Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste страница 16

Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste

Скачать книгу

      “Dankie, Daan. Dis dierbaar van jou.”

      Versigtig vir die dorings druk sy haar gesig tussen die rose in en adem die soet geur in. “Wonderlik! Dis ’n vreeslike bederf hierdie.”

      “Het jy potte?” raak Mitzi prakties. “Ek kan vir jou ’n paar leen.”

      Fransien lag. “Natuurlik het ek potte, maar nie hier nie! Ek sal bly wees as jy vir my een of twee kan leen.”

      Sy kyk op haar horlosie. “Dis in elk geval tyd dat ek spore maak. Kom ons laai dit sommer nou in my motor.”

      “Ek dog jy kuier die hele dag by ons?” frons Mitzi teleurgesteld.

      Fransien skud haar kop beslis. “Nee. Sondag is ’n gesinsdag, en ek gaan beslis nie die hele dag op julle nekke lê nie. Ek het nou eers genoeg gekuier. Vanmiddag wil ek net slaap, of lees of lui wees. Onthou, ek is nog die hele week hier en ek wil goed uitrus. Dis my eerste vakansie in omtrent ses jaar.”

      Hierteen kan nóg Mitzi, nóg die tweeling argumenteer. Met die rose en die potte veilig in haar motor, wuif Fransien vrolik vir die bekaf groepie wat haar by die hek afsien. Daan het reeds binnetoe verdwyn, waarskynlik om sy koerant in vrede te gaan lees!

      12

      Fransien besluit om ’n pizza vir middagete te kry. Net die gedagte dat sy Jans in die restaurant kan raakloop, is genoeg om haar eetlus te demp. Sy koop sommer vars melk, tydskrifte, vrugtesap en ’n sak vol skyfies en lekkergoed ook.

      By haar chalet moet sy ’n paar keer terug na haar motor toe loop voor alles uitgelaai is. Sy dwing haarself om nie in die rigting van Jans se chalet te kyk nie.

      Die mandjie rose haal sy laaste uit en dra dit versigtig in. Dan maak sy die potte vol water en druk bosse rose sommer deurmekaar daarin. Sy is ingenome met haarself toe sy hande in die sye terugstaan en haar handewerk aanskou.

      Sy maak seker die deure is gesluit voor sy vir haar koffie maak en dit saam met die pizza op ’n groot skinkbord kamer toe dra. Kruisbeen op die bed verorber sy feitlik die hele pizza.

      Te lui om die skinkbord kombuis toe te vat, sit sy dit net op die bedkassie neer en trek die duvet oor haar. Binne minute is sy vas aan die slaap.

      Teen sesuur die middag is Fransien uitgekuier met haarself. Nadat sy wakker geword het, het sy die res van die middag met peusel en lees verwyl. Sy kyk onvergenoeg na die oorblyfsels van die eet-orgie rondom haar.

      Vinnig ruim sy op, trek haar swemklere onder haar klere aan en drapeer ’n swemhanddoek om haar skouers. Sy smag na ’n bietjie vars lug en oefening, maar sy sien darem nie kans om nou in die bosse te gaan rondspring nie. Hopelik sal die meeste mense nou al op pad restaurant toe wees en sal die swembad nie so vol wees nie.

      Die swembad is heeltemal verlate toe sy daar aankom. Fransien kyk onrustig rond, voor sy vinnig haar boklere afstroop en in die koel bloute induik. Die afsondering van die swembad – iets wat sy normaalweg sou verwelkom – is laatmiddag ’n sinistere herinnering aan die moord wat die vorige aand die vakansieatmosfeer by die oord so wreed versteur het.

      Sy swem lengte ná lengte teen ’n verbete pas, asof sy só die onrus in haar kan besweer. En die hele tyd huiwer die gedagte in haar agterkop dat daar ’n moordenaar in die omgewing kan wees …

      Toe sy uiteindelik uitasem teen die swembad se trappies uitklim, begin die son al sy kop in die weste wegtrek. Met ’n ligte rilling pluk sy haar klere bo-oor haar nat liggaam aan en draai die handdoek om haar hare, voordat sy oorhaastig na haar chalet toe begin draf.

      Sy trek haar rug hol teen die gevoel van oë wat uit die skemer loer terwyl sy haar chalet se deur oopsluit. Eers toe al die ligte brand en sy seker is dat die deure en vensters dig toe is, ontspan sy.

