Hykie Berg. Hykie Berg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hykie Berg - Hykie Berg страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Hykie Berg - Hykie Berg

Скачать книгу

      

      Hykie Berg

      My storie van Hoop

      Hykie Berg

      Vertaal en verwerk deur Marissa Coetzee

      Lux Verbi

      Ek dra hierdie boek op aan my vrou, Melissa Berg, die Berg-familie, Ihan Hutchinson en Abba Vader.

      VOORWOORD

      Hierdie boek gaan oor hoop; ware hoop. Hoop in aksie. Dit is hoop wat jy as leser, of jy nou ’n verslaafde is of nie, kan kry en gebruik om jou lewe te verander in iets groters, iets beters, iets veel méér. Hierdie boek probeer geensins uitspraak lewer oor die hoeveelheid dwelms, drank, seks, kos, dobbelary of wat ook al jy aan verslaaf is of was nie, ook nie oor hoe sleg jy was of dink jy geword het nie. Dit wys bloot hoe jy uit jou dilemma kan ontsnap en ’n lewe van betekenis kan begin leef.

      Ons almal het ’n storie om te vertel en ek deel graag myne. Daar is net een ding waarin ek, wat my betref, ’n deskundige is – en dis in die wees van my eie ek: Hykie Berg. Vanaf die tydlose oomblikke nog vóór die skepping tot stand gekom het, was daar geen ander skepsel met my siel, my hart, my oë, my ore, my hande, my hare en my mond nie. Daar was niemand soos ek wat voor my gekom het nie en daar sal ook nooit wees nie. Ek is uniek, nes jy uniek is. Niemand het my lewe geleef of gaan dit leef nie; nes niemand jou lewe geleef het of gaan leef nie. Ons ervarings, hoop en kragte is almal uniek en niemand s’n is dieselfde nie. Ek is ’n deskundige in Hykie Berg-wees en dit het waarde, nes jou storie waarde het.

      In hierdie boek fokus ek op my eie jare lange worsteling met heroïen en kokaïen, en die pad wat ek moes stap om tot by sekere insigte te kon kom. Die boek bestaan merendeels uit dele van my eie lewensverhaal wat verweef is met die beginsels van die stappe wat ek gevolg het om van my verslawing genees te word. Beskou hierdie boek as ’n gids om jóú te help.

      Ek glo met my hele wese dat die Twaalf Stappe wat ek hier bespreek en wat wêreldwyd al miljoene mense gehelp het, nie net van toepassing op verslaafdes is nie, maar ons almal. Dit sal enigiemand help wat die intense begeerte het om uit hul verslawing, vernietigende en/of kompulsiewe gedrag te ontsnap. Die verduideliking van die Twaalf Stappe sal as aanwysing dien om jou op ’n pad van herstel, genesing en ’n lewe van oorwinning en passie te plaas.

      Die Twaalf Stappe van Narkotika Anoniem is ’n leefwyse, ’n deurgang tot die dieper geheime wat God aan ons wil openbaar. Dis nie ’n selfhelp-trappie van die een vlak na die ander en woeps! daar is jy presies wie, wat en waar jy moet wees nie. Dis ’n lewenslange proses van beginsels wat toegepas moet word.

      Die beginsels van die Twaalf Stappe kan toegepas word op alle vorme van verslawing of enige vorm van uitdaging: alkoholisme (of dwelm- en alkoholmisbruik), prosesverslawing soos kompulsiewe ooretery en ander eetversteurings, seks- of pornografieverslawing, liefde- of dobbelverslawing, emosionele verslawing, wanfunksionele gedrag sowel as volwassekind-sindroom. As jy in die vernietigende stadium van jou verslawing is, wanneer jy nie meer ’n keuse kan uitoefen oor jou gebruik van jou middels nie en jou lewe totaal onbeheerbaar geraak het, is dit belangrik dat jy na ’n rehabilitasiesentrum gaan. Die boek is nie die kuur nie; persoonlike verantwoordelikheid vir jou keuses en jou lewe is wel.

      Ek skryf met groot respek oor die Twaalf Stappe. As dit nie vir hierdie Twaalf Stappe was nie, sou ek waarskynlik nooit by ’n plek kon uitkom waar ek iets het om voor te leef nie. Ek sou God eenvoudig nie geken het nie en nog minder oor my verslawing kon kom.

      Die Twaalf Stappe is ’n brug wat ons help om ons uitdagings te oorkom sodat ons God kan leer ken. Met God se hulp het ek die betekenis van die Stappe probeer verduidelik sodat jy as leser kan besef wat dit vir my oor die jare beteken het en wat dit vir jou kan beteken. Ek wys ook hoe my begrip van God tydens my genesingsproses verander het.

