Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste страница 9

Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste

Скачать книгу

tot die bewing uit haar ledemate verdwyn.

      Sy skrik toe sy op haar horlosie kyk. Dis al amper twintig minute dat sy op die stoep sit. Mitzi sal wonder wat van haar geword het. Onwillig staan sy op om terug te gaan.

      Van ver af sien sy dat daar iets eienaardigs by die saal aan die gang is. Saam met die gekleurde lanterns brand daar nou helder spreiligte. Mense staan in groepies en gesels gedemp.

      Fransien versnel haar pas. Die oomblik toe sy by die saaldeur inkom, storm Mitzi op haar af.

      “Dank die Vader jy’s hier! Ek was al van my kop af van bekommernis. Waar was jy?”

      “Jammer, maatjie. Ek moes jou gesê het, maar ek moes net ’n rukkie wegkom. Daardie Chris …”

      Haar stem sterf weg toe sy die uitdrukking op haar vriendin se gesig sien.

      “Mitzi? Wat is fout?”

      “Hy’s dood.”

      “Wie?”

      “Chris. Chris de Wet.”

      “Jy yl, man! Hy het ’n halfuur gelede nog met my skoorgesoek. Hy’t seker net uitgepaas; hy was taamlik ver heen.”

      Mitzi skud haar kop. “Nee, hy’s dood. Hy is … geskiet.”

      Verslae staar Fransien na haar. “Geskiet? Hoekom? Wie het dit gedoen? Ek het dan niks gehoor nie.”

      “Niemand het iets gehoor nie. Wie dit ook al gedoen het, moes ’n knaldemper gebruik het. Die polisie sal seker nou-nou hier wees. Daan en ’n paar mans wag buite vir hulle en sorg sommer terselfdertyd dat niemand die misdaadtoneel versteur nie. Die polisie se opdrag is dat niemand die oord mag verlaat voor hulle hier is nie.”

      Hulle gaan sit in stilte by hulle tafel. Fransien se gedagtes is in ’n warboel.

      Sy skrik toe Mitzi skielik uitbars: “Dis hierdie vervloekte reünie! Ek moes dit nooit gereël het nie!”

      Sy begin rukkerig huil. Ontsteld spring Fransien op en gaan staan by haar terwyl sy haar beskermend teen haar vashou.

      “Kom nou! Jy kon mos nie weet so iets gaan gebeur nie. Toe nou maar, toe nou maar …” troos sy Mitzi asof sy ’n klein kindjie is. Maar haar vriendin huil net harder.

      “Ek … ek moes van- … vanoggend al die hele af- … affêre stopgesit het.”

      Tevergeefs probeer Fransien haar tot bedaring bring.

      Toe sy Daan se diep stem langs haar hoor, kyk sy radeloos na hom. Hy som die situasie in ’n oogwink op. Sonder om te aarsel neem hy Fransien se plek in. Hy droog Mitzi se trane versigtig af, terwyl hy saggies en kalmerend met haar praat.

      Uiteindelik bedaar sy. Daan sit haar aandsakkie in haar hand. “Gaan poeier jou neusie. Netnou dink die mense ek het met jou baklei!”

      Hy keer toe Fransien saam met haar wil stap. “Fransien, ek wil graag met jou praat.”

      Sy kyk vraend na hom.

      “Waar was jy? Netnou, toe Chris ontdek is … Mitzi was gek van bekommernis; sy dog jy lê ook êrens in die tuin.”

      Fransien vee moeg oor haar oë. “Jy weet seker van my en Chris se onderonsie?”

      “Wie weet nie?” kom dit droogweg van Daan.

      “Ja, wel …” Fransien sluk swaar. Die hele affêre voel vir haar onwerklik.

      “Ek was só woedend, ek moes net eers gaan afkoel. My chalet was gesluit, toe sit ek maar ’n rukkie op die stoep, tot my ergste moordlus bedaar het.”

      Sy skrik hewig toe sy besef wat sy gesê het. “E … ek bedoel … tot ek beter gevoel het.”

      “Mmm … Die polisie gaan jou ondervra. Hulle is besig om ’n lys te maak van mense wat nie ten tye van die moord in die saal was nie. Jy is waarskynlik eerste op die lys – jou exit het beslis nie ongesiens verbygegaan nie. Ek sal jou aanraai om maar jou woorde te tel as jy met hulle praat. Hulle kan so ’n opmerking dalk letterlik opneem.”

      Haar oë word groot. “Gits, en dan het ons nog ’n struweling ook gehad! Dink jy hulle sal dit as ’n motief beskou?”

      “Moontlik. Ek was nie naby genoeg om alles te hoor nie, maar ek verstaan jy het hom gedreig ook. Hulle sal dit beslis ondersoek.”

      “Nee, man! Ek het hom g’n gedreig …”

      Sy word wasbleek en slaan haar hand voor haar mond. “O vrek, ek het! Ek het gesê as hy ooit weer aan my raak, maak ek hom met my kaal hande dood … of so iets.”

      Moedeloos laat sak sy haar kop in haar hande en sit ’n rukkie so. Toe sy opkyk, begin die kleur weer terugkom in haar wange en haar oë vonkel gevaarlik.

      “Hulle kan my maar ondervra. Ek weet ek het dit nie gedoen nie. En wanneer die moordenaar gevang word, sal almal wat nou so sit en fluister dit ook weet.”

      Hulle tafel is inderdaad die middelpunt van belangstelling. Niemand kyk direk na Fransien nie, maar daar is baie tersluikse blikke en onderlangse gefluister. Sy voel of sy onder die tafel kan wegkruip, maar sy wys dit nie.

      Mitzi lyk effe verleë maar baie kalmer toe sy terugkom by die tafel. Sy het skaars plaasgeneem toe een van die polisiemanne langs Fransien keel skoonmaak.

      “Ek is op soek na juffrou Fransien de Swardt?”

      Hoewel hy dit as ’n vraag stel, kyk hy reguit na Fransien.

      “Dis ek.” Ten spyte van haar bravade van ’n paar minute tevore, klink haar stem vir haar maar baie yl.

      “Ek is senior superintendent Tony Johnson. Kan ons ’n rukkie gesels? Mevrou Brink het haar studeerkamer tot ons beskikking gestel. As u my sal volg, asseblief?”

      6

      In Santie Brink se studeerkamer neem superintendent Johnson agter die lessenaar plaas. Fransien sit gespanne op die puntjie van haar stoel.

      “Ontspan maar, juffrou De Swardt. Kaptein Jansen van Moord-en-roof gaan eintlik die ondersoek lei, maar hy sal eers later vanaand hier wees. Ek gaan u voorlopig net ’n paar roetinevrae vra.”

      Fransien knik. Sy skuif gehoorsaam terug op die stoel en konsentreer daarop om te ontspan.

      “Waar was u ongeveer die tyd toe meneer De Wet vermoor is? Ek verstaan u was nie in die saal nie?”

      “Ek was by my chalet. Eintlik op die stoep.”

      Superintendent Johnson skryf iets voor hy sy volgende vraag vra. “Wat het u daar gedoen?”

      “Ek het net ’n rukkie daar gesit.”

      Hy kyk fronsend op. “In die donker? Alleen?”

      Fransien moet keel skoonmaak voor sy hom antwoord. “Ek was … ontsteld; ek wou ’n rukkie alleen wees. My sleutel was nog in die saal,

Скачать книгу