      Ná ’n tydsame stort om die chloor uit haar hare en die koue uit haar ledemate te kry, voel sy beter. Sy sien darem nie kans om die aand ook alleen in haar chalet deur te bring nie, en boonop het die swemmery haar sowaar al weer so honger soos ’n wolf gemaak. Gelukkig is die spreiligte nou aangeskakel en is die paadjie na die restaurant helder verlig.

      Tot haar verbasing is die restaurant taamlik vol. Oudergewoonte soek sy ’n hoektafeltjie uit. Nadat sy haar bestelling geplaas het, dwaal haar blik deur die vertrek. Sy is die enigste een wat alleen by ’n tafel sit, en daar is geen bekende met wie sy ’n geselsie kan aanknoop nie. ’n Vreemde melancholie kruip oor haar terwyl sy na die vrolike vakansiegangers kyk. ’n Week alleen by ’n vakansieoord het so wonderlik geklink, maar nou is sy klaar uitgekuier ná twee dae!

      “Gee jy om as ons hier sit?”

      Jans se stem ruk Fransien uit haar mymering. Sy was so ingedagte dat Jans en Gerrie tot by haar tafel gevorder het voordat sy hulle opmerk.

      “Natuurlik! Ek sit myself juis en jammer kry omdat ek so alleen hier sit,” nooi sy sonder om twee maal te dink.

      Die kelner is reeds by om die mans se bestelling te neem. Jans neem oorkant Fransien plaas, en sy trek haastig haar voete terug om plek vir sy lang bene te maak. Hy kan nie anders as om op te merk dat sy enige aanraking ten alle koste probeer vermy nie en dit irriteer hom skielik. ’n Mens sou sweer hy het een of ander aansteeklike siekte!

      Jans hoor hoe Gerrie en Fransien gesels, maar hy neem nie deel aan die gesprek nie. Dis asof al sy sintuie ingestel is op die vrou oorkant hom. Hy luister na haar heserige laggie, wat hy tussen duisend ander sal uitken. Daar kleef ’n sagte, vroulike geur aan haar wat hom verwar. Is dit parfuum, of is dit haar eie liggaamsgeur?

      Hy wens hy was nader aan haar, sodat hy kon seker maak. Die lig speel op haar donker krulle en versluier haar donker oë. Daardie wit vel … Sou dit so sag en glad voel soos wat dit lyk? Kan ’n vrou wat onder ’n elektriese lig soos ’n engel in die maanskyn lyk, in staat wees tot moord?

      Dis hierdie laaste gedagte wat hom na die werklikheid terugruk. Meteens is hy kwaad … vir homself én vir die vrou wat hom keer op keer laat vergeet van die rede waarom hy hier is. Hy rek sy bene moedswillig, en het die genoegdoening om te sien hoe ’n verklikkende blos oor Fransien se gelaat sprei. Effens verbouereerd skuif sy haar stoel agtertoe om spasie tussen hulle knieë te kry.

      “Ontspan, Fransien. Ek het nie ’n aansteeklike siekte nie en ek byt ook nie – vra maar vir Gerrie.”

      Gerrie lag, onbewus van die onderstroming tussen die ander twee. “Ek kan niks waarborg nie. Hy het my nog nooit gebyt nie, maar ek is maar ’n seningrige ou. Die een wat aan my probeer byt, sal sy byt moet ken! Maar jy kan dalk ’n sappige happie vir hom wees, Fransien!”

      Jans lag halfhartig vir sy junior se spitsvondigheid. Daardie sagte wit vel laat hom alreeds allerhande onbehoorlike gedagtes kry, en Gerrie se woorde maak dit nog erger!

      Hy kyk na Fransien en sê die eerste ding wat in sy kop opkom: “Waar was jy tot so laat? Hier is gister ’n moord gepleeg, maar jy dwaal tot watter tyd buite rond. Enige gewone vrou sal te bang wees om so alleen in die donker te loop.”

      Jans besef te laat dat sy woordkeuse, sowel as sy beskuldigende stemtoon, veel te wense oorlaat.

      Fransien lyk vir ’n oomblik verslae oor die skielike aanval op haar, maar dan staan sy stadig op. Daar is ’n ysige woede in haar wat sy met moeite probeer beheer. Haar lewe lank sukkel sy met die stigma van “anders” wees, sukkel sy om in te skakel en soos ander vrouens te wees.

Скачать книгу