Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 3

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray

Скачать книгу

af. Sy sien hom nie raak nie, loop net voor haar en staar met daardie selfde leë blik wat hom vanmiddag so getref het.

      “Juffrou …”

      Sy ruk tot stilstand, kyk vinnig in sy rigting en haar oë verstar. Hy frons, onbewus daarvan dat dit sy gesig streng en ongenaakbaar in die dowwe lig van die straatlamp laat vertoon. Hy gebruik ook die verkeerde woorde: “Juffrou, kom klim in, dan …”

      Sy het hom nie herken nie, maar hoor sy woorde duidelik en vertolk dit verkeerd. Sy kyk paniekerig om haar rond. Die straat is op hierdie oomblik totaal verlate. Dis net sy en hierdie vreemde man wat haar nooi om in te klim … Sy spring weg en hy kyk haar verslae agterna. Is sy van haar verstand af?

      Toe pluk hy die deur oop, want sy val en beland hard op die sypaadjie. Sy probeer opstaan, haar oë verwilderd op sy naderende gestalte gerig; sy gryp na haar enkel en sak weer grond toe. Toe hy by haar kom, is haar hande afwerend voor haar uitgesteek, die gesiggie wit en spookagtig in die dof verligte straat.

      “Asseblief! Los my! Ek is nie … nie daardie soort vrou nie! Los my!”

      Hy buk vinnig op sy hurke langs haar neer. “Genugtig, ek sal niks aan jou doen nie. Ek wil jou help. Het jy seergekry?”

      Sy hand reik na haar enkel, maar sy trek vinnig terug, paniek nog steeds in haar oë. Haar verstand is te benewel van skok en angs om die gesig hier by haar te herken. Al wat sy sien, is ’n vreemde man wat in hierdie laat uur op straat met haar praat.

      Sy ander arm gaan om haar. “Kom. Ek sal jou ophelp. Kyk of jy op daardie voet kan trap. Jy het dit seker verswik.”

      Maar sy ruk los van die sterk arm, probeer wegkom, voel die verblindende pyn in haar enkel, stort weer grond toe. Dan is hy by haar, rol haar saggies om en help haar met sy hand orent, voel die bewing in die skraal liggaam hier teen hom.

      “Asseblief! Asseblief! Los my!”

      Hy kyk magteloos op haar af. Wat moet hy doen? “Ek wil niks aan jou doen nie, kind. Ek wil jou net huis toe neem. Dis al. Dis baie laat en nou het jy nog seergekry ook.”

      Sy kyk stadig op. Dis of sy gerusstellende stem eindelik tot haar verstand deurdring. Verwarring neem die plek van die wilde paniek in haar oë in.

      “Maar … u is … was vanmiddag in die kantoor toe …”

      Hy knik, glimlag gerusstellend, hoewel hy glad nie daarna voel nie. Sy is pragtig, hierdie kind met die groot oë en swart hare en fyn gelaat. Wat soek sy alleen op straat?

      “Ja, ek is dokter Van der Merwe. Ek was laat by die hospitaal besig en is nou eers op pad huis toe. Toe herken ek jou. Ek het gedink ek kan jou gou huis toe neem.”

      Haar ooglede sak en ’n frons keep liggies op sy voorkop. Maar hy hou sy stem ongeërg. “Kom dat ek jou ophelp. Hoe voel die voet?”

      Sy trap versigtig daarop, maar ’n gilletjie ontglip haar en sy is dankbaar om ’n sterk arm om haar middel te voel, anders het sy weer grond toe gesak. Die stem gaan kalm voort: “Jy het jou enkel lelik verswik. Dit moet onmiddellik behandel word anders sal jy môre glad nie daarop kan trap nie. As jy wil, kan jy saam na my plek kom, dan sal ek dit gou verbind. Dis net daar, in daardie woonstelblok.”

      Sy knik gelate. Sy kan nie anders nie. Sy kan tog nie hier op die sypaadjie bly sit nie. En wat sal van haar word as sy môre nie op haar voet kan trap nie? Sy sal nie eens kan vlug as hulle haar wil vang nie. Sy sal saam met hierdie man moet gaan sodat hy eers haar enkel verbind. Sy probeer op een been spring, maar meteens voel sy hoe sy in die lug swaai.

      “Ek dink ons sal vinniger vorder as ek jou dra.” Hy dra haar met gemak, help haar in die motor, stap om en skuif agter die stuurwiel in. “Ons is nou daar. Pyn dit baie?”

