise bekostig. Hy’t in elk geval nie geskryf om regtig geld te verdien nie, maar omdat sy werk sy passie was.”

      “Jammer ek pla.” Da Silva stap in met ’n forensiese bewyssakkie in sy hand. Hy hou dit na die vrou uit. “Lyk hierdie vir u bekend?”

      Sy neem die sakkie en kyk fronsend na die inhoud. “Dis ’n skaakstuk.”

      Da Silva knik. “Ons het dit in jou broer se hempsak gekry.”

      “Fred het nie skaak gespeel nie,” sê sy verbaas. “Ons het nie eers ’n skaakstel in die huis nie.”

      Haar man bekyk dit ook. “Dis ’n pion,” merk hy op.

      * * *

      Die buurman vra hoe dit gaan, beleefd, en soos altyd effens huiwerig. Die Pion ignoreer hom. Hy keer sy rug na die man wat by die heining staan en stap sy huis binne.

      Die Pion hou nie van mense nie, daarom het hy nie vriende nie. Hy vind berusting in die geselskap van sy labrador, wat nie vir hom bang is nie.

      Mense is bang vir hom, dit weet hy. En nie net dié met wie hy besigheid doen nie. Mense tree oor die algemeen vreemd op in sy teenwoordigheid. Wanneer hy by die koffiewinkel hier anderkant instap, word dit stil. Mense begin praat in fluisterstemme. Rondom sy tafeltjie in die hoek is daar gewoonlik algehele stilte.

      Volgroeide mans se stemme verander as hulle met hom praat. Hulle gesigte word styf en stram. Hulle kyk af, senuweeagtig en waaksaam. Hy probeer persoonlike kontak ten alle koste vermy – daar is nie altyd ontsmetgeriewe naby nie – maar as hy ’n man se hand moet skud, is dié se handpalm gewoonlik klam.

      Vroue vind hom skynbaar vreesaanjaend. Hulle kyk onmiddellik weg as sy blik op hulle val.

      Die Pion put innerlike genot uit die reaksie wat hy ontlok, want al dié dinge help hom in sy werk. Dit bevestig ook wat sy oorlede moeder baie jare gelede vir hom gesê het: dat hy spesiaal is. “Jy’t iets bonatuurliks aan jou, my kind,” het sy gesê sonder om hom in die oë te kyk. Soos ander vroue het sy ook meestal sy blik vermy.

      Hy gaan sit op die bank in die sitkamer en tel die koerant op. Dié word net Woensdae by sy huis afgelewer. Hy het geen belangstelling in die nuus van die dag nie, kyk net vlugtig na die geklassifiseerde advertensies.

      Dan vou hy die koerant toe, staan op en stap kombuis toe. Buskruit, frisbee in die bek, is soos gewoonlik kort op sy hakke. Hy gooi die koerant in die vullisdrommetjie voor hy badkamer toe loop.

      Terwyl hy die drukkersink van sy hande af skrop, word hy bewus van die verligting in hom. Hoewel hy die afgelope paar jaar uitsonderlik besig was, is dit beslis nog te gou ná sy vorige opdrag – die joernalis in Rondebosch – om ’n nuwe een te kry.

      Dit pas hom uitstekend dat hy eers tyd vir sy ernstige leeswerk gaan hê. Hy’t sy boeke oor die groot skaakmeesters voorlopig weggepak. Dit het tyd geword om sy ou spoke te verjaag, en dit kan hy alleen doen deur die materiaal klaar te lees wat hy drie jaar gelede halfpad gelos het.

      Maar eers moet hy ’n bietjie aandag aan Buskruit gee. Hy haal ’n stel latekshandskoene uit die badkamerkassie, trek dit aan en neem die frisbee uit die hond se bek.

      “Kom, ons gaan speel op die agterste grasperk,” sê hy, en glimlag amper toe die uitgelate dier deur toe storm.

      7

      Moos sluit sy motor aan toe Kuyler se Mercedes stadig verby hom ry, op in Koningin Victoriastraat. Die Mercedes draai regs in Buitengracht, waaruit Moos aflei dat Kuyler op pad is na die N1.

      Hy was die hele oggend in die parlementsgebou en het eers ná een daar uitgekom. Moos het hom te voet gevolg tot in Langstraat, waar hy by ’n restaurant ingestap en eenkant by ’n tafel gaan sit het. Hy het ’n oproep gemaak wat veertien minute en dertien sekondes geduur het. Daarna het hy ’n hamburger en skyfies bestel. Moos het geduldig gewag totdat hy uitkom en hom terug na sy motor in Koningin Victoriastraat gevolg.

      ’n Entjie op die N1 en Kuyler vat die afdraai Paardeneiland toe. Hy ry dieper die nywerheidsgebied in, na ’n groot bruin gebou voor ’n reuse-stoor. Die twee wagte by die veiligheidshek maak dadelik vir hom oop en hy parkeer onder ’n afdak langs die gebou. Duidelik is hy ’n bekende hier.

      Moos tuur na die plek, omring deur ’n hoë elektriese heining. Dis eers toe sy blik op die kleinerige naambord bo die ingang van die gebou val, dat die warm gloede met mening toeslaan en hy die wasem geïrriteerd van sy brillense moet vee.

      Kadinsky Dynamics.

      Kadinsky Dynamics, weet Moos, is ’n filiaal van Denel en gesetel in die Kaap. Hulle spesialiseer in kleiner wapentuig as hul groot boetie. Maar volgens ’n SSA-verslag wat Moos onlangs gelees het, ding Kadinsky ook met Denel mee op sekere gebiede om, volgens die minister van verdediging, “groter innovasie in wapenvervaardiging in die land te stimuleer”.

      Moos se asem kom rukkerig deur sy neus. Wat op dees aarde maak die werknemer van ’n wapenvervaardiger by ’n vermeende Islamitiese terroris? En hoekom is Kuyler vanoggend parlement toe? Om wie te gaan sien?

      Wat sou Richard Sorge of een van die ander baasspioene in dié geval gedoen het? wonder hy. Probeer ’n gevallestudie oproep wat met sy huidige situasie kan vergelyk, maar

Скачать книгу