Kamikaze. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg страница 9

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Kamikaze - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

sluit Denel se naamlys in, en dit behoort ook toegang te gee tot die name van die werknemers by Denel se filiale.

      Hy bel Michelle by die SSA.

      “Ja, ons sal dit hê,” sê sy. “Hou net ’n oomblik aan.”

      Straaltjies sweet loop langs Moos se slape af terwyl hy wag.

      “Het hom,” sê Michelle ná ’n rukkie. “Ignatius Jakobus Kuyler, noemnaam Naas, is een van die vyf direkteure van Kadinsky én die hoof van hulle missielafdeling.”

      * * *

      Terwyl ’n vrolike vastrappolka van Taffy Kikillus uit Kassie se kombuis opklink, skryf hy in sy studeerkamer die e-posadresse neer van die sestig filatelieverenigings wat onder die sambreel van die Filatelie-federasie van Suid-Afrika val.

      Dis ’n goeie beginpunt vir sy navorsing. Hy sal in die volgende dae eers ’n vraelys opstel en dit dan per e-pos aan elke vereniging stuur. Dit gaan egter net ’n fraksie van sy navorsing behels. Die antwoorde wat hy van hulle kry, sal hy in elk geval eers moet verifieer by die Poskantoor se grafiese ontwerp-afdeling, sowel as by die vryskut- en afgetrede ontwerpers wie se kontakbesonderhede hy deur die jare op ’n lys bygehou het. Hy sal ook met verskeie drukkerye van seëls moet kontak maak om sy feite waterdig te kry, en dit dan in die Kaapse Argief histories orden. Dié navorsingsprojek kan etlike jare neem, besef hy opnuut.

      Hy staan met ’n sug op van agter sy lessenaar en stap kombuis toe, waar hy ’n bottel Creme Soda uit die yskas haal en sommer uit die bottel ’n paar groot slukke vat. Hy breek ’n wind op en steek ’n Lucky Strike aan. Slof in sy skaapvelpantoffels sitkamer toe en val op die rusbank neer.

      Hy voel effens skuldig dat hy die Boeremusiekgilde se maandbyeenkoms in Bellville vanaand gaan misloop, maar hy’t eenvoudig nie die krag daarvoor nie. Hy kan ook nie altyd by al sy verpligtinge uitkom nie.

      Vandag was uitputtend genoeg. Die nuwe moorddossier is nog arm aan feite. Hy en Rooi sal maar geduldig moet wag vir die forensiese verslag voordat hulle volstoom aan dié saak aandag kan gee. Terselfdertyd is hy dankbaar dat kolonel Daniels die Smuts-saak aan hulle toegewys het. Dit sal help om sy aandag by die werk van die verdomde oproep af te lei. Intussen lê die berg dossiere van kak sakies steeds op sy lessenaar.

      Hy neem ’n lang trek aan die Lucky. Terwyl hy die rook in kringetjies uitblaas, wonder hy wat Fred Smuts ondersoek het. Volgens die Van Zyls is Smuts se skootrekenaar, selfoon, ’n paar notaboeke, ’n stokou stemopnemer en ’n houer met kassette gesteel. Niks anders in die huis is gevat nie. Die moordenaar het seker gemaak hy neem alle materiaal wat spore kon los oor Smuts se ondersoek. Dít sal sy en Rooi se fokuspunt moet wees: hulle moet uitvind waarmee Smuts besig was.

      Maar wat hom dronkslaan, is die skaakstuk in die man se hempsak. Sou dit enige betekenis inhou?

      * * *

      Dis kort voor middernag, maar Claus kan sien nie Brian of Ivan is van plan om huis toe te gaan nie.

      Brian het ’n nuwe bottel wyn oopgemaak en sy glas tot oorlopens toe vol gegooi. Hy slinger met krom skouertjies terug na sy stoel en gaan sit mors-mors. Vee die wyn ongeërg van sy broek af en vra sleeptong: “Claus, wil jy nie vi’ ons ’n lekker stjukkie musiek opsjit nie?”

      Claus ignoreer hom. As Brian dronk is, wil hy dans. En Macy is al een om mee te dans. Dié het self hopeloos te veel gesuip. Hulle sal net ’n klomp goed in die sitkamer omskop. Claus het juis vroeër sy duur Oosterse vaas in die slaapkamer gaan bêre, maar hier is nog baie ander waardevolle ornamente wat kan breek.