      “Nee, nie te erg nie, dankie.” Haar stem is skaars ’n fluistering en hy praat nie verder nie. Sou sy werklik negentien, amper twintig wees soos sy vanmiddag vir die matrone gesê het? Sy voel soos ’n kind van tien jaar.

      Hy swaai die motor by die woonstelgebou se parkeervlak in en sê streng: “Bly sit. Ek gaan net eers oopsluit en die ligte aanskakel. Dan sal ek jou kom haal.”

      Die ligte gaan aan en dan is hy weer by haar. Hy tel haar soos ’n kind in sy arms op en stap met die trap op tot by sy woonstel.

      Versigtig laat hy haar op ’n rusbank neerlê, sak toe op sy hurke voor haar neer en trek haar sandaal uit. Hy neem die enkel tussen sy hande terwyl sy vingerpunte die skade liggies bevoel. Hy kyk op, vind die groot blou oë op hom gerig.

      “Ek sal dit ’n bietjie moet trek. Dit sal seer wees. Leun agteroor teen die kussings en probeer ontspan. Ek sal ’n verband gaan haal.”

      Die onbekende meisie lê steeds met geslote oë teen die kussings toe Rudolf van der Merwe terugkom.

      Hy beskou die skraal gelaatstrekke ’n oomblik lank aandagtig. Onder die skerp elektriese lig kan hy sien dat sy tog wel negentien kan wees. Sy lyk op hierdie oomblik selfs ouer. Die wange is wit en ingedoke. Donker halfmane lê onder die swart wimpers. Waar sou sy vandaan kom? En waarheen was sy op pad? wonder hy terwyl hy weer voor haar buk en gerusstellend laat hoor: “As ons klaar is, gaan ons eers iets eet. Ek het vanoggend laas geëet. Dan sal ek jou terugneem.”

      Die ooglede fladder, die punt van die tong lek oor die droë lippe. Sy frons. Sy is ook honger. Hy het dit reeds vermoed.

      Hy het vanmiddag in matrone Nel se kantoor al opgemerk dat sy geen handsak by haar het nie. Sy het niks by haar nie, bloot die bont rokkie en ’n paar wit sandale aan haar lyf. Met ’n vlugtige blik na die bleek gesiggie trek hy hard aan die enkel. Sy skiet regop, die blou oë vol pyn. Toe sak sy terug teen die kussings en hy kom vinnig orent. Sy het flou geword. Hy hurk weer, werk vinnig om klaar te kry.

      Toe hy orent kom, lê sy nog doodstil, die swart hare soos ’n wolk oor die kussings versprei. Hy laat haar lê, stap kombuis toe, bekyk die inhoud van sy kruidenierskas. Ligte kos, maar voedsaam. Hy haal sop uit, draai na die stoof toe.

      ’n Rukkie later kom hy weer die sitkamer binne, ’n skinkbord in sy hande. Hy sit dit neer, raak liggies aan haar skouer. Die blou oë vlieg verskrik oop en hy glimlag stram.

      “Dis net ek. Alles is reg. Kom, ons moet nog eet.” Hy help haar teen die kussings op, skuif haar gemaklik reg, laat haar voet op ’n bankie rus. “Jammer. Ek is nie ’n danige kok nie, maar dit sal darem seker goed genoeg wees.” Hy hou hom besig met sy eie beker sop, maar sy oë mis niks. Ná ’n rukkie hou hy sy hand uit. “Daar is nog. Gee, dan gaan haal ek nog.”

      Weer gehoorsaam sy soos ’n kind. Hy maak die beker vol, skuif die toebroodjies nader. Toe vra hy ongeërg terwyl hy sy eie beker na sy mond bring: “Is daar miskien iemand wat ek kan bel, net om te sê dat jy veilig is? Jou ma dalk?”

      Die beker ruk en die sop loop in straaltjies oor die skraal hande af. Rudolf is dadelik by haar, neem die beker uit haar vingers en haal sy sakdoek uit, begin haar hande afvee. “Het jy nie seer gebrand nie?” Hy kyk op en dit gryp hom aan die hart toe hy die smart in die blou oë sien. Wat in hemelsnaam het in hierdie mens se lewe gebeur dat sy só lyk?

      Sy skud haar kop heen en weer: “Nee. Sy is … dood.”

      “Wat is jou adres? As jy klaar geëet het, kan ek jou dan huis toe neem.”

      “Ek … het nie ’n adres nie.”

Скачать книгу