Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste страница 5

Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste

Скачать книгу

nuwe kaartjie en gaan voort: “Dan is daar nog my sportprestasies.”

      Mitzi rol haar oë en Fransien is dik van die lag toe ’n hele paar ander mense dit ook doen.

      Toe Chris gaan sit ná sy relaas, merk iemand half spottend op: “Dis duidelik dat hy nie tyd gehad het om te trou ook nog nie.”

      Chris word bloedrooi toe hy besef dat hy nie sy vrou of kinders genoem het soos die ander nie. Maar die volgende spreker staan op en die geleentheid om dit reg te stel is verby.

      “Is hy getroud?” vis Fransien uit.

      Mitzi knik. “Ja. Oulike vroutjie, maar hy oordonder haar totaal. Ek is nie verbaas dat sy nie hier is nie. Onse Chris het ’n dwalende oog en twee dwalende hande en haar teenwoordigheid sal sy pret ’n bietjie bederf. Ek hoor sy het senuweeprobleme, gaan blykbaar omtrent nêrens nie. Sjuut, dis Tessa se beurt. Dit behoort interessant te wees!”

      Teen alle verwagting in is Tessa se toesprakie kort en feitlik geheel en al toegespits op haar koffiewinkel.

      Toe sy gaan sit, kreukel Mitzi haar neusie verontwaardig.

      “Dank jou die duiwel vir die gratis reklame! Hier sit ek die hele tyd gretig en wag om ’n paar sappige brokkies oor haar verlede te hoor, en al waaroor sy tekere gaan, is haar koffiewinkel.”

      Fransien sukkel om haar lag te bedwing en Daan skud sy kop gemaak moedeloos.

      “Wat moet ek met dié vrou van my maak? Was sy op skool ook so?”

      Fransien skud haar kop sedig. “Nie naastenby nie. Dit moet die getroude lewe wees wat haar so laat ontaard het.”

      Daan staar haar ongelowig aan.

      Fransien probeer haar gesig ernstig plooi, maar gee gou die stryd gewonne. “Maar ek lieg!” erken sy uiteindelik laggend.

      Daan lag maar verleë saam. “Dit help nie eens ek kla by jou nie. Julle twee is ewe erg! Die arme onderwysers wat vir julle moes skoolhou, is seker almal spierwit grys.”

      Fransien en Mitzi kyk al twee outomaties na die tafel waar Ferdie de Lange sit.

      “Nie almal nie, party het sommer heeltemal bles geword,” spot Fransien sinies.

      Mitzi grinnik. “Jy het darem vir Langes lekker gekap. Ek sal graag sy gesig wil sien as hy hoor jy is die eienaar van Ebony!”

      Daan frons onbegrypend. “Hoe het jy hom gekap? Jy het hom dan net bedank vir sy onderrig. Hy sal seker baie trots wees dat een van sy leerlinge so goed doen.”

      Mitzi kyk vraend na Fransien. “Kan ek hom maar vertel?”

      Kamma ongeërg trek Fransien haar skouers op, maar haar kakebene bult soos sy op haar tande byt. “Jy kan net sowel. Dit sal in elk geval binnekort die hoofonderwerp van bespreking wees.”

      Daan lyk heeltemal dronkgeslaan.

      Met ’n simpatieke blik in haar vriendin se rigting begin Mitzi saggies vertel: “Wel, jy weet nou dat Fransien houtwerk geneem het op skool. In daardie dae was dit nogal ongehoord vir ’n meisie, veral hier. Langes … meneer De Lange het geweldig daarteen geskop om ’n meisie in sy houtwerkklas te hê, maar dit het hom niks gehelp nie. Sy volgende opsie was om die klasse vir haar só onaangenaam te maak dat sy self sou besluit om dit te los. Dit het ook nie gewerk nie, want sy kan nogal koppig wees.”

      Fransien glimlag skeef. “Dit was darem nie net koppigheid nie. Ek was werklik mal daaroor om met hout te werk.”