      Hy kyk fronsend na Ivan wat op die mat armopstote doen terwyl ’n jillende Macy op sy rug sit. Ivan wil tog so graag sy krag ten toon stel wanneer hy getrek is. Asof hy sy macho status nie genoeg adverteer met al die ekstreme sportsoorte wat hy beoefen nie. As hy nie iemand amper dooddonner in die skopbokskryt nie, duik hy van hoë kranse af in die see of klouter teen bergspitse uit.

      Claus hou nie daarvan dat Macy so op sy rug sit nie. Hy sien juis Brian staar heeltyd met skreefogies na haar. Macy se bene is wyd oopgesper onder die minirompie, haar pienk pantie vertoon ’n duidelike kameeltoon terwyl haar bralose borste uit die klein halternektoppie wil-wil klim. Sy kon net so wel kaalgat gewees het.

      As Claus haar só sien, kom dieselfde gedagte altyd by hom op: Hoe lank gaan Macy getrou bly aan hom? Sy’s net vier jaar jonger as hy, maar haar wulpse lyf is dié van ’n twintigjarige, danksy baie ure in die huisgimnasium.

      Hy lyk meer soos haar oorgewig pa. En sy weet dit. Sy het onlangs in ’n woedebui snedig na hom verwys as ’n “regte afgeleefde ou vetgat”.

      Hy snork. Dié afgeleefde vetgat het haar uit haar armoedige agterkamer in Wynberg gevat en in ’n herehuis in Constantia kom neersit, haar ’n huisvrou sonder enige verpligtinge gemaak. Sy steek nie ’n hand uit nie; die twee huishulpe moet daagliks agter haar oulike gatjie opruim. Dis nou as sy nie by een van die winkelsentrums besig is om sy kredietkaart te straf nie.

      Sy weier ook om aan ’n kospot te raak. As hulle soms afwyk van hul gebruiklike instelling om saans by ’n restaurant te gaan eet, moet hy die kos maak. “Jy’s die sjef in die huis, darling,” herinner sy hom gereeld.

      Tog glimlag hy onderlangs terwyl hy haar dophou. Hy’t haar liewer as enigiets in die lewe. Sy’s altyd besorg oor sy gesondheid, sy’s sag op die oog en ’n tierkat in die bed. Kan ’n man van sý onaansienlike voorkoms – met vratte op sy voorkop, ’n speknek en uitgesakte pens – vir meer vra?

      Hy sal haar nooit kan inruil vir ’n nuwer model nie ondanks haar tekortkominge, en al is sy so kinderagtig soos vanaand. Terwyl Ivan die pas van sy opstote versnel en soos ’n perd runnik, gil sy plesierig en klou vir ’n vale aan sy poniestert om nie af te val nie.

      Claus kyk gesteurd op toe Brian vir die soveelste keer ’n Italiaanse aria uit volle bors begin sing. Te midde van die helse lawaai hoor hy die koordlose telefoon langs hom lui. Hy frons. Wie sal dié tyd van die nag bel?

      Hy staan steunend op om die foon in die gang te gaan beantwoord. Sal sy eie stem nie in die sitkamer kan hoor nie.

      In die gang huiwer hy om die gehoorbuis op te tel. Kan dit die polisie wees?

      Sweet slaan op sy voorkop uit. Hulle moes vandag op Smuts se lyk afgekom het. Dalk het die Pion nie sy opdrag behoorlik uitgevoer nie. Dalk het hy ’n leidraad gelos wat hulle na Prins Pharmaceuticals kon lei.

      Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om die foon nie te antwoord nie. Maar as hy nie nou met hulle praat nie, kom hulle dalk hierheen.

      Hy pluk senuweeagtig aan sy serp. Sy hand bewe toe hy die gehoorbuis optel.

      “Wil julle nie ’n bietjie sagter lawaai nie?” hoor hy die stem van sy bejaarde buurvrou. “Dis twaalfuur en …”

      “Druk oorpluisies in jou ore!” skree hy en plak die gehoorstuk neer.

      Nie sy fokken skuld dat die ou suurpruim haar nuwe slaapgedeelte tot amper teenaan sy huis gebou het nie. Dit terwyl haar erf so groot soos twee rugbyvelde is.

      Hy grawe vir sy sakdoek in sy broeksak en vee die sweet van sy voorkop af. Waggel terug sitkamer toe. Hy het self vanaand te veel Johnnie Walker afgesluk.

      Sy gemoed is donker toe hy gaan sit.

      Is dít hoe sy lewe van nou af gaan wees? Vir elke telefoonoproep sy gat af skrik? Heeltyd

Скачать книгу