      ’n Radikale genesingsproses vereis dat jy jou verstaan van God in heroënskou neem. Ons begrip van wie God is, word grootliks beïnvloed en gevorm deur ander mense en hul verstaan van wie God is. Omdat mense feilbaar is, is dit ongelukkig so dat ons deur die kerk en ons ouers wat God dien dikwels ons grootste verwonding opdoen. Daarom distansieer jy jou dan van die naam “God” wat deur dié groep mense gebruik is wat vir soveel pyn gesorg het. Dan praat jy eerder van Krag/Mag/Universe om jou herontmoeting met, ja God, en jou nuwe verstaan te benoem. Hierdie nuwe begrip is slegs moontlik deur ’n wedergeboorte in die Gees.

      Die Bybel is die gesproke Woord van die Heilige Gees, die fondament en riglyne tot die dieper geheime van wie en wat God is, en wat sy doel vir ons is. Iemand wat nie in die Gees wedergebore is nie, kan nie die koninkryk van God sien nie (Joh 3:3). Om wedergebore te word in die Gees is ’n onmiskenbare werk van God. Dis so geheimsinnig soos die wind, so verbasend soos God Self. Ons het geen benul waar dit begin nie; dit is weggesteek in die diepte van ons persoonlike lewe. Wedergeboorte in die Gees is ’n meerjarige, onophoudelike en ewige begin; ’n varsheid te alle tye in ons denke, ons woorde en in lewe; en die aanhoudende verrassing van die lewe in afhanklikheid van God.

      Vir my is God die begin en die einde, die Skepper van hemel en aarde, my eerste liefde, die bron van al my voorsiening. Hy is die waarheid wat nie gebreek kan word nie. God is my Pa, my Koning, my Redder en my Regter. Deur sy Gees word alles geopenbaar, tot stand gebring en tot sy glorie omskep sodat almal sal weet Hy is die magtige God van Israel. In God vind ek my blydskap.

      Tog was dit nie in my geluk nie, maar eerder in my verslawing en in my pyn waar ek God ontmoet het. My jonger sussie, Magrikie, sê altyd: God laat dít toe wat Hy die meeste haat, en laat dinge reg uitwerk vir dié wat Hy die meeste liefhet.Vandag glo ek dit heelhartig.

      Dit is dikwels in ons pyn dat ons ons roeping vind. Ongelukkig is daar soveel mense wat nooit daardie skaduwees konfronteer nie, en derduisende mense mis hul ware roeping in hul lewe. Baie mense weier om persoonlike verantwoordelikheid vir hul eie wonde en gebrokenheid te aanvaar; sodoende word hul lewe ’n eentonige gestap na nêrens. Vrees weerhou hulle daarvan om na hul eie gebreke te kyk. Mense wil nie met hul stuff deal nie, want dit maak seer en dit onbloot hulle. Om jouself kwesbaar te maak, is baie moeilik en vir niemand lekker nie. Dit verg moed en guts. Jou houding teenoor jou proses van genesing en jou vermoë om jou met ander wat deur dieselfde soort verwonding as jy gaan te vereenselwig, word op die ou einde ’n geskenk vir iemand anders.

      Baie mense vra my: “Hykie, hoe kom ’n mens skoon?” Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie. Selfs rabbi Abraham J Twerski (skrywer van Addictive Thinking) wat die hoof is van Hazelden Brittanje en geag word as een van die wêreld se voorste kenners op die gebied van verslawing, kan ook nie sê waarom die lig vir sommige mense opgaan en vir ander nie. Dis ’n kombinasie van ’n klomp faktore – elemente wat in hierdie boek bespreek word. Weet wel: Herstel is moontlik. Dit maak nie saak hoe ver jou pad van verwoesting strek nie, solank jy asemhaal, is daar hoop. Daar is altyd hoop.

      Ek beskou hierdie boek as deel van ’n verantwoordelikheid wat ek teenoor myself en my eie daaglikse herstel van my siekte het, maar ook teenoor diegene wat steeds aan die pyn en hartseer ly wat verslawende of vernietigende gedrag tot gevolg het. Die boek sal jou nie net hoop gee nie, maar ook help met lewensbelangrike keuses en besluite wat jou uiteindelik na ’n plek van vryheid – ’n nuwe lewe en nuwe geluk – kan lei.

      Wees dapper en waag die eerste tree.

      DIE BEGIN

      “My name is Hykie and I am a recovering addict.” So stel ek en duisende verslaafdes oor die hele wêreld hulself voor in die gemeenskap van Narkotika Anoniem (NA). Ons sê “recovering”, want ’n mens is nooit “recovered” nie. ’n Mens kan skoon kom en ’n wonderlike lewe begin leef, maar ’n persoon met die siekte van verslawing sal nooit, ooit weer

Скачать книгу