      Mitzi knik instemmend. “Dis waar. Sy het van kleins af met houtjies en stokkies speel en het goed daarmee probeer maak. In elk geval, daar het gerugte begin ontstaan dat Fransien mannetjiesagtig is, want Langes het haar ‘die lessie’ genoem in die klas. Een of twee kinders was gemeen genoeg om die storie verder te voer, en hulle het haar lewe hel gemaak.”

      Daan staar Fransien ongelowig aan. “Ek kan dit nie glo nie! Magtig, jy is so vroulik as kan kom. Enigiemand wat jou as mannetjiesagtig beskou, moet sy kop laat lees.”

      Lagplooitjies verskyn om haar oë toe Fransien erkentlik in sy rigting knik. “Baie dankie, waarde heer. Dis vir my ’n riem onder die hart om dit te hoor.”

      Mitzi gluur kwaai na hulle, maar die lag lê vlak in haar stem. “Vir julle twee gaan ek dophou! Watse flankeerdery is dit hier reg onder my oë?”

      Fransien versober vinnig. “Mitzi, het jy nog ons matriekafskeidvideo?”

      “Jy weet mos ek is sentimenteel. Dis tussen ’n klomp gemors wat ek nie oor my hart kan kry om weg te gooi nie.”

      “Wys dit vir Daan, dan sal hy beter verstaan.”

      Fransien kyk na Daan. “Ek het baie verander. Op skool het ek soos ’n strykplank gelyk. Omdat Tessa altyd haar mond vol gehad het oor my krulle, het ek my hare kort afgesny voor dit kon krul. Sommer self, want ons was bitter arm en daar was nie geld vir ’n haarsalon nie. Boonop het ek nie rokke gedra nie, net seunsbroeke wat my ma by ’n niggie of iemand present gekry en verstel het. Die Fransien wat jy hier sien, het nie op skool bestaan nie. Ek was Ou Fransiena, Siena, Kroesie of Lessie – afhangend van wie my aangespreek het.”

      Die Ken-mekaar is lankal verby en oral staan groepies mense en gesels.

      “Genoeg hiervan, kom ons meng ’n bietjie,” besluit Fransien. “Ek is besig om myself in die verdrietigheid in te praat, soos my ma altyd sê.”

      Sy staan op, en gevolg deur Daan en Mitzi beweeg sy doelgerig na die groepie waar Tessa staan en gesels. Sy beland langs Bets, wat sy onthou as ’n uitstekende netbalspeler. Sy begin belangstellend met haar gesels asof sy nie bewus is van Tessa se blik op haar nie.

      Bets is net besig om te vertel van die sportwinkel wat sy en haar man wil begin, toe Tessa langs hulle praat.

      “Dis darem lekker om weer ou vriende raak te loop! Hallo, Bets. En hier is Fransiena ook! Ek moet sê, ek het nie verwag om jóú hier raak te loop nie.”

      Kamma verbaas kyk Fransien na haar. “Skuus, Tessa, praat jy met my?”

      Tessa gooi haar hare ongeduldig na agter. “Met wie anders?”

      Die ou woede en vernedering roer diep in Fransien, maar sy kyk Tessa vas in die oë. Haar stemtoon is koel toe sy sê: “Wel, my naam is Fransien – of Fransie, as Fransien te moeilik is. Ek antwoord nie op ander name nie.”

      “Oeps! So saam met die nuwe voorkoms het jy sommer ’n nuwe naam ook gekry! Is die oue nie meer goed genoeg nie?” Tessa se stem is neerhalend.

      “My naam was nog altyd Fransien, en ek sal dit waardeer as jy dit sal onthou.” Fransien se stem bly sag en egalig en daar is selfs ’n effense glimlag om haar mond, maar haar oë het yskoud geword.

      Stroopsoet stel sy die strik vir Tessa.

      “Ek was vroeër in jou koffiewinkel. Regtig ’n oulike plekkie wat jy het. Miskien moet ek my kaartjie vir jou gee. Ek maak mos houtartikels. Miskien stel jy belang om van my werk uit te stal?”

      ’n Smalende glimlaggie kom lê om Tessa se mond. “Dankie, maar ek glo nie my kliënte sal in jou houtgoedjies belang stel

Скачать книгу